Stilbaai blues
Liesl staan ‘n ruk na die slapende Konrad en kyk. Die seer is skielik terug. Die verraad. In een aand het hy als vernietig wat sy op haar pelgrimstog bereik het. Back to square one: Liesl die slagoffer.
Sy voel skaars die ysigheid van die swembadwater teen haar kaal lyf. Drywend op haar rug bekyk sy die sterre. As kind kon sy warm nagte op haar oupa se grasperk in die Karoo lê en wegraak in die sterre. Sy het ure aaneen haar eie prentjies in die melkweg raakgesien. Daar was ‘n vrou met ‘n lang sleep agter haar trourok. ‘n Sleep vol skitterende sterre. Soos haar sleep eendag sou wees.
Sy wonder hoe lank Konrad haar staan en dophou het. Skielik is sy skaam om voor hom kaal te wees.
“Gee my japon aan,” verbreek sy die nagstilte.
Hy volg haar die huis in. Soos van ouds langs die kombuistafel sit hy terwyl sy koffie maak. Die warm koppie tussen haar hande kan nie die koue van haar lyf en hart verdryf nie. ‘n Seer koue.
Hulle drink die koffie in stilte.
“Sal jy my huis toe vat?”
Sy kan voel hoe die woorde “huis toe” nuwe stukke uit haar hart ruk. “Huis toe … na Isa toe.”
Die sweetpak se hitte is die enigste koestering in die stilte in die kar. Sy weet presies hoe om te ry. Haar kar ken die pad wat sy dikwels in trane en ongeloof gery het. Net om elke keer die seer te ervaar as sy kar voor haar huis staan.
“Dankie…”
Sy het sit en kyk hoe hy uitklim en op die sypaadjie oor sy selfoon staan en praat. Paaiend. Smekend … Pateties. Watter houvas het die vrou op hom?
Uiteindelik gaan die elektriese hek stadig oop. Sy sien Isa in die stoeplig. Sy hardloop Konrad tegemoet en spring in sy arms.
By die huis haal Liesl ‘n nuwe skilderdoek uit. Sy het nie die skildery beplan nie.
Dory Previn hou haar geselskap … en Maks.
would you care to stay till sunrise
it’s completely your decision
it’s just that going home is such a ride
going home is such a ride
going home is such a ride
going home is such a low and lonely ride
Maks maak klein kreungeluidjies en hou haar aandagtig dop. Sou die hond ton in haar hart kan sien?
Die vrou op die doek begin bekend lyk, maar Liesel is nie seker waar sy haar al ontmoet het nie. Net die vrou se blou oë breek die swart en grys somberheid van die doek.
Sonop neem sy Maks se leiband. Hy is nie sy lewendige self nie en stap rustig saam met haar. Straat op en straat af. Hulle sien die straatligte verdoof en hoe Sondagkoerante afgelewer word. Sy stap tot uitputting oorneem.
Na die middaguur maak die gelui van haar selfoon haar wakker.
“Mamma?” Sy het vergeet om Erna die oggend te bel.
“Ek het aan die slaap geraak.”
“Op ‘n Sondagoggend? Is Ma siek?”
Sy vertel van die skildery wat haar in die nag besig gehou het, maar sê niks van Konrad se besoek nie.
“Het Mamma al iets geëet?”
Dis asof Erna na die egskeiding voel sy is die ma en Liesl die kind.
Liesl babbel voort oor die uitstalling en die lesings wat haar oud prof gevra het sy moet kom gee. Een van die kunsdosente moet aan ‘n groot uistalling werk en sy sal ses maande in sy plek moet klas gee.
Prof. Beekman was nog altyd ‘n pa-figuur in haar lewe. Dis hy wat haar omgepraat het om haar meestersgraad te voltooi. Verbasend het dit Konrad se goedkeuring weggedra. Maar van ‘n doktersgraad was daar geen sprake nie.
“Hy is seker bang jy raak slimmer as hy,” was Emily se verduideliking.
Erna wil nie ophou torring nie.
“Daar is nie vandag sonskyn in Mamma se stem nie.”
Liesl probeer haar aandag aflei met stories oor Maks wat haar sonbril opgevreet het, Maks wat die Creepy uit die swembad gehaal en opgevreet het. … Wat sou sy doen sonder Maks?
“Hoe gaan dit met Pappa?”
Die vraag neem onverwags die wind uit haar seile.
“Hoekom?” Sy besef sy klink verdedigend.
“Ek hoor niks van hom nie.” Haar kind se woorde maak haar woedend. Konrad kan darem sy liefdeslewe onderbreek om sy kind te bel.
“Hy is besig om die Stilbaai huis te verkoop.”
Sy praat sonder om te dink. Sy moes geweet het dit gaan Erna ontstel. Die kinders het mooi herinneringe van Stilbaai. Lang aande met Monopoly om die kombuistafel. Sonbrandlyfies. Vroegoggend se stap op die strand.
Net hulle vier …
“Mamma sal by hom hoor of ek Stilbaai by hom kan oorneem. Ek sal hom ruil vir die Wildtuin tyddeel en die aandeel in Majuba.”
Daar is hartseer in haar kind se stem.
“Los maar Mamma, Stilbaai is verby.”
Hoe kon Konrad dit aan die kinders doen? Om haar hart te breek is en ding, maar om haar kinders seer te maak?
Sy besef sy moet haar emosies beheer en nie begin huil nie. Haar kind is alleen in Londen en sy het genoeg seergekry. Sy gun haar die avontuur.
“Moet ek nie terugkom nie? Mamma is alleen.”
Sy begin wal gooi.
“Nooit! Wil jy nou al my pret kom bederf? Ek en tannie Emily hou die een paartie na die ander.” Gelukkig kon sy Erna vertel van Emily se nuwe projek.
“Sy wil ‘n program oor ‘n teen renosterstropingsveldog in Mpumalanga gaan maak en wil hê ek moet saam gaan as haar assistent. Ons sal terug wees voor ek by die universiteit moet inval. Skies Bokkie, maar Mamma is nou te besig vir jou om huis toe te kom.”
Dis lekker om haar kind te hoor lag.
“Mamma kan darem vreeslike jakkalsdraaie om mens praat.”
Sy sal haar kind liefs nie sê dat sy wat Liesl is 25 jaar by ‘n meester geleer het om mooi praatjies te maak nie.
“Ek is lief vir Mamma, gaan slaap asseblief nou weer.”
Sy het nie gedink sy het nog soveel huil in haar nie. Sy moes van uitputting aan die slaap geraak het want teen vyfuur die middag het die foon haar weer wakker gemaak.
“Wat maak Ma?” Ludwig is nie ‘n kind van veel woorde nie en hy wil dadelik tot die punt kom.
“Pa het gebel en gevra ek moet Ma bel. Wat gaan aan?”
Woede oorval haar. Tipies Konrad. Hy voel seker skuldig en nou skuif hy die verantwoordelikheid op die kind af.
“Jong, Mamma het deur die nag gejol en nou slaap ek my roes af.”
Ludwig skater.
“Join the klub Ma!”
Sy dik dinge bietjie aan en vertel hoe sy en Emily by die nuwe boomklub by Emmarentia dam se botaniese tuine aangesluit het en die vreeslike socials saam te die tree huggers.
“Wat de hel doen mens by ‘n boomklub, Ma? Klim julle boom?”
Haar kind lig haar bui.
“Nee man, ons rook hulle!”
“Met ma en tannie Emily bymekaar sal niks my verbaas nie.”
Sy mis haar kinders. Die Sondagaand blues gaan haar vanaand vang as sy nie plan maak nie. Sy gaan bad en bel Emily.
“Kom ons gaan kyk ‘n kunsfliek.”
Emily laat haar nie twee keer nooi nie.
Liesl was vas van plan om nie die aand oor Konrad te praat nie.
Na die fliek draf hulle ‘n bottel wyn kaf… en toe sy haar weer kan kry, rol sy en Emily op die mat rond soos hulle lag oor die petalje tussen haar en Konrad voor die lapa.
Sy lag so dat sy begin huil. Emily haal een van haar kruiepilletjies uit haar handsak en laat Liesl sluk.
“Dit sal jou lekker laat slaap. Jy gee se seker nie om as ek in Erna se kamer uitpaas nie? Ek dink ek het te veel wyn gedrink om terug te ry.”
Dierbare Emily.