Kinkels in die tronk
Die gesprek word onderbreek toe ’n bewaarder ’n fluitjie blaas en verskeie bevele uitgil. ’n Groep bewaarders beweeg na een van die besoek-hokkies. Die betrokke gevangene word hardhandig weggeneem en die vroulike besoeker baie ferm weggelei.
Liesl verstyf van spanning, en Konrad probeer haar gerusstel.
“Hulle het seker iets gedoen waarvan die bewaarders nie hou nie. Dalk is sy nie sy vrou nie of het haar burka meer as net haar oë gewys. Die bewaarder hier skuins agter my hou ons ook dop.
Gelukkig verstaan hy nie Afrikaans nie. Ontspan jy net, jy sal ok wees. Drapeer jou serp subtiel om jou skouers sodat jou arms nie te kaal lyk nie. Onthou om jou arms en bene ook op straat te probeer bedek. Die moslem godsdiens-polisie is oral en hulle is sensitief.”
“Genade, Konrad, gaan ons ooit weer uit hierdie gemors kom?”
“Julle dalk, Liesl, makliker as ek …”
“Wat bedoel jy?”
“Isa is hier in Dubai. Sy het nie net kom kuier nie … Hulle weet ek wil praat. Toe ek begin aandui ek wil uit die ding kom, het hulle die lewe vir my moeilik gemaak. Gedreig om jou en die kinders skade aan te doen.”
Liesl vou die serp om haar skouers nog stywer … asof dit haar teen ’n bose aanslag sal beskerm.
“Ek is jammer ek was daardie middag voor jy die pille gedrink het so bitsig met jou in die koffiewinkel, maar hulle het my dopgehou en ek wou jou so vinnig moontlik daar uitkry. Isa het my na jou vertrek by die koffiewinkel kom waarsku dat ek spyt sal wees as ek jou in my vertroue neem. Ek het haar nie ernstig genoeg opgeneem nie. Die aand later het ek skuldig gevoel oor ek jou seergemaak het en ek wou gaan kyk of jy ok is. Gelukkig. Ek was net betyds. Isa wou jou vermoor.”
Liesl vertel van die bebloede oorbel en die oorbel in Gerben se woonstel.
“Lies, sy het jou vir dood agtergelaat. Ek moes vinnig opruim om dinge nie verdag te laat lyk nie. Ek kon nie bekostig dat die polisie of iemand sien daar was iemand anders betrokke nie want dit sou jou in nog groter gevaar gestel het. Die dag toe sy jou in die hospitaal besoek het… sy wou klaarmaak wat sy begin het. Die vloermoer was net ’n rookskerm toe sy nie kans gekry het om haar ding te doen nie.”
“Konrad, die een wat die nag in jou kantoor ingebreek het. Die kinders se foto’s is stukkend geskeur …”
Liesl se hande bewe om die gehoorstuk. Sy voel hoe haar handpalms sweet van spanning. Sy hou haar stem beheersd om nie die bewaarder se aandag te trek nie.
“Dit was Bella, Isa se tweeling-suster. Sy het vir my ’n reeks selfoonfoto’s van haar vernietigingspad gestuur. My mond gesnoer.”
“Hoekom het jy net verdwyn? Nie gebly om te verduidelik nie? Hoekom nie die dag toe jy die dokumente by ons huis kom vernietig het vir my als vertel nie?"
“Ek wou, maar het besef ek stel jou en die kinders net meer in gevaar. Ek wou alle spore van my bedrog in my persoonlike dokumente uitwis toe Gerben my begin afpers. Ek het voor dit reeds beplan om Dubai toe te kom om te kom vure doodslaan. Ek het vir Gerben laat verstaan ek gaan Amerika toe in opdrag van EMKO. Ek is nie ’n goeie skelm nie, hulle het gou uitgevind …”
Haar besoek aan Gerben se woonstel laat haar nou opnuut skuldig voel. Maar Liesl het ’n diep kwaad wat opbou teenoor Konrad. Sy voel ’n intelligente man soos hy moes nie so diep by die knoeispul betrokke geraak het nie.
“Ek het gedink ek kom Dubai toe om met die mense te praat met wie EMKO die oorspronklike bande gesmee het. In my naïwiteit het ek geglo van hulle wou aan die begin net besigheid doen en dat die skelmspul eers later bygekom het nadat Gerben EMKO toe gekom het.”
“Toe trek hulle julle vas?”
“Daar was iemand in die groep self wat vir Interpol gespioeneer het. Daar is mos nie lojaliteit tussen skelms nie. Die plekke waar vergaderings gehou is, is hoogs geheim gehou. Net die sleutelfigure het geweet. Maar een van hulle is blykbaar al jare ’n informant.”
Dit voel vir Liesl of sy na ’n speurfliek kyk, maar dat sy by tye deel is van die aksie.
“Toe ek Dubai toe gekom het, het ek geweet die kans is baie groot dat ek nie gaan loskom nie. Ek het geweet ek gaan of vasgetrek word of …”
“Nee, Konrad! Moenie dit sê nie …” fluister Liesl.
“Ek het nie meer reguit gedink nie. Die een kant van my hart het geweet ek mors my tyd om Dubai toe te kom, maar daar was tog ’n vae hoop dat daar iemand was wat my sou kon help om uit die ding te kom.”
“Hoekom het jy nie oop kaarte by EMKO gespeel nie? Jy werk tog jare daar? Jy het vriende daar?”
Konrad lag saggies. Hy vee oor sy kort grys hare.
“Lies, hoekom dink jy het EMKO in die eerste plek by die Arabiere betrokke geraak? Lank voor Gerben? Ek het dit nie toe besef nie, maar ek weet nou daar is verskeie pionne by EMKO wat geweet het hierdie ding kom. Van hulle het ook hul eie angendas en knoeiery met sulke goed soos gekookte omgewingsimpakstudies en mynlisensies wat deur regeringskontakte uitgereik word. Ek het liggeloop. Niemand kon vertrou word nie. Nie eens Engela nie.”
“Arme Engela … sy was so lojaal …”
“Ek is oortuig daarvan sy het geweet wat aangaan.”
Die fluitjieblaser by EMKO fassineer Liesl steeds.
“Lana Victor het ook nie geweet wat haar tref toe Gerben haar baas geword het nie. Sy het haar eie ambisie-planne gehad. Haar pad tot bo… jy weet? Gerben het sy strikke vir haar gestel en haar begin afdreig. Haar swakplekke uitgesnuffel: aansien en geldlus … Sy is sekerlik ’n vet bedraggie betaal om die fluitjie te blaas. En ek kan jou verseker, daardie geld is nie in Suid-Afrika nie. Jy sal sien, Lana gaan ook eendag net uitgehaal word. Sy is naïef as sy dink die spul gaan haar los. Hulle sal keer dat sy nie dalk eendag onder druk swig en uitpraat nie.”
“Konrad, wat moet ek met al hierdie inligting maak? Dit maak my bang om al die goed te weet.”
Hy kyk haar reguit in die oë. Na al hulle jare saam weet sy wanneer hy ernstig is.
“Ek wil nie hê jy moet nog oor die goed wonder as ek dalk nie meer hier is nie.”
“Jy bedoel seker nie? …”
“Lies, Isa is gestuur om my te kom stilmaak. Enigeen hier in die tronk kan dalk een van hulle wees.”
Dit voel of Liesl se bors toetrek.
“Maar hulle weet seker jy praat vandag met my? Hulle sal seker bang wees ek praat uit?”
“Moenie rondkyk nie. Moenie ’n noog knip nie, Lies, ek het meeluisterapparate aan my en hier is reeds mense van Interpol vandag teenwoordig. Hulle gaan jou hierna oppas en seker maak jy vlieg veilig terug Suid-Afrika toe. Hulle het reeds met Emily kontak gemaak en seker gemaak die kinders is veilig. Ek moes praat, dinge kon nie so aangaan nie.”
Dit voel of Liesl se kop gaan ontplof van al die intriges. Net as sy dink sy weet nou alles, kom daar ’n nuwe kinkel in die gebeure.
“Hulle gaan my na ons gesprek na ’n veilige plek neem. Ek weet nie waneer jy my weer gaan sien nie. Hierna sal hulle met Henk praat om al my sake reg te kry. Ek weet nie wat sal gebeur as ek teen die Arabiere en Gerben-hulle getuig nie, maar dit is my enigste opsie.”
Die twee uur het verbygevlieg, die bewaarder neem Konrad aan die skouer en beveel hom om op te staan. Die gehoorstuk word uit sy hande geneem. Die afskeid voel vir Liesl te stomp. Te skielik. Haar laaste blik van Konrad voor hy uit die besoekkamer geneem word, is sy lippe wat die woorde vorm: “Ek is lief vir jou.”