Die boere tango
Die veeartse en wildbewaarders het tydens die projek al die renosters in ’n omtrek van 50 km se horings met gif behandel.
Liesl geniet dit om die aksie van ’n afstand dop te hou. Die deernis waarmee die yslike diere behandel word, tref haar. Sy onthou hoe Harry langs Maks in sy spreekkamer gewaak het. Sy sien dieselfde deernis deur haar lens terwyl sy help foto’s neem.
Die deelnemers aan die projek het ’n groot passie wat hulle dryf. Harde, stowwerige werk wat met baie geduld en respek vir die diere gedoen moet word.
Etenstye kom soos ’n genade as die son dreig om elke druppel vog uit die Mpumalanga-veld te brand.
“Goeie nuus van die opstal af, manne … en vroue. ’n Slagter van die dorp het laat weet hy braai vanaand vir ons twee skapies op die spit as blyk van die gemeenskap se waardering vir ons harde werk.”
Harry sit-lê in sy gunsteling posisie op sy stoel en lig sy koffiebeker as saluut vir die gebaar.
“Sappige vleisie op die bord, yskoue bier …”
“… en ’n warm, boerenooi!” spot een van die veeartse, wat seker maak Emily hoor die chauvinistiese aanmerking.
Sy laat ook nie op haar wag nie. “Ek hoop die boerenooi het ’n broer want ek sal hom wil wys hoe ’n stadsmeisie kan …”
’n Luide gejil en gelag onderbreek haar en die gesprek stuur gou af op ’n wedywering tussen die stadsjapies en stoere plattelanders oor wie die lekkerste kan … e …. kuier.
“Maar dan is dit tyd dat ek julle wys hoe ons dinge hier doen,” bulder Herman.
“Vanaand hou ek ’n boeredans in die skuur! Ons plasies gaan jule wys hoe om te dans…”
“… en te vry!” gil die guitige jong veearts weer.
“Boeta, moenie dat ek jou vanaand agter die skuur vasvat nie,” dreig Emily.
’n Paar oproepe later het Harry ’n properse skuurdans gereël.
“Om te langarm mense. Te langarm, niks erger nie. Fokus mense! Hier is dames in die geselskap!” knipoog Harry in Emily se rigting.
“Ag Harry, wie is jou dame, moenie so boring wees nie, reël eerder vir my ’n los gelukkie!”
Laatmiddag vra Liesl Heila wat mens na ’n skuurdans dra.
“Kom ek gaan wys julle wat my ma en tantes gedra het. Ek het ’n hele versameling van hulle vintage dansrokke. Op hierdie plaas is ge-ball-room en als hoor!”
Emily, Erna en Liesl pas die swierige rokke uit die jare twintig tot sestig aan.
“Dis soos ’n rokmuseum! Ek wil almal dra!” Erna paradeer soos ’n loopplankmodel op en af in die kamer.
“Kom ons trek elkeen vanaand een aan, “ stel Heila voor. “Roep daai mooi jong meisies uit die filmspan dat hulle kom aanpas!”
Emily snork verontwardig as sy die een rok na die ander aanpas.
“Nee man, hier is niks vir ’n kort ‘gesonde’ meisie nie. Waar is my warderobe-assistent as ek ’n wonderwerk nodig het?” Soos dit ’n ervare regisseur in die TV-bedryf betaam, kry Emily dit tog reg om haarself in ’n rok te wurg.
“Ek het genoeg ervaring. Aktrises jok mos altyd vir stiliste oor hul rokgroottes en dan moet ons plan maak om hulle lyfies in die klein rokkies te kry,” lag sy terwyl sy met twee haakspelde die knap sestiger wye romp ’n rokgrootte probeer groter maak.
Erna stop Liesl ’n rooi kleefrok uit die twintigs in die hand.
“Mamma lyk altyd so mooi in rooi.”
Liesl vrees eers dat die rok haar nie gaan pas nie. In haar kop is sy nog die effe mollige vrou wat die eerste paar onfikse treetjies van die Camino gegee het.
“Wow! Mamma lyk stunning! Die kort blonde krulle, lekker bruin lenige lyf! Mamma is ’n babe!”
Liesl probeer keer dat haar kind foto’s neem om op Instagram en Facebook te plaas. Haar selfbeeld het’n stewige knou gekry toe Konrad ’n bespotting van haar gemaak het in Erna se nou jeans.
Die onverwagse skuurdans sorg vir ’n gesonde joligheid vir die span wat tam is na ’n paar harde dae in die veld.
Liesl kry nie kans om een dans uit te sit nie. Met elke dans is daar ’n ander galante man wat haar nooi om saam met hom ’n draai op die dansbaan te maak.
“Merrie, ek sien jy het darem nie Halleluja-voete nie! Het jy op universiteit gesokkie of geleer?”
“Gesokkie, Harry, elke kans wat ek kon kry. Ek was mal daaroor, maar Konrad was nooit ’n goeie danser nie en altyd effe suur. Maar ek het my nie laat afskrik nie. Toe ons een keer na Argentinië gereis het, het ek hom gedwing om saam met my tango-lesse te neem. O, so ’n smeulende instrukteur! Konrad het later dikbek eenkant gesit en kyk hoe ek en die man die een tango na die ander dans.”
“Tango! Regtig? Meisiekind, dis my gunsteling … wel na my ma my gedwing het, en na daardie wulpse wiskunde juffrou hier op die plaas by my ma ballroom-klasse kom loop het, het dit natuurlik ’n gunsteling geword. Ai, waar is sy nou? Juffrou Maryke Benade. In matriek was sy die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Ek het behoorlik op my wiskindeboeke gedrool.”
Harry reël terstond dat ’n paar tango’s gespeel word en hy lig die skuurdansers in dat hy en Liesl die tango aan hulle gaan demonstreer en dat almal verplig is om ook te probeer.
Liesl verstom haar aan die lang groot man se ratse voete. Sy voel veerlig in sy arms. Die ritme neem haar jare terug na die jong Argentyn met die soel vel wat haar in Buenos Aires oor die vloer laat sweef het van opwinding. Sy onthou Konrad grommend eenkant op ’n stoel.
Harry se groot, effe skurwe hand vou gemaklik om die kaalheid van haar rug en hy stuur haar liggies oor die skuur se vloer terwyl hulle waarderende gehoor hande klap.
“Ole!” “Encore!” “Vrystaat!” kom verskeie onvanpaste en guitige roepe uit die gehoor. ’n Paar paartjies probeer die passies laggend meedoen.
“Dr Harry, jou talente kry net nie einde nie,” sug Liesl gelate in die arms van die groot man met die kakiehemp en denim kortbroek.
“As ’n man so lekker dans, gee ek nie om dat sy bene harig is en sy kouse te kort vir sy vellies is nie.”
“En, as ek geweet het jy gaan vanaand so stunning lyk, het ek weer my kerkklere vir jou aangetrek, Merrieperd.”
“Dis Heila-hulle se stuitigheid,” skerm sy selfbewus.
“Dit was ’n goeie idee, jy … julle lyk pragtig.”