EPISODE 46
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Argentynse troukoek
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Guido bel Liesl vroeg wakker. “Tyd om groentemark toe te gaan! Ek laai jou oor ’n halfuur op.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Haar hare is nog nat as die motorfiets deur die vroeggend-verkeer vleg. Sy maak haar oë toe van nuutgevonde lekkerte en hoor net die gedreun van die enjin en ongeduldige toeters om hulle. Om die draaie klou sy vir haar lewe aan Guido.
San Telmo Verde is ’n geroesmoes van mense wat rondom tafels vol vars delikatesse vergaar. Vars kruie, groente en vrugte word in boepensmandjies gelaai. Die babbel en onderhandel luid en Guido stel haar in Spaans aan verskeie mense voor wat haar klapsoene op elke wang gee.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Sy moet noodgedwonge by elke tafel proe. Happies geurige pesto’s, gerookte vleise en blaartjies kruie word in haar mond gestop. Dis ’n gastronomiese reis deur die land wat sy die afgelope weke liefgekry het.
Guido bring lepels vol bloubessie- en lemoenkonfyt na haar mond. Sy vriend Allasondro maak dit. Sy wil nog keer, maar Allasondro stop haar ’n paar botteltjies in die hand en Guido belowe plegtig hy sal dit per pos aanstuur.
“Nou het ons brood nodig sodat jy kan proe dat ons Argentyne die beste bakkers ter wêreld is,” kondig Guido aan. Hy rammel die name van ’n paar Panaderias af waar hulle vars brood gaan proe. Na kilometers se swaaie en draaie deur die stad hou hulle by die eerste bakker stil.
Guido steel haar aan die eerste hemelse happe van Argentynse croissants, medialunas, voor. Na die derde bakker se brood voel sy sy gaan ontplof van al die medialunas, maar sy weet ook dat as sy terug is in Suid-Afrika, sy gaan smag na die krummels van dié ryk, romerige gebak.
Vir middagete gaan kuier hulle by ’n klassieke Argentynse parrilla sodat sy behoorlike vlamgebraaide biefstuk en vark kan proe.
Sy verstom haar aan die joviale ontvangs wat hulle by elke eetplek kry. Guido is skynbaar ’n gewilde lid in Buenos Aires se koskringe.
Na middagete smeek sy hom om haar terug te neem hotel toe want haar oë begin toetrek van al die eet.
“Ek moet Vrydagaand in ’n baie nou rok pas as ek by Sin Rumbo gaan dans. Ek sal nou moet ophou eet!”
Iets aan Guido se geaardheid dwing mens om van die man te hou. Dit maak dit ook baie moeilik om vir hom nee te sê.
“Bella dama, dan sal ek jou eers vanaand weer voer!”
Na ’n koue stortbad strek Liesl haar knuppeldik en behaaglik op die bed uit. Sy raak byna dadelik aan die slaap en droom sy en Guido maak saam ’n Argentynse parrilla oop. In haar droom dra sy ’n voorskoot en is haar wange koelrond en rooi van al die lekker eet.
Eers nege-uur die aand lui haar foon.
“Toe toe Bella, is die kos al afgesak? Ek het heerlike sop van die sampioene gemaak.”
“Guido, ek kan nie meer eet nie!”
“Maar Bella, ek het dan die sop spesiaal vir jou gemaak?”
Die vinnige pas van die Argentynse sjef, wat nie nee vir ’n antwoord vat nie, laat Liesl byna uitasem. Maar sy besluit om elke oomblik te geniet. Elke vrou het nodig om een keer in haar lewe deur ’n vurige Spaanse kok gevoer te word, troos sy haar kommer oor die nou rooi rok wat teen haar kasdeur hang.
Guido het ’n tafeltjie spesiaal vir haar gedek aan die agterkant van sy bistro. Hy kom sit oorkant haar en hou elke happie dop wat sy eet. Sy sjokoladebruin oë smeek om goedkeuring.
“In Afrikaans sal ons dit vingerlek-lekker noem, Guido. Ek voel of ek die bakkie kan uitlek.”
“Nou maar doen dit! Ek sal beledig voel as jy dit nie doen nie!”
Na ’n paar glase wyn beduie hy vir haar dit is tyd om weer op die fiets te klim.
“Puertas cerrada is van die nuutste neigings in die stad. Sjefs nooi klein groepies gaste na hulle huis. Ons gaan nagereg eet by my vriend Antonn se huis.”
Soos sy verwag het, neem Antonn ook nie nee vir ’n antwoord nie en haar bord word gelaai met ’n sny chocotorta en ’n homp rogel, ’n Argentynse troukoek. Dit verg ’n hele paar glase rooiwyn om die soetgoed af te sluk.
As Guido haar uiteindelik voor haar hotel aflaai, soen hy haar weer hartlik op beide wange.
“Dankie vir ’n wonderlike dag, Bella! Sien jou by die Sin Rumbo!”
Hy trek met ’n spoed weg en sy staan sprakeloos en wonder wanneer sy hom dan genooi het om saam met haar te gaan tango?
In haar kamer wag ’n boodskap van Emily. Sy stuur skietgebede op dat alles in Suid-Afrika reg is terwyl sy wag dat Em antwoord.
“So laat in die nag? Wat is fout?”
“Niks nie, Liesbet, ek wonder maar net oor jou en die sjef wie se foto jy op Facebook gepost het.”
“Wel, ek is in my kamer. Alleen! Gelukkig, want ek dink ek het 10kg opgetel na net een dag in sy geselskap. Die man is nie goed vir my gewig nie.”
Sy neem Emily in kleur en geur deur die gastronomiese reis wat sy die dag ervaar het.
“Hy is nogal nie te aardig van aanskyn nie?”
“Wie?”
“Die sjef, man! Het hy jou al gesoen?”
“Elke keer as hy opgewonde is … op beide wange. Hy, en dit voel vir my elke Argentyn in die stad het my vandag gesoen. My wange was later sopnat.”
“So, gaan jy hom weer sien?”
“Hy gaan saam my by Sin Rumbo dans. Homself genooi. O Em, ek gaan nooit ooit in daardie nou rok inpas na vandag se gevreet nie!”
“O vrek! Gaan hy saam Sin Rumbo toe? Jong, is jy seker dis ’n goeie idee?”
“Wel, hy moet my help om die kalorieë af te dans wat hy my onder dwang laat inneem het.”
Emily klink verbasend afgehaal.
“Hoekom bekommer jy jou oor ek saam die sjef gaan tango?”
“Ag, ek wonder net. Hoe laat sê jy gaan julle by Sin Rumbo wees?”
“Agtuur! Hoekom vra jy? Vlieg jy oor om saam te kom dans? Daar is ’n paar oulike manne in my dansgroep!”
“Liesl? Ek wonder of jy nie al sewe-uur moet gaan nie. Voor die sjef en die ander kom? Jy weet? Net om die plek uit te kyk?”
“Is jy laf, Em, ek kan mos nie alleen soos ’n muurblom daar gaan sit nie?”
Die lyn raak dof en krakerig voor hulle kan groet. Sy kom nie weer deur Suid-Afrika toe nie.
As sy uiteindelik weer wakker word, besluit Liesl om vir die dag net vrugte en vloeistowwe in te neem sodat sy in haar rok kan pas. Sy stap kilometers deur parke en winkels om haarself te troos dat die kilogramme wegsmelt.
Guido smeek haar in ’n hele paar sms’e om ’n draai by die restaurant te maak, maar sy weerstaan die versoeking van die man se genotvolle geselskap en kos.
Sy kry ook ’n paar sms’e van Emily oor Sin Rumbo. Sy skryf Liesl voor hoe laat sy daar moet wees en verbied haar om vir ’n waks te gaan.
“Netnou jeuk en brand dit weer en ek is nie daar om jou te verpleeg nie,” skryf haar immer inmengerige, geliefde vriendin.
Sy sorg dat sy die aand vroeg gaan slaap en neem haar voor om die volgende oggend in te lê om uit te rus vir die groot tango-aand.
Wonderbaarlik trek die klewende rooi rok se rits toe. Sy skrik effens as sy sien hoe kaal haar rug regtig is, maar besluit sy kan die een aand maar gewaagd wees aangesien sy waarskynlik niemand wat sy by die Sin Rumbo gaan sien, ooit weer in haar lewe gaan raakloop nie.
Dis tyd vir oulaas ontspan. Dis haar laaste groot kuier in Argentinië voor sy terugvlieg na die werklikheid in Suid-Afrika, en sy is van plan om elke oomblik te geniet.
Hoekom sy haar aan Emily se voorskrifte steur, weet sy nie, maar sy besluit om tog ’n uur voor die ander na die danssaal te gaan.
Die taxi vleg deur die aandverkeer en elke keer as die taxibestuurder haar in die spieëljie beloer, trek sy die sjaal stywer om haar skouers om die kaalheid van die rok te bedek.
Tot haar frustrasie kom die verkeer tot stilstand. Daar is ’n groot ongeluk voor, kondig die bestuurder aan na ’n selfoongesprek met ’n ander taxibestuurder. Hulle kan nie vorentoe of agtertoe nie. Met kommer sien Liesl hoe die horlosie verby sewe-uur en halfagt tik. Eers vyf minute na agt hou hulle voor Sin Rumbo stil.
“Bella!” Guido soen byna al haar onderlaag van haar wange af.
Daar is ’n effense hartseer in Liesl se hart. Dit is die plek waar Harry beloof het hy gaan met haar die tango dans, en vanaand is hy nie hier nie. In ’n vinnige fantasie wens sy hy wil by die deur instap en haar oorrompel. Maar dit gebeur nie. Sy dans meestal met Guido en maak dan beurte om met elke dansmaat van die dansskool te tango.
Stokflou en met seer voete raak sy laatnag op haar hotelbed aan die slaap wetende dat sy die volgende dag sal sy moet oppak en die stad en vir Guido moet groet.
Dit is ’n hartseer inpaksessie en sy moet ’n ekstra handbagasiesak gaan koop om die geskenkies, wat sy nie per pos kan versend nie, per hand op die vlug saam te neem.
Argentinië was goed vir haar, weet sy as sy uiteindelik in die taxi klim. Met haar laaste rit na die lughawe raak sy tranerig as sy elke beeld van die stad groet. Sy ervaar ’n vrede in haar hart oor van die seerplekke wat haar staptog en vakansie gesond gemaak het. Maar sy weet ook daar is dinge wat sy sal moet uitsorteer as sy terug is in Suid-Afrika.
Die vlug is uitputtend en volgepak, en sy slaap gelukkig die grootste gedeelte van die tyd. Sy ignoreer die swarigheid in haar gemoed as sy Johannesburg deur die kajuitvenster sien. Die werklikheid wag daar onder. Die oor begin.
’n Skerp wolwefluit trek haar aandag as sy deur die deure van die aankomssaal stap. Dis Roxy. Sy en Emily hou ’n banier vas: “Welkom terug Liesl”. Onderaan die banier staan “… en Harry!”
“Waar is Harry?” vra hulle byna gelyk.
“Harry? Wat bedoel julle? Ek het Harry laas gesien voor ek weg is uit Suid-Afrika.”
Dit lyk of iemand die doodstyding aan die twee oorgedra het.
“Maar Harry is agter jou aan Argentinië toe!”
“Wanneer? Hoe?”
Emily rol die banier op en stoot Liesl se trollie woordeloos na die naatste koffieplek.
“Ons moet praat.” Kondig sy aan en Liesl se maag trek op ’n knop. Dit is allermins nie die soort ontvangs wat sy verwag het nie.
“Jinne Liesbet, toe Harry die foto van jou en die sjef op Facebook sien, het hy besluit genoeg is genoeg. Hy wou Argentinië toe om jou voete onder jou te gaan uitslaan.”
“By Sin Rumbu,” voeg Roxy grootogig by.
“Ai Liesbet, ek het jou dan gesê om sewe-uur daar te wees!”
Liesl voel aaklig. Harry het sewe-uur vir haar by die danssaal gewag!
“Hoe laat het jy dan daar aangekom?”
“Eers na agt. Ons was in ’n verkeersknoop!”
“En toe? Toe spring jy in die arms van jou sjef?”
“Ja, toe omhels Guido my en soen my make-up af.”
Emily en Roxy gluur Liesl aan asof sy die vreeslikste sonde begaan het. Gelyk sug hulle: “O nee! Arme Harry!”
Hulle drink hulle koffie in stilte. Dis te veel inligting vir Liesl om te verwerk. Sy wil huil as sy dink hoe Harry moes toekyk hoe sy die hele aand in die arms van ’n Argentynse sjef dans.
“Liesbet, hoe voel jy oor hom?”
“Oor Harry?”
“Nee man, die ellendige sjef!”
“Guido? O, het ek jou nie vertel nie? Guido het na sy egskeiding besluit hy is gay. Of voor die egskeiding. Ek weet nie eintlik wanneer nie.”
Emily lyk inderdaad of sy wil huil.
“Wil jy vir my sê jy het Harry se hart finaal gebreek met ’n gay Argentynse sjef?”
Liesl voel magteloos en sukkel met emosies van woede en verslaentheid.
“Dis julle twee se skuld!” snou sy haar vriendinne toe. “Kon julle my nie laat weet het Harry kom nie? Nou is dit ’n hele gemors!”
Die drie sit vir ’n paar minute voor hulle en uitstaar. Liesl se ingewande bewe. Dan breek sy die stilte.
“Nou is my laaste kans op liefde verlore. Harry gaan my nooit hiervoor vergewe nie. Die vervlakste Harry!”
Sy bars van moegheid en frustrasie in trane uit. Snikkend vertel sy hoe sy Harry nie uit haar kop gestap kon kry op die Inka-roete nie. Hoe sy met elke tango gewens het sy is in sy arms by die skuurdans op sy plaas.
“Wel, nou is dit ook verby,” snik sy selfbejammerend. “Dis die storie van my lewe. Geluk is my nie beskore nie.”
Hulle sit weer ’n ruk in stilte.
“Nee! Ons gaan dit nie toelaat nie!” sê Roxy so hard dat die hele restaurant na hulle kyk.
Emily beaam dit en gryp na haar selfoon en tablet.
“Tyd vir operasie skadebeheer!”
Tipies Emily word ’n plan van aksie uitgetik en sy en Roxy begin die wêreld aan die brand bel terwyl Liesl haar hart uithuil en ’n reuse stuk sjokoladekoek opeet. Hierdie is een situasie waarin sy nie omgee as Emily haar lewe oorneem nie. Al waaraan sy kan dink, is Harry wat iewers in ’n hoekie by Sin Rumbo staan en kyk hoe sy met Guido dans.
Emily maak die amptelike aankondiging.
“Liesbet, blaas jou neus en luister nou mooi na my. Ons het vir jou plek bespreek met die volgende vlug terug Argentinië toe. Roxy het boodskappe vir Harry gestuur dat hy jou daar op die lughawe kry. Dan praat julle dinge uit. … En bly weg van die vervlakste Argentyn!”
“Maar ek sê mos hy is gay!”
“Bly in elk geval weg!”
Liesl voel soos ’n uitgewaste lap. Moeg na die vlug en skok en tranedal.
“Toe, gaan was jou gesig jy lyk soos ’n lyk!” beveel Emily en Liesl staan ewe gedwee op.
Sy skrik vir haar beeld in die spieël. Haar hare staan in ’n kraaines en haar oë is byna toegeswel van die huil.
Wat maak dit tog saak hoe ek lyk? Baklei sy met haarself. Ek het Harry nou finaal verloor.
Sy strompel behoorlik by die kleedkamer uit en loop ’n man uit die aarde en val in die proses oor sy bagasietrollie.
Sy lê ’n oomblik stil met haar oë toe. Miskien sal die mense om haar in die kafeteria verdwyn as sy haar oë lank genoeg toehou, maak sy haarself wys. Sy weet sy het pas voor honderde mense haar naam krater gemaak … en dit terwyl haar hart gebreek is.
Sy voel hoe hande haar ophelp.
“Merrieperd?”
Harry troon in sy volle glorie bo haar uit. Hy sit sy skouersak neer en help haar op.
Liesl wens sy kon terughardloop na die kleedkamer om ten minste haar hare plat te vee.
“Jy lyk verskriklik,” vryf hy die sout in haar gewonde ego in.
“Dankie Harry, ek weet.”
“Dink jy jy sal teen more dié tyd uitgerus wees?”
“Hoekom?”
“Ek en jy ry plaas toe.”
Harry raap haar nie in sy arms op soos wat sy hoop nie. Hy groet sag en stap weg.
“En toe!?” Vra-gil Emily en Roxy byna in ’n koortjie. “Wat het jy en Harry nou net gepraat?”
“Ons ry more plaas toe.”
Haar vriendinne babbel voort, maar Liesl se kop haak vas by Harry se stil, emosielose groet. Hy gaan haar seker op die plaas vertel watter selfsugtige selfgesentreerde mens sy die afgelope maande was. Te vasgevang in haar eie tragedies om iemand anders in ag te neem en om geluk raak te sien.
By die huis kom die slaap genadig en diep. Haar lyf en gees is gedreineer. Met skok sien sy hoe powwerig haar oë is as sy wakker word. Emily beaam haar vermoedens.
“Jy lyk soos iemand met ’n hengse babalaas!”
Sy staan gereed met ’n energiedrankie en koue teesakkies vir Liesl se oë.
“Jou wasgoed is gewas en jou tasse gepak. Harry is vanoggend al plaas toe want een van sy perde is siek. Roxy ry saam met jou want sy gaan by haar ouers kuier.”
Liesl is in zombie-modus. Sy volg net bevele want sy is steeds te moeg om te dink. Sy slaap al die pad tot by die plaas.
“Hey, word wakker, ons is hier. Kam jou hare en sit lipstiek op!”
Roxy hou voor die plaashuis stil. Heila kom aangestap.
“Harry is in die skuur besig. Jy kan daar gaan groet.”
Liesl se hart dawer in haar ore terwyl sy aanstap. Veral toe sy veraf die tangomusiek in die skuur hoor.
Harry staan by die deur vir haar en wag.
“Sal ons dans?” vra hy en neem haar in sy arms.
Hulle dans vir ’n ruk in stilte. Harry se hand neem haar liggies om die lyf. Sy ruik die hooi in die skuur, die sonskyn in sy kakieklere.
Sy voel hoe hy haar stywer teen hom vastrek. Dis ’n veilige, rustige plek. Sy hand vou saggies om haar agterkop en hy trek haar kop tot teen sy bors. Sy wens hulle kan vir ewig so dans.
Hy verbreek die stilte eerste.
“Ek het gister ’n heerlike ete in Buenos Aires gehad. Die beste tamatiesop wat ek nog geproe het. Ek hoor dis jou gunsteling?”
“Waar hoor jy dit?”
“By Guido. Hy gaan dit vir ons troue kom maak. Hy sal Antonn saambring. Hulle sal kook hier op die plaas. Antonn bring van daardie Argentynse troukoek saam.”
Harry sy lippe is sag op hare, asof hy bang is sy breek.
Liesl voel asof sy rus na ’n lang lang rys. Sy vou haar arms om Harry en hou hom styf vas.
“Dis reg so, Harry. Dit klink reg.”
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.