Crudité en witaas met tuisgemaakte harissa-mayonnaise deur Vickie de Beer. Bygestaan deur Julia van Maarseveen. Foto’s deur Lindy Kriek
Crudité en witaas met tuisgemaakte harissa-mayonnaise
Ingredients
- • 6 leë eierboksies
- • 6 eiers, oopgesny aan die bokant en die geel en wit uitgegooi (gebruik dit vir roereiers vir ontbyt).
- Harissa-mayonnaise
- • 2 eiergele
- • 1 knoffelhuisie, geskil en gekneus
- • knypie sout
- • 10 ml Dijonmosterd
- • 125 ml (½ k) olyfolie
- • 125 ml (½ k) sonneblomolie
- • 15 ml suurlemoensap
- • 30 ml (2 e) harissa-speserymengsel
- Crudité
- • 6 baba-worteltjies, in die lengte deurgesny en blitsig geblansjeer
- • 12 fyn groenboontjies, blitsig geblansjeer
- • 12 aspersiepunte, blitsig geblansjeer
- Witaas
- • 250 g bevrore witaasvissies
- • 125 g koekmeel met sout gegeur
- • 500 ml kookolie vir diepbraai
Instructions
Mayonnaise
1 Gooi die eiergele, sout, knoffelhuisie en mosterd in die bak van ’n voedselverwerker.
2 Meng die olyfolie en sonneblomolie in ’n maatbeker. Hou die beker ’n entjie bokant die voedselverwerker en gooi die olie in ’n dun straaltjie by die eiergele terwyl die masjien aangeskakel is.
3 Roer die suurlemoensap en harissa by sodra die mayonnaise begin verdik en al die olie bygevoeg is. Hou eenkant.
Witaas
4 Verhit die olie in ’n middelslagkastrol.
5 Gooi die gegeurde koekmeel in ’n plastieksakkie en gooi die vissies by. Skud die sakkie sodat die vissies goed bedek is.
6 Gooi die vissies uit op ’n bord en skud die oortollige meel af. Braai in sarsies in die olie, skep met ’n gaatjieslepel uit en dreineer op kombuispapier.
Opdiening
7 Was die leë eierdoppe met kookwater uit en laat staan dit onderstebo om droog te drup. Vul die doppe met die harissa-mayonnaise en sit ’n doppie in elke eierbakkie.
8 Vul die res van die holtes met die crudité-groente en verdeel die vissies tussen die ander holtes in die bakkies.
9 Maak die bakkies toe en bind met kombuistou toe sodat elke gas sy houertjie met die voorgereg self kan oopmaak.