Bruintjies in ’n eiertjie Resep deur Vickie de Beer.
Click here for the recipe in English
Genoeg vir 12 eiertjies of 6 bruintjies as jy dit in ’n muffinpannetjie bak.
Bestanddele
- 12 ekstragroot eierdoppe, ons het dit blou gekleur, maar jy kan hulle wit hou
- 200 g donkersjokolade, fyn gekap
- 125 g botter
- 3 eiers
- 220 g suiker
- knypie sout
- 180 g koekmeel
- 45 ml (3 e) kakaopoeier
Metode
- Verhit die oond tot 180 °C. Sit die eierdoppe regop in ’n kolwyntjiepan.
- Maak die gaatjie aan die bokant effens groter met ’n sosatiestokkie.
- Smelt die sjokolade en botter saam in ’n bak wat knus op ’n kastrol halfvol kokende water pas. Trek van die hitte af en hou eenkant.
- Klop die eiers en suiker in ’n ander mengbak tot lig en donsig. Vou die sjokolademengsel by die eiermengsel in.
- Sif die sout, koekmeel en kakaopoeier in die sjokolade-en-eier-mengsel in.
- Vou deur totdat die mengsel goed gemeng is.
- Skep die mengsel in ’n spuitsak (ons gebruik sommer ’n toebroodjie-sakkie wat dig seël) en spuit die eiers halfvol met die mengsel. Maak die gaatjie groter as jy sukkel om die mengsel in te kry.
- Bak vir 15-20 min. of tot gaar. As die mengsel ’n bietjie uitbak, kan jy dit maar net liggies afkrap en skoonmaak.
- Sit die eiertjies in eierboksies voor, elke gas moet sy eie eiertjie oopbreek!
- Sit met ekstra gesmelte sjokolade voor.