“Dis super-opwindend,” sê hy, en beskryf die program as ’n “komiese aktualiteitsprogram” waarin bekendes soos Shaleen Surtie- Richards, Jody Abrahams, Francois Toerien en Melt Sieberhagen ’n bietjie na die week se nuusgebeure kyk. Op hul eiesoortige manier, natuurlik. “Ek het ’n groot passie vir komedie. Dis die perfekte werk vir my.”
Hy was ook te sien in Mooirivier – liefde wen, ’n fliek deur die vervaardigers van Klein-Karoo, waarin hy ook ’n rol gehad het. “Ek is Tim Theron ewig dankbaar vir die kanse wat hy my voor die kamera gee.” Tussendeur was daar ’n rolletjie – “hiperklein, hoor” – in Die Spook van Uniondale, en hy was DJ Weetbix in Pad na jou hart. Dat hy so tuis is voor die kameras, is iets wat hom ook verbaas.
“As ek nou moet kies tussen toneelspel en sing … Ek het baie meer selfvertroue voor ’n kamera as op die verhoog. Eintlik is dit vir my vreesaanjaend om te sing! Dalk omdat musiek maar so half toevallig gebeur het.”
Toevallig? “Ja, dinge het net ontplof toe ons met Straatligkinders begin het. Ek dink die tyd was perfek. Daar was die MK-musiekkanaal op kykNET, al die feeste, en ons was die Polisiekar wat jou ouers jou toegelaat het om te luister. Dit was ‘in’ om alternatief te wees. Nou is dit anders: nou is dit cool om goed te wees, nie skokkend nie. Niks skok meer nie, nie eens meer Die Antwoord nie,” filosofeer hy.
“Om uitgesproke te wees was ook koel toe ons met Straatligkinders begin het. Sit nou boonop ’n deuntjie by … Ons het met ons musiek mense se gewete geroer, die vrae gevra wat hulle ook gehad het. Deur my musiek kon ek my hart deel.”
Hy praat nie graag oor sy eie sukses nie – ook nie oor die gewildheid van Straatligkinders en die akoestiese duo Dans, Dans Lisa (saam met Deon Meiring van Glaskas-faam) nie. Maar kom dit by sy geloof, is hy openlik, doodernstig en eerlik.
“Ek was baie bevoorreg om ’n mentor op my geloofspad te kon hê. My ouers was nog altyd amazing kinders van die Here, maar op hoërskool was daar ’n jeugwerker by ons kerk, Francois Esterhuizen, wat ’n groot invloed op my geloof gehad het. Dalk omdat hy my nooit wou verander nie en nooit vir my voorgeskryf het nie. Ironies genoeg het hy my die heel meeste verander.”
Dalk, mymer hy, is hy so ernstig oor geloof omdat hy nog altyd ’n sagte plek vir die underdog gehad het. “Dalk omdat ek my ook as een beskou het. Op skool het ek ’n baie slegte vel gehad, ek was depressief, ag, sulke klein goedjies. ’n Tiener voel mos maar niemand verstaan hom nie. Ek was so regte emo-tiener.”
Hy wou van kleins af musiek maak, maar lag as hy nou vertel dat hy eintlik niks gedoen het om daardie droom te bewaarheid nie. “Ek het nooit eens musiek geswot nie! Wat het my laat dink dat ek daarvan ’n loopbaan kan maak?”
Tog het sy geloof op ’n indirekte manier daartoe gelei.
“Ná skool was ek onseker oor wat om te gaan swot en ek was twee jaar lank deel van C-kruis, ’n Christelike musiek- en dramabediening.”
Daarna was hy sewe maande lank betrokke by ’n soortgelyke bediening in Amerika. “Dit was pretty rock star – ek het twintig state gesien en is boonop daarvoor betaal!”
Terug op eie bodem het hy ingeskryf vir ’n B.A.-graad in kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universiteit en dis waar Straatligkinders gebore is.
“Ek was in daardie tyd by die Duet-gemeente betrokke waar Retief Burger die lofprysing gelei het. Ek was die laerskoolafdeling se dominee, kan jy maar sê. Saterdagaande het ek in ’n klub gespeel en Sondagoggende in die kerk se band by ’n doop. Vir my is God oral – in die kerk én in die klub.”
Dis vir hom belangrik om by die kerk betrokke te wees. “Dit gee my die kans om met die kerk ook te praat en vir hulle te sê hoe mense daar buite voel. Alles in die wêreld gaan oor kommunikasie – swak kommunikasie is die wortel van alle euwels. Dis die rede waarom ek kommunikasie geswot het.”
Hy vertel dat sy vriend Hunter Kennedy van Polisiekar hom eenmaal met ’n Trojaanse perd in die kerk vergelyk het. “Hy het gesê ek kan van binne die kerk die waters roer; verandering aanhelp.” Maar hy beskou hom eerder as ’n brugbouer. “Die wêreld en die kerk gooi klippe na mekaar – ons moet eerder daardie klippe gebruik en iets moois bou.”
Maar al het hy baie respek vir die kerk, voel hy dat daar sekere dinge is waaroor die kerk nie uitgesproke genoeg is nie. “Rassisme is een daarvan en dis hoekom ek gevoel het ek moet iets sê,” vertel hy toe ek uitvra oor sy YouTube-video Kleurblind waarin hy gesê het ’n mens kan nie tegelyk ’n rassis én ’n Christen wees nie.
Dit het ’n mediastorm om sy kop laat losbars.
“Ek weet ras en godsdiens en politiek is drie van die gevaarlikste onderwerpe waaroor jy in Suid-Afrika kan skryf. En hierdie video raak twee daarvan aan.”
Hy is glad nie verskonend oor sy uitspraak nie en voel sterk oor die verantwoordelikheid wat saam met bekendheid kom en glo dat ’n mens moet práát.
“Iemand moes dit sê. Iemand moet standpunt teen rassisme inneem. Ek wou vir die jonger geslag, die mense wat my volg, sê jy kan beslis nie albei gelyk wees nie. Ek wou ander mense laat nadink daaroor en ek wou ook vir mense sê hoe óór ons jonger generasie oor rassisme is.
Hoe keelvol ons daarvoor is. Dit was glad nie ’n nuwe uitspraak nie – ek het dit nog altyd gesê.”
Luister jy na “Kleurblind”, hoor jy Bouwer se hart in die intensiteit waarmee hy kletsrym. “My hart breek vir jou wat so baie haat/ Ek wens jy was kleurblind/ Ek wens soms ons almal was kleur-blind/ Op ’n klavier kry jy swart en wit note/ en almal is ewe belangrik vir musiek om sin te maak/ alleen klink dit leeg/maar as almal saamgespeel word/ los dit die engele stom.”
Kort daarna was Bouwer weer in die nuus. Hierdie keer omdat sy pa, Pierre, sy lang stryd teen kolonkanker verloor het. Sy pa se kanker het hom diep geraak, en hy het selfs ’n lied, “(K) anker”, daaroor geskryf: “Dit voel onregverdig, maar wie’s ek om dit te sê. Dis genade wat ek hier wil hê,” sing hy in “(K)anker”. Dit was vir hom “amazing” dat sy pa drie jaar lank kon vasbyt en teen ’n fase-vier-kanker baklei, en hy is bly hy kon by wees toe sy pa sy laaste asem uitblaas.
“My pa was ’n bouer, ’n baie stil man. Maar hy was altyd daar vir my. Sy dood was hectic. Ek is baie sentimenteel en ’n pa is so ’n belangrike mens in ’n ou se lewe. Dit maak my ’n bietjie hartseer om te dink daardie deel van my lewe – die een met ’n pa – is nou verby. Nou moet ek die lewe op my eie aanpak.”
Gelukkig woon sy ma, Marie, ’n tandarts-assistent, betreklik naby in Potchefstroom. En is daar nog sy twee ouer sibbe, Lente en Francois.
Hy is ’n man van vele talente.
Bouwer en Bennie Fourie se donker komedie, Vuil wasgoed, is verlede jaar by die Silwerskermfees as die beste kortfliek bekroon, en hy het ook al musiekvideo’s vir Elvis Blue en Rocco de Villiers gemaak. Daarby is hy die brein agter ’n liefdadigheidsorganisasie, Liefde Wen.
“’n Vriendin, Tanya Grabe, wou ’n organisasie begin om mense te help. Ek wou ’n klerereeks begin met die Liefde Wen-slagspreuk daarop.”
Nou, ’n paar jaar later, befonds die klerereeks ’n paar liefdadigheidsprojekte. “Hei, ek is nie Bono nie, hoor! Dis nog klein, maar dit groei. My vriende Walton en Lianca Kruger bestuur die webwerf en besluit wie ons gaan help. Twee jaar gelede kon ons al geld skenk aan Door of Hope, ’n organisasie wat na weggooibabas omsien. Verlede jaar kon ons die wense van sowat honderd brandslagoffers van Children of Fire bewaarheid. Dis nog baby steps en small victories, soos my vriend Henré Pretorius ons destyds by MK geleer het.”
Hy leer graag by mense soos Henré en ander wat hy as mentors beskou. “Ek het nie ’n probleem daarmee wanneer mense vir my raad gee nie. Dis free education! Jy moet by almal leer. Ons moet leer om na mekaar te luister. Dis oukei om te verskil, maar jy móét luister. Ek dink ons luister baie keer nie regtig nie. Ons luister net sodat ons dadelik met ’n antwoord kan terugskiet.”