Gevriesde ertjies
Michael Saunders is die perfekte hygroman held. Smeulend, aantreklik en sjarmant. Hy is presies soos die dagdrome wat Liesl 32 jaar gelede op haar koshuisbed oor hom gehad het. Die groot verskil is dat Michael toe vir haar die onbereikbare was. Hy was die onmoontlik aantreklike senior wat studentemeisies laat kwyl het. Hy het immers die een of ander joolprinses aan sy sy gehad.
Daar is een prentjie wat deur die jare in Liesl se geheue vasgesteek het: Michael met sy wit broek en blouselblou hemp wat sy skitterglimlag vir haar gee waar sy agter die koshuis se ontvangstoonbank sit. “Was dit seer?” het hy haar gevra. “Wat? Was wat seer?” het sy teruggevra en probeer regop sit op die stoel sodat sy so maer as moontlik lyk. “Toe jy uit die hemel geval het?” het hy met sy skittertande gelag en sy het gevoel hoe sy bloedrooi word. “Jy het die mooiste bos blonde krulhare wat ek nog gesien het. Engelhare.” Hy het ’n munt voor haar neergesit. “Bel my oor so twee jaar as jy groot genoeg is om sonder jou ma se toestemming uit te gaan.” Sy onthou hoe gevly sy destyds was … en hoe afgehaal sy gevoel het toe hy haar vra om Anja Liebenberg, die mooiste meisie in die koshuis … op die aarde… na die voordeur te roep. Met afgunstige oë het sy gekyk hoe Anja aan die galante Michael se arm by die koshuis uitstap.
Maar vanaand is dit my beurt, dink Liesl en smeer petroleumjellie aan die sensitiewe rooi plekke wat die bikiniwaks van die middag gelaat het.
“Jy het my gedrop!” beskuldig sy Emily oor die foon.
“Hoe nou?”
“Em, jy moes my gewaarsku het om nie die middag voor ’n afspraak ’n bikiniwaks te laat doen nie. Weet jy hoe lyk my bobene? Soos bete! Ek het al als probeer om die rooi swelling te laat sak. Ure met ’n pak gevriesde ertjies op my … jy weet wat gelê!”
Emily skater. “My pel is weer haar ou self! Maar moenie worrie nie, ek glo nie Michael sal omgee as jy effe rooi om jou … jy weet wat is nie. Jy weet? Daar is tye wat sulke goed nie saak maak nie!”
Liesl kry skielik skaam vir haar gedagtes. Die man het haar net genooi vir ete en sy bekommer haar oor die rooiheid op ’n sensitiewe plek? Sy besluit nietemin om die sexy ondergoedjies wat sy op aandrang van Emily ten duurtse by die Franse onderklerewinkel gekoop het, te dra. Sy het die sysagte bra en broekies uit die Tulipe d’âge moyen!-reeks nog net ’n paar keer aangehad: die aand met die boeredans in Harry se skuur en die aand van haar uitstalling. Toe het sy haar ook geskaam vir haar gedagtes: Liesl, vir wie trek jy die sexy goedjies aan? Het ’n beskuldigende stemmetjie haar toe ook gevra. Sy het toe heftig ontken dat sy gehoop het Harry kyk dieper as hulle vriendskap.
Harry … maar sy dwing haar gedagtes om te konsentreer op die aand saam met Michael.
Ter voorbereiding van haar groot aand waag sy dit selfs om ’n oogomlyner te gebruik wat sy in Erna se laai gekry het. Sy moet drie keer die grimering weer afvee want haar hande bewe so dat sy dit elke keer smeer. Haar oë raak al powweriger en na aan trane bel sy Emily weer.
“Wat gaan ek doen! My bobene en my oë is nou rooi en opgeswel! Ek sit hier met ’n pak gevriesde gemende groente tussen my bene. Die ertjies het al ontdooi. Ek het twee teesakkies op my oë! En ek het al twee sigarette van senuwees gerook! Moet ek hom bel en uitstel? Maar sê nou hy vra my nooit weer nie?”
Emily onderbreek die rammelende woorde met ’n luide gelag.
“Ai Liesbet, mens sou sweer dis die eerste keer wat ’n man jou uitneem!”
“Maar dit is. Die laaste keer wat ek so in ’n toestand was, was toe Konrad my die eerste keer uitgevra het. Wat gaan ek doen, Em? Ek lyk soos ’n monster!”
“Ag tog, hang aan, ek is nou daar. Moenie die gemengde groente of die teesakkies verwyder nie!”
Binne 20 minute stop Emily met skreeuende bande voor die deur.
“Eerste dinge eerste. Hier is ’n kalmeerpil. Kom, laat ek die skade sien … O aarde! Ek dog jy oordryf! Hier is oogdruppels en ’n roompie wat ons gebruik as akteurs met ’n hengse babalaas vir ’n shoot opdaag. Hoeveel uur het ons nog?”
Liesl sit soos ’n lam ter slagting terwyl Emily haar oë met die babalaas-doepa dokter en boudjiesalf aan die area rondom haar … tulpie smeer. ’n Sak gevriesde wortels vervang die ontdooide gemende groente.
“Nou, Liesbet, ruk jy jouself reg! Jy is nie ’n tiener nie! Haal diep asem. Verbeel jou Michael het ’n groot zit op die punt van sy neus. Dit sal enige onmiddellike romantiese gedagtes in toom hou.”
Liesl kry dit reg om haar asemhaling, wat grens aan hiperventilasie, in toom te hou.
“Em, wat gaan ek doen as…? Nee, nee! Ek het klaar besluit, dit maak nie saak hoe aantreklik Michael is en …”
“Ja… en hoe hard jou hormone op hol is nie! Jy is reg, Jy gaan nie vanaand jou Tulipe d’âge moyen! aan Michael Saunders vertoon nie. Hou jou in!”
Liesl knik haar kop instemmend soos ’n tienermeisie wie se ma haar waarsku voor haar eerste afspraak.
“Nee, nie vanaand nie.”
Na ’n uur van sorgsame behandeling met die babalaassalf sak die swelsel om Liesl se oë effens.
“Sit stil, ek sal iets aan jou grimering doen. Hoe voel die wortels? Al ontdooi?”
Die twee vriendinne lag histeries. Liesl lag alle spanning oor die aand saam met haar universiteitsdroomman weg. Sy voel dapper en voorbereid.
Emily vertrek vyftien minute voor Michael veronderstel is om haar te kom haal.
Liesl sit op die punt van haar bed en hou die muurhorlosie stip dop. Die wysters beweeg stadig. Te stadig. Sy kyk hoe die sekondewyser die laaste minute aftik en probeer so diep moontlik asemhaal om die bewing in haar binneste te laat bedaar.
Sewe-uur breek aan en haar deurklokkie bly stil. Hoe verder die lang wyster aanbeweeg, hoe benouder raak sy. Hy het seker vergeet? ’n Pap wiel? ’n Verkeersknoop?
Sy wip soos sy skrik as die deurklokkie uiteindelik lui. Haar bene bewe al die pad tot by die voordeur.
“Mooiste Liesl!” Net soos in haar studentedrome staan hy daar. Sy oë is net so blou soos sy hemp. Dit kontrasteer perfek met sy loodgrys hare teen sy slape.
Iewers in haar agterkop kla ’n temerige stemmetjie dat hy ten minste kon verskoning maak oor hy laat is, maar Liesl ignoreer dit. Michael maak galant die deur van sy silwergrys sportmotor oop. Sy ignoreer daardie irriterende stemmetjie wat haar nou koggelend vra hoe op aarde sy met die stywe skemerkelkrokkie by die restaurant uit die lae karretjie gaan klim sonder dat haar Tulipe d’âge moyen! uitsteek.
Michael speel strelende kitaarmusiek terwyl hulle deur die aandverkeer na Sandton vleg. Kort -kort gee hy haar sy skitterglimlag en haar kuise voornemens van die aand skuif al verder op die agtergrond.
By die restaurant swaai sy haar lang bene behendig saam uit die motor se deur. Gelukkig is Michael byderhand om haar hand te neem en haar regop te help. Sy voel iewers in haar rug het ’n spiertjie in die proses gerek, maar sy ignoreer die pyn wat effens in haar laer rug begin steek.
Die restaurant is, soos te wagte, iets uit ’n romansa-storieboek. Intiem, romanties en luuks.
Michael is die perfekte metgesel, hy bestel die perfekte wyn en beveel die perfekte gereg aan. Na die tweede glas vonkelwyn voel sy die pyn in haar rug effe verdof. Net soos die stemmetjie in haar kop wat haar waarsku om nie nog ’n glas vonkelwyn te drink nie.
Soos in haar jeugdige dagdrome sit Michael sy hand op hare en kyk haar diep in die oë. “En toe? Was dit seer?” Sy onthou die woorde soos gister. “Wat” vra sy ewe onskuldig. “ Toe jy uit die hemel geval het!”
Liesl se hart klop in die kuiltjie van haar nek. Hoe is dit moontlik dat die man haar weer laat voel soos die eerstejaartjie wat aan diens is by die koshuis se voordeur? Maar vanaand gaan hy nie ’n ander skoonheid uitneem nie. Vanaand is sy aan sy sy.
“Jy het my dieselfde vraag op universiteit gevra, onthou jy?”
Michael lyk verward. “O aarde, ek sal ’n ander pick up line moet kry! Ek begin dit nou al twee keer op dieselfde vrou gebruik!”
Liesl voel effe afgehaal omdat hy nie die vorige keer onthou toe hy haar voete onder haar uitgeslaan het nie. Sy voel hoe haar hand onder syne begin sweet.
Die restaurant is volgepak en hulle tafeltjie is eenkant langs ’n leë tafel met ’n sierlike bordjie waarop “gereserveerd” staan.
“Ek hou daarvan om vroeg te kom dan is dit stiller. Die meeste stadsmense daag mos eers na nege die aand op.”
Haar gesels met Michael wil maar net nie vlot nie. Teen nege-uur het sy hom al alles oor sy loopbaan gevra en sy is dankbaar dat hy diskreet genoeg is om haar niks oor haar huwelik uit te vra nie. Dis erg genoeg dat haar persoonlike lewe onlangs op koerantblaaie uitgeblaker is.
Die oomblikke van stilte raak al hoe langer, maar Michael se hand bly op hare. Sy kry beslis die boodskap dat hy ’n man met planne is. Romantiese planne. En sy is nie meer seker of sy opgewonde is daaroor nie.
Sy is verlig toe die hoofkelner ’n groep besoekers na die leë tafel bring. Stoele word galant uitgetrek en servette oopgevou. Die groep het al gesit toe nog twee gaste opdaag. Liesl sien eers die godin met die raafswart hare wat tussen die tafels aangesweef kom. Vol selfvertroue, asof sy weet die purper rok kleef aan elke kurwe. Dan verstyf sy so dat haar rug weer begin klop. Agter die vrou kom ’n lang man aangestap. Haar oë ontmoet syne. Hy glimlag vir haar en sy oë draai eers na Michael en rus dan op Michael se hand wat hare intiem toevou.
Harry …