kategorieë: Lees

By Omdraai verby

by Omdraai verby

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Siska kom ‘n
belangrike saak met
Dana bespreek.
Maar sy wil nie hê
dat hulle weer in
woede uitmekaar
moet gaan nie. Deur
Helene de Kock

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Siska ry stadiger op die grondpad,
die appelgroen landskap
weerskant uitgestrek. Dis
onbekend, hierdie Oos-
Vrystaatse deinings en sandsteenkoppe.
Maar dit bekoor, al is sy moeg
van die lang pad uit die Kaap. Tog voel sy
skuldig. Dit behoort nie onbekend te wees
nie. Dis haar man, Dana, se wêreld hierdie.
Sy het buite die dorp by ’n oumens rigting
gevra: Dana Fouché van Omdraai. Weet u
waar’s die afdraai?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die ou man het sy kombers styf vasgevat.
“Ek ken hom. Hy bly doer. Die tweede
stofpad regs. Hou maar net aan.”

Sy het so gemaak maar die grondpad
kry nie end nie. Verlig gewaar sy twee
vroue wat rustig onder ’n paar wilgers sit.
Siska trap rem dat die wiele sjirrrrt op
die gruispad maak. Sy vra weer. Hulle glimlag
wit, wys met hul sterk vingers.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Kyk, daar’s sy dak bokant die bome. ”
Die rooi spitsdak waarvan Dana so
baie gepraat het toe hulle studente was.
Net die nok se wit omlysting is bo die dennelaan
sigbaar.

“Dankie,” glimlag sy en trek weer weg.
Maar stadig, byna nadenkend ry sy. Om op
’n plek te arriveer is nie altyd maklik nie. En
sy het rede om te dink dit gaan moeilik
wees.

“Siska-lief,” het hy een aand in die Laan
gesê, “ons huis gaan lekker woon … Ons sal
saans op die voorstoep sit en luister hoe
die tarentale huis toe kom.”
“Ek dag julle boer met beeste,” het sy
gespot. Hy het afgebuk om haar diep in
haar nek te soen.

“Onder meer,” het hy gesmoord gesê,
haar onder die donker eike ingetrek. Sy het
haar oorgegee, die Eersterivier se kabbeling
slegs ’n rimpeling in die aandstilte.
Hy moes haar laataand terugvat Tygerberg
toe. Té gou het die hospitaal en die
akademie haar vasgevat totdat hy weer
gekom het toe sy ’n dag blaaskans kon kry.
Wat sy helder geweet het, was dat sy nie
sonder hierdie blaaskansies kon nie.

Midde-in haar veeleisende studie was
hy die cliché wat waar bly. Hulle was nie
net smoorverlief nie. Hulle was verknog
aan mekaar op ’n manier wat sy nie klinies
kon verklaar nie. Hy het haar moed ingepraat
as dit voel asof haar verstand niks
meer kon inneem nie. Later was dit ook hy
wat haar gees kon verkwik toe haar diensjaar
in ’n afgeleë, hopeloos ontoereikende
hospitaaltjie in die Oos-Kaap, haar wou
vernietig.

Daardie jaar was ’n waterskeiding.
Dana het onskeibaar deel van haar geword.
Al het sy nou gekom om weg te gaan. Sy ry
die digte laan op na die omheinde opstal.
Die hek staan oop.

Die sandsteenhuis glim heuningbruin in
die laatlig. Toe sy stilhou, kom twee boerboele
om die hoek gestorm. Sy bly verskrik
sit. Natuurlik sal hy honde hê. Hy was lief
vir diere. Enne … dis nou noodsaaklik om
waghonde te hê. Veilig is ’n Afrikawerf nié.
Ook hier in die oënskynlik vredige platteland,
is daar diefwering en honde en waaksaamheid.
Want die voordeur gaan byna
dadelik oop – en daar staan hy. Fors en lank
met sy donker kop en fronsende blik.

Sy kan selfs op dié afstand die skok in
sy oë sien. Hy gee ’n bevel aan die honde
wat traag omdraai.

Siska stap ietwat skoorvoetend nader
en verwens haarself. Sy moet koel en saaklik
wees. Dis vergane emosies.

Hy gee ’n tree nader.

“Siska … ” Sy stem is hees. Dis skok,
besluit sy, en lig haar ken.

“Naand, Dana.”

“Waar … kom jy vandaan?”

“Kaapstad.”

“Steeds by die private kliniek?”

“Ek is ’n pos aangebied. Hoof van
algemene chirurgie.”

Hulle staan teenoor mekaar op die skemer
stoep. Sy kyk op in sy geslote gesig.
Haar tong voel opeens swaar toe sy sê:
“Ons … moet praat.”

Dit word doodstil tussen hulle.

“Kom binne,” sê hy. Toe sy verbyloop,
kry sy die bekende geur van vars groenhout
en muskus. Hy moes pas gestort het.
Sy pers haar mond saam toe sy die sitkamer
binne loop. Sy het nie gekom om herinner
te word aan als wat haar destyds
onkant betrap het nie. Sy dwingende
sjarme, sy vars, verrassende eerlikheid.
Vars, dink sy toe sy op die blou ferweelbank
gaan sit, is die woord wat eerste by ’n
mens opkom as jy Dana Fouché ontmoet.

Hy beskou haar stip. “Dit kan nie ’n
haastige gesprek wees nie.”

“Nee … maar ek ry vanaand nog terug
tot op Fouriesburg.”

Sy mondhoek lig. “Ek sal jou nie voorsê
in jou operasiesaal nie, maar dié is my werf.
Jy bly oor. Ten minste vir vannag.”

“Maar ek het niks … ”

Sy bruin oë glim met ’n guitigheid wat
haar so raak dat sy vervaard wegkyk.
“Is dit ’n probleem?” vra hy nietemin
sedig.

Sy sit doodstil. Sy kan nié hier bly nie …

Dis of die laatmiddag meteens verdonker.
Hy gaan maak die voordeur met ’n
klappie toe, stel ’n alarm. Toe kom sit hy,
laat sak ’n oomblik sy voorkop teen sy
vingerpunte. “Hemel tog,” sê hy net met
soveel gelade drif dat sy verslae na hom bly
kyk.

Veraf hoor sy die tjierie-tjierie van
tarentale en ’n hond grom agter die huis.
Bo hulle kraak ’n dakbalk en sy skrik, trek
haar asem in. Hy staan op.

“Kom. Maak jou solank in die gastekamer
tuis. Jy sal als daar kry wat jy nodig
het. Kom dan kombuis toe. Ek maak kos.”

Sy loop swyend agter hom aan deur die
breë gang met sy rye foto’s. Ernstige voorouers
uit die Anglo-Boereoorlog, bedrukte
mense uit die Depressiejare, glimlaggende
oupas en oumas van meer onlangse tydperke
en toe ’n foto van wat net sy ouers
kan wees. Die man het dieselfde vasberade
kyk onder die grys kuif en die vrou lyk
stylvol.

Hy gaan staan by ’n deur en sy kyk op
in sy sterk gesig. Sy knik haar dank effens
duiselig en hy loop. Dis ’n fraai kamer met
mentgroen gordyne. Daar is ’n en suite
badkamer. Marmerwit geteël met mentgroen
matjies.

Sy was haar hande en gesig. Miskien is
hy reg. Om nou terug te ry sal dom wees.
Die donker ken geen genade nie. Maar sy
weet: sy bly omdat sy tog nie kans sien om
weer in woede van hom af weg te gaan nie.

Sy tik ’n bietjie parfuum aan. Vir wat?
wonder sy wrang. Die gedagte dryf haar
gang af en nou eers merk sy dat daar sygange
is. Sy swaai links om te besef dit was
die verkeerde afdraai. Want daar is ’n studeerkamer
aan die regterkant en nog deure
ondertoe.

Sy loer in. ’n Sober studeertafel en
mure vol boekrakke. Hy was nog altyd ’n
ywerige leser. Sy stap aan, steek vas by ’n
deur wat oopstaan. ’n Ruim hoofslaapkamer
met ’n dubbelbed. Daar is ’n beige
sprei oor en ook die gordyne is ’n niksseggende
ligbruin.

Sy bly staar na die bed. En onverhoeds
vang dit haar. Dié herinnering wat maar
altyd saamdraf en by die geringste provokasie
begin weghol. Die nag ná hulle haastige
troue op Port Elizabeth … Die breë bed
in die B+B op Jeffreysbaai. Hartstogtelike
ure, en nog vyf sulke nagte daarna het
hulle albei geheel en al van hul wêrelde laat
vergeet. Hare en syne. Want hulle het nog
nooit een wêreld bewoon nie. Daar was net
soms hierdie ontmoetings vol vonk en drif.
En angs ook. Veral sy het die vrees met
elke rendezvous voel groei. Die naderende
skeiding ook …

Sy swaai blindelings om na die gang
wat na die kombuis lei. Hier is dit vrolik –
rooi en wit met spatsels vlootblou. Hy
staan by die stoof en roer. Dit ruik na botter
en kruie.

“Sit,” sê hy en sy sien dat hy gedek het.
’n Geruite rooi-en-wit tafeldoek met kraakwit
servette. Daar’s rooi rose in ’n vaas en
ronde, wit kerse. Die vlammetjies laat lui
skadu’s roer.

Sy gaan sit en hy begin opskep.
Donsige rys met ’n roerbraaimengsel. Toe
hou hy sy hande na haar toe uit. Sy gee
hare met huiwering – maar toe hy bid, ontspan
sy. Dis die een plek in hul gemoed
waar hulle mekaar nog altyd kon vind.

“Here,” sê hy ernstig, “dankie vir die
kos. Gee ons asseblief wysheid. Amen.”
Hy skink vir haar wyn. Nes sy dit verkies.
’n Halfglas droë cabernet. Sy blik vee
oor haar. “Gaan dit goed met jou?”

Sy knik. “En … met jou?”

Hy lig ’n skouer. “Die boere sukkel. Ek
miskien minder as ander omdat my boerdery
so divers is. Maar nogtans.”

“Ek is jammer om dit te hoor.”

“Ag wel, dis die pakket van die lewe.
Teëspoed in ’n mindere of meerdere mate.”
Hul woorde droog skielik weg. Sy neem
’n sluk wyn. En hy klamp sy hande inmekaar.
“Liewe hemel, Siska, ons kan nie so
traak-my-nieagtig hieroor wees nie.
Wanneer laas het ons mekaar gesien …
gepráát?”

Dis nie nodig om te antwoord nie. Albei
weet goed. Die uur en die oomblik sal altyd
bly, dink Siska ontstemd. Sy klem haar
wynglas se steel vas. Sien aan die skadutrek
om sy mond dat hy ook sien wat sy
sien.

Hulle twee een persblou skemeraand
op Bloubergstrand. Dit was sy derde kuier
ná hul troue. Dit was nie ’n sukses nie. Sy
was heeltyd swygsaam en senuagtig. Hy
het aanhou torring totdat sy in hortende
woorde met die nuus vorendag kom. Dat
sy nie plaas toe kan kom nie. Dat sy wil
spesialiseer, hier in die Kaap waar die
geleenthede is.

“En óns dan?” Hy was verbyster.
“Dit … dit was te gou, Dana. Ons huwelik
was net te impulsief. Ons is dalk te
jonk.”

Sy hande op haar skouers het haar vasgevat.
“Wil jy sê jy het net met my getrou
omdat jy in die noute was? Omdat die
powere Oos-Kaapse hospitaaltjie jou verwagtings
omtrent jou professie só geknou
het dat jy iewers móés vasgryp. Al was dit
nou aan ’n gewone boer wat op ’n gegewe
tydstip byderhand was?”

Hy was só ontsettend gekrenk. Sy kon
dit begryp. Maar sy sou nie toegee nie.
Vandat sy haar verstand gekry het, wou sy
opereer. Sy het geweet sy sou ’n briljante
chirurg wees.

“Ek … ek kan nie anders nie, Dana … En
ek het met jou getrou omdat … omdat ek
jou liefhet! Jy weet dit goed. Dis net dat … ”

“Dat ek nie so belangrik soos ’n skalpel
is nie?”

Toe word sy ook kwaad. “Dis net vir
nou, Dana! My magtie, word gróót! Jy het
tog altyd geweet ek sal nooit net huis-huis
kan speel nie!”

“Ek ís groot,” het hy koud gesê, en sy
hande van haar skouers af gehaal. “Dis net
… dat ek al jare lank wag. ” Hy het weggekyk
oor die blinkpers kamme van die golwe
na die waterige kim. “Ek weet jy sal altyd ’n
dokter wees, maar ek het darem gehoop
dat jy ’n tyd en plek sou kies wat my ook
insluit.”

“Ek sal nog … ” het sy probeer paai,
maar ’n koue voorwete het haar laat besef
dat hy by paai verby was. Sy was immers
sy vrou. Ook maar net-net nou en dan.
“Nee,” het hy gesê en sy kon die skrik
nie keer toe sy in sy oë kyk nie. Hulle was
koud. “Jy gaan nou jou gang en ek myne.
Ons kan later alles uitpluis. Ek weet nou jy
sal vir altyd hier bly.”

Dis of elke woord wat daardie skemeraand
gesê is in die kombuis weerklink. Hy
knik stadig.

“Ja, ek was toe reg. Jy sal altyd in die
Kaap bly. Dis nie soseer die plek nie. Hier is
ook groot hospitale op Bethlehem, jy weet.
En algemene chirurge word mos maar oral
benodig. Dis kwalik ’n kwartier van hier af
soontoe. Nee, dis die ding dat jy bang is.”

“Waarvoor?” vra sy verstom.

“Vir my. Vir ons.”

“Waarvan praat jy?”

Hy betrag haar fyn, en sy voel opeens
die dwang van die ou bekoring. Hy kon
altyd so diep praat, so intens voel. En hy
kon haar kliniese ingesteldheid met ’n kyk
laat wegbrand soos ’n plassie spiritus op ’n
granietblad. “Siska,” sê hy sag, “die reaksie
op angs is selfbeveiliging. En dis wat jy
probeer doen. Nog altyd. Wijngaarden
skryf so in sy boek oor die hoofprobleme
van volwassenheid.”

“Wil jy sê dat ek nie volwasse is nie?”
kry sy opeens geraak uit en toe sy die wynglas
na haar mond bring, spat daar ’n
bietjie uit op die rooi-en-wit tafeldoek.

“Nie volwasse genoeg vir die huwelik
nie,” sê hy kalm. “Daarmee betwyfel ek
geensins jou absolute bekwaamheid as
chirurg nie. Ek sal my enige tyd deur jou
laat oopsny. Maar aan my hart vat jy nie
weer nie.”

Sy bly verslae sit. Sulke verdoemende
beslistheid het sy nog nooit by hom bespeur
nie. Nie eens op daardie dag vier jaar
gelede nie. Toe hy weer verder eet, maak
sy ook so sonder dat sy weet hoe die kos
smaak. Sy kou en sluk net. Hy maak sy
bord leeg en staan op.

“Koffie?”

Sy skud haar kop ietwat verdwaas.
“Liewer nie, dit was baie lekker, dankie. Ek
dink ek …”

“Ja wat, gaan lê maar,” sê hy en glimlag
asof hy met ’n kind praat. “Ons kan môre
als teken wat geteken moet word. Trouens,
jy hoef nie te gekom het nie. Jou prokureur
kon my gekontak het.”

Sy knik net. Dis eers toe sy in die bed lê
en die lig afgeskakel het, dat sy albei hande
voor haar mond druk om die huil te keer.
Maar dit stroom uit haar oë en haar hele lyf
ruk onbeheers. Volwasse. Onvolwasse.
Vlug. Selfbeveiliging. Teen wat? Gedagtes
draai en kolk in haar soos swart wolke voor
’n storm. Waarom is sy hier, probeer sy beheer
oor haar kop kry. Om ’n egskeiding te
kom haal? Is dit waaragtig wat sy wil hê
omdat sy bang is hy keer haar om haarself
te wees? En wie is sy altemit? Die suksesvolle
dokter Siska du Randt wat onmoontlike
dinge met mense se stukkende binnegoed
regkry – of ’n mens met diep behoeftes
wat nog slegs sporadies bevredig is?

Die nag sluit dig om die opstal. Net die
gesug van die honde op die voorstoep laat
Siska besef dat daar ure verby gaan. En hoe
later, hoe meer beangs raak sy. Sit diepnag
regop met haar arms om haar knieë geslaan.
Terug Kaap toe? Wil sy werklik
terug? Hoe’t hy gesê? Met die pad van
Omdraai af kom jy binne ’n kwartier op die
dorp. En as sy haar spreekure mooi kies …
en … Is sy van lotjie getik? Maar sy weet
eensklaps: Sy is by omdraai verby. Lankal
al. Sy moes hierheen kom om dit te besef.

Sy vlie uit die bed. Staan bewend op die
matjie en slaan haar arms om haar skouers.
Maar sy wil nie verder dink nie. Hy is hier,
digby haar. Onder een dak. Is dit nie waar
sy wil wees nie? Dit ook, besef sy. Ja, sy wil
opereer. Maar die hemel hoor haar, sy wil
ook by Dana Fouché wees. Vir altyd.

Sy struikel effens toe sy in die donker
gang kom, maar druk deur. Loop al tastend
langs die muur tot waar die gange kruis.
Vir die lig sien sy nog nie kans nie. As sy
dit net kan maak tot in sy kamer. As hy
haar dan uitgooi. Ag nee, nie dit nie.

Sy skrik haar lam toe die maanlig uit die
vensters by die voordeur op ’n figuur voor
haar val. Sy maak haar mond oop om te
skree, maar word vasgevang teen sy bors.

“Ek het gedink,” sê hy gesmoord, “dat
ek nog één maal na jou toe sal gaan.”

Sy lag en huil tegelyk.

“En ek het gedink ek sal nou vir áltyd
na jou toe kom!”

Hy soen haar so driftig dat sy van haar
voete gelig word.

“Is jy seker?” snak hy en reik na die
skakelaar teen die muur.

Die lig vang hulle vas sodat hulle ’n
oomblik versteld na mekaar staar. Toe
glimlag hy. “Kom jy hier opereer?”

“As jy dink ek is volwasse genoeg,”
flankeer sy en loer deur haar wimpers na
hom.

Maar hy ly aan die erns van ’n man wat
te lank gewag het.

“Siska, sê my nóú!”

“Ek bly en ek sal die Kaap laat weet ek
kom eers weer soontoe as ons gaan wittebrood
hou. Ek wil hê jy moet saamgaan as
ek more Bethlehem toe ry om moontlikhede
vir ’n praktyk te gaan ondersoek.”

“Natuurlik,” sug hy verruk, “ek wil so
graag spog met my slim vrou.”

“En ek met my wyse man.”

Toe gaan hulle kamer toe en sy gooi die
bruin deken eenkant toe. “Liewer ligblou,”
sê sy.

“Goed,” glimlag hy en sak langs haar op
hul bed neer.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

3 days Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

3 days Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

3 days Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

3 days Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.