Genoeg vir 6 calzones
- 1 basiese pizzadeeg (kry die resep hier)
- 1 x 410 g-blik gekapte Italiaanse tamaties
- 4 chorizo-worsies, gesny
- 100 g ontpitte swart olywe
- 150 g mozzarella, gerasper
- 250 ml (1 k) fetakaas, ruweg gebrokkel
- 1 rooi ui, dun gesny
- hand vol roketblare en ekstra vir bo-op
- sout en gemaalde swartpeper
Voorverhit die oond tot 220 °C. Verhit ’n bakplaat in die oond.
1 Verdeel die deeg in 6 balle en rol elk op ’n meelbestrooide werkvlak uit in ’n 25 cm-sirkel.
2 Smeer die gekapte tamaties oor die onderste helfte van elke sirkel. Meng die worsies, olywe, kaas, ui en roketblare. Geur na smaak en skep die mengsel op die tamaties.
3 Vou die deegsirkel oor die vulsel toe en knyp die rande stewig toe.
4 Bak ’n pizza op ’n slag op die warm bakplaat tot goudbruin en gaar en sit met ekstra roketblare voor.