Bo in die huis klim die kabelkarretjie in die een venster teen Tafelberg uit. In ’n ander venster waak die Twaalf Apostels roerloos oor ’n koue Atlantiese Oseaan wat verder ondertoe lê en blink. Ons is vir ’n wyle op een van daardie puntjies van die planeet waar jy net die fantastiese vlerkslae van skoonheidskoninginne, topmodelle en rolprentsterre hoor ruis.
Cindy, fiks en fluks, hóú van besig wees. En is mal oor organiseer. Sy was maar twaalf toe sy al haar ma oorreed het om die winkels in te vaar vir nuwe klere om aan ’n skoonheidskompetisie deel te neem.
“Die hele familie het saamgespeel en opgetrek, almal uitgevat vir die geleentheid,” onthou sy. “Pa en Ma het my uit die gehoor uit aangemoedig terwyl my broer, vandag nog min gepla met al die roem en glans, al die ander mooi meisies toegespits het. Ek was in die wolke. Opge-dress met gedoende hare en baie in my skik dat ek toegelaat is om ’n bietjie lipstiffie aan te sit.”
Sy was uit die staanspoor net gek na die verhoog. “Ag, eintlik sommer oor die hele gedoente. Ek vermoed dis al die geesdrif wat my laat wen het!” Vandag is sy steeds verbaas oor waarheen dit uiteindelik alles gelei het.
“Ek het geen ervaring gehad nie en was met my Edgars-rokkie boonop die jongste deelnemer, maar het nietemin met die louere weggeloop. Een van die pryse was ’n modelkursus.”
Maar die pad na die Mej. SA-titel en alles wat daarop gevolg het, was glad nie ’n oornag suksesverhaal nie. Om vandag ’n skoonheidskoningin te wees, verg in teenstelling met wat baie mense dink, veel meer as om net baie mooi of baie dun te wees.
Cindy, van jongs af ambisieus en gedrewe, het ’n vermoë om ’n ding te takel, deur te sien en dit dan boonop te geniet met die lewenslus wat haar kenmerk. Daarvan getuig haar meer as sewentig plaaslike en internasionale skoonheidstitels, haar welslae as model en TV-aanbieder en ook haar vernuf in die sakewêreld.
Maar dié vrou wat nie daarvoor teruggedeins het om op 16 die buiteland binne te vaar nie, kans gesien het om aan Survivor Santa Carolina deel te neem en al enigiets van mopaniewurms eet tot valskermspring aangedurf het, erken ruiterlik dat die stamperige Kaap tot Kaïro-reis van moederskap héél ander vereistes aan ’n mens stel. As ingelyfde ken sy nou ook situasies wat jou soms wild na vashouplekke laat gryp.
“Om ’n ma te wees is beslis een van die moeilikste dinge wat ek tot nog toe gedoen het indien nie dié moeilikste nie.” Sy lag. “In ’n stadium het ek, wat altyd so daarna strewe om dinge ‘reg’ te doen, ietwat desperaat begin voel – en ek is hoegenaamd nie goed hiermee nie! Ek moes maar mettertyd leer om ’n ma te word.”
“Kleintjies daag jou op elke moontlike vlak van jou menswees uit. Dit is ook verwarrend omdat jy aan die een kant so gelukkig is en so diep liefhet, maar aan die ander kant soms net so moeg is dat jy nie reguit kan dink nie.”
Die geboortes het gelukkig beter verloop as wat sy dit vir haar voorgestel het. “Ek het gedink dit gaan erg en luid en chaoties wees en toe is dit hierdie pynlike maar mooi ervaring met soveel vrede in en om my.”
Waar ander meisies soms van vroeg af drome droom oor trou en kinders hê, was dit vir lank baie laag op die besige Cindy se prioriteitslys. “Ek onthou dat ek van baie kleins af die beste in alles wou wees. Geen mens weet hoekom nie en dit was ook nie weens druk of verwagtinge van my ouers se kant nie. Dit was nou maar net so.
“Ek was ’n regte meisietjie met bypassende strikkies by my kerkrokke en in my vlegsels vir skool. Maar ek het ook saam met die seuns, en daar is baie in ons familie, gekerjakker; dinge soos om op my oupa se plaas in die mielielande rond te hardloop om die hoenders te probeer vang voor die grootmense agterkom ons het die hek oopgelos.”
As tiener was sy gewoon te besig vir verkeerde dinge. “Behalwe die modelwerk het ek gesing, gedans, aan redenaarskompetisies deelgeneem, netbal gespeel en die seuns toegelaat om my huiswerk af te skryf in ruil daarvoor dat hulle my tas tussen periodes dra. Nie dat hulle noodwendig oor hulle voete geval het vir my met my ronde wange, tande vol drade, lang rompe en plat borsies nie!
“Ek het darem ’n piksoen van die seun oorkant die straat gekry wat my ’n week daarna nog laat bloos het. Skool was net nie my ding nie. Ek wou groter dinge bereik en toe ek hoor ek kan graad 11 en 12 in een jaar doen, het ek my nie tweemaal laat nooi nie. Dit het vir my uiteindelik die vryheid gegee om uiting te gee aan my ondernemingsgees en om my drome te verwesenlik.”
Maar daar is ’n tyd vir alles.
“Om te trou en kinders te hê, was uiteindelik net ’n natuurlike uitvloeisel van my liefde vir Clive. Ek dank die Here elke dag daarvoor en ek weet ek sou dit nie vir al die geld in die wêreld anders wou hê nie.”
Dit is vir haar belangrik om dissipline by haar kinders te kweek. “Ek is ’n streng mamma, iets wat ek seker van my ouers af kry. My ma was en is ’n sagte mens, maar jy het geweet jy word geraps as jy nie skoonmaak waar jy mors nie. En my pa was nie verniet ’n militêre man nie; ek moes van jongs af in my spoor trap.
“Hy het selfs ná skool nog ’n stokkie daarvoor gesteek toe ek ’n verhouding aangeknoop het met iemand wat hulle nie goedgekeur het nie. Dankie tog daarvoor! Al daardie trane wat ek destyds gestort het, het my ongetwyfeld later baie trane gespaar. By hom kon ek ook baie dinge leer wat my in die sakewêreld goed te pas kom, soos om fyn waar te neem en eerder te luister as te praat.”
Sy kry ’n geamuseerde trek op haar gesig. “Mense is geneig om ’n skoonheidskoningin te onderskat. Hulle dink hulle kan vir jou ore aansit, iets wat nogal vir my stilletjies pret verskaf.
Vandag waardeer ek my ouers se voorbeeld. Soms wil dit ’n mens se hart breek om vir ’n kind te sê: nee, jy kan nie dit doen of dat eet nie.
“Dit sou soms net soveel makliker wees om te sê: ja, eet sjokolade vir ontbyt, laai al die speelgoed in die inkopietrollie, spring op die bank, of gaan slaap wanneer jy wil. Maar nou ja, ’n ma moet bereid wees om soms die ongewilde een te wees ter wille van goeie maniere en sodat kinders kan leer waar geld vandaan kom.”
Klein kinders verg ook heelwat aanpassings in ’n huwelik. Maar, sê Cindy, Clive is gelukkig ’n rustige ou met dieselfde soort agtergrond en waardes as sy. “Ons kan dinge saam geniet maar is ook albei hardwerkende mense wat glo dat jy soveel uit die lewe uit haal as wat jy daarin sit.
“Ek wil geensins probeer voorgee dat ons ’n perfekte huwelik het nie. Maar hy het my al geleer om konflik op ’n kalmer en logieser manier te hanteer. Ek is goed met mense en gee regtig om, maar is soms ongeduldig en moet maar waak teen ’n skerp tong en ’n kort humeur. ’n Bietjie afkoeltyd help soms om groter duidelikheid oor ’n situasie te kry.”
Sy het nog baie ideale. Een daarvan is om eendag ’n opleidingskool vir modelle te begin. “Ek sou graag vir jong meisies goeie riglyne wil verskaf en vir hulle kontak bewerkstellig met die regte mense sodat hulle ’n sukses van hul lewe kan maak. Dit is eintlik verstommend hoe hulle soms oor mense in die kollig kan idealiseer – ek ervaar dit nogal as ’n groot verantwoordelikheid.
“Clive sê altyd ek kan enige tyd net kinders grootmaak, maar ek weet ek is ’n beter ma as ek ook buite betrokke bly net soos wat ek ’n beter mens is as ek dans. My deelname aan Strictly come Dancing is steeds een van die hoogtepunte van my lewe. Die ses jaar as Pasella-aanbieder was ook ’n wonderlike leerskool en ek sou in die toekoms weer televisiewerk wil doen.”
“Ek is wel op ’n punt in my lewe dat ek baie kieskeuriger is met wat ek doen en met wie ek my tyd deurbring sodat my gesin en ons sakeonderneming nie daaronder ly nie.”
Cosmetix verskaf landwyd skoonheidsprodukte aan duisende salonne, apteke en kettingwinkels. Clive, tien jaar haar senior, is die stigter en besturende direkteur en is ook by verskeie ander ondernemings betrokke.
“Hy was in die jare negentig die jongste sakeman wat ’n maatskappy op die JSE genoteer het,” vertel sy. “Die feit dat hy ook vroeg in sy lewe bekendheid verwerf het en in ’n soort warrelwindbestaan opgeneem is, help ons om mekaar se wêrelde te verstaan.
“En tog het ons ook ’n baie spesiale, private lewe weg van die kameras. ’n Paar foto’s hier en daar doen tog nie skade nie,” praat sy oor die kwessie van publisiteit. “Dis trouens nogal vir my lekker om my mooi man en kinders met die wêreld te deel – dalk is dit eendag as sy groot is vir ons klein Aenea ’n aardigheid om haar gesin in ’n ou tydskrif te sien!
“Ek wil vir seker my huwelik en my gesin met alles in my beskerm. Maar ek hou ook daarvan om my steeds te omring met vroue wat daarop ingestel is om hulself te bly ontwikkel sodat hulle as mens kan aanhou groei. “Ek wil voortgaan om met die lewe te dans!”