Sit ’n slag lang bruschettas voor met bolae wat jou gaste sommer aan tafel kan pak en sny. Berei vooraf ’n verskeidenheid bolae en koop koue vleis soos parmaham.
Brode
Genoeg vir 6
- 2 baguettes
- 2 knoffelhuisies, gekneus
- 80 ml olyfolie
Bolae
Ertjie-guacamole
Genoeg vir 6
- 500 g bevrore ertjies
- 45 ml (3 e) olyfolie
- 60 ml (¼ k) lemmetjiesap
- 60 ml (¼ k) vars koljander, fyn gekap
- 2 groenrissies, wit pitte en vliesies verwyder en fyn gekap
- 2,5 ml (½ t) fyn komyn
- 2,5 ml (½ t) fyn koljander
Gevulde zucchini
Genoeg vir 6
- 2 × 100 g-bokmelkkaas – sny in 10 snytjies elk
- 2 groot murg-pamoentjies, met ’n groenteskiller in linte gesny
- 8 tiemietakkies
- 125 ml (½ k) olyfolie
- 2 knoffelhuisies, gekneus
- 5 ml (1 t) koljandersaad
- Skil van 1 suurlemoen
- Sout en gemaalde swartpeper
Gemarineerde fyn groenboontjies
Genoeg vir 6
- 200 g fyn groenboontjies
- 250 ml (1 k) olyf- of avokado-olie
- 60 ml (¼ k) witwynasyn
- 15 ml (1 e) Dijonmosterd
- 5 ml (1 t) fyn gekapte knoffel
- 5 ml (1 t) heuning
- 2 hande vol pietersielie, fyn gekap
- 60 ml (¼ k) dennepitte (of sonneblomsade), gerooster
Brode
Voorverhit die oond tot 220 °C.
- Sny die baguettes in die lengte middeldeur. Smeer die brood met die knoffel en verf met olyfolie aan albei kante.
- Rooster vir 5-8 min. of tot goudbruin en krakerig. Pak die brood en die bolae op die tafel uit.
Bolae
Ertjie-guacamole
- Kook die ertjies vir 2-3 min. in die mikrogolf.
- Verwerk al die bestanddele vir 2-3 min. in ’n voedselverwerker tot glad en egalig.
- Geur na smaak.
- Hou in ’n glashouer tot benodig.
Gevulde zucchini
- Rol die bokmelkkaas in 10 g-balletjies.
- Draai ’n zucchini-lint om elke balletjie en sit saam met die tiemie in ’n glasbottel.
- Meng die olie, knoffel, koljander, suurlemoen, sout en peper en gooi oor die zucchini-balletjies.
- Hou in die yskas tot benodig.
Gemarineerde fyn groenboontjies
- Kook die groenbone vir 2-3 min. in soutwater.
- Dreineer, dompel in yswater en dreineer weer. Skep in ’n skoon glasbottel.
- Meng die olie, witwynasyn, mosterd, knoffel, heuning, pietersielie en dennepitte in ’n mengbak en sprinkel oor die groenbone. Hou tot opskeptyd.