Cintaine Schutte is nie bang vir werk nie. Dit kom jy gou agter wanneer jy gaan kyk na hoe besig sy die afgelope ses jaar was sedert sy haar honneursgraad in drama verwerf het. Daar was rolle in meer as dertig produksies, tien rolprente en kortflieks, RSG-radiodramas en twee TV-reekse, Die Bolandmoorde en meer onlangs in die kykNET-sitkom Phil 101.
Nes haar mede-akteurs in die destydse Polony-teaterkollektief (wat name soos Christiaan Olwagen, De Klerk Oelofse, Wessel Pretorius, Hannah Borthwick en Roeline Daneel insluit) deins sy nie terug om te doen wat gedoen moet word om haar passie vir die verhoog uit te leef nie. Sy skryf tekste, doen regie, asook agter-die-skerms werk soos beligting of verhoogbestuur. Hieroor is sy filosofies. “Ons het vroeg al besef ons moet vir onsself werk skep, want niemand gaan dit vir ons doen nie. Ons generasie laat dinge gebeur, en ons is bereid om ons vingers deur te werk net om te kan speel,” sê sy. En enigeen wat Polony se rits produksies (en bekronings) die afgelope paar jaar dopgehou het, sal weet Cintaine is allesbehalwe arrogant wanneer sy dit sê.
Ons gesels by die Innibos Kunstefees in Nelspruit op die aand voor haar dertigste verjaarsdag en pas ná ’n opvoering van Amper, Vrystaat saam met Milan Murray en Antoinette Louw. Die stuk het die afgelope twee jaar landswyd vol sale getrek. Antoinette en Milan wou nog altyd saam in iets speel, verduidelik sy, en hulle wou dit doen saam met Nico Scheepers, ’n jong regisseur oor wie se werk teaterkritici gaande is. Hy het voorgestel hulle betrek vir Cintaine, en saam-saam het die vier aan die konsep en teks van Amper, Vrystaat begin werk. Die teks was vroeër vanjaar ’n ATKV-Woordveertjie-finalis in die kategorie vir beste dramateks.
“Dis ’n lieflike stuk oor drie susters wat huis toe gaan vir hul ma se begrafnis. Dit was ’n wonderlike ervaring om saam met ouer, meer ervare aktrises te kon speel. Hulle het vriendinne en mentors geword.”
Cintaine is ’n bekende gesig op die verhoog, en haar naam was die afgelope paar jaar gereeld op kunstefeesprogramme. Dikwels in meer as een produksie, soos ’n jaar of wat gelede toe sy by die KKNK met ’n Kanna as beste vroulike byspeler bekroon is. Boonop sommer vir twéé rolle, albei ewe uitdagend: die stom Katrinn in die Duitse dramaturg Bertolt Brecht se Moeder Moed en Haar Kinders, en Masja in Tsjechof se Die Seeumeeu (wat ook onlangs verfilm is). Haar talent is ook op ander feeste raakgesien, en vanjaar is sy vir ’n Woordfeestoekenning benoem as beste vroulike byspeler vir haar spel in Drif, en vir ’n Fiësta vir haar rol in Die Huis van Bernarda Alba.
“Ek is mal oor die verhoog,” vertel sy. “Dis so ’n onmiddellike ervaring tussen die akteurs en die gehoor, ’n samekoms van mense wat een storie saam ervaar. Almal is saam in die oomblik. En as akteur móét jy eerlik wees en die storie so eerlik moontlik vertel.”
Sy gesels maklik en spontaan, nog onaangeraak deur haar bekendheid. En so sal dit bly, vertel sy, want roem is nie hoekom sy hierdie werk gekies het nie. “Geen akteur wat ek ken, doen dit vir roem nie. Dit bly harde werk, ’n ervaring wat jou keer op keer terugbring aarde toe. Jy hoop maar net jou werk raak een mens.”
Die harde werk begin lank voor die verhoog. “Jy moet moeite doen om elke enkele karakter wat jy vertolk, te vind. Soms verg dit diep delf, maar as akteur moet jy onthou elke karakter in ’n stuk is met ’n doel geskep. Jy moet weet wat daardie doel is, en hoe om daaraan ’n stem te gee.” Om te sê jy vind nie die karakter nie, is ook nie ’n opsie nie, sê sy. “Dan moet jy eenvoudig harder werk, harder soek. Al die talent in die wêreld beteken heeltemal niks as jy nie bereid is om hard te werk nie.”
Al die talent in die wêreld beteken heeltemal niks as jy nie bereid is om hard te werk nie
Ouer akteurs en aktrises se name duik gereeld in ons gesprek op. “Ek het geweldig baie respek vir hul ervaring. Ek voel ook sterk daaroor dat daar een of ander program van mentorskap behoort te wees sodat sulke ervaring nie net verlore gaan nie. Ons almal moet ons kennis en ervaring met mekaar deel.”
As dogtertjie was aktrise-wees nie op haar lysie van moontlike beroepe nie. Sy het eerder gedink sy sal ’n onderwyseres word, of dalk ’n veearts of marinebioloog. “Ek was eintlik ’n skaam kind. Ek het gedink drama sal my dalk help om uit my dop te kruip.” So gesê, so gedaan, en sy het vir dramaklasse by die aktrise Shareen Swart se dramaskool ingeskryf.
Toe haar vriende ná skool vir ’n gap-jaar Londen toe wou gaan, wou Cintaine ook. Maar Shareen het haar oortuig om minstens vir ’n dramagraad in te skryf, en die gebore Pretorianer is by die Universiteit van Stellenbosch aanvaar. Ná haar graad het sy haar honneurs aan die Universiteit van Kaapstad gaan doen, en daarna in ’n klomp Engelse produksies gespeel om die pot aan die kook te hou.
“Dis een van die grootste uitdagings vir ’n vryskut-akteur. Jy moet finansieel oorleef. Maar ek wil niks anders doen nie. Toneelspeel laat my veilig voel.” Al was dit soms baie moeilik, is sy vandag dankbaar daaroor, want elke stuk het meer ervaring en insig gebring en verder aan haar vaardighede en talent geslyp.
Sy is ook genooi om by Polony aan te sluit. “Die kollektief het dit vir ons almal moontlik gemaak om onsself op die planke te kry en ons eie werk te skep toe daar min werk was. Dit was ’n wonderlike tyd in my lewe. Om teater saam met vriende te maak en by mekaar te leer is ’n voorreg. Ons akteurs is mos ’n bietjie soos gipsies,” skerts sy. “Ons toer van fees na fees met ons produksies en kry met sulke wonderlike mense te doen. Dit sorg vir juwele op ’n mens se lewenspad.”
“Om teater saam met vriende te maak en by mekaar te leer is ’n voorreg”
Haar ouers, Hesté, ’n praktykbestuurder by ’n narkosefirma in Pretoria, en Bernhard, ’n sakeman, is haar grootste ondersteuners. “Hulle het nog altyd my loopbaankeuse gerespekteer, en kom steeds feeste toe om na ons vertonings te kom kyk. Dit hou my geanker.” Haar ouers het ook saam haar besonderse naam gekies. Albei is aanhangers van die werk van Wilbur Smith, en haar naam, wat eeuwending beteken, kom uit sy The Burning Shore.
Cintaine is al byna ses jaar in ’n verhouding met die akteur Carel Nel (32), wat tans by feeste te sien is in die rol van Genis in Koöperasiestories. Hulle het mekaar ontmoet toe hulle saam in Dream, Brother gespeel het, en was ook verlede jaar saam in die bekroonde kortfliek HUM te sien.
“Ons werk lekker saam. Hy is my beste vriend, en laat my veilig voel. Carel is ’n fantastiese akteur en ’n baie harde werker, baie lojaal en my grootste ondersteuner. Ons (en my kat, Lily) bly in Tuine in Kaapstad, binne stapafstand van ’n klomp van ons akteursvriende. Ek geniet die broederskap daarvan – dis nogal lekker om mense naby te hê wat presies verstaan waaroor ons bedryf gaan.”
Sy lewe nie haar lewe volgens rigiede planne nie. “My vyfjaarplan is eenvoudig: ek wil werk. Natuurlik het ek drome, maar eintlik wil ek net oor vyf jaar genoeg werk hê. Ek moet steeds soms werk doen waarvan ek nie hou nie.” Een werkie wat sy noodgedwonge nog tot baie onlangs moes doen, is om teen betaling met ander mense se honde te stap. “Maar dit was lekker – dit hou jou sane om saam met diere te wees. Vir hulle maak net die oomblik saak. Ek was vroeër ook ’n au pair en ’n kelnerin. En ek het al by die Canal Snow Walk gewerk.”
Vra ek oor droomrolle, is haar antwoord eenvoudig. “Dit klink dalk nou soos ’n cliché, maar enige rol solank ek reg aan die karakter kan laat geskied.”
Sy geniet dit om vir ontspanning te stap. “Dis my meditasie. Ek en Carel het aan die begin van die jaar die Skeepswrakstaproete van Port Alfred tot by die Visrivier gestap. Dit het sewe dae geduur.”
Sy lees ook graag, en Bibi Slippers se bekroonde digbundel, Fotostaatmasjien, asook Vlam in die Sneeu, die briefwisseling tussen Ingrid Jonker en André P. Brink, lê tans op haar bedkassie. “Die lekkerte van lees is dat elke leser se persepsie van die karakters verskil. My ouma het my voor skool al leer lees, en ek het tot vandag toe steeds my hele versameling Afrikaanse Disney-boeke. Dit het my ure lank besig gehou. Ek was baie teruggetrokke, en niks was lekkerder as om in my kamer te sit met my boekies nie.”
Ons groet, en ek vra hoe sy beplan om die volgende dag ná hul laaste optrede by die fees, haar verjaarsdag te vier. “Ek beplan niks groots nie. Ek dink ek gaan dalk sommer net vir ’n paar ritte in die pretpark gaan. Maar ek vat dinge mos maar rustig en soos wat dit kom.”