Ons tweede Olimpiese kampioen op die atletiekbaan by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro – Caster Semenya. Die hutsmerk #Caster4Gold het vir weke op Twitter die ronde gedoen en vandag kan ons met trots sê, sy het die goud met grasie gewen!
Vir 700 m het Caster ’n gemaklike pas gehandhaaf en toe net voor die laaste 100 m opduik, het sy met ’n spoed weggetrek om die 800 m vir vroue in ’n ongelooflike tyd van 1:55.28 – ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord – te wen.
Caster Semenya, ons goue meisie, verdien hierdie oomblik deur en deur en ons is uiters trots op haar!
Francine Niyonsaba van Burundi het in ’n tyd van 1:56.49 tweede geëindig terwyl die bronsmedalje aan Margaret Wambui van Kenya toegeken is. Sy het in ’n tyd van 1:56.89 geëindig.