Toe die Egoli-kamera die eerste keer op haar fokus, sê Brümilda van Rensburg, het sy gehuil, want dit was asof almal op haar “gegil en geskree” het, en sy’s nie iemand op wie jy moet gil en skree nie. Agttien jaar en 4 689 episodes later, nadat haar laaste toneel geskiet is, het sy weer gehuil.
Dié keer omdat daar niemand meer oor was om te gil en skree nie. En in die jare tussenin het Brümilda van Rensburg ’n leeftyd van hoogtepunte, laagtepunte, wysheid en wonder ingepas soos nét sy kan.
Afgesien van haar status as deurwinterde en bekroonde aktrise, was en is Brümilda altyd onberispelik professioneel. Van kla en kerm is daar nie sprake nie. Van leer wel, kom jy agter uit haar skertsende antwoord wanneer jy vra wat sy uit Egoli geleer het. “Honderdduisende bladsye dialoog en geduld en geduld en geduld. ’n Aktrise word betaal om te wag.”
In Brümilda se geval, vermoed jy, het sy nie op beter dae gewag nie. Jy hoef ook nie eens vir haar te vra om ’n voorsmakie te kry van alles wat sy met soveel oorgawe doen nie – oorgawe synde ’n sleutelwoord wanneer dit kom by enigiets wat me. Van Rensburg aanpak. Jy kan eintlik net by haar webwerf inval en jou sitplekgordel vasmaak vir ’n reis na bestemmings wat die meeste mense in ’n dosyn leeftye nie sal sien of ervaar nie.
Kliek jy in by www.brumilda.com het jy kuber-kuierplekke te kus en te keur … Tuisblad, Brümilda- info, Foto’s, CV, Dramakursusse, Funksies, Make-overs, Projekte, Werkwinkels, ACT … Wat net weer bevestig: Brums, soos haar vriende haar noem, het nie met die botteltjie Rescue Remedy onder Club Duvet gaan inklim ná die laaste Egoli-skoot geskiet is nie.
En drome vir die toekoms?
Sy sal graag saam met ’n goeie geselskap weer op die verhoog wil wees. En sy is baie opgewonde oor die flieks wat deesdae in Suid-Afrika gemaak word en wat wêreldwyd so goed vaar. Gegewe al haar verkreë wysheid en ’n nuwe wêreld wat voorlê, wonder jy wat Brümilda haar sonderlinge voorsprong gee. Natuurlik is dit die talent wat sy in oormaat het en wat sy op elke vlak inspan om vir ’n oomblik, ’n uur of ’n leeftyd ’n bietjie glans in mense se lewe te bring.
Uiteraard is dit ’n dissipline wat skrik vir niks. ’n Bereidheid om die wonder in alles raak te sien, en ’n les uit enigiets te leer. En ’n vermoë om altyd haar selfbeheersing – en die warm hart wat daaragter klop – te behou.
Tog, die iets wat alles saambind, die sleutel wat deure en vensters vir Brümilda van Rensburg bly oopmaak, is vermoedelik steeds daai ding wat Ma Freda haar geleer het: “Gedra jou voor mense, my kind. Jy het geen verskoning om nie goeie maniere te hê nie.”