Swartbessie
Amelie se senuwees knaag voor die groot aand. Sy voel sy het ’n te groot hap afgebyt en sien nie regtig kans vir die aandag en publisiteit nie.
Imke het haar een oggend kom oplaai en deur ’n paar Kaapse boetieks geneem. Onder hewige druk van haar vriendin het sy ’n seegroen skemerkelkie-rok gekoop wat na haar sin te veel van haar boesem en kurwes vertoon.
Laatmiddag probeer sy haar spanning weg week in ’n louwarm bad vol soute en olies. Sy is bly Renier het besluit om nie te kom nie. Dit sou haar net gespanne maak. Die kinders sal die bekendstelling in Johannesburg bywoon.
Sy lê in die water tot haar vel frummels maak en staan met ’n swaar gemoed uit die bad op. Nie eens die kalmeerpilletjie wat Imke goedhartig aangedra het, help haar uitsien na haar groot aand nie.
Die beeld in die spieël sê vir haar dat die rok heeltemal te styf om haar lyf span. Die seelug laat haar hare ekstra krul en sy moet haar grimering twee keer afwas voor sy tevrede is.
Tien minute voor Imke haar kom oplaai, sit sy al kiertsregop op haar hotelbed. Sy wens sy kon ’n glas wyn drink om te kalmeer, maar weet dit sal rampspoedig wees saam met die kalmeerpil. Sy kan nie verklaar hoekom haar binneste so erg bewe nie. Dis kompleet asof sy wag op ’n groot afspraak met die man van haar drome. Net in haar geval is daar nie ’n droomman nie.
Die foon lui. Dis Imke.
“En toe, Dolla? Is jy reg? Lyk jy asemrowend? Ek is nou daar.”
Imke wag nie vir ’n antwoord nie en klik die foon dood.
Amelie maak weer ’n draai voor die spieël. Sy draai om en bekyk haarself van alle kante. Dan trek sy die klewende rok uit en gooi dit op ’n hopie op die vloer.
Sy lig haar tas se deksel. Die sneespapier is sag onder haar vingers. Die rooi rok gly oor haar lyf asof dit vir haar gemaak is. Dit voel vir haar reg om vanaand Amelia se rok te dra. Dit pas perfek by die tema. Sy het moedswillig nie vir Imke vertel sy het die rok saamgebring nie. Sy wou wag tot die besluit vir haar reg voel om die rok te dra.
’n Warm aandluggie waai deur die oop venster. Dit stuur ’n sagte tinteling langs die kaal rug van die rok verby. Amelie kry ’n koue rilling. As sy nie so sinies was nie, sou sy geglo het Amelia het ’n draai gemaak in haar hotelkamer.
Sy streel oor die weelderige materiaal wat haar lyf omvou.
“Ek hoop jy is nou tevrede, Amelia. Dit is tyd dat ek en jy hierdie hoofstuk van jou lewe afsluit. Jy moet nou tot rus kom.”
Amelie kan sien hoe Imke steier van verstomming as sy by die hyser uitstap. Vir eens is haar vriendin sprakeloos. Sy stap woordeloos voor Amelie uit na die motor. Die tevrede glimlag om haar mondhoeke laat Amelie besef sy het hierdie rondte gewen.
Elke pretensieuse mens in die Kaapse skrywerskringe staan reeds met ’n drankie in die hand as Amelie opdaag. Haar hele vel tintel as sy hoor hoe die mense na hul asems snak. Nie eens op haar troudag met Renier het sy so goed gevoel in ’n rok nie.
Tot haar verligting het Imke geen skandalige brokkies aan die pers uitgelek nie en verloop die aand heel stemmig. Die kelder is in kerslig gedompel en Amelie kry nie eens kans om al die gaste te ontmoet nie. Haar kop draai van al die name wat sy moet onthou. Gelukkig staan Imke byderhand met die pers en dit gee Amelie selfvertoue om die vrae te beantwoord.
“Die rok wat jy aanhet, vertel my daarvan?”
Didi Malan is moderedakteur by ’n tydskrif en Amelie het gewonder of die rok haar kennersoog sal vang. Iemand met Didi se ervaring sal kan sien dit is ’n antieke rok.
Imke pomp haar in die ribbe en fluister dringend in haar oor.
“Dis nou die tyd om die onthulling te maak. Vertel haar van die rok!”
Didi hang aan Amelie se lippe as sy vertel van die aande wat Amelia en Phil in die tuin gedans het. Van die aand van die rooi rok. Sy vertel hoe Amelia in haar drome met die rooi rok deur die kamer gedans het.
“Toe Mon Abri afgebrand het, was dit van die min items wat ongeskonde die vlamme ontsnap het. Ek het besluit om dit vanaand vir oulaas aan te trek om hulde te bring aan ’n vrou wat lojaal was in haar liefde. Al het dit soveel hartseer gebring.”
Didi lyk of sy in ’n beswyming van opgewondenheid gaan insak. Sy wink ’n fotograaf nader en sorg dat Amelie uit elke moontlike hoek in Amelia se rok afgeneem word. Sy keer behoorlik die ander persfotograwe soos ’n broeis hen weg.
Die opwinding raak na ’n ruk vir Amelie te veel. Sy wil vars lug skep. Die aandlug in die wingerd is net wat sy nodig het. Die grond is klam en die druiwe trosse hang swaar aan die takke. Sy staan die prentjie en indrink en probeer haar gedagtes in toom hou. Sy kan nie nou toelaat dat Adrian Marceaux haar kop op ’n warrelwind-roete neem nie. Sy wil by haar besluit bly. Van hier af stap sy die pad alleen.
Sy maak haar oë toe en dwing haar kop om vir ’n rukkie aan niks te dink nie. Sy wil net aan die oomblik van stilte en rustigheid vashou.
Die hande vou sag om haar middel en swaai haar om. Sy ruik die wingerd aan sy klere. In die maanlig sien sy die skadu van sy baard teen sy soel vel. Sy wil haar belofte aan haarself respekteer, maar alle wilskrag smelt weg as sy sy baard in haar nek voel.
“Ek kon nie wegbly nie, Amelie. Ons het te veel tyd gemors.”
Veraf deur die wingerd hoor sy die strykkwartet speel. Adrian vou haar in sy arms toe en sy lippe streel oor die kaal rug van die rooi rok.
“Hoor jy Amelie? Hoor jy die simfonie wat hulle speel?”
Terwyl hulle deur die wingerd dans, voel Amelie die gloed van geluk oor haar spoel.
“Dis tyd dat hierdie storie ’n gelukkige einde kry, Mon bien-aimé. Jy is my geliefde en ek wil jou nooit weer verloor nie.”
Sy mond proe soos swartbessie en korente.