Vir ’n sestigjarige is Byron Katie onbehoorlik aantreklik; vir ’n suksesvolle selfhelpskrywer uit Kalifornië verfrissend aards. Ek sien haar vir die eerste keer in die Great Hall by die Universiteit van die Witwatersrand, eenkant in die voorste ry. In ’n donkergrys romp en bloes met ’n roomwit pasjmina oor haar linkerskouer is sy die toonbeeld van rustigheid terwyl honderde Suid-Afrikaners die saal volpak.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Almal het gekom om haar werkwyse te beleef, party in die hoop dat hulle as vrywilligers saam met haar op die verhoog deur haar vier indringende vrae – The Work – sal werk. Want The Work, weet haar aanhangers, is sielsbevrydend. Sedert 1986 het duisende mense in meer as 30 lande dit hul eie gemaak.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Dis moeilik om The Work te omskryf. Jy moet dit sien ontvou of self doen. Dis nog moeiliker om te sê waarom The Work so gewild is.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Miskien het dit met die eenvoud en toeganklikheid te doen – geen voorafkennis of filosofiese agtergrond is nodig nie, en dit sluit gemaklik by enige agtergrond, geloofsraamwerk of probleemsituasie aan.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Wanneer dit tyd is dat haar daglange optrede begin, verwelkom Katie, soos sy genoem word, die gehoor. Sy gee nie ’n lesing nie, nooi almal net om die Oordeel jou naaste-werkvel wat uitgedeel is, te voltooi.
Daarop moet jy “iemand wat jy nog nie heeltemal vergewe het nie,” se sondes teen jou beskryf. Deur ses punte moet jy sê presies wat jy van hulle dink, hoe hulle behoort te verander en wat jy nóóit weer as gevolg van hulle wil deurmaak nie.
“Wees so veroordelend soos jy wil,” sê Katie. “Jy kan later diep en ‘spiritueel’ wees. Daar is geen regte of verkeerde antwoorde nie – net jou eie.”
’n Vrou in die gehoor begin huil. “Ek is bang om my gevoelens neer te skryf.” Katie vra ’n opgeleide helper om haar eenkant te neem. “Sy was ook eers bang om die werkvel in te vul,” troos sy met haar kenmerkende deernis.
Wanneer almal klaar geskryf het, stap die eerste vrywilliger verhoog toe. Sy vrou is besig om van hom te skei. Op sy werkvel het hy geskryf sy vrou respekteer hom nie en behandel hom kil wanneer sy hul dogtertjie kom haal.
“Is dit waar dat jou vrou jou nie respekteer nie?” vra Katie haar eerste vraag.
“Dis hoe dit voel,” sê hy.
“Weet jy bo alle twyfel dis waar dat sy jou nie respekteer nie?”
“Nee,” sê hy ná ’n rukkie.
“Hoe reageer jy op die gedagte dat sy jou nie respekteer nie? Hoe reageer jou lyf?”
“Daar’s ’n pyn in my bors en my keel trek toe. Ek word angstig. En kwaad.”
“Hoe behandel jy jou vrou as jy so voel?”
“Formeel. Ek praat met haar of sy ’n vreemdeling is.”
“Kolskoot,” sê Katie. “Jy behandel haar kil.”
Die man begin lag. “Net wat ek oor haar geskryf het.”
“Gestel die gedagte dat jou vrou jou nie respekteer nie, sou glad nie by jou opgekom het nie. Vra jou af: Wie sou jy sonder hierdie gedagte wees?”
“Meer ontspanne,” sê hy.
“Kan jy aan ’n stresvrye rede dink om aan dié gedagte vas te hou?”
“Nie ’n stresvrye een nie,” skud hy sy kop.
“Maak jou oë toe en sien jou vrou voor jou. Hoe sou jy haar sonder dié gedagte behandel?”
“Gemakliker,” sê hy. “Soos ’n gewone mens.”
“Nou kom ons by die ommeswaai: kyk op hoeveel maniere jy die stelling, ‘My vrou respekteer my nie,’,kan omkeer.”
“My vrou respekteer my,” waag hy.
“Voel dit waar?”
“Ja, sowaar. Ek weet sy is tevrede met hoe ek ons dogtertjie versorg.”
“Nog ’n ommeswaai van die oorspronklike sin. Begin met ‘Ek’.”
“Ek respekteer myself nie. Dit is so. Ek is altyd ontevrede met myself.”
In dié trant bevraagteken Katie elke stelling op die werkvel.
Sy praat reguit, maar altyd met begrip en respek. Soms laat haar kwinkslae die gehoor skater. Ander kere vee almal trane af.
Die stroom vrywilligers droog nie op nie: Katie werk met iemand wat as kind mishandel is, ’n vrou wat haar sig verloor het, een wat aan dagga verslaaf is, ’n man met kanker, een wat hom oor sy ma bekommer, ’n vrou wat haar lyf verafsku en ’n verlamde meisie wat met haar gestremdheid stoei. Een of twee beantwoord nie regtig haar vrae nie en sy laat hulle gouer gaan. Dié wat oop is vir The Work, het nuwe begrip vir hul “skuldenaars,” insig in hul eie aandeel aan pynlike situasies en ooglopend meer vrede.
Katie noem dit nie een keer tydens haar optrede nie, maar The Work het in merkwaardige omstandighede ontstaan. Sy beskryf dit in haar boek, Loving what is.
In 1986 was Katie ’n 43-jarige eiendomsagent in ’n klein dorpie in die woestyngebied van Suid-Kalifornië. Sy was met haar tweede man getroud en ma van drie. Haar jare lange depressie was teen daardie tyd so erg dat sy weke lank in die bed gebly en net oor die telefoon sake gedoen het. Soms kon sy nie eens bad of tande borsel nie. Uit vrees vir haar woedeuitbarstings het haar kinders haar vermy.
Katie het 91 kilogram geweeg, engtevrees gehad en in alkohol en pynstillers troos gesoek. Sy was só wantrouig dat sy soms met ’n gelaaide geweer onder die bed gaan slaap het. Ten einde raad het sy haar versekeringsmaatskappy gebel. Hulle het haar na ’n sentrum vir vroue met eetversteurings verwys.
Daar moes Katie in die solderkamer slaap omdat die ander pasiënte vir haar bang was. Sy het op die grond geslaap, want sy het gevoel sy is nie ’n bed werd nie. Een oggend het sy wakker geword sonder dat sy geweet het wie sy was.
Alles was onherkenbaar. Dit was asof iets anders wakker geword en deur my oë gekyk het. Hierdie ‘iets’ was een met alles.” Op daardie oomblik het die vier vrae by haar opgekom (sien onder). Kort daarna het sy haarself uit die sentrum ontslaan.
Katie se gesin het nie geweet wat haar getref het nie. Sy kon aanvanklik niks van haar verlede onthou nie. Sy het ophou vleis eet omdat dit haar tong laat bloei het. Sy het vanself 34 kilogram verloor en ure lank gemediteer, soms in die woestyn.
Die woestyn is haar leermeester, sê sy. “Daar het ek geleer dat alle stresvolle gedagtes óú gedagtes is: ‘niemand verstaan my nie.’ ‘Ek dien geen doel nie.’ ‘My kinders dink ek is ’n slegte ma.’ In die woestyn het ek gedink ek sal verdwaal of van dors omkom, en dan besef dis nie waar nie. Ek het ’n verskriklike vrees vir ratelslange gehad en gedurig verwag een sou my byt. Uiteindelik het ek geleer die verskrikking lê in my gedagtes – nie in die werklikheid nie. Dis die ‘storie’ wat ek vir myself oor die ratelslange vertel het wat my geteister het.
Mettertyd was daar ’n toeloop van mense na die gesin se huis. Katie het almal verwelkom en hulle geleer om die vier vrae en die ommeswaai te doen. In 1992 is sy na Noord-Kalifornië genooi, en van daar het The Work soos ’n veldbrand versprei – na hospitale, tronke, kerke, skole, besighede en ander lande. Vandag is The Work gevestig as The Work Foundation en Byron Katie International.
The Work Foundation is ’n nie-winsgewende organisasie wat die metode wêreldwyd versprei. Optredes is gratis, of kos baie min. Byron Katie International, daarteenoor, is ’n winsgewende organisasie wat onder meer haar boek, video- en oudiomateriaal verkoop.
Katie se tweede huwelik het onder die veranderings in haar persoonlikheid en leefwyse geswig. Sy is geskei en ’n paar jaar gelede met Stephen Mitchell, skrywer, vertaler en medeskrywer van Loving what is getroud. Sy is meestal met The Work op die pad en neem sover moontlik alle uitnodigings aan.
Krities beskou, bly Byron Katie ’n raaisel.
Sy het geen opleiding in die sielkunde, teologie of enige terapievorm nie, tog help sy wêreldwyd mense om heel te word. Noem iemand haar ’n leermeester of verligte, lag sy net: “Ek is bloot ’n vrou wat weet wat seer maak en wat nie. Om stories oor die werklikheid te vertel, maak seer. Om die werklikheid te aanvaar, bring vryheid en liefde. Ek vra maar net die regte vrae.”
The Work is geen kitsoplossing nie. Gereelde werksessies gee die beste resultate. Party mense doen dit alleen (Loving what is verduidelik hoe), terwyl ander groepe stig of by opgeleide helpers aanklop.
Beantwoord die vrae reguit en eerlik. Herleef die woede of pyn van die verlede ten volle.
Pas die vrae op elke stelling op jou werkvel toe. Luister na jou binneste; kry jou eie antwoorde – nie iemand anders s’n of dit wat jy geleer is nie.
Draai jou oorspronklike stelling op ’n paar maniere om, ruil die name of gebruik die negatiewe vorm. Voel die alternatief vir jou net so waar, of waarder, as die oorspronklike?
Begin nommer 6 op die werkvel met: “Ek is gewillig om … ” of “Ek sien daarna uit om … ” Jy ervaar dit dalk weer, al is dit net in jou kop. As die gedagte jou gespanne maak, is jy nog nie klaar met The Work nie.
*Uit ‘Loving what is: Four Questions that can Change your Life’ deur Byron Katie en Stephen Mitchell, Rider, 2002.
Dis nie die werklikheid wat ons opdraand gee nie, sê Katie, maar ons verwagting dat dit ánders moet wees. Die werklikheid vra nie ons mening nie – wat is, is. “Mense moenie hul beloftes verbreek nie” klink waar, maar is dit? “Nee. Hoe weet ek dit? Mense verbreek hul beloftes.
Dit beteken nie ek keur dit goed nie – ek besef net hoe sake staan. Sonder ’n ‘storie’ daaroor het ek meer energie om my eie beloftes na te kom. En dít doen ek omdat ek van myself hou as ek my beloftes nakom.”
“Ek sien net drie soorte terreine in die heelal,” sê Katie. “Myne, joune en God s’n. Dit wat buite mense se beheer is, is in God se terrein. Baie van ons stres spruit daaruit dat ons buite ons eie terrein leef.
As ek dink my man behoort harder te werk, is ek in sy terrein. As ek my oor vloede bekommer, is ek in God se terrein. Wanneer jy buite jou eie terrein leef, voel jy seergemaak en alleen: as jy besig is om iemand anders se lewe te leef – om namens hom keuses te maak – is daar niemand in jóú lewe nie. Jy is afgesny van jouself.”
Wanneer jy weer gespanne of ongemaklik voel, kan jy jou gerus afvra in wie se terrein jy is, sê Katie. “Jy sal dalk uitbars van die lag. Dis mateloos bevrydend om voluit in jou eie terrein te leef. En dit maak jou vry om onvoorwaardelik lief te hê.”
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Lewer sowat 9 kranse Bestanddele 100 g (160 ml) koekmeel 175 ml water…
Genoeg vir 4. Bestanddele 6 aartappels, in wiggies gesny sout en gemaalde swartpeper…
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Hierdie webwerf gebruik koekies.