Bose kruise
Dis tyd om huis toe te gaan. Liesl besef die paar dae op Herman se plaas en die opwinding van die renosterprojek was net wat sy en die kinders nodig gehad het om hulle aandag van hul dramatiese gesinslewe af te trek.
Sy is is nie opgewonde om na haar huis terug te keer nie, al mis sy Maks. Sy voel nie heeltemal oortuig dat sy en die kinders veilig gaan wees by die huis nie. Daar is nog te veel vrae wat onbeantwoord is.
Erna is vermoedelik die hartseerste om Mpumalanga te groet, met Ludwig kortkop agter haar.
Dit was vir Liesl lekker om te sien hoe haar dogter kuier saam met die jong veearts wat Herman by sy perdekampe bystaan. Enige man wat so sag met diere kan werk, mag maar by haar dogter kom kuier, voel sy. En die bolangse verliefdheid is net die regte medisyne vir haar kind. Sy bekommer haar beslis oor hoe sy dit gaan regkry om alle bos-gedagtes uit Ludwig se kop te kry sodat hy kan teruggaan universiteit toe.
Die gedagte dat sy die huis moet verkoop, kom dadelik by haar op as sy by die voordeur instap. Sy het te lank geklou aan die leë dop wat eens hulle gesinswoning was. Na Konrad uitgetrek het om by Isa te gaan woon, het sy gekoester gevoel deur die bekendheid van die huis. Sy kon in die kinders se kamers gaan sit as die verlang te veel raak … en dan was daar Konrad se studeerkamer. Nadat hy getrek het, het die boekrakke geplunder en leeg gelyk. Dit het seergemaak dat hy die antieke lessenaar, wat sy vir sy 50ste verjaarsdag laat restaureer het, daar gelos het. Dit was glo “te groot” vir sy nuwe studeerkamer … in Isa se huis.
Nie eens haar studio hou meer vir haar goeie herinneringe in nie.
Sy gaan sit op die leunstoel in die son met Maks se kop op haar skoot. Voor haar staan stapels skilderye en wag vir die uitstalling. Die afgelope weke het haar gestroop van alle lus vir die uitstalling waaraan sy so hard gewerk het.
Die aand met die pille-drama spook steeds by haar. Sy het daarna ’n paar keer die nagmerrie gehad waarin dit voel of iemand haar vasdruk. Dit maak haar bang noudat die vermoede al sterker raak dat Isa die aand by haar in die studio was en dat sy beslis daar was met bose bedoelings.
Was dit dalk Isa wat die aand in Konrad se kantoor moles gaan maak het? En wie het Engela vermoor?
Asof hy haar gedagtes kan lees, bel Henk.
“Konrad wil jou dringend sien. Hy lyk goed onder die omstandighede, maar hy wil eers met jou praat voor hy my alles vertel … en dit klink my daar is baie. Ek het probeer relings tref, maar dit lyk my jy sal hom eers oor ’n week kan sien. Jy het mos reeds jou eie dinge begin reël?”
“Ek is so verlig dat jy hom kon sien, Henk! My uitstalling is die naweek en ek het juis beplan om die volgende week vroeg Dubai toe te vlieg. Ek het iemand by ’n reisagentskap wat my help.
Konrad het haar deur die jare baie gebruik en sy probeer my help so ver sy kan.”
“Liesl, is alles veilig daar by jou huis? Ons weet nog nie presies wat hier aangaan nie en ek is bekommerd dat daar iemand is wat jou en Konrad skade wil aandoen. Konrad het iemand baie baie kwaad gemaak, dis duidelik. Ek sukkel om met die regsmense hier reg te kom. Hulle het darem ingestem dat jy hom kan kom sien.”
Liesl kan nie glo dat sy en Henk soos ou vriende kan gesels nie. In al die jare wat hy Konrad se prokureur is, het hy haar altyd effe afsydig hanteer. Veral nadat sy Konrad oor sy affairs begin vasvat het. Met die egskeidingsooreenkoms was daar beslis geen tikkie vriendkaplikheid tussen haar en Henk verlore nie.
Henk is ’n stuurse man. Maar beslis een van Konrad se lojaalste vriende. Tog skemer dit vir die eerste keer deur dat Konrad sy vriend nie alles vertel wat in sy lewe aangaan nie.
“Henk, het jy al enige idee waarin Konrad hom begewe het? Toe ek in die hospitaal was, het hy my vertel hy is baie diep in die moeilikheid en dat hy moeilik uit die ding gaan kom?”
“Liesl, die ding klink nie soos die Konrad wat ek ken nie. Dit maak my baie bekommerd dat hy nie betyds met my hieroor gepraat het nie. Als het verkeerd begin loop vandat hy met daardie Isa vrou deurmekaar is. Ek dink ons het daai vroumens heeltemal onderskat. Sy is nie net nog ’n skelmpie nie. Sy is gevaarlik, vermoed ek. Ek is baie ongemaklik met die feit dat sy hier in Dubai is. Wat wil sy hier maak? Sy het nog nie probeer om met Konrad kontak te maak nie. Nou hoor ek daardie eks van haar, Gerben, is ook met langverlof. Dis nie in my aard om te bespiegel nie, maar jy het self gesê daai perd is ‘n riskante karakter. Tussen die evil twins en daai nerd wonder ek of die spul nie saam in die ding is nie. Hier in Dubai word reeds gefluister van sindikate wat saam met Arabiese groepe werk. En dit wat ek hoor, maak my bang. Die sindikate is hoogs opgeleide mense, Liesl. Ons moet ons nie aan Isa en haar sussie se gebotoxde uiterlike vaskyk nie. Daar skuil gevaarlike bietse onder daardie plooivrye gesiggies, vermoed ek. Van die leggers wat ek oor van die sindikate gesien het, toon die mense is meesters met vermomming en insypeling in maatskappye. Die mense knoei saam met die Arabiere met miljoene in die olie- en steenkoolbedryf.”
Dis die meeste woorde wat Henk nog op een slag met haar gepraat het, besef Liesl. En dit maak haar nog meer bekommerd. Sy kan aan Henk se stem hoor dat hy onseker voel oor die situasie. Sy vermoedens bevestig ook teorieë wat sy en Emily met haar kontak in die pers bespreek het.
“O ja, jy en Emily moenie te veel rondkrap nie. Die mense is gevaarlik. Ek dink die boodskap is duidelik genoeg na Engela se dood. Die gemors in Konrad se kantoor wys hulle is de joos in vir hom.”
“Henk, wat dink jy het daardie nag in my studio gebeur?”
“Ek dink hulle wou Konrad laat skrik. Hy weet baie goed wat daardie aand gebeur het, was nie net jy wat te veel pille gedrink het nie. Daardie aand se gebeure en Isa se vloermoer in die hospitaal het ‘n finale skeur tussen haar en Konrad gebring. En glo my, ek dink nie daardie vrou vat enige nederlaag goed nie.”
Liesl het die afgelope dae dikwels gewens die ding tussen Konrad en Isa was net ’n doodgewone affair, soos sy voriges. Maar hier is iets onheilspellends aan die gang met Isa.
Henk belowe Liesl om van sy kant te help om haar besoek aan Konrad moontlik te maak.
Sy weet dat sy die volgende paar dae op die uitstalling sal moet konsentreer en begin lusteloos deur die skilderye blaai.
Haar bloed stol as sy kom by die skildery waarop ’n vrou op ’n afgstand na twee spelende kinder sit en kyk. Oor elke kind se gesiggie is ’n rooi kruis getrek en bokant elke kind se kop is ’n swart grafsteen geteken.
Sy onthou die foto van die kinders wat in Konrad se kantoor opgeskeur is. Die mens wat haar skildery gevandaliseer het, weet baie goed die kinders op die skildery is Ludwig en Erna.
Hulle moet so vinnig moontlik uit die huis kom!
Dit verg net enkele oproepe voor Emily en Roxy met ’n paneelwa en Em se Jeep voor die deur stilhou. Liesl en die kinders se klere en die skilderye word opgelaai. Maks is teen die tyd al so gewoond aan rondry, dat dit nie veel oortuiging verg om hom agter in die Jeep te laat klim nie.
Soos gewoonlik geniet Emily dit om beheer oor te neem as krisisse dreig.
“Uit die aard van die sensitiwiteit van die ondersoek het ek iemand by die polisie gebel wie ek kan vertrou. Ek ken Justin Enslin al van die dae toe ek misdaadskrywer was en hy het vir ons ’n huis van veiligheid gereël. Hy vertel my daar word in hoge kringe oor die EMKO debakel bespiegel. Klink my die grootkoppe by EMKO self weet nie wat aangaan nie. Daar is die kamp wat glo Konrad is skuldig en dan is daar die klomp wat glo hy is geframe. Klink my ook daardie danige fluitjieblaser het op ‘n baie gerieflike tyd die fokus op Konrad laat val.”
Op Emily se lys van oplossings vir die huidige krisis lig sy Liesl in dat haar produksiesekretaresse alle reëlings vir die kunsuitstalling sal oorneem.
“Jy hoef net daar op te daag. En jy gaan stunning lyk, hoor? Met al die publisiteit oor Konrad en EMKO gaan meer as net kunskenners na die uitstalling kom. Ek het Minet klaar gewaarsku dat daar streng sekuriteit by die uitstalling moet wees. Justin en sy manne sal ook kom want hy glo dat wie ookal almal by die besigheid betrokke is, dalk nie die versoeking sal kan weerstaan om by die uitstalling op te daag nie.”
Emily se woorde zoem en suis om Liesl se ore. Die klank raak blikkerig en al hoe verder.
“Liesl! Liesl!”
Sy voel hoe Emily haar liggies op die wange klap.
“Heng Liesbet! Gee my ’n break! Die ding raak selfs vir my nou te dramaties. Jy gaan nie nou op my staan en uitpaas nie. Dit bring my by my volgende punt. Jy gaan dadelik dokter toe vir ’n enegriedrup en ‘n krat vol happy pille. Gehoor? Anders gaan jy nie die uitsalling oorleef nie … en beslis ook nie sterk genoeg wees om oor ’n week Dubai toe te vlieg nie.”
Dr. Clive Landman het deur die jare by meer as een geleentheid Liesl se trane afgevee. Die gryskop man het haar deur kindersiektes en Konrad se ontrouheid bygestaan.
“O aarde, die keer is daar groot moeilikheid Lizelletjie,” troos hy en asof hy die geheime kodewoord ken, trek die simpatie al Liesl se sluise oop. Sy krul haar op op die ondersoektafel en huil asof die trane nooit weer gaan opdroog nie. Sy voel ’n prik in haar arm en ‘n warm kombers word oor haar gevou.
“Nou,meisiekind, gaan ek jou twee dae in ’n kliniek inboek sodat ons jou vol doepa kan pomp. Daarna gaan jy hierdie voorskrif getrou volg sodat ons jou deur die gemors kan kry.”
Die kalmeermiddel begin werk en Liesl luister na die dokter asof hy van iemand anders praat. Haar kop voel dof en dit voel of sy op ’n wolk sweef en afkyk na die vrou wat in die fetusposisie op die dokter se ondersoektafel lê.
Wie is dardie vrou? wonder sy.