kategorieë: Lees

Botox, Barbies en Bietse: Episode 42

Die soen

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Liesl maak vinnig verskoning. Sy moet uit die situasie wegkom. Die toneeltjie waarin Herman aan die tafel oorkant haar met die godin flikflooi, is net te veel vir haar.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy bars byna uit van die lag as sy haar spieëlbeeld in die kleedkamer sien: smeulend opgedollie en gewaks vir Michael, en nou staan sy hier en bewe van ontsteltenis oor Harry … en dit, skaars weke na Konrad se dood.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Nee genade, Liesbet,” spreek sy haarself aan in die stemtoon wat Emily in hierdie situasie sou gebruik het, “jou kop is die ene muisneste!” Sy verduidelik aan haarself dat haar emosies deurmekaar is met al die drama van die afgelope ruk en dat haar verliefdheid op Harry ’n pure “rebound” emosie is.

Voor die kleedkamer se deur loop sy haar in Harry vas.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“O, ek sien jy het klaar gerou?”

“En ek sien jy is darem nie net besig met renosters nie?”

Sy vererg haar vir hom omdat hy so aantreklik lyk in die wit hemp en swart broek. Sy hempsmoue is opgerol en hy vou sonbruin voorarms voor sy bors waar hy oor haar toring.

“Ek dog ek laat jou met rus op die plaas om te treur? Lyk my jy voel heelwat beter?”

Sy vererg haar vir sy arrogansie.

“Michael is ’n ou universiteitsvriend.”

“Mmm, ja, ek kan sien hy het baie na jou verlang.”

Sy kan nie glo dit is die immer sagte Harry wat so kwaai met haar praat nie. Wie dink hy is hy?

“Ek het vir weke niks van jou gehoor nie,” maar sy is dadelik spyt toe die woorde uit haar mond kom, sy weet dit klink of sy desperaat was om van hom te hoor.

“Ek bedoel, ek mag seker uitgaan met wie ek wil? Pragtige vrou aan jou sy …”

Harry staan nader aan haar. Hy ruik na skeerroom en sonskyn.

“Is jy jaloers, Liesl?” Sy voel lus om die glimlag van sy mond af te vee.

“Ag weet jy wat, Herman, ek dink jy het nodig om ’n bietjie in die arms van ’n smeulende vrou te beland. Ek gun jou dit. Dis dalk wat jy nodig het om van jou frustrasie ontslae te raak.”

“O, jy dink ek het opgeboude frustrasies?”

Hy trek haar nader en voor sy kan antwoord, is sy lippe op hare. Eers effe hardhandig, maar gaandeweg voel sy hoe haar woede verdwyn en haar eierstokke hande klap.

Hy los haar net so vinnig soos hy haar vasgestruk het.

“Toe, nou het ek van ’n stukkie van my frustrasie ontslae geraak. Ek glo jou vriend Michael het ook ’n paar frustrasies waarmee jy kan uithelp.”

Liesl storm terug na die kleedkamer. Sy huil van vernedering en woede. Harry is die een man wat sy gedink het anders is. Sy snuit haar neus, spat koue water oor haar gesig en maak haar lippe weer rooi. Met ’n opgeplakte glimlag stap sy terug na Michael. Haar oë vermy die tafel langsaan waar Harry en sy godin deel is van ’n luide geselskap.

“Ek dog jy het ’n taxi gaan bel en verdwyn. Is alles reg?” Michael lyk seergemaak dat sy hom so lank alleen gelos het.

Sy voel soos ’n boef om blatand vir hom te jok.

“Ek dink ek is allergies vir iets wat ek geëet het, sal jy omgee om my huis toe te neem?”

Die knop in haar keel is byna te groot om weg te sluk. Haar hart pyn van opgekropte emosies.
Die rit op pad huis toe is ondraaglik stil. Michael lyk effe geïrriteerd omdat sy hul aandjie kortknip. Sy weet sy behoort hom in te nooi vir koffie, maar sy weet ook sy het dit nie in haar om nog ’n uur in hierdie man se geselskap deur te bring nie. Waks of te not.

Emily beantwoord die foon dadelik.

“So vroeg? Ek het gewag dat jy aan my terugrapporteer. Ek neem aan die waks het nie gewerk nie.”

Liesl kry nie ’n woord uit nie. Net ’n paar snikke.

“O aarde! So sleg? Wat het Michael Saunders gedoen om jou so te ontstel? Of, laat ek dit so stel, wat het hy nie gedoen nie! Ek wonder altyd oor mans wat so intens metromanne is.”

“Dis nie hy nie, dis Harry.”

“Waar kom Harry in vanaand se prentjie in?”

Tussen snikke en sarsies woede vertel sy van haar gesprek met Harry en die soen voor die kleedkamer.

“Joe! Ek het nie gedink Harry het dit in hom nie! En toe soen jy terug? Was dit lekker? Hoe soen hy? Mens weet nooit met sulke stil sterk manne soos Harry nie.”

“Dis die einde van my vriendskap met daardie neandertalagtige buffel!”

“Jy bedoel renoster?”

Liesl huil van frustrasie. Sy hou net mooi niks daarvan dat Emily die situasie amusant vind nie. Harry se optrede was onverskoonbaar.

Sy slaap sleg en rusteloos. Die bikiniwaks laat haar jeuk en herinner haar heelnag aan die vernederende aand.

Met die aanbreek van kantoorure die volgende oggend bel sy haar reisagent en vervroeg haar besprekings vir die Inkaroete. Sy het nodig om weg te kom en haar kop behoorlik skoon te gaan stap.

Die geluk is aan haar kant en daar is ’n kansellasie. Sy kan oor ’n week vlieg.

Tussen die laaste reëlings en inkopies vang sy haarself dat sy dikwels soos ’n verliefde skooldogter wag dat die foon moet lui. Maar dit swyg.

Is jy nou heeltemal stapelgek, Liesl! Raas sy met haarself. Jy is nou verlief op ’n bruuske man wat vroue teen hulle sin in donker hoeke vasdruk en soen. En dit terwyl hy saam met ’n ander vrou uit is.

Die mislike immer beskuldigende stemmetjie in haar agterkop noem dat sy wat Liesl is eintlik die soen geniet het. En, dat sy immers ook die aand saam met ’n man uit was.

Liesl vermy Emily want sy is nie lus om aan haar swakhede herinner te word nie. Dit is duidelik dat sy wat Liesl is nie goeie oordeel het wat mans betref nie, en niemand, nie eens haar beste vriendin, hoef dit te beklemtoon nie.

“Is jy nog dikbek?” vra Emily as Liesl uiteindelik die foon optel.

“Ek is nie, ek is net besig, ek vlieg reeds volgende week. Die Inka-roete is wat ek nou nodig het. Wie weet, dalk loop ek ’n ordentlike man daar raak.”

Emily lag hard en ongeskik in Liesl se oor. “Ai, Liesbet, maar ons is liggeraak! Vlug jy nou weg van Harry? Het hy jou al gebel?”

“Nee, Em, hy gaan nie bel nie en ek gaan hom nooit weer kontak nie. Ons is nie meer vriende nie. Dis verby.”

Emily lag weer en Liesl vererg haar so sy is lus om die foon neer te sit.

“Ek dog jy is my vriendin? En, ek het nog altyd geglo jy is ’n verligte vrou? Ons leef lankal nie meer in die tye wat mans vroue ru kan vasvat en soen nie. Hy is ’n barbaar, daardie vriend van jou!”

Liesl is dankbaar as Emily die boodskap kry dat die gespot nou genoeg is. Sy voel regtig seergemaak en ontnugter. Harry se reaksie was geensins wat sy ooit van hom verwag het nie.

Met haar rugsak met militêre presisie (Emily se invloed), gepak staan Liesl die volgende week by die inweegtoonbank in die internasionale vertreksaal van O.R Tambo.

“Liesbet, is jy seker jy gaan ok wees so op jou eie?”

“Ek is altyd weer ok, Em? Het jy nog nie agtergekom nie? Ek sien regtig uit na die tyd op my eie.”

“En as jy terugkom?”

“Ek sal sien. Ek sal ’n nuwe blyplek moet soek. Iets waar Maks lekker kan speel. Hy is vreeslik ontwrig die laaste tyd. Hy kan nie altyd by Harry bly nie.”

“Praat jy en Harry steeds nie met mekaar nie?”

“Nee, ek gaan nooit weer met hom praat nie. Ek praat met Roxy oor Maks se reëlings.”

Liesl gee Emily ’n moordende kyk as sy glimlag.

“Ek het ook gister met Rox gepraat, sy sê Harry is net so knorrig soos jy deesdae, maar sy kan nie agterkom of hy oorwerk is en of dit die Spaanse joernalis is wat hom besig hou nie.”

Die aas wat Emily uitgooi, het die gewenste uitwerking.

“Spaanse joernalis?”

“Catalina, die godin wat jy die aand saam met hom in die restaurant gesien het. Hulle het mekaar glo in die Krugerwildtuin ontmoet toe sy oor die renosterprojek kom skryf het.”

Al wat Liesl kan uitkry, is ’n kort: “O, ek sien.”

Sy voel hoe haar keel toetrek. Dit is hoekom Harry haar nie besoek het op die plaas nie, besef sy. Dan vertel hy hy het haar kamma gelos om op haar eie te treur. Sy besluit finaal dat sy Harry nooit weer wil sien nie.

Haar vlug word aangekondig en sy gee Emily ’n laaste drukkie.

“Liesbet? Jy moet nou oor alles gaan ontspan. Maak jou kop leeg en los die Suid-Amerikaanse manne uit, gehoor?”

“Em, daarvan kan jy seker wees. Ek is beslis klaar met mans. Vir altyd …”

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

6 hours Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

6 hours Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

6 hours Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

6 hours Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

7 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

8 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.