“Geniet jou vlug”
Net so vinnig soos die vrou verskyn het, is sy weg. So blitsig dat Liesl twyfel of sy, in die lig van haar spanning, nie gesigte sien nie. Maar Emily kom tot haar redding.
“Het jy haar gesien! Hoe astrant! Maar ek weet nie watter een van die evil twins dit was nie. Lyk glo op ’n haar na mekaar.”
Liesl sluk ’n glas vonkelwyn weg van skok.
“Jong, dié een lyk baie na Isa, maar sy was so vinnig!”
“Nee Liesbet, nie so vinnig nie, merrim het ’n lekker draai tussen jou skilderye deur beweeg. Ek was ongelukkig in ’n diep gesprek met ’n skinderskrywer van die geelpers en wou nie haar aandag op die sluipende besoeker vestig nie.”
Emily beduie vir Justin Enslin hy moet nader staan om die nuutste gebeure met hom te deel, maar hy bars haar borrel met die nuus dat een van sy manne reeds agter die misterieuse vrou aan is.
“Die susters se bewegings sal diskreet dopgehou word tot daar meer bewyse is. Volgens ons inligting van die doanes het die een wat in Dubai is, nog nie teruggekom nie. Wel, nie deur ’n wettige kanaal nie.”
Sy foon lui en sy kollega lig hom in dat die vrou hulle ontglip het.
Nadat die laaste gaste by die uitstalling weg is, besluit Emily en Harry dat Liesl saam met haar vriende ’n glasie op haar sukses moet drink.
“Merrie, ek is so bly jy het nie jou nuwe bewonderaar genooi om te bly nie!”
“Waarvan praat jy, Harry?”
“Daai glibberige ou wat jou skildery gekoop het net om jou om te koop om saam met hom koffie te gaan drink.”
Liesl gee Harry ’n harde hou in sy maag.
“Sies, jy gun my ook niks. Terloops, hy het die skildery gekoop omdat hy daarvan hou. Hy dink dis goed.”
Harry skud soos hy lag en maak sy bordjie vol verlepte crudites.
“Eet hierdie grênd mense nie? Maggies, nou is ek vrek honger!”
Harry bestel ’n paar pizzas en Emily laat haal vonkelwyn wat sy in haar kar weggesteek het vir die viering.
“Op ons fymis skilder, Liesl, alias grotbekruiper van formaat!”
Sy het die beste vriende en kinders op aarde, besef Liesl toe hulle almal kruisbeen op die grond rondom pizza-bokse kuier.
’n Oproep later die aand bevestig dat Isa wel in Dubai gewaar is. Sy het probeer om Konrad te besoek.
“Liesl, daai vrou het goeie konneksies hier, dis seker. Sy weet hoe om die amptelike kanale te omseil.”
“Henk, ek voel onrustig. Dit voel of sy nie goeie bedoelinge het met haar besoek aan Dubai nie.”
Henk se antwoord maak haar nog meer onrustig.
“Konrad wil nie oor Isa uitwei voor hy nie met jou gepraat het nie, maar ek kon sien hy het geskrik toe ek hom sê Isa wou hom sien. Ek het so ver ek kon, probeer keer dat iemand haar dalk per ongeluk toelaat. Ek vertrou haar nie.”
Met die uitstalling afgehandel, skuif Liesl se fokus direk na Dubai. Sy kan nie wag om daar te kom nie. Konrad wil haar iets belangrik vertel. Iets wat hy nie eens bereid is om eerste met Henk te deel nie.
Die 48 uur tot haar vlug kruip stadig verby. Sy gaan stap met Maks, pak ’n paar goedjies vir Konrad en maak seker haar kinders is veilig.
Emily en Harry neem haar lughawe toe. Eie aan Emily se aard stop sy ’n legger in Liesl se hand met ’n volledige lys noodnommers ingeval sy in Dubai probleme het.
“Ons het jou soos ’n wafferse celeb onder ’n alias in ’n hotel ingeboek. Jy is seker nie lus vir ’n verrassingsbesoekie van Isa nie?”
Liesl lag want sy weet hoe lekker dit vir Emily is om iemand se lewe oor te neem.
“Waarmee gaan jy jouself besig hou as hierdie drama in my lewe verby is?”
Harry gooi ook sy mening in.
“Merrie, dan gaan ons lewens vreeslik vervelig raak. Nie dat ons nie hoop jou dinge raak uitgesorteer nie, maar sedert ek jou ontmoet het, voel dit of my bestaan taamlik saai is.”
Maar Liesl laat nie op haar wag nie.
“…sê die man op wie se plaas daar pas ’n renosterdrama was.”
Toe Liesl aan boord moet gaan, druk Emily haar vas en rammel vir oulaas ’n lys opdragte af. Harry druk haar styf vas en soen haar op die wang. Dit laat Liesl bloos en haar hart bokspring tot sy uiteindelik haar sit in die vliegtuig kry.
Liesel is nietemin verheug dat sy op pad is om uiteindelik antwoorde op honderde vrae te kry.
Die vlug is taamlik vol en genadiglik sit daar nie ’n vet passasier langs haar wat ‘oorvloei’ na haar sitplek nie. Met geen huilende babas en praatsieke passasiers in die omtrek nie, sit sy na aandete met ’n whisky op ys en probeer om haar ligte vliegvrees te verdryf.
Haar whisky is skaars klaar, of ’n lugwaardin is daar met nog een … met ’n briefie. “Hoop jy geniet die vlug, Liesl!”
Sy skrik haar lam. Wie op die vlug ken haar naam? Sy probeer versigtig rondkyk, maar niemand in die sitplekke naby haar lyk bekend nie.
Na ’n ruk maak sy of sy toilet toe gaan. Haar oë skandeer die rye om haar vinnig. Niemand lyk bekend nie.
Sy besluit om die lugwaardin te vra van wie die briefie kom.
“E … mevrou, dis van iemand wat sê hy is ’n geheime bewonderaar.”
Liesl verduidelik kortliks aan haar dat haar lewe inderdaad in gevaar is.
“Mevrou, die vliegtuig is vol, ek onthou net dit is ’n man met ’n baard iewers in die middel van die vliegtuig. As Mevrou wil, kan ek gaan rondloer?”
Liesl sit gespanne en wag tot die lugwaardin haar rondtes gedoen het. Na ’n rukkie wink die waardin haar na die gully.
“Dis moeilik, baie mense slaap al en hulle gesigte is toe onder komberse, maar ek belowe ek sal ’n ogie hou. Ek sal met die kaptein gaan praat en hy kan die ander personeel inlig.”
Dit laat Liesl nie gerus voel nie en sy maak die res van die vlug nie ’n oog toe nie. Toe die passasiers begin wakker word en gereedmaak vir ontbyt, hou Liesl elke beweging dop.
Ongelukkig is daar heelwat mans met baarde op die vlug.
Na hulle geland het, gaan staan sy saam met die waarin in die gully ingeval iemand op die laaste nippertjie iets vreemds wil aanvang. Die kaptein dring ook daarop aan dat sy begelei word, tot waar Henk haar inwag.
“Henk! Een van hulle was op die vlug! Een van die mense wat my en Konrad leed wil aandoen!”
Sy vertel hom die hele storie en selfs hy loer senuagtig in die aamkomssaal rond of iemand hulle nie dophou nie.
Henk wissel op die ingewing van die oomblik van taxi en betaal die taxibestuurder ekstra om ’n paar draaie na die hotel te ry.
Sy is reeds ingeboek en sy en Henk glip by die brandtrap op. Hulle klim met kreune drie vloere waarvan hulle die volgende hyser haal. Hulle ry weer drie vloere en klim dan weer trappe.
“Dis al hoe ek dink ons die blikskottels gaan ontwyk. Ek wens ek het meer James Bond-flieks gekyk. Miskien was daar meer tips in hoe om ’n spul bose ouens te fnuik.”
Uitasem in haar kamer lag sy en Henk van pure spanning.
“Henk, jy is die laaste mens saam met wie ek gedink het ek so ’n avontuur sou beleef! Genade, ek sou vyf jaar gelede my dood gelag het as ek geweet het ek gaan soos in ’n wafferse spioenasiefliek by ’n hotel se trappe opsluip en onder ’n pseudo-naam inboek.”
“Ja, Liesel, hoe het ou Shakespeare gesê? “Misery acquaints a man with strange bedfellows.”