Deur Anys Rossouw.
’n Mens se selfbeeld is ’n bietjie soos die aandelemark: Party dae is dit hoog en ander dae tuimel dit tot in die dieptes. Maar ’n goeie selfbeeld is soos ’n goeie ontbyt – onontbeerlik om jou emosionele krag te gee om te begin en om aan te hou. Menige ouer het al die verlammende ervaring gehad van ’n kind wat ná ’n teleurstelling tuis kom met: “Ek het dit nie gemaak nie.” “Ek kry niks reg nie.” “Niemand hou van my nie.” “Ek weet nie waarom ek eens probeer nie, ek dink ek gaan sommer alles los!” Dikwels met of sonder die uitgesproke wens: “Ek wens ek was iemand anders!”
Kinders met ’n gesonde selfbeeld voel goed oor hulself en hul vermoëns, hul sterk en swak punte. Dis vir hulle makliker om ander te vertrou, want hul selfwaarde hang nie van ander se goedkeuring af nie. Dit gee hulle selfvertroue in die klas, op die verhoog of sportveld of tussen hul maats, ander mense en in die stil oomblikke met hulself. Hulle kan waag en met selfvertroue nuwe geleenthede aangryp en skep. Teleurstellings en probleme verlam hulle nie. ’n Goeie selfbeeld help jou om verantwoordelike besluite oor jou liggaam en gees te neem sonder om ander slaafs te volg.
Selfbeeld word bepaal deur jou persepsie, of prentjies van jouself, hoe jy jouself sien en wat jy oor jouself glo. En wat jy glo hoe ander jou sien. Persepsie is so selektief. Jy neem net ’n baie klein deeltjie van die werklikheid waar en daarop berus jou afleidings en aannames oor wie jy is. En dit bepaal jou gedrag wat dan juis die persepsies waar maak.
In die mededingende Westerse kultuur is daar sterk klem op prestasie, vaardighede, vermoëns, posisie en hoeveel mag en beheer jy het. Daarom is mense geneig om hulle voortdurend met ander te vergelyk en dit bepaal dikwels mense se beeld van hulself.
Selfbeeld en liggaamsbeeld, voorkoms, is vir baie mense so nou gekoppel. Tieners veral is byna obsessief oor hul voorkoms. Dit voel vir hulle of almal heeltyd na hulle kyk en bewus is van hoe hulle lyk, wat hulle aantrek, waar hulle ’n puisie het of hoe groot hul ore is.
Selfbeeld beïnvloed nie net jou waagmoed en selfvertroue nie, maar dit raak ook jou belewing van geluk en sin. Dit het ’n groot invloed op jou besluitneming en optrede – of jy in staat is om te kan doen wat jy eintlik graag wil doen; of jy getrou aan jouself kan wees en duidelike grense het om met grasie te kan “nee” sê in situasies wat nie by jou planne, lewenstyl of waardes pas nie.
Die belangrikste lewenslesse word by die huis geleer. Wie die ouers is, is dikwels bepalend vir wie die kinders word. Daarom moet ouers uitleef en aanmoedig wat hulle wil hê hul kinders moet word. Gandhi het gesê: “Ons moet die verandering wees wat ons in die wêreld wil sien.” Daarom is die grootste geskenk wat enige ouer sy kind kan gee seker aanvaarding, ’n gelukkige huwelik en ’n lewende voorbeeld van selfaanvaarding, selfvertroue, selfvervulling, optimisme en geluk.
As die ouers goeie selfbeelde het, is dit vir kinders makliker om hulself te aanvaar en ’n goeie selfbeeld te ontwikkel. Hulle word dikwels met minder kritiek groot en kan maar net wees wie hulle is.
Hulle hoef nie beter of soos iemand anders te wees om goed te voel oor hulself nie. Hul prestasie bepaal nie hul ouers se selfbeeld of beeld van hulle nie. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar. Die negatiewe dinge wat vir ’n kind gesê word, laat merke en letsels in sy gees wat hom by bly, selfs tot sy oudag toe.
’n Goeie selfbeeld is nie bedmaats met dwelms, eetversteurings, aggressie, selfmoord, alkoholmisbruik, tienerswangerskappe en swak skoolprestasie nie.
’n Goeie selfbeeld beteken om ’n gesonde, gebalanseerde beeld van jouself te hê: Om jouself met positiwiteit te aanvaar en te waardeer en oor die algemeen tevrede met die lewe en jouself te voel.
Perfeksionisme is die ouer boetie van ’n swak selfbeeld. ’n Lae selfbeeld word gevoed deur negatiewe gedagtes, self- kritiek en om jou met ander te vergelyk. Dis ’n wedloop waarin jy selde wen, want nes jy op die een terrein vorder, is jy op ’n ander gebied net nie goed genoeg nie. Dis ’n eindelose, moeisame taak om jou voortdurend te probeer bewys.
Erkenning is belangrik vir kinders. John Kehoe in Mind Power for Children sê dat erkenning die mens se motivering en selfbeeld verbeter, selfvertroue gee en verantwoordelikheid ontwikkel.
Ongelukkig raak party kinders die slaaf van erkenning en is hul selfbeeld daaraan gekoppel. Iemand moet voortdurend vir hulle sê dat wat hulle doen goed, pragtig of oulik is, anders voel hulle waardeloos, ongemotiveerd en mismoedig.
Soveel kinders beleef hul ouers se goed bedoelde raad en pogings om hulle te help as verwerping – dat wat hulle doen, net nie goed genoeg is nie. Om ’n kind met ’n goeie selfbeeld groot te maak, vra ’n ouer met ’n goeie selfbeeld. ’n Ouer wat kan terugstaan en in sy eie opvoeding en kind glo; ’n ouer wat nie regeer en beheer nie, maar opvoed en lei deur ’n rolmodel te wees van geloof, hoop, planne en hardwerkendheid. Dit vra dikwels baie van ouers om kinders nie teen hul foute te beskerm nie, maar hulle uit hul foute te laat leer. Ook is sommige ouers so bekommerd oor die kind se toekoms dat hy nie ’n hede het nie. Leer jou kind waardes en respek: Morele en werkwaardes en respek vir die natuur en wêreld, respek vir elke mens, homself en vir ’n Godheid wat groter as alles is. Elke kind verdien die vryheid om homself te wees, sy hart en intuïsie te volg en met passie te doen waarvoor hy lief is, want dis wanneer hy die lewe sal geniet en goed oor homself sal voel.
Wat ouers kan doen om kinders se selfbeeld te verbeter
- Aanvaar die kind onvoorwaardelik sodat hy homself kan aanvaar. Help hulle om hul uniekheid te waardeer en nie soos iemand anders te probeer wees nie.
- Gee erkenning. Wees ’n bron van jou kind se sterk punte, vertel oulike staaltjies oor hom. Vertel wat jy waardeer en geniet – nie net van hul prestasies nie.
- Skep vir hulle geleenthede om hulself as uniek en bevoeg te ervaar – laat hulle iets anders doen: boogskiet, perdry, fiks raak, ’n troeteldier kry, inskryf vir ’n duikkursus, kunsklasse of vioollesse.
- Gee hulle uitdagings om hul grense oor wat hulle van hulself dink en glo te verskuif. Almal wat iets regkry wat hulle gedink het hulle nie kan doen nie, voel goed oor hulself.
- Moenie te gou help met dinge wat hulle nie kan doen nie, of hul vrae antwoord nie. Laat hulle eers dink en probeer – en toon respek vir hul pogings.
- Wees vinnig om hulle te prys en stadig met die kritiek. Prys hulle vir hul insette en nie vir die resultaat nie. Ouers moet kinders help en leiding gee. Die tydsberekening hierin is dikwels belangriker as die kritiek of leiding en bepaal of hulle dit as kritiek of hulp beleef – of dit hul selfbeeld bou of breek. Laat die kind eers deur die teleurstelling werk. Vra liewer later as die emosie van die situasie ver- by is vrae soos: Wat sal jy volgende keer anders doen? Dan fokus jy op die oplossing en nie op die probleem nie. En die kind neem die verantwoordelikheid en voel hy kan iets doen.
- Leer haar om haar met haarself te vergelyk. As sy beter as die vorige keer presteer het, het sy uitstekend gedoen ongeag of sy eerste, derde of laaste gekom het. Kinders raak moedeloos as hulle so hard probeer en dit is nie goed genoeg nie.
- Help hulle om met balans te lewe. Hulle behoort reg en genoeg te eet, genoeg te rus, te ontspan en gereeld te oefen. Dan lyk jy goed en voel jy goed.
- Help hulle om kritiek te hanteer deur daarna te luister, veranderinge te maak indien nodig en die res te vat van wie dit kom.
- Help hulle om weg te doen met sinnelose selfkritiek deur positiewe selfspraak – om positiewe dinge van hulself te dink en te sê. Dis iets anders as spog.
- Leer hulle dat daar altyd ’n plan gemaak kan word. En respekteer hul pogings. Moenie dit altyd probeer verbeter nie.
- Beskerm jou kind teen afbrekende kritiek en opmerkings van ander – veral boeties en sussies: “In ons huis praat ons nie so met mekaar nie.” Leer hulle dat alle mense en lewe respek verdien.
- Leer hulle waardes met ’n sin-dimensie – dat daar altyd iets of Iemand is om in te glo, voor te hoop en lief te hê! En wat hulle ook liefhet.
Het jou kind ’n goeie selfbeeld?
- Aanvaar sy haarself en is gelukkig met wie sy is?
- Kan hy kritiek hanteer sonder om dae daaroor te tob of dit te ontken?
- Glo sy ander se komplimente is opreg?
- Kan sy waag, of vermy of vrees sy nuwe situasies en verandering?
- Blameer hy ander vir sy foute?
- Glo sy in haar eie vermoë?
- Word hy maklik deur ander beïnvloed?
- Bekommer sy haar voortdurend wat ander dink? Steek hy sy gevoelens weg?
- Sien sy haarself as waardevol, gelukkig, nodig en iemand wat ander se respek, aanvaarding en liefde kry?
Dít knou kinders se selfwaarde
- As hulle hulle met ander kinders vergelyk of in voortdurende kompetisie is.
- As hulle misluk in iets waaraan hulle of hul ouers waarde heg, veral as hulle hard probeer het. As hulle voel dat hulle nie inpas en deur hul portuurgroep aanvaar word nie.
- As hulle negatiewe terugvoer kry omdat hulle gebrekkige sosiale en emosionele vaardighede het.
- As hulle voel hul ouers het nie tyd vir hulle nie.
- As hul selfbeeld gekoppel is aan die positiewe terugvoer wat hulle kry. En dit net kry as hulle presteer.
- As hul ouers of onderwysers fokus op wat nie reg is nie, sonder erkenning vir die goeie prestasie wat wel behaal is. (As die kind 85% kry, vra pa: “Waar is die ander 15%?”)
- Kwetsende woorde van maats, onderwysers, ouers, broers of susters. Veraas dit op hul persoon en karakter gemik is en nie op hul gedrag nie. “Jy is treurig.” Nie “dis ’n treurige toetspunt” nie”.
Lees ook: Hoe gemaak met ’n probleemkind?