Charlenè Brouwer (32) is op die oog af heeltemal anders as Anna, die karakter in Dis ek, Anna wat sy so skitterend vertolk het. En tog, hoe langer ons oor ’n koppie koffie kuier, hoe meer besef ek dat daar inderdaad tog ooreenkomste tussen die twee is. Vasberadenheid en deursettingsvermoë, om net twee te noem. Moet ook nie dat haar klein, fyn voorkoms en modelmooi gesiggie jou mislei nie. Sy weet wat sy wil hê en waarheen sy op pad is, en sy is bereid om hard te werk om daar te kom. Daarvoor het byna 13 jaar in ’n uiters mededingende bedryf en ’n kort oorsese loopbaan as model gesorg.
Anna was haar groot deurbraak, die rol wat gesorg het dat vriend en vyand deeglik van haar kennis neem, veral omdat sy en haar man, Niel van Deventer, ook die vervaardigers was. Was hulle nie bang om so ’n skokkende, omstrede storie te verfilm nie?
“Ons wou met die fliek ’n verskil maak. Niel het hierdie ongelooflike hart vir mense. Hy wil altyd almal fix, almal gelukkig hou. Toe hy die boek die eerste keer lees, kon hy nie glo mense doen dit aan mekaar nie. Veral nie mense wat veronderstel is om vir mekaar lief te wees nie.”
Sy is ’n bietjie meer sinies, erken sy. “’n Mens moet soms erken dat nie alles reggemaak kan word nie. Maar dis steeds belangrik om die storie te vertel, om mense te bemagtig. Ek het Anchien Troskie, die skrywer van Dis ek, Anna bewonder vir die moed wat sy gehad het om haar verhaal met die wêreld te deel. Kinders is een van my groot passies en daarom was dit vir my belangrik om die storie te vertel. As dit net een mens kan help, was dit die moeite werd.”
Om Anna te speel was vir haar op meer as een manier ’n persoonlike keerpunt.
“Ek was nog altyd geneig om myself af te skeep om ander gelukkig te hou. Met die maak van die fliek het regisseur Sarah Blecher my aangeraai om met ’n sielkundige te gaan praat omdat dit so ’n intense, traumatiese verhaal is.”
Die sessies met die sielkundige het haar gehelp om alles in haar lewe in perspektief te sien.
“Vandat ek kan onthou, het ek ’n ligte depressie, ’n soort melancholie, oor die wêreld. Ek dink ek dink bloot te veel,” sê sy laggend. “Ek onthou hoe ek as vierjarige al by my ouers wou weet wat gebeur met ’n mens wanneer jy doodgaan.” Sy was nie tevrede met hul antwoord oor hemel toe gaan nie. Sy wou wéét: hou jy op asemhaal? Kan jy dan nie meer sien nie? “Daardie soort vrae, baie intens. Verstaan mooi, die depressie het nooit my lewe belemmer nie. Maar goed soos die nuus kan my geweldig ontstel – daarom vermy ek dit sover moontlik.”
Niel, met wie sy in Augustus getroud is ná ’n verhouding van sewe jaar, is presies die teenoorgestelde.
“Voordat ek soggens wakker word, het hy die koerant gelees en reeds alle nuus op omtrent elke forum verslind. Hy het net hierdie ongelooflike dors na inligting en het ’n verstom-mende algemene kennis. Ek dink hy moet aan game shows gaan deelneem en vir ons geld wen eerder as flieks maak,” skater sy.
Hulle is ’n goeie kombinasie, meen sy. “Ek met my tipe A-persoonlikheid het iemand soos Niel nodig. Ek is baie kreatief, maar ietwat van ’n control freak,” sê sy laggend. “Jy weet, roetine, dissipline … dinge moet presies reg wees. Niel weer, is baie meer ontspanne. Hy is net homself, sonder pretensies of buie. Soos hy opstaan, so gaan slaap hy. Hy wil almal net gelukkig maak.” Niel is baie sosiaal en ’n groepsmens, sy nie. “Ek hou baie meer van een-tot-een kuiers en is heel gelukkig met my eie geselskap. Oefening is vir my baie belangrik, maar nie vir Niel nie, hoewel hy mal is oor sport.”
Tog, al is hulle in baie opsigte teenoorgesteldes, is dit duidelik dat sy mal is oor haar man. “Hy is ’n gepubliseerde digter, musikant, kunstenaar en skrywer, ’n yslike bol talent. Ons is die afgelope paar jaar al dag en nag saam.” Skielik onthou sy iets. “Weet jy, vandag is die eerste keer in meer as vier maande dat ek en hy vir langer as 24 uur nie bymekaar is nie, want hy is vandag in Kaapstad. Hy is werklik my beste vriend.”
‘Ek was nog nooit so gelukkig soos nou nie’
Niel het haar eers ná die voltooiing van Anna gevra om te trou, en toe het alles sommer binne vier maande gebeur. “Anna het vir ons sekuriteit en stabiliteit gebring, en my gehelp om my eie issues te konfronteer. Ek was nog nooit so gelukkig soos nou nie.”
Charlenè vertel dat sy nogal hardkoppig kan wees. “Gelukkig het my ouers my baie selfstandig grootgemaak en my toegelaat om my eie foute te maak.”
Sy het op Sannieshof in Noordwes grootgeword. Haar pa is ’n sakeman en haar ma ’n onderwyseres, en sy vertel van ’n plattelandse kleintyd omring deur familie. “My ouers het albei daar grootgeword.”
Drama was van kleins af haar eerste liefde, en sy is Potchefstroom Gimnasium toe juis vir die spraak-en-dramaklasse daar. Ná matriek het sy ’n akademiese beurs verwerf vir studie aan die Noordwes-Universiteit en op kommunikasiekunde besluit. “Ek het eintlik net van die joernalistiekdeel van die kursus gehou,” erken sy.
Toe sy in haar tweede jaar ’n internasionale modelkompe-tisie wen en besluit om op te skop om in Italië te gaan modelwerk doen, het haar ouers haar laat begaan. “Dit was ’n geweldige groot aanpassing. Onthou, ek het baie beskermd grootgeword – ek het vir die eerste keer gevlieg toe ek 19 was. Ek het elke oomblik in Italië geháát, maar ek het dit vir die geleenthede gedoen.” Sy het uiteindelik byna sewe maande daar gewerk, maar terug in Johannesburg was die ontnugtering groot toe sy moes hoor sy is eintlik te kort vir modelwerk. “Ek is net 1,68 m lank, en moes behoorlik smeek vir ’n kans hier.”
Haar vasbeslotenheid en gewilligheid om hard te werk het haar laat vasbyt.
“Ons werk in ’n baie mededingende, moeilike bedryf. Ek onthou maande waarin ek nie geweet het waar my huurgeld vandaan gaan kom nie. Ek het in ’n stadium vier verskillende werke tegelykertyd gehad net om elke maand te kan oorleef. Ek het ’n rolletjie in Binnelanders gehad, was ontvangsdame by ’n restaurant, het produkpromosies gedoen in winkels en by ’n modelagentskap met die administrasie en telefone gehelp.” TV-advertensies het soms gehelp om die wolf van die deur te hou. Enigiets, net om onafhanklik te kan wees en haar dramadrome te verwesenlik. “Ek kan nou daaroor lag, maar dit was ’n baie harde pad tot hier.”
Sy het haar graad deur Unisa voltooi, en wil vir seker ook nie altyd net aktrise wees nie.
“Ná Anna het ek gedink ek is klaar met toneelspeel, maar ek het intussen besluit ek moet nou net ’n heeltemal ander soort rol as Anna vertolk. Ek sal baie graag ook regie wil doen, maar ek moet eers meer lewenservaring opdoen.”
Fotografie is haar ander groot liefde, en ’n liefde wat sy by haar Hollandse oupa geleer het. “My oupa en ouma het ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika geëmigreer en op Sannieshof gaan woon.” Haar Hollandse gene het ook gesorg vir haar spierwit blonde hare. “Al ons nefies en niggies is so blond. Ek was onlangs met die bemarking van Dis ek, Anna vir die eerste keer in my lewe in Nederland. Dit was wonderlik! Ek het my van oral op borde gesien en sommer tuis gevoel. Hier is Brouwer ’n skaars van.”
Charlenè en Niel is opgewonde en dankbaar oor die goeie ontvangs wat die fliek plaaslik en oorsee gekry het. “Maar die werk is allesbehalwe klaar. Nou begin die groot werk om oorsese verspreiders te oortuig om die fliek te koop.” Sy kan nie uitgepraat raak oor al Niel se harde werk die afgelope vier jaar nie. “Sonder hom sou Anna nooit gebeur het nie.”
Hulle volgende projek is ’n dokumentêre rolprent oor molestering. “Ons pak dit aan saam met die Teddybear Clinic, ’n organisasie wat met slagoffers werk, en wil dit gratis by skole versprei. Ek glo dat ’n mens ’n treetjie in die regte rigting gee met elke kind wat jy opvoed en bemagtig.” Sy het ook ’n geldinsamelings-projek van stapel gestuur om broodnodige geld vir die Teddybear Clinic en Childline in te samel.
Sy is filosofies oor die vermaaklikheidsbedryf.
“Toe ek jonger was, het ek hierdie desperaatheid gehad vir die volgende projek. Anna het dit in ’n groot mate gestil – dit was die rol van ’n leeftyd.”
Bekendheid is vir haar steeds ’n vreemde konsep. “ Mense hanteer jou skielik anders, en ek is eintlik nog net dieselfde Charlenè. Ek vóél nie bekend nie! Eintlik is stories vertel al wat ek wil doen.”