Emmeline Pankhurst het geveg vir dit waarin sy geglo het. Letterlik. Onder haar leiding het Britse vrouestemregprotesteerders met die polisie handgemeen geraak, brand gestig en klippe deur winkelvensters gegooi. Sy is minstens elf keer in die tronk gegooi waar sy aan eetstakings deelgeneem het. Dié driftige optrede was daarop gemik om stemreg vir vroue in Brittanje te bewerkstellig.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Historici stem nie almal saam dat dié radikalisme gewerk het om stemreg vir vroue in Brittanje te bespoedig nie. Die tydskrif Time het haar nietemin in 1999 een van die honderd belangrikste mense van die twintigste eeu genoem: “Sy het die samelewing geskud en in ’n nuwe rigting gestuur – een waarvan daar geen terugkeer is nie.” In ’n BBC-stemming het Emmeline die 27ste plek onder die 100 belangrikste Britte ingeneem.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Emmeline het nie net op ’n omstrede manier vir vrouestemreg in Brittanje gewerk nie. Haar hele lewe lank het sy haar beywer vir gelyke regte tussen vroue en mans. Toe sy later ’n tyd lank in Kanada gebly het, het die burgemeester van Bathurst haar ’n nuwe gebou gewys wat “’n tuiste vir gevalle vroue” sou word. “Waar is die huis vir gevalle mans?” wou sy weet.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Emmeline Goulden is op 15 Julie 1858 in Moss Side, Manchester gebore, die oudste van vyf dogters van ’n gesin van tien kinders van Robert en Sophia Goulden.
Emmeline het altyd gesê dit maak nie saak wat op haar geboortesertifikaat staan nie, sy is inderdaad ’n dag vroeër gebore: op Bastilledag.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Ek het nog altyd gedink dat my geboortedatum ’n invloed op my hele lewe gehad het. Ek het my van jongs af een gevoel met die vrouerevolusionêre wat die Bastille bestorm het.”
Haar ouers was polities aktief. In haar outobiografie, My Own Story (1914), onthou sy dat sy nog baie jonk was toe sy ’n basaar besoek het om vir die onlangs bevryde slawe in Amerika geld in te samel.
Emmeline het begin lees toe sy net drie jaar oud was. Sy het die Odussee op nege gelees en die werk van John Bunyan geniet – veral sy 1678-verhaal A Pilgrim’s Progress. Nog een van haar beste boeke was Thomas Carlyle se The French Revolution: A History.
In daardie tyd, selfs met politiek bewuste ouers, het Emmeline nie dieselfde opvoeding as haar broers gekry nie. Daar is verwag dat sy vroeg sou trou, nie sou werk nie en haar huis aantreklik vir haar man moes maak. Hoewel haar ouers geglo het in stemreg vir vroue, het hulle nie gedink hul dogters sal dieselfde mylpale as hul seuns kan bereik nie.
Op 14 het sy die eerste keer met die vrouestemregstryders kennis gemaak toe sy saam met haar ma by ’n vergadering was.
Op 15 het sy verder aan die École Normale de Neuilly in Parys studeer waar sy buiten boekhou en chemie, ook die meer tradisioneel vroulike vakke soos borduurlesse moes neem.
Op twintig het sy tot haar ouers se ontsteltenis romanties betrokke geraak by Richard Pankhurst, ’n advokaat 24 jaar ouer as sy. Richard was toe al jare lank bekend daarvoor dat hy ’n voorstander was van vrouestemreg, sowel as vryheid van spraak en onderwyshervorming. Hy het hom as jong man voorgeneem om nie te trou nie sodat hy “die mense” beter kan dien. Maar die twee se wedersydse aangetrokkenheid het Emmeline se ma laat maan: “Moenie so oorgretig lyk nie.”
Emmeline en Richard is op 18 Desember 1879 in die kerk van die Heilige Lukas in Pendelton getroud. Die volgende tien jaar het hulle vyf kinders gehad, maar omdat sy hulp in die huis gehad het, kon Emmeline ook aan politieke bedrywighede buite die huis deelneem. Die egpaar het van die platteland na Londen getrek waar Emmeline ’n materiaalwinkel geopen en Richard vir hom ’n praktyk probeer opbou het. Die Pankhurst-huis was die middelpunt van ’n verskeidenheid soorte aktivisme en mense wat die maatskaplike stelsel wou verander.
In daardie stadium was daar verskillende vrouegroepe wat hulle vir vrouestemreg beywer het, ook groepe wat by politieke partye geaffilieer was. Emmeline het op haar beurt die Women’s Franchise League (WFL) gestig. Dié organisasie het vrouestemreg vir getroude en ongetroude vroue voorgestaan. (Van die ander groepe het geglo dat getroude vroue hul stemme deur hul mans kan uitbring. “Sy stem mos klaar deur hom,” is daar gesê.) Die WFL is as ’n “radikale organisasie” beskou omdat hulle buiten vrouestemreg, ook gelyke regte vir vroue op die gebied van egskeiding en erflatings wou hê. Die organisasie het ook vakbonde gepropageer en alliansies met sosialistiese groepe voorgestaan.
Later het die organisasie vanweë sy “ekstremisme” tot niet gegaan.
Emmeline se winkel in Londen het nooit juis groot aftrek gekry nie en Richard het gesukkel om kliënte te kry. In 1893 het hulle die winkel gesluit en noodgedwonge na Manchester teruggekeer.
Daar het Emmeline haar vir die eerste keer as ’n aktivis uit eie reg onderskei. Sy het welsynswerk onder die armes van Manchester gedoen en was geskok oor die toestande in die stad se armhuis.
Emmeline en haar oudste dogter, Christabel, het in Switserland by ’n ou vriendin gekuier toe sy ’n telegram van Richard kry: “Ek is nie gesond nie. Kom asseblief huis toe, my liefling.”
’n Paar dae later, op die trein van Londen na Manchester, het sy in ’n koerant gelees dat hy oorlede is.
Emmeline was nou opgesaal met nuwe verantwoordelikhede, sowel as Richard se aansienlike skuld. Die gesin het na ’n kleiner huis getrek en Emmeline moes presies gaan doen wat haar ouers nie voorsien het nie en waarvoor sy ook nie opgelei was nie: vir ’n salaris gaan werk. Gelukkig het sy wel werk gekry as die registrateur van geboortes en sterftes in Chorlton.
In dié jare het sy weer agtergekom hoe swaar veral arm vroue kry weens ongelyke behandeling en min geleenthede. Volgens haar sou vroue se lewe net kan verbeter indien hulle stemreg kry.
In 1903, vyf jaar ná haar man se dood, het Emmeline die Women’s Social and Political Union (WSPU) gestig. Al drie haar dogters was ook by dié organisasie betrokke. Omdat niks bereik is met vreedsame vertoë nie, het die WSPU kragdadig begin optree. Christabel (die oudste) is in hegtenis geneem omdat sy ’n polisieman gespoeg het en Adela en Sylvia is in hegtenis geneem omdat hulle buite die parlement aan ’n betoging deelgeneem het. Emmeline is die eerste keer in Februarie 1908 in hegtenis geneem omdat sy ’n protesvoorstel aan die eerste minister, H.H. Asquith, wou oorhandig. Sy is van dwarsboming van die gereg aangekla en tot ses weke tronkstraf gevonnis. Daar het sy haar stem teen die tronktoestande verhef, die skrapse kos, luise en “die beskaafde marteling van alleenaanhouding en stilte”.
Daarna het sy tronkstraf beskou as ’n geleentheid om vroue-stemreg te propageer. In Junie 1909 het sy ’n polisieman twee keer deur die gesig geklap om seker te maak sy word in hegtenis geneem. In haar verhoor van 21 dae het sy die hof vertel: “Ons is nie hier omdat ons wette oortree nie, ons is hier in ’n poging om wetmakers te word.”
In die tronk het van die vroue-aktiviste met hongerstakings begin, maar die polisie het kos met pype in hul monde of neuse afgedwing. Die owerheid, bang dat van die vroue van die honger sou sterf en dat die beweging dan martelaars sou hê, het die vroue laat gaan sodra hulle te uitgeteer was. Wanneer hulle tuis ’n bietjie aangesterk het, is hulle weer in hegtenis geneem.
Emmeline het haar huis in 2007 verkoop en met ’n paar tasse deur die land geswerf om vroue toe te spreek. Sy het by vriende en in hotels oornag. Hoewel sy energie uit die stryd geput het, het haar aanhoudende reise haar van haar kinders verwyder – veral van Christabel, haar geliefde dogter, wat die nasionale koördineerder van die WSPU geword het. Sy was op ’n lesingtoer in Amerika toe haar seun Harry baie siek was. Sy wou nie dié reis af- of uitstel nie omdat sy geld vir sy duur behandeling wou bymekaarmaak.
Sy was net betyds terug om langs sy bed te sit toe hy op 5 Januarie 1910 gesterf het. Vyf dae later het sy haar seun begrawe en daarna vyfduisend mense in Manchester toegespreek.
Later het die polisie se aanvalle op Pankhurst so erg geword dat die WSPU ’n vrouelyfwag aangestel wat in joejitsoe onderrig was om haar te beskerm. Christabel was nog radikaler as haar ma en die antagonisme tussen die Pankhursts en die regering het al hoe groter geword. Toe radikale vroue in 1912 met brandstigting begin, het meer gematigde organisasies (ook vroue-organisasies) hul teenkanting teen die Pankhurst-gesin uitgespreek.
In daardie stadium het verskeie prominente lede die organisasie verlaat, ook Emmeline se dogters Adela en Sylvia. Emmeline het gesê dat Sylvia, wat die Liberale Party ondersteun het, onredelik is en ma en dogter is kwaad uitmekaar. Emmeline het ook daarop aangedring dat Adela, wat in daardie tyd werkloos was, emigreer. Sy het haar dogter ’n kaartjie vir ’n skeepsreis na Australië in die hand gestop en vir haar tot siens gesê. Adela het op die skip geklim en vir ewig uit haar ma en susters se lewe verdwyn.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Emmeline en Christabel besluit dat die gevaar wat die Duitsers vir die mensdom inhou, so groot is dat die Britse regering die ondersteuning van elke enkele burger nodig het. Emmeline het nou met net soveel energie en vasbeslotenheid voorspraak vir ’n patriotiese oorlogspoging gemaak. Sylvia en Adela (in Australië) het pasifisme verkondig.
Die formidabele Emmeline het vier oorlogsbabas aangeneem – babas van enkellopende vroue en pa’s aan die gevegsfront. Toe sy gevra is hoe sy op 57, en met geen gereelde inkomste nie, vier kinders kan grootmaak, het sy gesê: “Eintlik moes ek veertig kinders aangeneem het.”
In Junie 1917 is sy Rusland toe om vir die Russe te vra om nie die oorlog teen Duitsland te beëindig nie. By haar terugkeer moes sy tot haar vreugde verneem dat vroue se reg om te stem uiteindelik ’n werklikheid sou word. In 1918 het vroue bo dertig stemreg gekry.
In 1926 het Emmeline by die Konserwatiewe Party aangesluit. Haar transformasie van radikaal na konserwatief het baie mense verbaas. Sy het gesê haar oorlogservarings en haar vrese oor die kommunisme het haar van mening laat verander.
Sy is op 14 Junie 1928 op 69 oorlede.
Sylvia se 1931-boek, The Suffrage Movement beskryf haar ma se politieke skuif aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog as die begin van die verraad teen haar gesin en die beweging. Sy stel haar ma as ’n onredelike outokraat voor. Christabel se boek: Unshackled: The Story of How We Won the Vote (1959) teken haar ma as vrygewig en onselfsugtig, ’n vrou wat haar lewe vir edel sake opgeoffer het.
Bronne: Verskeie webwerwe.
Voëls Ons kouse met ’n voëltema het van ryk kleure en teksture tot…
Simoné Pretorius is weer swanger, en in die wolke daaroor! Die 34-jarige aktrise het…
Genoeg vir 4. Bestanddele 10 ml (2 t) elk olie en botter 1…
Vandag is dit steeds een van die gewildste plaaslike produksies wat kykers saam laat swets,…
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Hierdie webwerf gebruik koekies.