Toe hul gesin in 2003 die skoktyding kry dat hul bejaarde ma wreed in ’n meenthuiskompleks op ’n kusdorp vermoor is, was hulle almal onder die indruk dat dit die gevolg van ’n huisrooftog was.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Die vermoorde Lettie* se gesin was verpletter. Maar toe hulle kort daarna hoor dat die slagoffer se oogappel-seun, Willem,* die moord haarfyn beplan het, was hulle teen die grond, vertel sy suster Lien*. Sy het gevra dat skuilname gebruik word en plekname verander word om sy kinders te beskerm. Willem het ses maande voor sy ma se dood ’n polis van R4,2 miljoen op haar lewe uitgeneem waarvoor hy die maandelikse paaiement van R4 000 betaal het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Willem was die middelkind, stil, ’n introvert, en het goed op skool gevaar.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Eintlik,” sê Lien, was Willem wat nou 53 is, “te slim vir sy eie beswil”.
Hy is weens mediese redes nie toegelaat om weermag toe te gaan nie, maar hy het eenvoudig sy regstudie opgeskop, sy pa se handtekening vervals en sy mediese verslae laat wegraak. Hy was ’n paar keer grens toe, maar het nooit oor sy ervarings daar gepraat nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Ná tien jaar in die weermag het Willem, sy vrou en twee kinders na sy vrou se plaas in die Noord-Kaap verhuis waar hy geboer het. Sy vrou het hom 15 jaar later van die plaas af gejaag en hulle is geskei.
“Die egskeiding het hom nogal gegooi. Hy was erg oor die kinders en hy het hulle elke naweek gaan haal.”
Willem het daarna ’n slaghuis in die Kaap besit en heelwat geld geleen wat tot familietwiste gelei het omdat hy die geld nooit terugbetaal het nie. Hy het daarna ’n ingenieursonderneming begin maar ook daarmee het hy geldelik gesukkel. Hy is weer met ’n jonger vrou getroud en hulle het ’n seuntjie gehad wat hy later weens die moordsaak moes afteken.
“Willem het baie meer uit my ouers gekry as ek en Ann*, ons jonger suster. As hy ’n kar afgeskryf het, het hy ’n nuwe een gekry. Ons moes ons eie karre koop.”
Lien beskryf haar ma as ’n “rustige en hardwerkende mens wat nooit opvlieënd geraak het nie.
“Sy was ’n goeie ma. Sy het in die kleinhandelbedryf gewerk en het ook plaaswinkels besit.”
Toe Willem voorstel dat hy ’n polis op hul ma se lewe uitneem sodat sy pa, ’n emfiseemlyer, versorg sou wees indien sy ma iets sou oorkom, het niemand ’n wenkbrou gelig nie. Willem was die begunstigde.
Lien sal nooit die dag vergeet toe haar ma vermoor is nie.
“My pa, Wim,* het my gebel en vertel dat hy gou gery het om te gaan brood koop terwyl my ma met die skottelgoed besig was. Toe hy by die huis kom, was daar bloed aan die deurkosyn maar hy kon nie by die deur inkom nie. Hy het aangeneem dat sy haar dalk raakgesny het. Hy het haar herhaaldelik geroep maar geen antwoord gekry nie.
“Toe bel hy al wat hospitaal en ambulansdiens is maar niemand weet iets van my ma af nie. Hy dog toe sy is iewers heen om te gaan hulp soek.”
Die polisie het later gaan ondersoek instel en haar ma deur ’n oop venster in die sitkamer sien lê. Sy was dood. Daar is later vasgestel dat haar keel met ’n broodmes afgesny is.”
Ná die skoktyding is die susters albei na die polisiekantoor geneem en tot twee-uur die oggend aangehou en ondervra.
“Daar is geskimp dat ons met perlemoen gesmokkel het omdat ons nie so ’n groot huis sou kon bekostig ná my man weens mediese redes vroeg moes aftree nie. Toe sinspeel hulle daarop dat ons by die moord betrokke kon wees. Hulle het eers met die ondervraging agtergekom dat ons ook ’n broer het.”
Op hul ma se roudiens was Willem doodkalm en niemand het ooit kon dink dat hy die baasbrein agter die moord was nie.
Intussen het Gys*, die man wat Willem gehuur het om sy ma te vermoor, hom aan die polisie oorgegee. Wim het kort ná die moord op sy vrou ’n asma-aanval gehad. Hy was so siek dat hy nie eens sy vrou se roudiens kon bywoon nie.
Lien moes emosioneel sterk bly.
“My suster het gesukkel. Ek was die een wat al die begrafnisreëlings getref en kop gehou het.
“My pa was nog in die hospitaal toe hy ’n berig oor die moord in Rapport lees. Ons het die nuus aanvanklik vir hom weggesteek, want ons het nie geweet hoe om vir hom te sê my broer is ’n verdagte nie.
“Hy was baie kwaad omdat ons die inligting van hom weerhou het. En hy was woedend vir Willem. Hy het nooit die hofsaak bygewoon nie, en hy wou nie ’n brief van my broer uit die tronk aanvaar nie. Tot met sy dood vyf jaar gelede het hy nooit weer met Willem gepraat nie.
“Ek en my suster het elke dag honderde kilometers ver gery om die verhoor in die Hooggeregshof by te woon. Ons het hom op aandrang van die maatskaplike werker ’n jaar ná sy inhegtenisneming gaan besoek.
“Dit het drie jaar later in die hofsaak aan die lig gekom dat Willem vroeër minstens twee van sy werknemers probeer oorreed het om ons ma te vermoor. Koos* het twee keer kop uitgetrek toe hy by my ouerhuis kom: die eerste keer toe hy my twaalfjarige seun wat daardie skoolvakansie by my ouers gekuier het, op die grasperk sien speel het. Die tweede keer was toe hy besef het my ma sou die slagoffer wees. Hy het my ma op my broer se troufoto’s herken. Die jonger Gys* was die een wat toe uiteindelik die daad gepleeg het terwyl Koos vir hom in die kar gewag het.
“Daar is met behulp van kringtelevisiekameras vasgestel dat Gys die broodmes by die plaaslike Pick n Pay gaan koop het.
“Hy het ’n pleitooreenkoms met die Staat aangegaan waarna hy tot 17 jaar tronkstraf gevonnis is. Hy is vermoedelik ná tien jaar vrygelaat.”
Koos is tot twintig jaar tronkstraf gevonnis omdat hy ’n groot aandeel in die beplanning gehad het.
Lien meen haar broer het die mans gemanipuleer – veral die jonger een wat die vuilwerk moes doen. Willem het geweet Gys smokkel met diamante en het hom daarmee afgepers. Hy het hulle saam sowat ’n half-miljoen rand aangebied.
Die ironie is dat haar broer se motor op die toneel uitgeken is.
Willem is lewenslange gevangenisstraf opgelê.
“Met ons eerste besoek in die gevangenis was hy baie ontwykend. Die maatskaplike werker het meestal namens hom gepraat. Hy ontken tot vandag toe dat hy iets met die moord te doen gehad het. Selfs al is al die getuienis teen hom. Ek het reguit vir hom gesê ek glo hom nie. Dit sou dalk makliker gewees het om hom te vergewe as hy skuld erken het. ’n Mens weet nie.”
Willem was ’n modelgevange en uitblinker in die tronk en is later van die maksium- tot die mediumafdeling oorgeplaas. Hy het biblioteke begin in talle tronke waar hy sy vonnis uitgedien het, en die matriekleerlinge vir wie hy wiskunde in die tronk gegee het, het almal geslaag.
Hy het ’n Bybelstudiekursus en ’n LLB-graad deur Unisa met vlieënde vaandels geslaag en is nou besig met sy LLM-graad – waarvoor die susters help betaal.
Hoe op aarde vergewe ’n mens jou broer vir so ’n grusame daad?
“Ek wou dit vir my eie behoud doen maar ook ter wille van sy kinders. Eerder vergiffenis as om verbitterd te raak en in ’n groef te beland,” sê Lien.
En as hy eendag vrygelaat word? Hy is reeds van werk verseker danksy ’n prokureur en ’n geoktrooieerde rekenmeester wat sy selmaats was en intussen vrygelaat is.
Die twee, asook ’n man wat sy buurman doodgeskiet het nadat hy hom met sy vrou in die bed betrap het, besoek hom gereeld. Die vriende uit sy verlede het almal verdwyn.
Hoewel Willem geen berou toon nie, dink Lien dat hy in elk geval versigtig sal wees wanneer hy uit die tronk kom. “Ek dink sy oudag gaan rustig wees.”
Die susters besoek hom steeds wanneer hulle in die Kaap is. “As ons dink aan die soort mens wat my ma was, sou sy dit so wou hê. Sy het ’n hart van goud gehad. Sy het geglo die lewe is te kort om wrokke te koester.”
*Skuilname.
• Gevoelens van leegheid, hopeloosheid, hulpeloosheid, uitsigloosheid en skuld.
• Depressiewe gemoedstoestand, hartseer of angstigheid.
• Stel nie meer belang in stokperdjies of sportaktiwiteite nie.
• Min energie en lusteloosheid.
• Onttrek hulle aan familie en vriende.
• Kan nie meer die eise hanteer wat gestel word nie.
• Verandering in slaappatrone of slaapsteurnisse.
• Verandering in eetpatrone: gewigsverlies of -toename.
• Gedagtes aan dood of selfdood, en sê dinge soos: “Die lewe is nie meer die moeite werd nie”, of “Dit sal beter wees as ek dood is”.
• Rusteloosheid, prikkelbaarheid, irritasie of woede.
• Sukkel om te konsentreer, besluite te neem, geheueprobleme, kla oor verveeldheid.
• Skoolwerk gaan agteruit.
• Min aandag aan persoonlike netheid en versorging.
• Kla oor fisieke simptome soos hoofpyn, maagpyn of naarheid sonder ’n mediese oorsaak, of wat nie op behandeling reageer nie.
• Kom disgeoriënteerd voor.
• Rebelse gedrag en loop weg van die huis.
• Hou niks daarvan om geprys te word nie, of wil nie dinge van ander ontvang nie.
• Gee eie besittings weg.
Gevaartekens is so moeilik om raak te sien omdat veranderinge dikwels amper onmerkbaar en met verloop van tyd ontwikkel. Kinders, veral seuns, se simptome is dikwels gemasker en lyk na rebelsheid, ongemotiveerdheid of luiheid. Hulle is moeilik, negatief, argumenteer oor alles, doen niks en wil nie saamwerk of leer nie. Sommige kinders ontvlug dan via elektroniese media, slaap of ruil dag en nag om omdat hulle nie vir die eise van die dag kans sien nie.
Jonger kinders kla dikwels oor maagpyn, of het ander klagtes sonder ’n mediese oorsaak. Hulle is klouerig, wil nie skool toe gaan nie, of raak vir die geringste dingetjie emosioneel oorspoel. Hulle sukkel om tuis skolasties en sosiaal te funksioneer. Die feit dat hulle wel soms sekere dinge geniet of presteer, mag nie ’n diagnose uitsluit nie.
Ouers moet hul aanvoeling en bekommernisse vertrou.
As ’n kind sukkel of sy gedrag verander, gee dadelik aandag daaraan en soek oplossings. So kan depressie en ’n tragedie voorkom word. Moenie emosies en ervarings ontken en afmaak as oordrywing, manipulering, vermyding van verantwoordelikhede, stoutigheid of “normale” tieneroptrede nie. Dit verhoog gevoelens van hopeloosheid en isolasie. Betrek die kind by aktiwiteite en help hulle om deel te wees en uit te kom, sonder om te veel eise te stel.
Oor huurmoordenaars sê dr. Henk Swanepoel* dat hulle, anders as wat die geval met reeksmoordenaars is, nie hul eie slagoffers kies nie maar deur ander aangesê word wie om te vermoor. In hierdie geval het die baasbrein agter die moord sy werknemers gehuur. Die huurmoordenaar se motief is suiwer finansieel van aard. Vir die berekende en gewetenlose huurmoordenaar is die pleeg van hierdie gruweldade ’n onemosionele en pragmatiese kwessie. Hulle bevredig geen emosionele of sielkundige behoefte met die moord nie.
*Dr. Henk Swanepoel is ’n kliniese sielkundige wat baie forensiese werk doen en gereeld sielkundige verslae vir die verdediging in hofsake opstel.
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay Om by die…
Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…
Hierdie webwerf gebruik koekies.