Tamatiesop
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Vroegoggend lui Liesl se sel. Dis Emily.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }“Wanneer kom jy eendag huis toe? Of het jy ’n Argentyn beet?”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Liesl lag deur die slaap. “Natuurlik het ek ’n Argentyn beet, sy naam is Augostin. Lank, smeulend, grys teen die slape. Hy tango soos ’n droom.”
“Jy speel! Tango julle net?” Liesl kan hoor haar vriendin is effe geskok.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Ek is elke aand in Augostin se arms. Hemels.” Sy noem nie dat sy in die Argentyn se arms net visioene van skuurdanse sien nie.
“Vertel meer? Jy het tog nie … Liesl!”
“Nee, Em, ek het nie … Maar wat keer my?”
Liesl hoor ’n snak na asem wat oor die internasionale lyne eggo. “Siektes! Jy gaan siektes optel!”
“Van tango?”
“Liesbet! Jy gaan nie vir jou laat waks nie gehoor?”
Liesl kan aan die benoudheid en skok in Emily se stem hoor sy het die speletjie te ver geneem.
“Ontspan jong! Augostin is my dansinstrukteur. Hy het neus- en oorhare wat welig groei. Sy asem ruik na ou pyptwak en knoffel, en hy het ’n vrou en ’n spul kinders!”
Emily se fluit van verligting stuur nog eggoseine.
“Is daar geen talent in Suid-Amerika nie? Buiten die wie se neushare mens moet trim voor jy hulle kan soen?”
“Natuurlik is hier, maar jy het seker vergeet hoekom ek hier is. Om van mans te vergeet!”
“Ag, Liesbet, jy neem jou ontsteltenis oor Harry te ver. Hy was seker bietjie jaloers en toe …”
“Ja, en toe spring beledigings uit sy mond!”
Liesl vererg haar oor Emily wat na elke sin in ’n lagbui verval.
“Maar hy het jou darem gesoen om te sê hy is jammer. Jy beter terugkom. Roxy sê daardie Spaanse joernalis hou haar baas besig. Sy skryf glo ’n hele reeks artikels oor renosterstropers. Gaan nog maande in die land wees.”
Liesl sluk aan die knop in haar keel. Harry is nes alle mans. Hardloop agter die eerste sexy vrou aan. Sy het so gehoop hy is anders. Nee wat, besluit sy opnuut, sy gaan nooit weer ’n man vertrou nie.
“Terwyl ons nou van daardie tweegesig jakkals van ’n vriend van jou praat, ek gaan Vrydagaand saam met ’n groep mense wat ek by die tangoklasse ontmoet het by Sin Rumbo, dans. Jy onthou mos die plek waarheen Harry my kamma sou neem om te gaan tango? Laat weet hom ek gaan soontoe. Sonder hom. En, ek gaan myself geniet. Ek hoop hy geniet sy godin.”
“Catalina …”
“Huh?”
“Haar naam is Catalina. Harry se Spaanse godin.”
“Het sy al sy spul honde gesien? Weet sy hulle regeer sy lewe?”
“Die vrou skryf vir natuurtydskrifte. Ek glo sy hou van honde.”
“Ons mors nou onnodige foongeld op Harry en sy flerrie.”
“Flerrie? Ons het geen bewyse dat sy een is nie. Roxy se sy is nogal gaaf.”
Om die aandag van Harry se Spaanse joernalis af te lei, stuur Liesl die gesprek in die koers van haar besoeke aan teaters en museums.
“Ek het vir my die sexste klewende rooi rok gekoop vir ons aand by Sin Rumbo. Die rug is so lag gesny dit wys byna my jis se cleavage. Ek sal vir jou foto’s stuur. Ek moet net plan maak met my hare. Dit groei soos bossies en staan weer in ’n ontembare boskaas, maar ek het die mooiste haarknippe hier gekoop. Vintage voorkoms. Jy sal ook daarvan hou.”
Die volgende dae stap Liesl vir oulaas deur die stad. Sy sit ure en dagdroom in koffiewinkels en dwaal deur kunsgalerye .
’n Sms skok haar tot stilstand.
“Geniet Sin Rumbo.” Net dit. Sy staar na die sender se naam: Harry.
Emily is ’n verraaier! Hoe kan sy agter haar rug met Harry praat! Sy weier om aan haarself te beken dat haar hart bokspring oor die sms. Maar sy vermaan haarself: “Jy het pas jou voete blase gestap op die Inka-roete om die arrogante man uit jou kop te kry! Ruk jouself reg!”
Die immerteenwoordige koggelstemmetjie agter in haar kop herinner haar dat Harry dalk net met haar gevoelens speel. Hy is immers druk besig met daardie Catalina vroumens.
Sy kyk rond in die besige koffiewinkel. Dis asof daar vandag net verliefde paartjies om haar is om haar te teister. Daar is net een ander mens alleen by ’n tafel. Die man lees koerant, maar haar starende blik moes sy aandag getrek het. Hy kyk op en glimlag. Liesl bloos soos ’n koolmeisie. Sy maak of sy vir iemand agter hom waai ’n gooi selfbewus nog twee lepels suiker in haar reeds soet koffie.
Na ’n ruk voel sy weer die man se oë op haar, maar sy hou haar besig met haar sketsboek.
Toe sy seker is sy het hom afgeskrik, betaal sy haar rekening en probeer so ongemerk moontlik by die koffiewinkel uitglip.
By ’n boekwinkel raak sy verlore tussen die kunsboeke. Hoewel sy nie lus is dat haar vakansie ten einde moet loop nie, kan sy nie wag om terug te gaan Suid-Afrika toe om weer te begin skilder nie. Sy koop teen haar beterwete ’n paar boeke en troos haar sy kan dit vir haarself versend. Haar bagasie gaan reeds die gewigslimiet oorskry.
’n Klein bistro trek haar aandag. Hoe meer sy stap hoe meer knaag die honger. Tussen die boeke wat sy gekoop het, is juis ’n paar resepteboeke. Die speserye en kruie wat sy op die bustoer op klein dorpies gekoop het, sal ook saam met die boeke gepos moet word want dit weeg al ’n ton.
Sy soek ’n tafeltjie in ’n hoek waar sy die mense kan dophou. Dis laatmiddag en die aromas en musiek lok hongeriges uit die straat. Sy voel trots op haarself dat sy die kitaarmusiek van Eduardo Falu herken. Sy het dit op aanbeveling van ’n taxibestuurder gekoop.
Die paartjie langs haar smul aan ’n geurige somersop en varsgebakte brood. Dis wat sy nodig het, besluit sy. Koesterkos.
Die kelner sê die sop se naam is Salmorejo, ’n verkilde Spaanse sop.
Terwyl sy die brood in hompe breek en in die dik tamatiesop doop, dink sy oor hoe gesteld Konrad op tafelmaniere was. Hy sou die stuipe gekry het as hy sien hoe lustig sy eet.
“Ek sien jy geniet my Salmorejo?”
Sy sien eers die sjefsvoorskoot en kyk dan op, vas in die oë van die man wat sy in die koffiewinkel probeer afskud het.
“E … dit was heerlik. Watter speserye en geurmiddels gebruik jy?” Sy probeer nie wys sy is ontsenu nie. Die man trek ’n stoel uit en maak homself tuis aan haar tafel. Hy steek sy hand uit.
“Guido Aromo. Baas van die bistro.”
Sy neem sy hand. “Liesl, honger toeris.”
Sy is dankbaar oor al die resepteboeke wat sy gekoop het en al die Argentynse geregte wat sy beproef het. Dit gee haar iets om oor te praat. Guido bestel nog wyn en sy verstom haar hoe gemaklik hy net aangeneem het hy mag maar haar tafel deel.
“Kom ek gaan wys jou hoe om Chimichurri, ons Argentyne se geheime marinade vir braaivleis te maak. Julle Suid-Afrikaners braai mos ook graag?” Hy neem haar hand en sleep haar kombuis toe.
Guido is ’n aantreklike man, korterig, maar lenig. Glad nie die lyf van ’n sjef nie. Hy het sy lewe lank ’n passie vir kos gehad en ’n paar jaar gelede uit sy pos as rekenmeester by ’n top firma bedank om die klein bistro oop te maak. Mevrou Aromo, kan Liesl aflei, was nie lus om na die welvarende lewe van ’n rekenmeestersvrou ’n voorskoot in ’n bistro te dra nie en toe kry sy vir haar ’n ander rekenmeester.
Sy verkyk haar aan die vaardigheid waarmee hy die uie en knoffel opkap en die oorgawe waarmee hy cilantro, tiemie, oreganum en komyn byvoeg en met asyn, olyfolie en suurlemoensap meng.
“Proe.” Hy hou sy een hand sag onder haar ken en die ander een bring ’n lepel nader.
Sy kom gou agter hy is nie geïnteresseerd om haar te verlei nie. Hy is net ’n warm, vriendelike man wat geselskap soek.
“Jou beurt,” kondig hy aan. “Wys my een van jou kookgeheime.”
Al waaraan sy kan dink, is haar ma se mayonnaise-resep wat onfeilbaar is. Sy kan nie glo hoe op haar gemak sy voel terwyl die man haar dophou nie. Sy stuur ’n skietgebed van dankbaarheid op as sy die perfekte mayonnaise na hom uithou.
“Ongelooflik! Ek kon sommer sien jy is ’n vrou wat ’n goeie bord kos kan geniet. Eendag, as ek Suid-Afrika besoek, moet jy vir my egte Suid-Afrikaanse kos maak? Maar môre, neem ek jou op ’n kostoer deur die stad. Ek wil hê jy moet die kos proe wat gewone Argentyne eet. Nie die kos wat toeriste-restaurants aan julle opdis nie.”
Dis al kort voor middernag en dis lang kosgesprekke later voor Guido aanbied om haar na haar hotel te neem. Hy wil niks hoor van ’n taxi nie. ’n Benoudheid pak Liesl as hy haar na sy vervoermiddel neem. ’n Allemintige motorfiets. Sy het nog altyd ’n fobie oor motorfietse en spoed gehad en sien visioene van hoe sterf sy teen ’n hoe spoed hier in die vreemde.
Guido pas die valhelm om haar woeste krulle en sy is skielik baie spyt oor die dun linnerok wat sy aanhet, maar as die Argentynse sjef daarvan bewus is, maak hy hoflik of hy dit nie sien nie. Die rokkie trek tot ver teen haar bobeen op as sy haar been oor die saal swaai asof dit iets is wat sy elke dag doen.
Die fiets brul en dreun onder haar en sy besef die ligte greep om Guido se maag gaan nie die ding doen nie. Hulle is skaars om die eerste draai of sy vat vir hom in ’n staalklem vas want sy weet haar lewe hang letterlik daarvan af.
Die eerste paar minute bid sy vir die vergifnis van al haar sonde, maar dan begin die gedreun haar vreemd genoeg rustig maak. Sy voel die ysige nagwind teen haar kaal bobene en voel hoe die slierte hare wat onder die helm uitsteek wapper. Haar kop rus teen die rug van die man wie sy ure gelede nog nie geken het nie. Sy besef teen haar beterwete dat die oomblik onvergeetlik is. Dat dit iets is wat die ou voorstedelike Liesl nooit sou gedoen het nie.
Teen die tyd wat Guido voor haar hotel stilhou, moet sy haar lippe toeknyp want sy wil hom vra om nog ’n paar draaie te ry. Sy kan skielik nie genoeg kry van die dreuning van die kragtige enjin onder haar nie.
In haar kamer neem sy ’n stort en gaan staan in haar nagrok op die balkon. Sy asem behaaglik in en kyk op na die sterre.
Ek gaan oukei wees, sê sy hardop vir haarself.
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay Om by die…
Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…
Hierdie webwerf gebruik koekies.