Sy groot ligblou is die enigste gelaatstrek wat ek van die 12-jarige seun herken wat ek in 2001 met die bekendstelling van die eerste Harry Potter-fliek ontmoet het. Daniel was nog altyd baie volwasse vir sy jare, maar die ernstige seuntjie is vervang deur ’n selfversekerde, aantreklike, jong man wat nou hard aan die werk is om van sy Harry-beeld ontslae te raak. Die rol wat hom een van die rykste Britse akteurs onder dertig gemaak het, het hom sowat 71 miljoen dollar in die sak gebring. Hy is tans op Broadway te sien in die musiekblyspel How to Succeed at Business without Really Trying waarin hy sing en dans.
Hy het hom reeds as ernstige akteur bewys in Equus, waarin hy naak op die verhoog verskyn het, asook in December Boys waarin hy ’n Australiese aksent moes bemeester. Sy spel in die Harry Potter-prente het ook nie ongesiens verbygegaan nie – hy was benoem as die beste manlike speler vir die jaarlikse MTV-pryse vir sy rol in Harry Potter and the Deathly Hallows Part 1.In teenstelling met baie van die ander kinderakteurs, het hy sy skielike roem en rykdom op ’n verstandige manier hanteer en dis onwaarskynlik dat hy die selfvernietigende drank-en-dwelm-pad van iemand soos Lindsay Lohan sal stap. Hy is onder die Leeu-sterreteken gebore en net so nugter en diskreet as dit by sy liefdeslewe kom. Hy is dikwels saam met Emma Watson, sy medespeler in die Harry Potter-flieks, gesien en hy en sy Equus-medespeler Laura O’Toole, het ’n ruk lank uitgegaan.
Wat is sommige van die verrassings van Harry Potter and the Deathly Hallows Part 2?
Die keer is dit aksie van begin tot end. Ons het geweet dat die storie net met ’n groot, bloedige geveg kon eindig en dis presies wat gebeur het. Ek dink die fliek gaan kykers op hul stoele vasgenael hou. Jy word van die begin af by ’n mallemeule van aksie ingetrek wat jou tot op die einde meevoer. Dis ook die naaste wat Harry Potter aan ’n geldrooftema sal kom; iets soos ons eie weergawe van Ocean’s Eleven, al is ons net drie. Daarna verander dit amper in ’n oorlogprent. Daar is ook baie drama: verhoudings en vennootskappe wat be indig word, gesinsbande wat verbreek word. Ek dink mense sal daarvan hou.
En die fisieke eise?
(Lag). Dit was ’n uitdaging! Dis nie ’n grap as Ralph Fiennes jou toetakel nie. Hy het ’n paar keer die opstopsels wat my moes beskerm, misgeslaan en my teen die lyf getref!
Wat gaan jy mis?
Een van die dinge wat ek die meeste gaan mis, is iets wat ek as vanselfsprekend aanvaar het – die voorreg om die afgelope tien jaar hierdie ongelooflike karakter te kon speel. Harry is ’n aksie- sowel as ’n romantiese held en ek het dinge gedoen wat in geen ander rol moontlik sou wees nie, soos die draakgeveg-tonele in die vierde fliek, of om in die sesde fliek deur die oppervlak te bars terwyl die water om my ’n see van vlamme is. Jong akteurs kry nie elke dag die geleentheid om in sulke waaghalsige en uiteenlopende tonele te speel nie.
Het jy enige memento’s van die stel vir jouself gehou?
Ek het ’n prostese van my gesig wat gemaak is toe ek twaalf was gehou, maar al waarin ek regtig belang stel, is Harry se bril. Dis iets wat ek die meeste met die Harry Potter-karakter assosieer.
Hoe hou jy jou voete op die grond
My ouers is wonderlik in die opsig, asook die rolprentspan saam met wie ons so lank aan Harry Potter gewerk het. Hulle het altyd gesorg dat ek nie grootkop kry nie. Een van die dinge wat ek van die begin af besef het, is dat ek nie verantwoordelik is vir die histerie en euforie wat deel van die Harry Potter-fenomeen was nie.
Jy werk nou aan jou eerste musiekblyspel, How to Succeed in Business Without Really Trying. Jy is ook besig om te skiet aan The Women in Black …
James Watkins is die regisseur van The Women in Black. Hy is ’n wonderlike jong regisseur wat as die volgende Chris Nolan bestempel word. Ek was regtig baie gelukkig om hierdie twee rolle as my eerste post- Potter-projekte te kon kry. Wat How to Succeed betref: Ek het met musiekblyspele grootgeword en dis heerlik om iets nuuts as akteur te doen. Dit verg nuwe vaardighede en dis ’n uitdaging. Daar is ook ’n moontlikheid dat ek in ’n nuwe weergawe van All Quiet on the Western Front kan speel.
Towerkuns was jare lank deel van jou rolprentwêreld. Het dit jou lewe benvloed?
Ek het nie soveel waardering vir die towerkuns in Harry se wêreld soos die meeste ander mense nie (lag). Dit was maar net deel van ’n dag se werk. Ek het gesien hoe hierdie towerkunsies regtig werk – dis maar net spesiale effekte. Die ongelooflike boeke wat ek lees, is eerder ’n voorbeeld van my soort magic.
Sommige mense het twee dae lank tou gestaan vir kaartjies om jou by die laaste premiëre in lewende lywe te sien. Hoe hanteer jy sulke ho verwagtinge wat mense van jou koester?
Ek dink glad nie aan myself as ’n ikon nie. Ek dink nie dis gesond om soveel waarde aan jouself te heg nie, want jy plaas jou onder geweldige druk. As ander mense my so sien, is dit hulle saak. Ek was net iemand wat gelukkig genoeg was om die werk te kry om ’n ikoniese karakter te vertolk. Dis nie vir my ’n probleem as hulle Harry as ’n ikon wil sien nie. ’n Mens kan dit ook verstaan, want daar is iets onaantasbaar aan hom. Ek, aan die ander kant, is heeltemal gewoon. Ek is nie bo enigiets of iemand verhewe nie. Ek lag maar net wanneer almal te kere gaan as ek by ’n geleentheid opdaag – jy moet iets snaaks daarin raaksien en dit nie ernstig opneem nie. Maar ek moet sê, dit was gek toe ek op 13 in Japan aankom en vyf duisend mense wag my op die lughawe in!
Jy en jou twee medespelers (Emma Watson wat Hermione Granger speel en Rupert Grint wat die Ron Weasley-karakter vertolk) het saam voor die kameras grootgeword. Hoe het jy jul saamwees en grootwordproses ervaar?
Dit was ongelooflik om deur die jare Rupert en Emma se transformasie dop te hou. Ons het saam grootgeword en ons is die enigste drie mense in die wêreld wat weet wat ons in hierdie dekade belewe het. Dit was regtig ’n ongelooflike voorreg om twee mense oor ’n tydperk van tien jaar so intiem te leer ken. Ek hoop hulle kan dieselfde van my sê (lag). Emma, eintlik ons almal, het van krag tot krag gegaan – sy op meer gebiede as net toneelspel. Sy is ongelooflik indrukwekkend. Sy het onderskeidings in al haar vakke gekry en is beslis die een wat veral akademies ingestel is. Sy het verder gaan studeer en ’n graad aan die Brownuniversiteit in Providence, Amerika, behaal. Ek dink ek het ook beter met my skoolwerk gevaar as wat ek op my eie sou kon doen.
Jy het in die verlede vir my gesê dat jy nooit tevrede met die gehalte van jou toneelspel is nie.
Is jy op ander gebiede ook ’n perfeksionis?
Ek stel nie sulke hoë eise aan ander mense nie. Ek het net beheer oor my eie gedrag. Ek wil die beste gee wat ek kan, nie net in my beroep nie, maar ook in my interaksie met ander mense en hoe ek myself gedra, of dit in ’n verhouding of ’n vriendskap is. Dan is ek seker ’n perfeksionis, ja. Ek is gereeld spyt oor iets wat ek vir iemand ges het – ek dink altyd later: Sjoe, dit was effens ongeskik. Wat toneelspel betref – ek is seker jy sal nooit ’n akteur ontmoet wat na sy fliek kyk en sê Ek was fantasties in die rol!
Watter liefdesverwikkelinge tussen die karakters kan ons in die laaste fliek te wagte wees?
Daar is ’n oomblik tussen Ron en Hermione wat baie kykers gelukkig sal maak. Daar is ook ’n toneel tussen Harry en Ginny wat bittersoet maar baie belangrik is.
Harry Potter het jou ongetwyfeld rykdom en roem gegee. Watse plesier wat jy nie vroer geken het nie, het dit vir jou gebring?
Geld is nie ’n motiverende faktor in my lewe nie. Ek is so gelukkig dat ek ’n werk het waaroor ek mal is en waarvoor ek goed betaal word. Wat geld vir my beteken het, is die vryheid om te kan kies watter rolle ek wil speel. Ek hoef nie iets te doen omdat ek die geld nodig het nie. Roem is ’n snaakse ding. Dit raak my net as ek ’n fliek het wat wys, of promosietoere en premiéres moet bywoon. Mense stel skielik in jou private lewe belang, maar as ek op stel is, is ek maar net ’n ou wat sy werk doen en mense behandel my nie anders nie. Op publisitietstoere vra mense meer persoonlike vrae as in die res van die jaar maar tussen prente los hulle jou uit. My grootste claim to fame is dat ek die eerste Westerse akteur was wat sy eie premiére in Kommunistiese China kon bywoon. Wanneer dit sulke dinge moontlik maak, is roem ’n ongelooflike geskenk.
Vertaal deur Hannelie Diedericks