One Flew over the Cuckoo’s Nest. Dink aan Jack Nicholson met sy wille wenkbroue wat so van bó af manies op jou neermik en jy wéét sommer: Dít is mos hoe mal lyk.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Denmar. Weskoppies. Vista. Al daardie plekke waarvan mense so onder hul asems praat. Vantevore het ons oor kanker ook gefluister. In kleinletters. Onderkas. “Het jy gehoor? Kobus het kanker.” Sommer onlangs nog.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }My tannie Dottie doen dit steeds. “Haai my kind. Ek hoor jou pa het kanker. Nou watse soort ís dit? Is dit van die vinniges? Hoeveel maande het hy oor?”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Hy’s klaar dood, tannie. Dit was agt maande, altesame.
Agt aaklige maande wat my hele lewe verander het. Ons hele familie s’n, trouens. Wat op die ou end tot my ma se dood gelei het, ook.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“O, regtig? My herre, hartjie. Nou wat het sý toe nou oorgekom?”
Hartversaking. Lewensmart, tannie Dottie.
“Tsk-tsk. Gelukkig darem net die hart.”
Darem nét die hárt? Wat beteken dít? Dalk bedoel sy die siel. Want dit is wat dit is. Mense gaan dood aan die seerste seer van die siel, tannie Dottie.
Dit is hoekom daar plekke soos Denmar is. Die “Weskoppies vir ryk mense”, soos my sielkundige, dokter William, dit noem. Kliniese sielkundige, want dit is net húlle wat in hospitale soos Denmar met ons sagtes se koppe mag werk.
Voor kanker was daar ander onnoembare siektes. Tering. Vigs. Melaatsheid.
Wat moes melaatses nou weer uitroep? “Onrein! Onrein!” soos hulle aangestap kom. Want mense het nie verstaan nie. Mense was nog altyd bang vir siektes, ongesteldhede, toestande wat hulle nie verstaan het nie. Mense is steeds. Bang. En vrees maak mense wreed.
Deesdae is Denmar so ’n plek van skaamte.
Die stigma. O, die stigma.
Wel. Ek was daar. “Het jy gehoor? Ronel is in Denmar.”
Die eerste vraag wat ek telkens gevra word, is: “So, wat sê hulle is fout? Wat is jou diagnose?” Dis natuurlik net die dapperes wat dit vra. Die res kyk jou net meewarig of stom aan, of het lankal reeds anderkant toe geloop. Weg.
Jammer, daar is toe geen formele diagnose nie. Geen “klas van malheid” nie. Ek is nié bipolêr, psigoties, dipsomanies, skisofrenies, alkoholies (hoewel ek my tydens “die krisis” soms wel erg vergryp het), depressief, psigopaties, enige -aties, -olies of -anies nie.
Dit was doodeenvoudig: Die lewe het gebeur.
Vuiste vol daarvan, en in ’n baie kort tyd. Ek kon my nie meer verweer en die houe wegkeer nie. Jy is die een oomblik nog besig om jou lewensbokshandskoene se veters weer vas te ryg, dan kom daar nóg houe, so van ver buite die periferie van jou sielsoog.
Dwaff!
En dis bliksems seer.
Daar wieg jy dan, al kopskuddend. En jy probeer so hard. Jy probeer só verskriklik hard om net ’n bietjie van jou fokus terug te kry. Net soos daardie wêreldbokskampioen George Foreman nadat die uitdager Mohammed Ali hom in die agtste ronde in Zaïre uitgeklits het. George het eers ’n bietjie regop probeer bly. Steierend. Uit op sy voete. En toe kantel hy om: reguit mat toe. Die “grootste sportgebeurtenis van die twintigste eeu”, word dit vandag nog genoem. The Rumble in the Jungle.
Wel, ek sal dit graag só op my CV wil aanteken: Die grootste sielsgebeurtenis van die 21ste eeu. Ronel Nel se Rumble in the Jungle. Maar dié keer aan die verloorkant: Gesig eerste, plat op die planke. “Losing face”, sê hulle dit so gepas op Engels.
My psigiater en sielkundige, Gert en William onderskeidelik, noem dit albei ’n “lewenskrisis”.
Almal van ons gaan iewers in ons leeftyd deur ten minste een, sê Wikipedia. En ek móét hulle glo, anders gaan ek regtig soos ’n loony voel. Sommige mense s’n is net harder, of swaarder, en sommige hanteer dit beter, of het wyer, sterker en groter onderskragingsmeganismes.
“Die mees ‘tipiese’ oorsaak van opname in ’n psigiatriese hospitaal is dikwels net algehele uitputting, lewensmoegheid, ’n sameloop van omstandighede wat só opgehoop het dat die mens nie meer beheer daaroor het nie,” sê dr. Gert Bosch van Denmar Psigiatriese Hospitaal in Pretoria.
“Dit beteken nie die pasiënt is ’n swakkeling nie. Dit is ’n doodgewone mens wat na ’n plek soos Denmar toe kom vir hulp; om gesond te word. En heel dikwels – die meeste van die tyd – is die persoon in ’n lewenskrisis. Sy of haar ondersteunings-meganismes het weggeval, interpersoonlike verhoudings het gekwyn, en derhalwe is daar ’n gevoel van sosiale verwerping.”
Dr. William Griffith, die kliniese sielkundige wat meestal in tandem met dr. Bosch werk, stem saam.
“Daar is dikwels ’n huiwering by mense – veral ons in ’n patriar-gale Suid-Afrikaanse konteks – om na ’n plek soos Denmar te kom omdat ons ons beroep op ’n eksterne krag, ’n God, om ‘die probleem’ op te los. Maar as jy na ’n hospitaal of dokter kan gaan met ’n gebreekte been, waarom kan jy jou nie na ’n dokter wend met jou seer siel nie?”
Mý krisis was dat my ondersteunings-meganismes – met ander woorde my familie, vriende, my finansies, en gevolglik en uiteindelik ook my gesondheid, die teiken en oorsaak van al my ellendes was. Binne twee, drie jaar het ek omtrent álles wat ’n mens méns maak, aan die dood afgestaan of heeltemal verloor. Op die alleraakligste maniere denkbaar – en sonder ’n kans om tussenin asem te skep, of dinge te probeer “fix”. En ek kon eenvoudig nie met alles tegelyk cope nie.
Denmar-toe was presies 48 uur ná Ma se begrafnis: 9 Julie 2011. ’n Bottel Jack en ’n bottel OBS later. En ontelbare glase witwyn. Geen kos vir omtrent twee, drie weke, maande, nie. Jare? Ek het oor ’n tydperk van twee jaar sowat 25 kg verloor. Stres en angs en pyn en ’n onvermoë om ’n hele wydverspreide familie-Nel plus my eie gesin en werk en tuiste en ander verpligtinge bymekaar te hou. Wat nog te sê ’n vriendekring.
Sowat drie jaar tevore is Pa op 7 Julie 2008 sewe uur lank geopereer vir kaakkanker – wat agt maande plus en 55 kg minus later in sy dood geëindig het. Die kaakkanker het beenkanker het beenmurgkanker geword en dit was al. Ironies is die vader van die Siel se Kunde, Sigmund Freud, ook dood aan kaakkanker, het ek later gehoor.
Derhalwe het Sigmund my Denmar toe gestuur: en die eerste keer toe ek deur daardie hekke stap, onthou ek, het ek gedink: Wow! Hogwarths! Ek voel ’n bietjie soos Harriet Potter! Want hiér lê iets magies.
Dit was groen, rustig, voëlryk. En skielik was alles stil. Alles. Die woedende wêreld was weg. Daar was selfs hennetjies wat rondpik met wollerige kuikens oral agter hul deftige behoe-ders aan. En ’n haan wat rondskrop en maak of die werf syne is. Met tafels onder digte bome waarom groepe mense onder die loof sit en gesels – en durf lag!
Wanneer laas het ek gelag? Was my derde klein besef.
Daar was niemand in straightjackets nie – en veral géén cuckoos wat à la Jack Nicholson en kie rondwarrel soos waansinniges nie. Inteendeel.
My siel, gees, hart, wat jy dit ook al noem, het onmiddellik haar hangmat gekry.
Die stormwind het opeens gaan lê. En dit het gebeur voordat enige dokter of geneesmeester nog ’n woord met my gewissel het, of enige pil nog oor my lip geglip het. Geen wonder die woorde “hangmat” en “heimat” grens so digby mekaar nie.
Hierdie is dalk net ’n Hogwarths vir die hart, tannie Dottie. ’n Saterdag vir die siel.
So, hierdie is dan die regte DENMAR. In hoofletters en hardop gesê.
Dag 1
Daardie eerste wrede ontwaking. Koffie met beskuit om 5 vm. Ek word onsag wakkergemaak, en dadelik in my roetine ingeboender – net sodat ek weer in die bed kan omdraai om 7 vm. my pilletjies te kan drink (aanvanklik en gewoonlik klein goedjies wat my kalm hou. Ek het, onthou, pas in Denmar ingeseil omdat die skepe van my gemoed op stormseë vaar).
“Die rol van die psigiater is om die diagnose te maak en die onmiddelike psigofarmakologiese ingryping te bewerkstellig. Pasiënte kom gewoonlik getraumatiseerd hier aan, en het medikasie nodig om hulle te stabiliseer. Dis maar net soos iemand ’n bloedoortapping nodig het ná ’n groot ongeluk met baie bloedverlies,” sê dr. Gert.
“Namate die pasiënt psigies stabiliseer, word die rol van die kliniese sielkundige al belangriker, want hy kry die woorde uit die pasiënt.”
Dag 1, 2, 3 en daarna
Ontbyt om 8 vm. ’n Goeie, groot ontbyt met lae-GI-opsies vir diegene wat dit so verkies (ek). Koffie om 10 vm. (Koffie is groot in Denmar.) Middagete om 12 midderdag. Bad of stort, of sommer albei deur die dag. Borrels is belangrik, het ek besef. Dit vou my toe soos ’n hand-soen (sic). Koffie om 3 nm. Aandete om 6 nm. Koffie om 9 nm. Mét toebies.
Res van Denmar-dae
Sien Gert en William daagliks – en dis nie net pille en praat nie. ’n Vertrouensverhouding word gesmee wat vér verby enigiets anders in jou lewenservaring tot nou toe strek. Dit het niks te doen met familiale liefde of erotika of met vriendskap nie. Dis ’n vertroue met jou innerlikste. Jou siel.
As die pasiënt, soos in my geval, so gelukkig is om in bekwame en keurige hande te beland, word daar baie delikaat met jou psige gewerk. Uiters fyn.
Al jou onsekerhede wat jy op die terapeut uithaal, word opsy gestoot, en hy, wat dit moontlik agt keer per dag moet verduur, kyk ver verby die woedende, verwoeste mens voor hom, en sien die verwonde. En bewerk wondere daarmee.
En die ander magician, die psigiater, doen sy alchemie. Toor met sy pilletjies en sy ore – luister fyn deur al jou woorde heen. Waar sit jou gees nou? Hoeveel milligram na links, na agter, na watter deel van die serebellum? Waar lê jy nou op die vyf asse van psigologie?
Wat sou Freud sê?
Die dag stap aan, en so besoek ek tussendeur die fisioterapeut. Myne was Pieter Blom, ’n blinde man met siende hande wat my spiere behendig soos Braille lees en die spanning interpreteer.
Daar is ander opsies. Leer ken jou kamermaat/s; slaap, want ek mag; neem deel aan sport- en ander ontknopings (nie ek nie); drink nog koffie (ja!); maak kuns (ek het nie); skryf (in my geval); leer ander mense ken (jip); drink weer koffie.
Musiek en gesond word dans hand aan hand. So sal elke blom op aarde jou kan vertel – nie net Jan nie. Elke liewe oggend in die eetsaal is ons begroet óf met John Denver se “Leaving on a Jet Plane” óf Roxette se “Dressed for Success”.
Hoe ironies is daardie teenpole in die titels.
Ek het my skootrekenaar daar gehad, want ek moes rooi rose se kunsteblaaie tussendeur skryf, onthou. Dat hierdie wonderlike tydskrif my nie ge-fire het in daardie tye nie, bly ’n getuienis van die kaliber mense wat aan die hoof staan.
Die oggend toe ek met sewe gesnyde CD’s vol nuwe musiek in die eetsaal instap en die kombuispersoneel hoor vir die eerste keer in twee jaar iets anders as John of Roxette, toe dans en jil die hele Denmar! (Ek belowe.) Selfs die hoenders het hul koppe skuins gedraai. Die eerste nuwe song was Johnny Clegg se “Scatterlings of Africa”.
Om die ander mense te leer ken, is een van die hoogtepunte en die grootste openbaringe. Almal doodgewone mense.
Kan jy nou meer, tannie Dottie? Jou buurvrou of -man was dalk al in Denmar, jy sal nooit kan raai nie. Of selfs dalk jou dokter, jou dogter of jou kleinkind. Want almal swyg daaroor.
Die “hulle” is toe ek en jy en ons. Onderwysers, polisiemanne (en -vroue), proffies, huisvroue, joernaliste (jip, ’n hele paar van ons), ’n paar akteurs (geen name, helaas). Kunstenaars, sangers, studente, trokbestuurders, kokke, kassiere, administrateurs, sekretaresses, ma’s, pa’s, selfs ’n paar skoolkinders wie se ouers hulle boelie om goed te presteer. Boere (’n hele spul!), haarkappers, dokters. Daar was selfs een digter.
My kamermaats het my dalk meer van oorlewing geleer as al die mense in my lewe pre-Denmar. Dit vat baie om die lewe te oorleef, glo my.
Ntombi* het die grootste en ruimste lag van alle mense wat ek nog teëgekom het. Sy is ’n grootkop by ’n maatskappy soos Vodacom. Aangestel pre-1994, mind you. Geen BEE-aanstelling was sy nie. IT-graad gekry goed voor die bemagtigingstelsel ingetree het – en baie trots daarop. Enkelma van twee, en sy pas haar broerskinders ook op, asook haar ouer moeder. Wie sou nie soms sielsmoeg word onder soveel druk nie?
Sondae is daar kerkdienste vir diegene wat gelowig is – en daar is baie.
My tweede kamermaat was Emmy*. Liewe Emmy het jare lank geglo sy is Liewe Jesus. Sy het dit vas geglo. Haar verjaardag is immers op 25 Desember en sy het die hele wêreld se laste op haar brose dog breë skouertjies gedra. Bi-polêre depressie is wel by haar gediagnoseer. Emmy is een van die mooiste en sagste mense wat ek in my lewe leer ken het.
Maar in 2004, op 26 Desember, ’n dag ná haar verjaardag en met die reuse-tsoenami wat Thailand getref het, het sy besef: Dis mos nou nie wat ek vir die wêreld wil hê nie?
And the penny dropped, soos hulle sê. Emmy is steeds lief vir Jesus, sy sit met omtrent sewe Bybels in haar kas en bid gereeld vir ons sondaars. Maar sy is nou oukei, net ’n mens met probleme soos ons gewones. En haar hart is steeds een groot vergewens-gesinde hemelbed.
Wilhelm, een van die jongmans wat op die Denmar-kampus rondloop en vriendelik gesels met elkeen wat hy teëkom, se Here is anders. Emmy het hom ’n Bybel aangebied (hy haal gedurig versies uit die King James aan en vra ons dikwels wat die groot woorde beteken) maar toe sy hom ’n Afrikaanse Bybel gee, weier hy verontwaardig: “Maar die Here het mos nie Afrikaans gepraat nie!” Gun hom dit. Elkeen het sy fantasieë.
Iris Malema* (geen familie van Julius nie) se wikkeldansie laatnag was ons slaaptyd-wiegelied. Eers die hande warm vryf sodat sy haar brein in die regte plek kry, terwyl sy haar nek rol en die werwels so saggies wraak neem op die ouerword van die lyf. Sy’s skaars 28. Skouers wat een vir een op en af rol en ons geliefde coconut-blom wat stadig begin “mmmm” op die eerste note van “The Wizard of Oz”. Nou dít het ons almal verstaan. We’re off to see the wizard …
Want Denmar is dan óns seer siele se plek van magic.
En so het dit gebeur dat ek, Emmy, Ntombi en Iris ingehaak die “Denmar Shuffle” uitgewerk het, heeltemal spontaan en sonder oefen.
Die shuffle was gewoonlik so kort ná tien te sien, óns nanag. Gang-af. Kompleet met pantoffels, nagkabaaie en japonne. Vol giggel en grap, vol breinpille en sielspyn, af in die lang gang, bed en droomland toe. Ná die laaste tee en toebies. Net soos die viermanskap in The Wizard of Oz: Die tinman sonder ’n brein; die leeu sonder moed; die strooiman sonder krag; en Dorothy wat haar huis verloor en verdwaal het. Iewers, weet ons, iewers anderkant daardie reënboog … Daar lê die moed, die krag, die wete en die rigting.
Selfs die nagpersoneel en die susters het dit geniet; geglimlag en selfs vir mekaar geknipoog.
Vandag nog in die Ibis-vleuel, hoor ek, doen die girls die Denmar Shuffle. “We’re off to see the wizards, the wonderful wizards of Oz” (ons het die wizards vervang deur ons onderskeie dokters se name, of die name van die lekkervoel-pilletjies wat ons moes drink, alles helaas, onnoembaar, hier.) Let op: Daardie “s” aan die einde van wizard is baie belangrik. Daardie allerbelangrike “s” verteenwoordig die belangrikste onderdeel van jou liggaam, daardie entiteit waarvoor jy so skaam is en wat jy so verwaarloos: Jou Siel.
Los maar die stigma. Laat die eerste een wat onskuldig is, die eerste klip gooi.
So, daar skuifel ons vier siele. Gang-af en vorentoe. Al singend en skeef-dansend, baaaie stadig. Op ons eie yellow brick road.
En ons kyk óp en lag vir Jack Nicholson, daardie ou cuckoo.
Ten minste mik ons gesigte na bo. Want ons, ons is op pad na hoop.
My sielkundige (en hy is baie kundig) sê dikwels: Mense by Denmar is nie mal nie. Hul siele is net baie seer.
Dankie William. Hierdie is aan jou en Gert opgedra.
Gert wat van die begin af geglo het ek het nie oornag of skielik gek geword nie.
Ek was net ná ’n klomp onbeheerbare gebeure baie teer, seer en buite beheer.
En dankie aan julle wat my albei gehelp het om alles weer (’n bietjie) heler te maak. Julle is my Wizards of Oz.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.