Wyfie het ’n toekenningsmasjien vir Showmax geword, met pryse by MIP Africa en die Silwerskermfees, en benoemings oraloor, vanaf Cannes tot Seoul. Volgende aan die beurt is die Nasionale Rolprent-en-televisie-pryse waar Wyfie vir vyf toekennings benoem is: beste televisiereeks (met draaiboek), beste Afrikaanse televisiereeks, beste nuweling (Mienke Ehlers, sy het dié prys by die Silwerskermtoekennings ingepalm), beste aktrise in ’n televisiereeks (Beáta Bena Green, ook by die Silwerskermtoekennings benoem), en beste byspeler (Marguerite van Eeden, wenner van dié kategorie by die Silwerskermtoekennings).
Cintaine Schutte (Fynskrif, Dinge van ’n Kind), wat vroeër vanjaar ’n Naledi-teaterprys ingepalm het, het vir seisoen twee van Wyfie by die rolverdeling aangesluit as Maggie, Shay se ouer liefdesbelangstelling. Sy staan veral uit in vandeesweek se episodes, met Maggie en Shay (Green) wat hul eerste ete as ’n paartjie aanbied, en Maggie wat dan in Die Grot wakker word en en haar studentedae herleef as sy saam met Amanda (Celeste Loots van Trompoppie en One Piece) dagdronk raak.
Roz Els het met Cintaine oor haar rol in dié treffende universiteitstelenovela gesels:
Hoe het jy deel van Wyfie se rolverdeling geword?
Ek het die Vrydag ’n oudisie gedoen, die Maandag het ek gegaan vir ’n chemistry test met Beáta, en twee dae later het ek begin skiet! Ek was heel verras toe alles so vinnig gebeur het.
Ek is baie bly die rol het oor my pad gekom. Ek het in daardie stadium al ’n bietjie Wyfie gekyk, en dit het na ’n lekker projek gelyk, maar ek wou myself ook uitdaag.
Marcel Spaumer (hoofskrywer) en sy span het toe al ’n idee gehad van Maggie se storielyn, maar nie te ver in die toekoms in nie, en dít was ook ’n nuwe ervaring. Gewoonlik, as jy in ’n reeks speel, kry jy al die episodes se tekste voordat jy begin skiet, maar hier moes ek myself heeltemal oorgee aan ’n nuwe proses, want hulle het geskryf soos wat hulle geskiet het, blok vir blok.
Aanvanklik het ek gedink het my karakter net ’n klein storieboog sou hê, net in en uit die reeks sou wees, maar toe was dit vir my so cool dat hulle Maggie se rol groter geskryf het.
Vertel vir ons meer oor Maggie.
Maggie is ’n professor, sy’s departementshoof van politieke wetenskap by Eike. Sy is bevriend met Ragel (Therese Bam) wat in dieselfde departement werk. Sy ontmoet heel toevallig vir Shay en soos wat die storie verloop, loop hulle al meer in mekaar vas en hulle begin met mekaar kontak maak, minwetend dat Ragel eintlik Shay se ma is. Dít is waar die intrige begin, want jy vang ook vir Shay in die middel van haar storielyn waar haar verhouding met haar ma nie baie goed is nie en dan bo-op dit knoop sy hierdie verhouding met een van Ragel se kollegas, en iemand ouer as sy, aan.
Is daar raakpunte tussen jou en Maggie?
Ek is glad nie soos Maggie nie, maar ek dink Shay ontlok ’n sagtheid in Maggie en dit is iets wat ek as Cintaine ook het, ’n sagtheid. Dis ook my goue reël in die lewe om alles uit ’n ontspanne plek te doen, want dan kan jy enigiets regkry. En dít is wat Shay in Maggie ontlok het. Om al daai mure af te breek, sodat Maggie net kan wees.
Hoe het jy besluit om die rol aan te pak?
Maggie is amper 20 jaar ouer as Shay, maar ek het besluit dat ek nie wil hê dat dit moet gaan oor ’n intergenerasie-verhouding, of ’n gay verhouding nie. Ek wou hê dit moes draai om hoe sy verlief raak op Shay én hoe onverwags dit is.
Maggie het pas uit Duitsland teruggekeer waar sy vir 12 jaar in ’n verhouding met ’n man, Ruan, was. Dit het nie uitgewerk nie, en sy na Suid-Afrika teruggekeer. Maggie het haarself belowe dat sy ’n nuwe hoofstuk gaan begin, nuwe wortels gaan skiet, gefokus gaan wees, ’n lewe bou en miskien enkellopend vir ’n ruk wees. Maar soos die lewe maar is, het Shay haar voete onder haar uitgeslaan, en nou moet hulle saam die uitdagings en kritiek van die samelewing navigeer. Sy’s ’n intelligente vrou, sy weet wat mense gaan dink. Maar hierdie keer is sy ’n bietjie selfsugtig in die sin dat sy nie meer omgee oor wat ander mense van haar dink of verwag nie.
Wat dink jy gaan kykers se reaksie wees?
Dit gaan interessant wees om te sien wat die gehoor daarvan maak. Ek het al klaar my eerste Facebook-tannie gekry wat my oor die vingers getik het. Dít gaan gebeur, en dis wat ek wil hê. Mense moet gesprekke hê oor hierdie goed, al baklei hulle binne hulself daaroor.
As storievertellers is die grootste plig wat ons het om nie ons karakters te veroordeel nie; wanneer iemand iets van hulle te sê het, moet jy ook opstaan vir hulle. Of jy nou ’n booswig of ’n engel speel, jy moet kan regverdig hoekom hulle doen wat hulle doen. En hier gaan dit oor twee mense wat verlief raak op, en lief raak vir, mekaar.
Hoe was jou ervaring om teenoor Beáta te speel?
Beáte het nogal dieselfde werksmetodiek as ek in terme van hoe ons tonele en karakters uiteensit. So dit was vir my baie lekker om met haar te werk. As sy af-dae gehad het, het ons gou ’n koffie gaan kry en gesels oor wat volgende in ons storielyn was en hoe ons dit wou benader.
En die res van die span?
Jissie, die Wyfie-stel is ’n goed-geoliede masjien en die skietproses is baie samewerkend. Jy kon op stel voel hoe baie almal oor die storie omgee. En natuurlik die aktrises wat die vier wyfies speel – hulle is fantasties.
Wat dink jy is die impak wat Wyfie het in terme van hoe ons stories in Afrikaans vertel?
Dit is vir my verskriklik lekker dat daar nie gesensor word nie. Hulle skram nie weg van enigiets wat taboe is of moeilik is om oor te praat of te kyk nie. Dís vir my opwindend.
In die tyd wat ek Wyfie geskiet het, het ek ook vir die derdejaars by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement klas gegee en dit was baie interessant om te hoor dat my studente Wyfie fuifkyk. En hoekom? Want hulle vind aanklank daarby!
En dan is daar van my vriende wat 37 is en sommige van hulle trek by drie kinders en Sondag is hul heilige Wyfie-tyd. Mans moenie pla nie, kinders moet op die tablet speel, en dan binge hulle ’n paar episodes. Ek het ook vriende wat in hul vyftigs is wat nie verstaan hoekom hulle dit kyk nie, maar hulle kan nie ophou nie! (lag)
Ek dink wat Marcel en sy span reggekry het – om die storie relevant en lewendig te hou – verdien nogal ’n pluimpie. Ek is baie bly ek was deel daarvan.
KYK | Wyfie se lokprent vir Seisoen twee: