Hoekom vlieg tydskrifte van die rak wanneer daar ‘n geskenkie by is?
Hoekom word ‘n oupa stywer vasgedruk wanneer die kleinding agterkom daar is ‘n lekkertjie in sy sak?
Hoekom vermurwe ons vroue wanneer ons ‘n onverwagse drukkie kry terwyl ons skottelgoed was?
Ek het ‘n sterk vermoede dit hou verband met daardie ietsie ekstra.
In ons eeu waar ons elke dag uit ‘n oorvloed moontlikhede kan kies – dink maar aan die lekkergoedrak in die Spar, of die vleisverskeidenheid in die slaghuis as banting jou ding is – word ons nie maklik verras nie. Ons het al álles gesien, al was dit net op ‘n skerm.
Om ‘n ietsie ekstra te beleef, moet dit teen die grein van ons gewone patroon ingaan. In ‘n huis waar daar elke aand poeding op die tafel is, of waar eksotiese vakansies aan die orde van die dag is, verg dit kopkrap om ‘n verrassing te bewerkstellig.
Ek onthou die verhaal deur ‘n Franse skrywer van wie ek die naam vergeet het, oor die twee jongmense in ‘n vroeër tydperk wat arm was aan aardse goed maar mekaar hartstogtelik liefgehad het. Die vrou wou bitter graag vir haar geliefde ‘n kosbare Kersgeskenk gee. En in sy hart het die man heimlik planne gemaak om haar asem weg te slaan.
Op Kersdag maak hy toe sy geskenk oop: ‘n horlosieketting wat sy gekoop het met die geld wat sy gekry het vir haar lieflike lang hare.
Sy geskenk aan haar was ‘n borsel-stel, en om dit aan te skaf het hy sy sakhorlosie verkoop.
Dit het my lank geneem om te besef dat die ietsie ekstra in hierdie storie onverganglik is – die twee mense se sagte liefde vir mekaar.
Dié is na 20 maande my laaste blog. En vir jou wat dit lees, wens ek ‘n hele string ietsie ekstras. Mag elkeen in ‘n vorm kom wat met jou hart praat, en mag dit belaglik dikwels gebeur.
Verrassings hou die lewe vars (en diegene in hul vyftigs jonk.)