Amelia se reis
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Amelie laai die kinders by maats in Johannsburg af voor sy die pad vat na tannie Cecelia om haar ouma Alett se herkoms te gaan uitpluis. Sy is dankbaar vir die stilte in die motor op pad Pretoria toe. Sedert die ding met Phillip het sy nog nie tyd gehad om te dink nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Sy is nou sekerder as ooit dat sy die hele raaisel om Amelia en Phil en haar ouma wil oplos. Een deel van haar glo dit is om wraak te neem op Phillip en een deel glo dit is haar kans om te bewys sy is ’n goeie navorser en skrywer. Sy het Sederfontein toe gekom met die droom om die groot Afrikaanse roman te skryf, maar toe skenk haar nuwe huis aan haar die materiaal vir die lekkerste nie-fiksie boek. Met elke stukkie nuwe inligting rondom die storie raak sy nuuskieriger. Die boek het al die regte materiaal om die massa-mark se aandag te gryp. Dit delf in die Eerste Wêreldoorlog en die gebeure by die slag van Delville bos en ook in die geskiedenis van ’n Afrikaanse plattelandse familie. Boonop het die familie verskeie intriges en is daar genoeg kleindorpse moleste om die storie interessant te maak. Amelie weet die boek sal ’n goeie mengsel van interessante gebeure en drama hê om ’n treffer te wees en sy is seker Gielie sal iets oorkom as sy die lekker manuskrip vir Strelitzia-uitgewers gee en nie vir hom nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Amelie is baie bly om tannie Cecelia te sien. Sy is net die skadu van die flambojante vrou wat sy eens was. Amelie was van kleins af versot op dié boheemse familielid wat altyd uit die kassie dink. Cecelia het nooit getrou nie en haar hele lewe in die buiteland geswerf. Sy het die familie altyd geskok en vermaak met haar vertellinge van die vele mans wat sy in Europa op sleeptou geneem het. Sy het die wonderlikste geskenkies vir Amelie saamgebring. Serpe uit Frankryk, retro donkerbrille uit Amsterdam.
Amelie druk die brose mens teen haar vas. Vandag het sy ’n spesiale drukkie van iemand nodig wat omgee. Sy hoop die tante se brein is vandag skerp genoeg om lekker te kuier.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Ek het geweet jy gaan kom, Melie. Toe jy laat weet het jy trek Sederfontein toe, het ek geweet dit is ’n kwessie van tyd voor jy na my toe kom.”
“Hoe nou, tant Celie?”
“Kom nou, Melie. Ek ken vir jou. Jy is ’n slim ene. Jy het seker klaar daardie dorp en sy mense uitgekyk.”
“Tant Celie bedoel die ding met ouma Alett?”
“Ek het geweet as jy met jou rooi krulkop in daardie strate rondloop, gaan iemand dit raaksien.”
“O, die ooreenkoms met Amelia? Tannie weet van haar?”
“Ja, ek dink nie mense op daardie dorp het haar al vergeet nie.”
“Hoekom het Tant Celie my nie vooraf van als vertel nie?”
“En al jou pret bederf? Kom, vertel jy my eers als van Sederfontein.”
“Ek bly in haar huis. Ek het Mon Abri gekoop.”
“Regtig? Hoe kry ek koue rillings. Mon Abri … die lieflikste ou huis. Seker al bietjie verniel?”
Tant Cecelia gooi ’n groot pot tee in en Amelie stuur skietgebede op oor die ou mens se helderheid vandag. Noudat sy weet sy is op die regte spoor, wil sy alles weet, maar eers vertel sy haar tante van die spokery, die Groenewalds … en als van Phillip! Sy huil snikkend op die smal skouers oor die vernedering wat die man haar aangedoen het.
“Ai my kind, snaaks hoe die geskiedenis hom herhaal.”
“Ek kan nie glo Tant Celie weet al die jare van Amelia en het my niks vertel nie.”
“Ek kon nie terwyl jou ma en ouma nog geleef het nie. Jy weet hoe geslote was hulle. Maar jy, Amelie, ek weet jy is die een wat die geskiedenis sal kan draai.”
“Hoe bedoel tannie?”
“Kind, jy weet nie hoeveel trane daar in Mon Abri gevloei het en hoeveel hartseer jou ouma al die jare saamgedra het nie.”
“So, sy was toe Amelia se kind?”
“Ja, my arme suster het die hartseer van haar ma in haar rondgedra. Sy kon haar darem soms sien. Ons het so nou en dan ’n draai op Sederfontein gaan maak. My ma het geglo jou ouma moet haar ma sien al het sy haar soos haar eie grootgemaak.”
“Hoe het dit dan gekom dat oumagroot Amelia se kind aangeneem het?”
“Die slag van Delville bos daar in Frankryk. Dit het daar begin. Of nee, dit het seker lank voor dit al begin want my mammie en haar ouers het al die jare kontak gehou met die familie in Frankryk.”
“Het julle familie saam met die Hugenote gekom?”
“So ’n bietjie daarna. Was glo ’n vreeslike familieding met die geloof. Party Katolieke en party Protestante. Maar toe die brief van Amelia se ouers kom, was bloed dikker as water. Katoliek of te not, sy was familie en nog ’n blote kind en my ouers het ingestem dat haar ma haar Suid-Afrika toe stuur.”
“Oor sy swanger was?”
“Net so. Haar pa wou niks van haar weet nie. Haar ma het als gereël. Ek kan net dink hoe sy moes voel om haar kind op ’n skip te sit.”
Amelie vertel van al die trommels met speelgoed, boeke en albums in Mon Abri se stoor.
“Dis vreeslik. Pak jou kind se hele lewe in trommels en stuur haar swanger die vreemde in.”
“En toe? Toe gaan bly sy op Sederfontein waar Phil Groenewald is?”
“Nie dadelik nie. Sy het eers in die Kaap by my ouers gebly. Hulle was toe nog kinderloos. Het jare gesukkel om ’n kind te hê. Hulle het geglo God het Alett deur Amelia vir hulle gestuur. Hulle was glo baie goed vir Amelia. Haar versorg tot Alett gebore is.”
“Hoekom het sy nie die baba gehou nie?”
“Sy was nog ’n kind. Ek is nie seker hoe dinge gebeur het nie, maar sy is blykbaar net na die kind se geboorte sak en pak Vrystaat toe. Agter daai man aan.”
“En toe sy daar kom, is die hele dorp teen haar!”
“Arme mens. Dit moes swaar gewees het. Jy sal seker nog presies uitvind wat daar gebeur het, maar ek het afgelei sy familie het klaar vir hom ’n vrou in gedagte gehad. Een veel jonger as hy. Hulle het hom gedwing om te wag tot sy oud genoeg is vir trou. Hy was nog nie getroud toe Amelia in Sederfontein aangekom het nie.”
Amelie gaan maak ’n tweede pot tee om hulle kele vir die groot praat te laaf. Tannie Cecelia bring ’n kartondoos met haar ousus Alett se foto-albums.
“So ouma Alett het van kleins af geweet sy is aangeneem?”
“Ja, dit was nogal ongewoon vir daardie jare. Party mense het dit mos weggesteek. As jy my vra, het my ma-hulle die ding reg gedoen. Seker gemaak hulle kind weet sy is geliefd. En sy was lekker bederf hoor! Ons ander spul is mos eers later gebore. My ouers het kontak met Amelia gehou. Soos ek sê, ek weet nie als wat met die arme mens op Sederfontein gebeur het nie, maar dit wat ek as kind gesien het, was hartseer.”
“Hoe ’n mens was Amelia?”
“Ek dink sy was die rede hoekom ek so ’n bietjie van ’n wilde loot uitgedraai het. Onthou, ek was baie jonger as Alett en het Amelia ook maar net ’n paar keer beleef, maar haar andersheid het my gefassineer. Sy het altyd so mooi en anders aangetrek. Lief vir goed wat vir my heeltemal anders was. Sy was baie lief vir jou ouma. Het vir haar die mooiste briewe geskryf en as ons in Sederfontein kon gaan kuier, het sy ons swierig onthaal. Ek dink sy het maar altyd terugverlang na haar lewe in Frankryk. Hulle was skatryk mense.”
“Hoekom het sy nooit teruggegaan Frankryk toe nie?”
“Ek weet nie, miskien was die liefde te groot. Ek is nie seker of sy en haar pa ooit vrede gemaak het nie. Ek weet haar ma het met die jare vir haar goed uit Frankryk gestuur. Trommels vol. Sy het die mooiste goed in haar huis gehad. Fyn linne, eetgerei. Sy was so ’n lieflike mens. Ai, dat sy toe nooit geluk gevind het nie.”
“Ek wonder hoekom sy op Sederfontein aangebly het na Phil se dood. Daar was mos niks meer wat haar daar gehou het nie?”
“Kindjie, die liefde. Amelia was ’n romantikus. Ek dink sy het naby aan hom gevoel. Maar wag, jy gaan mos vir ons die hele storie uitpluis.”
“Ek gaan beslis. Ek sal nie dat daardie Groenewalds my keer nie.”
“Maar jy moet versigtig wees, my kind. Moenie seerkry nie. Moenie dat Amelia se storie jou ook seermaak nie. Dis genoeg dat een Groenewald-man ’n vrou se lewe in hartseer gedompel het.”
Amelie druk haar tante styf teen haar vas. Sy is so dankbaar die ou mens leef nog om haar ouma se storie te vertel.
“Daar is darem een verskil, tant Celie, Amelia was verlief op Phil. Ek voel gelukkig niks vir Phillip nie. Net woede.”
“Nou hou dit so my kind. Belowe jy sal dit so hou?”
“Beslis, my Tannie. En as ek die hele storie geskryf het, gaan vier ons twee dit, gehoor?”
Op pad terug na Johannesburg druk Amelie die stukkies van die legkaart wat pas vas. Daar is nog soveel oop spasies in Amelia se storie.
Hannes het Amelia se erfgenaam se e-pos die vorige dag taamlik traag vir haar gegee.
Dierbare Hannes, hy gee regtig om en is bang dat sy seer sal kry. As hy maar geweet het … sy het reeds seergekry. Maar sy sal sorg dat Hannes nooit uitvind wat Phillip aan haar gedoen het nie. Niemand mag ooit daarvan weet nie.
Sy is eintlik dankbaar die kinders slaap die aand elkeen by ’n maat in Johannesburg. Sy het vir haarself plek bespreek in ’n knus klein gastehuis in Linden waar sy die aand alleen met haar gedagtes kan wees.
Tannie Cecelia het die kartondoos vol van haar ouma se briewe en foto-albums vir haar gegee en sy kan nie wag om daarin te krap nie. Sy is so spyt haar ouma en ma is reeds dood want sy glo die ontrafeling van Amelia se geskiedenis sou ook vir hulle baie beteken het.
Na ’n strelende bad en ’n glas wyn gaan sit sy op die bed met die karton herinneringe van ouma Alett. Daar is ’n paar foto-albums en ’n outydse sjokolade-boks vol briewe. Daar is klein snuisterye wat seker vir haar ouma sentimentele waarde gehou het.
Heel onder in die karton kry sy die blou bottel. Nes die bottels in haar tuin. Sy hoef dit nie te skud om te weet daar is ’n briefie in nie. Die seël wat die kurkprop dig hou, is reeds gebreek.
Sy skud die briefie uit.
Dit is in Amelia se nou al bekende sierskrif geskryf.
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay Om by die…
Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…
Hierdie webwerf gebruik koekies.