Dit is vanjaar presies 22 jaar sedert ons land se eerste demokratiese verkiesing. In 1994 was ek ’n bogsnuiter van sestien en nog twee jaar van stemgeregtig af, maar ek onthou steeds die vrese en verwagtinge van die maande wat 27 April 1994 voorafgegaan het.
Ons Afrikaans-onderwyser, mnr. Piet Colyn, het aan ons standerd 9-klas die opdrag gegee om in die week voor en na stemdag, dagboek te hou van ons ervarings van hierdie grootse geskiedkundige gebeurtenis.
Met Vryheidsdag wat eerskomende Woensdag landwyd gevier word en die aanloop tot die munisipale verkiesing op hande, dink ek die afgelope paar weke baie aan hoe die verwagtinge van destyds, sowel as die vrese, opweeg teenoor die werklikheid nou.
Ek deel die dagboekinskrywings soos dit in my opstelboek in 1994 verskyn het.
“Dagboek-inskrywing: My belewings en interpretasies van nou, 18 April, tot na die verkiesing, 4 Mei – deur Ina Larney (16, st. 9A1)
18 April 1994
Joernalis doodgeskiet in “vriendelike vuur” – is dit maar net die begin van die geweld wat ons kan verwag gedurende die verkiesing?
Die besef dat die verkiesing alreeds volgende week plaasvind, bring kommer, maar ook opgewondendheid oor die paar vakansiedae as bonus!
19 April 1994
Vandag is bekend gemaak dat die Inkatha Vryheidsparty aan die verkiesing gaan deelneem. Alhoewel ek nie voorheen daaraan gedink het dat dit enige verskil sal maak of hulle deelneem of nie, kan ek nou insien dat dit dalk vir ’n veilige verkiesing kan sorg – minder betogingsoptogte.
Ons wewenaar-buurman is besig om “op te stôk”. Ma het dit ook al genoem dat daar so ’n paar blikkies ekstra hulle in ons kruidenierstrollie kan bevind – “mens weet nooit wat dalk kan gebeur nie”…
20 April 1994
Joernalis moontlik dood weens nekbreuk, nie skietwond nie – spesiale kommissie stel ondersoek in. Kiesers keelvol vir verkiesingsreklame.
21 April 1994
Politiekpraat in klasse is die in-ding. Tobias sê dat sy Geskiedenisonderwyser van mening is dat die ANC se kanse op oorwinning feitlik 100% is. Dit is tog interessant om die verskillende opinies te hoor van diegene wat meer agtergrond en ’n beter begrip van wat presies besig is om te gebeur, het.
Nietemin het die meeste van ons hoë verwagtinge vir die Nasionale Party hier in die Wes-Kaap.
22 April 1994
Twee Matriekleerlinge het vandag verjaar en hul maats het ’n groot ophef gemaak van dié twee stemgeregtigdes! Dit is snaaks om te dink daaraan dat daar al heelwat leerlinge is wat die 27ste hul kruisie kan trek. Ek kan nie help om te wonder nie of party van hulle al volwasse genoeg is om so ’n belangrike besluit te kan neem?
Noudat die IVP die Nasionale Party se plek heelonder op die stembrief ingeneem het, is vinnig aan ’n nuwe manier gedink om kiesers te help om op die regte plek hul kruisie te trek:
“Stem NP, tweede van onder
Stem, reg, vir die kaalkop-wonder!”
23 April 1994
Vanoggend het my pa ’n NP-vergadering bygewoon. Hy is ingesweer as kiesbeampte en sal vanaf die 26ste by die Burgersentrum toesig hou. Ek kan nie anders as om bietjie verontrus te voel oor die feit dat hy midde in al die opgewondenheid by een van die grootste stemlokale in die Skiereiland gaan wees nie – ons hoop maar vir die beste.
Pa het ook vir my ’n (ou) landsvlaggie saamgebring. Hy moes ’n volle R5 betaal vir dié replika van 27 x 17 cm.
24 April 1994
Kerke vanoor die hele land hou ’n spesiale biddag. In die belydenisklas het die dominee ons dit ook op die hart gedruk dat dit die laaste Sondag was waar kerke – of dan die Sabbatdag – deur die wet beskerm word. Van nou af word, soos hy dit gestel het, die skape van die bokke geskei. Dit het my diep laat nadink oor my as Suid-Afrikaner se plig en verantwoordelikheid om God se woord uit te dra.
Die SAUK is gevra om die satiriese program van Pieter-Dirk Uys, “One man, one volt”, liewers ná die verkiesing uit te saai. Ai tog…
25 April 1994
Bomme ontplof een na die ander in Transvaal (jammer – Noordwes en PWV). Dit is vermoedelik die gevolg van verregse opstand teen die verkiesing wat môre ’n aanvang neem.
Een van hierdie ploftoestelle het afgegaan in Bloemhof se landdroskantoor en Ma was hewig ontsteld hieroor – my ouma bly in die tehuis vir bejaardes, skaars tweehonderd meter daarvandaan. Gelukkig is niemand in hierdie voorval beseer nie.
26 April 1994
Op die vooraand van die verkiesing loop die gemoedere hoog – Kleinboet het my netnou amper aangerand toe ek per-abuis-met-geen-negatiewe-intensies een van sy lekkers uit sy halfleë kosblik aas. Ai, die nuwe Suid-Afrika is ’n harde plek!
Vandag is die spesiale stemme uitgebring. Gestremdes en bejaardes het die geleentheid ten volle benut en een verontwaardige senior burger wou kwansuis weet waarom sý Generaal Smuts dan nie op die stembrief verskyn nie! By die lokaal hier onder in die straat het iemand tot probeer om sy kiesgeregtigheid te bewys deur ’n doodsertifikaat te voorskyn te bring!
00:00 – By die Kaap Provinsiale gebou word ’n spesiale seremonie gehou waartdens die ou landsvlag onder leiding van Die Stem, vir die laaste keer gestryk word. Die nuwe vlag word gehys terwyl die Libertas-koor eers die nuwe volkslied, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, en daarna die Engelse weergawe van Die Stem gesing het.
27 April 1994
E-DAG!
Probleme by stemlokale!
By Mitchell’s Plein staan kiesers wat vir die eerste keer wil stem, tot ses ure en wag – sonder beloning. Weens die tekort aan kiesbeamptes, stembriewe en IVP-plakkers, asook talle ander probleme, bepaal die OVK dat dié probleem-lokale deurnag oop sal bly. Môre word ook tot openbare vakansiedag verklaar.
Die meeste stemmers hier in die Wes-Kaap laat hulle egter nie deur die deurdringende reëntjie keer nie en op sommige plekke is die toue wagtende, geduldiges tot 5 kilometer lank!
So min as moontlik aandag word gevestig op die motorbom wat ontplof het by die Jan Smuts-lughawe. Seker omdat geen verdere voorvalle van geweld aangemeld word nie en die goeie gees onder die mense voortduur. Dit is voorwaar ongelooflik om te verneem dat alles vreedsaam verloop – dit wil gedoen wees!
28 April 1994
Dit lyk asof die vreedsame toestand nie veel langer gaan voortduur nie: By sommige lokale is druk verkeer en ongelukkige kiesers raak handgemeen. Gelukkig is dit rustig hier onder in die straat!
Ai, ’n ma darem! Net omdat ek so ’n paar ou plakkaatjies van ouens soos Grant Show en André Agassi teen my mure het (daar is régtig nie méér as drie en veertig nie…!), wil sy nou die stapel NP-plakkate teen die gangmuur laat pryk! Dankie tog ons bly binne 600 m van die naaste stemlokaal af…
29 April 1994
Ek was vanmiddag gou Clicks toe en is aangenaam verras deur die mense se vriendelikheid. Op elke gesig is egter spore van afwagting: Môre-oggend begin die groot stemmetellery.
30 April 1994
In die meeste dele van ons land het die tellery om 7:00 begin. Terwyl Ma-hulle heerlik voor die televisie kan sit om elke brokkie inligting te absorbeer, moet ek egter hier sit om deur my leerplan te ploeg… Maar nou ja, in die Nuwe Suid-Afrika sal ons elkeen seker ons meetkunde-stellings moet probéér reg bewys…
1 Mei 1994
Stadig maar seker vloei die uitslae in. Die ANC loop tot dusver voor in elke provinsie, behalwe in KwaZulu-Natal (IVP) en ons eie Utopia’tjie hier aan die Wespunt van die Kaap. Op nasionale vlak is die ANC ver voor.
KISS behaal haar duisendtal (nog 39 000 grapjasse en dié dame het ’n pos in die parlement!), maar SOCCER skop stof in haar oë met ’n totaal van 1982 stemme. Vir mnr. Viljoen is die moontlikheid van ’n Volkstaat ook nog net 621 800 stemme ver…
2 Mei 1994
In die Wes-Kaap heers groot spanning en afwagting: Gaan die Nasionale Party seëvier? Die beslissing berus by die Mitchell’s Plein-uitslae wat nou enige oomblik kan uitkom – vir die afgelope vier en ’n half ure al!
3 Mei 1994
Die Nasionale Party kraai koning in die Wes-Kaap! Op nasionale vlak is dit egter die ANC wat die septer swaai. In sy oorwinningstoespraak sê ons nuwe staatspresident, mnr. Mandela, wel dat hy almal (die NP inkluis) uitnooi om deel te vorm van ’n nasionale-eenheidsregering.
Dit krap ’n bietjie die feit dat hy lustig saam vuisswaai tydens die sing van die godsdienstige “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, maar ons vertrou dat dit nie met slegte bedoelinge was nie.
Ek weet eerlikwaar nie hóé om te voel noudat die vyfjaar-bewind van ’n kommunistiese party ’n realiteit geword het nie, maar op ’n snaakse wyse voel ek ook vreemd gerus dat dit nou ’n uitgemaakte saak is wie gewen het.
Die pad vorentoe lê oop vir alle Suid-Afrikaners – dit hang af van onsself hoe ons dit gaan loop.
“Nkosi Sikelel’ iAfrika”.
Vanjaar is ek 38 jaar oud, getroud, ma van twee laerskoolkinders en woonagtig in een van die mooiste dele van die land in ’n provinsie waar dinge skynbaar heelwat meer rooskleurig is as in ander dele van die land.
Ek is uit my hart dankbaar dat daar nie meer kunsmatige skeidings is wat aan sekere landsburgers tweederangse status gee en hulle van demokratiese vryhede ontneem op grond van ras, kleur, politieke oortuiging, geloof of lewensstyl nie.
Maar, mens hoef net ’n enkele dagblad se eerste paar bladsye te lees om onthuts te voel deur hoe hierdie vryheid misbruik word. Dit is verontrustellend en ontstellend om te sien hoe stelsels wat gewerk het en regte, positiewe resultate gelewer het aan almal – soos onderwys, mediese dienste, landbou, mynbou, noem maar op – na dit vir een-en-twintig jaar as politieke speelballe gebruik is, reeds nie meer gehalte uitkomste lewer nie.
Dat korrupsie nie alleen geduld word nie, maar ook deur die hoogste gesag onderskryf, gepleeg en aangemoedig word, maak my so boos soos dit my maak as ek op ’n Sondaglaatmiddag deur die dorp of verby die dampark ry en sien hoe rommel die wêreld vol gestrooi lê want “iemand anders moet maar die gemors opruim”. Daar is myns insiens nou na 22 jaar van demokrasie, heelwat minder trots – selftrots en trots om die land ’n beter, veiliger, gesonder en meer opgevoede heimat te maak.
En dít is hoekom ek bedeesd voel oor eerskomende Woensdag se vryheidsvieringe – hoe vier mens vryheid as jy nie gevrywaar is van misdaad, moord, roof, korrupsie en ander wandade nie? Ek wil vashou aan die hoop van vryheid – nie oor beloftes wat tydens elke nasionale of plaaslike verkiesing gemaak en gebreek word nie, maar omdat ek steeds oortuig is dat daar mense is wat die land ’n beter plek kan én wil maak – vir almal. Maar, daarvoor móét jy stem.
“Nkosi Sikelel’ iAfrika”!