Verneder
“Kry my tienuur by die boothuis.”
Amelie wil nog antwoord, maar hoor hoe Phillip die foon dood druk. Sy vererg haar opnuut vir sy stemtoon wat altyd blaffend is. Sy is nie een van sy onderdane nie. Phillip kan gaan bars as hy dink sy gaan boothuis toe ry net om deur hom uitgetrap te word oor haar besoek aan Stella. Sy beken, sy voel effens skuldig daaroor, maar dit beteken nie hy mag besluit wie sy kan besoek en wie nie.
Sy soek iets om haar aandag af te lei en is spyt sy het nie vroegoggend saam die kinders gaan piekniek hou by die vakansieoord op teen die rivier nie. Maar sy gun hulle die wegbreek van die restourasie en drama. By die vakansie-oord sal daar ander tieners wees en dit is wat haar kinders nou nodig het.
Sy loer kort-kort na haar horlosie. Phillip is seker al op pad van sy plaas af na die boothuis. Hy gaan woedend wees as sy nie daar is nie, weet sy. Min mense waag dit seker om sy bevele te ignoreer.
Vandag is ’n goeie dag om die bottels in die tuin skoon te maak, besluit sy. Daar is maklik vyftig bottels wat op verskillende hoogtes aan takke hang en sy sal die leer en emmer van boom tot boom moet sleep.
Sy het nog nie weer van die bottels oopgemaak om die boodskappe te lees nie. Dit en die lees van Amelia se briewe is iets wat sy bly uitstel al glo so nou Amelia sal nie omgee as sy die briewe lees nie. Die tyd het net nog nie reg gevoel nie. Hoekom, weet sy nie. Die briewe kan waarskynlik nog raaisels onthul. Nes die talle onoopgemaakte trommels wat nog in die stoor is, wil sy haar instink volg met die ontknoping van Amelia se lewe.
Buks lê aan die onderkant van die leer terwyl sy die bottels een vir een versigtig was. Sonder die stoflaag skyn die son vonkelend deur die diep blou. Sy skud elke bottel en almal bevat opgerolde briefies. Party het ook klein harde voorwerpe wat teen die lig lyk soos ronde klippies en krale. ’n Paar het ook kristalle in.
Sy raak so meegevoer met die skoonmaak van die bottels dat sy nie die bakkie hoor stilhou nie. Sy sien ook nie hoe Buks die groot man stertswaaiend by die hek gaan haal nie. Hy lei die besoeker reguit na Amelie wat op die hoogste trappie van die leer balanseer om ’n bottel by te kom.
“O, hier is jy, vroumens! Klim af! Ons moet praat.”
Amelie skrik en verloor haar balans. Sy gryp aan die naaste tak en klou terwyl haar voete desperaat probeer om weer die leer raak te trap.
“Ek gaan val! Is jy mal? Ek gaan val!”
Phillip probeer die leer nader aan haar voete skuif. Sy trap dit uiteindelik weer raak. Haar bene bewe onbedaarlik en sy gil ’n paar onvleiende dinge na onder.
“Bly net kalm. Ek klim op om jou te help.”
“Los my, jy het genoeg skade aangerig! Gee liewer pad!”
Sy kan voel hoe hy teen die leer opklim. Die leer wankel en sy verloor weer haar vastrapplek.
“Ek gaan val! Help! Ek kan nie meer vashou nie!”
’n Hand vat haar vas om die middel.
“Kom, versigtig nou, klim stadig saam my af.”
Dit voel vir Amelie of hulle ’n ewigheid ondertoe klim. Sy voel Phillip se asem in haar nek en haar handpalms sweet teen die relings van die leer. Sy weet sy ly nie aan hoogtevrees nie en skryf die bewing in haar binneste aan skok toe.
“Amper daar, nog net een treetjie.”
Sy stem is sag en klink vir die eerste keer nie gebiedend nie. Dit ontsenu haar nog meer en haar bene bewe soos jellie as sy die grond onder haar voel.
Phillip laat haar nie los nie. Hy hou haar styf teen sy groot lyf. Sy ruik die veld en tabak aan sy kakieklere. Sy hand vou om die agterkant van haar nek. Dan is sy gesig skielik naby aan hare. Daar is donkerblou spikkels in sy ligblou oë. Die lyne om sy mond is diep en sy lippe effens droog. Hy haal sag in haar nek asem en dan voel sy sy lippe sag op hare. Terwyl hy haar soen, dink sy dit is glad nie hoe sy haar kon indink ’n buffel soos Phillip ’n vrou sou soen nie.
Sy beur effens weg, maar Phillip se arms vou ferm om haar. Sy lippe soek die sagte plekkies in haar nek en sy voel hoe haar liggaam teen haar beterwete stywer teen hom vou. Haar arms kruip om sy nek en haar lippe wag dat syne hulle weer opsoek.
Amelie het geen weerstand om teen haar liggaam se reaksie te baklei nie. Haar kop maal tussen emosies van woede en teëstribbeling. Sy is geskok in haarself want sy wil hom smeek om nie op te hou nie.
Hy soen haar soos Renier haar nooit gesoen het nie. Sy het nie gedink ’n man se soene kan mens regtig tot sulke ekstatiese hoogtepunte neem nie.
Dan voel sy hoe hy haar optel en in die huis in dra. Sy weet sy moet hom keer, maar haar mond is droog en dit voel of sy geen beheer oor haar lyf het nie. In die arms van Phillip Groenewald verraai haar eie lyf haar. Sy wil nie sy liefkosings geniet nie, sy wil nie so magteloos voel nie.
As hy haar teen die trap opdra, fluister ’n flou spottende stemmetjie in haar dat dit die soort toneel is wat net veronderstel is om in outydse liefdesflieks af te speel of in daardie dun slapband liefdesboeke waarvoor sy haar neus altyd optrek. Die stemmetjie spot dat dit nie iets is wat met ’n ma van vier kinders moet gebeur nie.
Phillip vou sy hande om haar gesig. Haar lippe wil iets protesterends kwytraak, maar haar kop wil nie saamwerk nie. Dit buig outomaties agteroor as sy lippe hare weer soek.
Sy voel hoe hy haar kledingstukke een vir een stadig uittrek terwyl sy mond oor haar vel speel.
Haar brein stuur een boodskap en haar hart ’n ander een. Sy weet haar hart gaan hierdie rondte wen want op hierdie oomblik wil sy op geen ander plek as in Phillip se arms wees nie.
Sy sak saam met hom op die bed neer. Sy voel sy mond soek oor haar lyf tot in haar nek. Dan fluister hy sag in haar oor. Haar brein registreer die boodskap en haar lyf verstyf.
“Ek het jou gewaarsku om nie met my skoor te soek nie. Hierdie is jou laaste waarskuwing. Los my familie uit. Pak jou goed en gee pad uit my lewe.”
Sy gesig is skielik bokant haar. Die donker vlekkies in sy blou oë is weg. Sy sien net die ysige haat in die ysblou wat na haar terugstaar. Hy stoot haar weg van hom en stap by die deur uit. Sy hoor hoe hy by die trappe af stap en die voordeur agter hom toeklap. Haar hele lyf begin ruk as sy die bakkie hoor wegry.
Trane van woede en vernedering ruk deur haar. Sy trek die duvet oor haar kaal lyf en krul haar snikkend op in ’n fetusposisie. Nie Renier se stampe en gille of Gielie se onbeskoftheid kon haar nog ooit so seermaak nie.
Sy huil tot sy net uitgeput voor haar uitstaar. Die warboel gedagtes in haar kop debatteer oor die toneel wat pas afgespeel het. Die een stem probeer haar oortuig dat Phillip se liefkosings opreg was en dat hy haar onweerstaanbaar vind. Maar ’n koggelende stem spot haar dat hy haar net ’n vernederende les wou leer.
Sy staan op en gaan tap die bad vol water. Dalk kan sy die vernedering van haar af skrop.
Haar kop kan steeds nie uitpluis wat met haar gebeur het nie.
Die water is al koud en haar vel vol riffels as sy uiteindelik uit die bad klim en haar in haar japon toevou.
Buks stap saam met haar die trappe af en lê by haar voete terwyl sy vir haarself tee maak.
Eers na die tweede koppie soet tee kry sy dit reg om haar gedagtes in ’n koers te stuur.
Phillip Groenewald gaan hierdie oorlog nie wen nie, besluit sy. Want dit is wat dit nou is. Oorlog. Sy gaan nie toelaat dat die Groenewalds haar by die dorp uit boelie nie. Sy is hier om te bly, nes Amelia. Sy gaan oopkrap wat tussen Amelia en Phil gebeur het en sy gaan dit skryf. Dit is tyd dat iemand die Groenewalds op hulle plek sit.
Phillip het haar op die wreedste manier verneder en sy sal hom nooit daarvoor vergewe nie. Sy weet sy moes na Hannes geluister het toe hy gewaarsku het dat Phillip nie sy hande van vroue kan afhou nie. Sy weet nou sy kamma omgee die dag toe hy haar gehelp het nadat Renier haar gestamp het en die hulp met Buks, was als net deel van sy planne om haar te verneder. Hy het geslaag. Hy het ’n swak plek in haar soos ’n meester raakgesien. Hy het haar en Renier op die hotel se stoep in aksie gesien en moes afgelei het Renier het haar nooit so sag en liefdevol bemin nie. Hy is slim, hy weet hoe ’n vrou voor ’n man se teerheid sal swig. Veral een wat dit nooit in haar huwelik geken het nie. Phillip is ’n slinkse man, dit moet sy toegee. Hy weet hoe om ’n vrou in die palm van sy hand te beheer … en hoe om haar te laat voel soos ’n vrot lap wat eenkant gegooi is. Hy is ’n meester, ’n wrede slinkse meester met ’n vrou se emosies, maar sy weet nou hoe sy kop werk. Hy gaan haar nooit weer so kwesbaar sien nie. Nooit weer nie. Hy het geslaag, maar dit was die laaste keer wat hy die oorhand oor haar sal kry. Sy gaan hom nog leer dat vroue nie sy speelbal is nie.
Die laatmiddagson skyn deur die reënboog van kleure van die loodglasventers. Die bottels in die bome klingel in die wind as sy uitstap. Sy raak liggies aan ’n bottel wat laag hang. Dan voel sy hoe die wind sag oor haar nek en rug streel. Dan fluister sy ’n boodskap terug aan die wind: “Amelia, ek gaan jou storie vertel. Ek gaan elke onreg wat die Groenewalds teenoor jou gepleeg het, oopkrap. Ek belowe.”
Haar selfoon ruk haar terug tot by die werklikheid. Sy sien die naam op die skerm flits.
Dis Phillip.