Ná 12 jaar op skool, waar ’n kind binne ’n veilige raamwerk selde alleen groot besluite moes neem, word daar nou van hom verwag om volwasse en verantwoordelik te wees en te besluit wat hy met sy toekoms wil doen. ’n Oorbruggingsjaar is vir baie die ideale geleentheid om ’n tree terug te gee en perspektief te kry.
Maar so ’n jaar moet struktuur en ’n plan hê, anders kom kinders net so verward terug, en weet steeds glad nie wat hulle wil doen nie. Vir elke suksesstorie is daar ook rillerstories van kinders wat in die moeilikheid beland het, of koers verloor het.
Waarborg ’n oorbruggingsjaar meer toegewyde studente wat hul studie gefokus aanpak en voltooi? In die meeste gevalle ja, maar dit hang af wat hulle in die brugjaar gedoen het. Navorsingsbevindings in Amerika toon dat daar ’n kans van 64% is dat hulle nie hul studie gaan voltooi ná hulle ’n gap-jaar gevat het nie, in vergelyking met studente wat dit direk ná skool doen.
Rudi Viljoen van die Warriors Academy* sê al hul studente wat besluit om wel te studeer voltooi hul kursusse.
“Daar is baie druk op jongmense om te besluit wat hulle ná skool wil studeer. As hulle verkeerd kies en opskop, ly hul selfbeeld en selfvertroue daaronder.”
“Vandag se matrikulante kan uit soveel beroepe kies, dat dit bitter verwarrend is om die regte keuse te maak,” sê Jessica Gould van Gap Year South Africa*. “’n Oorbruggingsjaar dwing jou uit jou gemaksone en leer jou wie jy is en wat vir jou belangrik is.
“Min ouers kan deesdae ten volle betaal vir kinders se naskoolse studie, of duur oorbruggingsjaarprogramme bekostig. As ’n kind steeds ’n jaar wil afneem om insig te kry kan hy in daardie jaar werk en geld vir sy studie spaar, terwyl hy dalk een keer per week of oor naweke as vrywilliger sport afrig ter wille van emosionele groei en verdieping. Dit sal hom help om ’n meer deurdagte besluit te neem.
“Ek dink liefdadigheid* is ’n waardevolle aspek van enige program. As kinders teruggee aan gemeenskappe wat minder as hulle het, besef hulle die voorreg van goeie opvoeding en benut die geleentheid om te studeer beter. Maar dis belangrik dat kinders dit doen omdat hulle dit wíl doen – anders word dit ’n negatiewe ervaring.
“Jy maak ’n verskil aan ander se lewe, maar gewoonlik is die grootste verskil in jouself omdat jy soveel leer. Kies jou organi-sasie met sorg sodat dit iets is wat jou na aan die hart lê.”
“Maar ’n brugjaar is nie ’n verskoning om ’n hele jaar te jol of ’n vakansie op steroïede nie,” sê Rudi. “Daar moet ’n goeie struktuur wees sodat kinders geestelik en verstandelik uitgedaag word om te groei. Hoewel ons program ’n groot element van avontuur het, fokus ons net soveel op sakevernuf. Doen vooraf goeie navorsing oor die program, plek en mense.”
Nie almal hou van die struktuur van ’n program nie, maar as jy besluit om jou rugsak oor jou skouer te gooi en deur die wye wêreld te reis, moet jy steeds een of ander plan hê.
“Reis help jou om jouself te ontdek, maar dit kan jou ook van die werklikheid afsny,” sê Jessica. “Met ’n gap-jaar moet jy meer as dit vermag, anders word dit ’n ervaring waar jy jou aan die werklikheid onttrek, eerder as om in die werklikheid te ontwikkel.”
Beplan vooraf sodat jy dalk iewers by ’n liefdadigheidsorganisasie betrokke kan raak, of doen iets soos ’n taalkursus in daardie land.
Candice Carr (24)
“Ek het nie ná skool ’n gap-jaar gevat nie, want ek het gereken ek wil liewer die momentum van my studie behou en was ook bang dat een jaar se onderbreking dalk twee of drie word …
“Ek het my honneurs in die middel van 2015 voltooi en ek het ses maande gehad voor enige programme vir gegradueerdes by die groot maatskappye sou begin.
“Ek wou nog altyd deur Afrika reis en by liefdadigheidswerk betrokke raak, en toe ek van die Put Foot Rally* by vriende hoor, het dit aan al die vereistes voldoen. Die toer deur Afrika strek oor drie weke, vier lande en 8 000 km. Ek en drie vriendinne het die tog saam aangepak. Dit was ’n wonderlike avontuur, maar dit was ook ’n groot geldinsamelingsveldtog en ons het op pad by verskeie skole skoene en skryfbehoeftes aan behoeftige kinders gegee. Dit was vir my bevredigend om te sien hoe ons wel ’n klein verskil in ander se lewe maak. Dit voeg ’n ander dimensie by jou persoonlikheid wat tot jou voordeel strek as jy onderhoude vir ’n werk doen. Dit het my ook ’n nuwe perspektief op die lewe gegee.”
• Besoek putfootrally.com vir meer inligting.
Jenna Braham (24)
Jenna het in 2015 ná haar studie op ’n seiljag gewerk. “Ek wou graag reis en geld verdien. Vooraf doen jy kursusse* in eerstehulp, veiligheid, brandbestryding en hoe om seerowery te hanteer, want sonder die sertifikate word jy nie toegelaat nie. Ek het vir my eie kursusse en vlugte betaal en het ses maande op die seiljagte gewerk.
“Dis ’n streng bedryf met baie reëls, maar dit keer ook dat jy nie uitgebuit word nie en dat meisies veilig voel.
Daar rus groot verantwoordelikheid op jou en jy leer om baie geduldig te wees. Dit kan uitputtend wees omdat jy nie ’n afdag het wanneer jy op ’n ekspedisie is nie en dit is regtig intense, harde werk.
“Tog het dit my waardevolle sosiale vaardighede geleer wat ek in my beroep toepas. Toe ek werksonderhoude gedoen het, het onderhoudvoer-ders baie op my tyd op die seiljagte gefokus en wou weet hoe ek moeilike situasies hanteer het. Ek is seker hierdie ervaring het my gehelp om ’n aanstelling te kry.
“Ons het sowat R41 500 per maand verdien en jy het geen lopende uitgawes nie. Ek het omtrent die helfte van my geld gespaar en kon ’n groot deposito op ’n voertuig betaal en het die res in effektetrusts belê vir ’n deposito op ’n blyplek. Ek het baie gelag en baie gehuil, maar my ervaring was vir seker die beste ding wat ek vir myself kon doen.
“My raad sou wees om vooraf te besluit hoe lank jy dit wil doen en daarby te hou. Hoewel die werk aanvanklik moeilik is, kom jy in ’n roetine en raak dit makliker. Omdat jy baie geld verdien, kan dit moeilik wees om op te hou. Ek wou nie ná vyf jaar terugkom en geen beroepsmoontlikhede hê nie.”
* Jenna het deur Super Yachting South Africa (SYSA) haar kursusse gedoen en is toe oorsee waar sy die seiljagagentskappe genader het.
* Besoek Warriors Academy by www.warriors.co.za
* Besoek Gap Year South Africa by www.gapyearsouthafrica.com
* As jy ’n liefdadigheidsorganisasie soek, google iets soos “rugby charity sa” en jy sal iets opspoor.