Lewer sowat 9 kranse
Bestanddele
- 100 g (160 ml) koekmeel
- 175 ml water
- 75 g botter
- 2,5 ml (½ t) sout
- 3-4 eiers
- 100 g gerasperde gruyère
- 1 eier
- 2,5 ml (½ t) sout
Vulsel
- 250 g roomkaas
- 30 g grasuie, fyn gekap
- 2,5 ml (½ t) sout
- 200 g gerookte salm
Metode
- Voorverhit die oond tot 190 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en sit ’n ronde 1,25 cm-spuitpunt op ’n spuitsak.
- Sif die meel op ’n stuk bakpapier. Bring die water, botter en sout in ’n bedekte kastrol tot kookpunt.
- Trek van die hitte af en gooi dadelik die meel by. Klop vir 30-60 sek. met ’n houtlepel tot die mengsel glad is en van die kante van die kastrol wegtrek. Klop vir nog 30-60 sek. oor lae hitte om die mengsel verder uit te droog.
- Klop die eiers een vir een met ’n houtlepel by. Wag tot die eerste eier goed ingemeng is voor jy die volgende een byvoeg. Klop tot die mengsel glad en glansend is en dit net van die lepel afval.
- Voeg die kaas by en meng goed. Skep die deeg in die spuitsak en spuit nege 7 cm- sirkels op die voorbereide bakplaat.
- Meng die eier en sout saam en verf die deeg daarmee. Bak vir 35-40 min. Laat dit effens op die bakplaat afkoel. Pak op ’n draadrak en laat verder afkoel. (Verhit die kranse net voor opdiening vir 2-3 min. in ’n warm oond.)
- Vulsel: Klop die roomkaas in die bak van ’n elektriese staanmenger tot lig en donsig. Gooi die grasuie en sout by en klop tot dit deurgemeng is. Skep in ’n spuitsak met ’n sterpunt.
- Sny die kranse oop en vul met lappies gerookte salm en gegeurde roomkaas.