Ontrafel
Amelie kry elke keer ’n knop in die keel as sy die kinders se hartseer oor Buks sien. Hulle het vir twee dae die dorp en rivierfont gefynkam en oral kennisgewings opgesit. Buks is nêrens te sien nie.
Amelie ry weer by die dierebeskermingsvereniging om. Hulle het belowe hulle sal bel as iemand Buks inbring, maar sy voel magteloos as sy niks doen nie.
Die vrou by die DBV antwoord nog voor sy kan vra.
“Steeds niks. Is julle seker hy het nie te vêr langs die rivier af geswem nie? Labradors is goeie swemmers, maar kan hulle met die sterkte van strome misgis. Met laasweek se reën loop die rivier sterk.”
Amelie ry tranerig tot by die ysterwarewinkel. Wouter en sy roeimaats sal moet help om die rivierfront verder af te fynkam.
Laatoggend hou Phillip se bakkie voor die deur stil.
“Ek hoor by Wouter julle wil rivier af na die hond soek? Ek het ’n groot stewige rubberboot met ’n sterk enjin. Ek het kom hoor of jou seuns wil saamkom. Die hond ken hul stemme.”
Die seuns is binne minute in Phillip se bakkie.
“Kom jy saam?” Amelie is nie seker of Phillip haar nooi of beveel nie.
Hy praat min terwyl hulle tot by die bootklub ry. Van sy werkers het reeds die boot gereed.
Hulle vaar ’n paar uur stadig rivier af en die seuns roep tot hulle hees is.
“Ons gaan hier vasmeer dan drink ons koffie voor ons verder soek.” Phillip het die hele oggend niks meer gesê as wat hy moet nie. Dié bot man maak Amelie gespanne.
“Dankie vir wat jy doen. Regtig, ek waardeer dit.”
“Ek was ook ’n kind. Ek weet hoe voel mens oor jou hond.”
Dis vir haar moeilik om die hardgebakte Phillip as ’n kind voor te stel.
“Dit was seker lekker om in hierdie omgewing op ’n plaas groot te word? Dis so mooi.”
Hy sit ’n paar minute voor hom en uitstaar oor die rivier.
“Die plaas is al wat ek ken.” Amelie verbeel haar sy hoor ’n effens bitter klank in sy stem.
“Sou jy dit anders wou gehad het?”
“Dis ’n familieplaas.”
Amelie weet haar vrae beweeg nou op gevaarlike terrein, maar sy wil regtig meer weet van hierdie stil, knorrige man.
“Wou jy boer?”
“Ons Groenewalds het nog altyd geboer.”
“Maar wou jy boer?”
Sy weet sy neem dinge dalk te ver, maar dan verstom Phillip haar.
“My pa wou nie boer nie, maar my oupa Flip was ’n harde man. My pa was sag. Te sag. Hy wou nie oorlog toe gaan nie, maar my oupa het hom gedwing. En toe wou hy nie terugkom na die oorlog nie. My oupa het hom laat haal. ’n Groenewald het nie altyd ‘n keuse nie.”
“En jy? Het jy ook nie ’n keuse gehad nie?”
Hy kyk haar ’n oomblik stil aan. Dan sluk hy sy laaste koffie weg en staan op.
“Kom, julle het seker nou genoeg gerus. Kom ons gaan soek die hond.”
Hulle soek nog ’n uur voor hulle ’n flou getjank op ’n eiland in die rivier hoor. Dis onmiskenbaar Buks wat die seuns se stemme herken.
Phillip meer die boot vas en die seuns kan nie vinnig genoeg afklim nie. Die eiland is die ene bosse, riete en biesies.
“Wees versigtig. Daar is diep modderpoele. Bly naby my.” Beveel hy die seuns.
Amelie wag in die boot terwyl hulle die bosse invaar om Buks te soek. Hy kan hulle stemme hoor en tjank nou harder.
Dit neem ’n ruk voor hulle met ’n modderbesmeerde hond terugkeer.
“Hy het tussen riete in die modder vasgesit. Het seker rivier af gespoel.”
Phillip vee die ergste modder met ’n lap af. Buks lê stertswaaiend by die seuns.
“Dankie, Phillip. Sonder jou …” Hy onderbreek haar.
“Dis niks.”
Sy is versigtig om die gesprek verder te dwing. Sy het reeds meer uit hom getorring as wat hy waarskynlik wou uitlap, maar hy het genoeg gesê om haar nog nuuskieriger oor die Groenewalds te maak.
Sy probeer Phillip se gesin uitpluis terwyl hulle rustig terug vaar. Sy ma, Myra, is in haar tagtigs. Sy moes dus aan Phillip geboorte geskenk het toe sy al in haar veertigs was. Daar is blykbaar nie ander broers en susters nie. So ver sy kon aflei, is Phil Groenewald in sy vyftigs oorlede. Phillip moes toe skaars tien gewees het. Myra het blykbaar verder geboer. Phillip moes nog baie jonk gewees het toe hy saam met sy ma begin boer het.
Sy hou hom uit die hoek van haar oog dop. Sy bruingebrande gesig toon jare se son. Hy is op sy manier ’n aantreklike man. Lank en fors en sy blou oë lyk nie so ysingwekkend kil as hy nie kwaad is nie.
Hy meer by Mon Abri vas.
“Julle kan sommer hier afklim. Miskien moet julle die hond veearts toe neem. Hy lyk maar dun van die ontbering.”
Ugo gee Phillip spontaan ’n drukkie uit dankbaarheid en Amelie kan sien die kind het die harde plaasboer onkant betrap. Hy lyk ongemaklik, maar sy sien tog hoe hy sy hand liggies om die seun se skouers vou.
“Toe, uit my boot en hou julle hond in toom.”
Amelie kyk die boot agterna en wonder wat alles in die oënskynlik hardvogtige man se kop aangaan.
Sy bel Hannes die aand. Sy wil met Stella Nortier oor die Groenewalds praat anders gaan haar nuuskierigheid haar nooit met rus laat nie.
“Is jy seker dis ’n goeie ding om so in die Groenewalds se sake te krap? Het jy nie reeds genoeg moeilikheid nie?” Sy weet Hannes gee om, maar hoe kan sy aan hom verduidelik dat dit in haar aard as uitgewer van ware stories is om dinge te ontrafel? Sy wou tot Gielie se frustrasie nooit in die fiksie-afdeling van die uitgewery werk nie.
Al voel sy skuldig om Phillip se familie-sake te probeer ontrafel nadat hy haar gehelp het om die hond te kry, wen haar nuuskierigheid.
Stella wag haar die volgende oggend by die tuinhekkie in. Sy is duidelik byna uitasem-gretig om met die nuwe inwoner van die dorp te praat. Die teepot staan reeds reg op die stoep.
“En toe? Het jy al vir Amelia gesien?”
“Hoe bedoel Tannie?” Amelie weet eintlik presies wat Stella bedoel. Stella wil weet van die spook. Moedswilligheid voel sy lus en vertel die vrou van die droom toe Amelia deur haar kamer gesweef het, maar sy bedink haar.
Stella bekyk haar intens.
“Jy weet, die eerste keer toe ek jou sien, dog ek Amelia het soos Lazarus uit die dode opgestaan.”
“Ek hoor die ding. Dis maar net oor ons beide rooi krulhare het. Dis toeval.”
“En julle name?”
“Toeval, Tannie.”
Stella snork beterweterig.
Amelie weet sy moet die gesprek vinnig van haarself wegstuur.
“Wanneer en waaraan is Phil Groenewald dood?”
“Weet jy dan nie?”
“Nee, wat moet ek weet?”
Stella skuif haar gesette lyf reg op die stoel. Sy buig vooroor en kyk eers rond asof sy wil kyk of iemand anders haar hoor. Dan fluister sy.
“Hulle dink hy is vermoor.”
“Regtig? Wie het hom vermoor?”
Stella skuif weer behaaglik reg.
“Dit was ’n vreeslike ding. Die dag toe Phil by die krans afgeval het. Myra Groenewald het die polisie oortuig hy het ’n kalf gaan soek en gegly, maar hier is mense op die dorp wat glo iemand het hom gestamp. Foei, hy was nog in die fleur van sy lewe. Skaars oor vyftig.”
“Wie sou hom wou vermoor?”
“Party mense sê dit was Myra self, oor hy rondgeloop het. Party dink dit was Amelia. Oor hy nie Myra vir haar wou los nie. Sy wou hom nie uitlos nie. Daai Franse heks. Net na ons dorp getrek om moeilikheid te kom maak.”
Amelie weet Hannes het haar gewaarsku om nie alles te glo wat Stella sê nie, maar die opwinding van Stella se stories laat haar liggies bewe.
“Wanneer het Amelie hierheen getrek?”
“Net na die eerste wêreldoorlog sak en pak hier aangekom, vertel die mense. Bloedjonk en alleen. Seker weggeloop daar uit Frankryk. Agter Phil aan.”
“Hoe het sy hom dan leer ken?”
“Ek weet nou nie hoe dinge met die oorlog daar in Frankryk gebeur het nie, maar toe sy pa hom na die oorlog laat haal het. Reken hy wou mos daar by die Franse bly, wou nie kom boer nie, maar oubaas Flip was glo ’n kwaai man, het nie nonsens gevat van sy slap seuntjie nie. Het Philo glo destyds oorlog toe gestuur om van hom ’n man te maak. Ja en toe ontmoet hy Amelia. Wag, waar was ek? Ja, nie lank na Phil deur sy pa gedwing is om terug te kom nie, toe kom sy glo sak en pak hier aan. ’n Wa vol trommels en goed. Glo met ’n hoop geld want toe koop sy Mon Abri op haar eie. Maar jy weet hoe is ons mense. Hulle het haar van die begin eenkant toe geskuif. Jy weet, die dat ’n meisiekind so agter ’n man aanloop. Sy wou nie laat los nie. Maar toe is Phil en Myra getroud. Hulle families het die ding glo so besluit nog lank voor Phil oorlog toe is.”
“So Amelia het hier op die dorp gebly al het hy het met ’n ander meisie getrou?”
Stella skink deur die pratery nog tee. Sy gee eers ’n paar slukke voor sy haar storie hervat.
“Phil en Myra het saam grootgeword. Buurplase. Oubaas Flip en Herklaas Groenewald, hulle was neefs, het glo al die jare gedroom hoe Phil en Myra sal trou en die twee plase een word. Herklaas het ook net vir Myra gehad. Herklaas sou dood as ’n man wat nie ’n Groenewald is nie op sy grond boer. As die plase een word, sal die grond nie in vreemde hande verval nie.
Baie mense sê Phil en Myra het so lank gevat om kind te kry oor Phil nie met Myra wou trou nie. Daar was nooit vrede tussen hom en sy pa daaroor nie.”
“Toe het hulle net vir Phillip?”
“Glo enetjie verloor toe Mayra jonger was. Tragies.”
“En Amelia en Phil? Sy het al die jare op die dorp gebly?”
“Hulle sê hy het in die nag na Amelia gesluip. Glo altyd kamma gaan visvang en dan roei hy Mon Abri toe.”
“En Myra? Het sy geweet?”
Stella gee ’n paar groot slukke tee.
“Dis hoekom Myra so ’n bitter mens is. Myra het Amelia met als in haar gehaat. Myra was die boer, nie Phil nie. Dan loop hy snags weg na ’n ander vrou.”
“Hoekom het sy hom dan nie gelos nie?”
“En wat van die familiegrond? Vergelegen en Palmiet was toe al een plaas. Buitendien, tot vandag toe is Phil die groot liefde van Myra se lewe. Sy het geveg vir haar man.”
Amelie se brein sif al die nuwe inligting. Al weet sy Stella se weergawe is dalk nie feitelik nie, begin die storie wat op Sederfontein afgespeel het tussen Amelia en die Groenewalds vorm aanneem.
Maar hoekom sou Amelia op so ’n jong ouderdom haar land en mense vir altyd verlaat en in die vreemde kom bly? Dit moes ’n groot liefde gewees het.
“Het iemand Amelia ooit goed geken?”
“Die skarlaken vrou? Dis ’n klein gemeenskap. Ons is Kerkmense. Wat dink jy? Watter soort vou het so ’n obsessie oor ’n ander vrou se man?”
“En sy het nooit weer teruggegaan Frankryk toe nie?”
“Ek hoor haar familie het haar afgeskryf. Ek meen, hoe anders. Jong meisiekind loop soos ’n teefhond bronstig agter ’n man aan. Skandelik. En vreemd, hoor. Daardie Amelia was ’n heks, sê ek jou. Altyd besig met vreemde goed daar in haar tuin. Ek sien die bottels en daardie gevlegde wingerdstokke hang nog daar. Hoekom haal jy nie die duiwelgoed af nie?”
Amelie is te bang om vir Stella te vertel die bottels en gevlegde kranse is eintlik vir haar mooi. Die dorpsmense dink reeds sy is gek om in Mon Abri te bly.
Daar is nog baie goed wat sy Stella wil vra en sy wil haar nie nou al afskrik nie.
Sy wou nog met die volgende sarsie vrae begin, toe ’n bakkie stadig verby die huis ry. Amelie voel hoe sy bloedrooi bloos soos iemand wat op heterdaad betrap is.
Op pad huis toe voel sy nog Phillip se oë op haar brand.
Kil en yskoud.