CHOPSTICKS …
“Meisie! Daar gaat ons!”
Liesl wens sy kon Emily se geesdrif deel. Sy is deels bly om ontslaan te word en ook bang. Nou moet sy die realiteit in die oë kyk. Die uitstalling was eers iets waarna sy uitgesien het, nou verrys dit soos ’n berg voor haar. Skindernuus versprei vining. Sy kan net dink watter sappighede in die kunskringe rondhang “oor Liesl wat ’n oordosis pille gedrink het”. Daar behoort baie nuuskieriges by die uitstalling te wees.
“Is jy reg vir Roxy se verrassing? Sjym, sy is ’n ingel des ligs. Sy voel ek en jy het ’n massering nodig om van al die spanning ontslae te raak. Sy het vir ons koepons vir ’n gratis sessie by ’n nuwe salon gekry. My lyf is vol spanningsknoppe met die twee programme so naby mekaar. En jy, hulle moet sommer al jou geite uit jou uit masseer!”
Hulle vleg deur die verkeer na ’n ouer deel van die stad.
“Is dit nie cool dat die ou dele nou weer lewe kry nie? Dis nogal dapper om ’n nuwe salon hier oop te maak, maar hei, ek steun entrepreneurs en hier is ons!”
’n Veelkleurige bord verwelkom hulle: Happy Panda Salon.
In die nou straatjie is ’n paar swierige karre geparkeer.
“Die buurt is nie te lekker nie, maar ten minste gaan hulle nie my kar eerste steel nie. Hier is ’n luukse verskeidenheid om van te kies. Hoop die bouwerk is al klaar want die gebou lyk nog maar rof.”
’n Taiwanese meisie genaamd Su-Leigh verwelkom hulle met helder pienk drankies en ’n oorvriendelike laggie. Hulle is die enigste vroue in die wagkamer met die purper rusbanke en pers fluweelgordyne.
“Korporatiewe groep?” fluister Emily.
Die soet reuk van masseerolie hang in die lug. ’n Man met ’n wit japon en tevrede glimlag kom vra of hy nog ’n koepon kan kry. Die ruimhartige Su-Leigh gee hom sommer twee.
“You jus bling costome, hei?”
“Oh, I will definitely bring costumers!” belowe die man en mens kan sy snorre sien tril van opgewondenheid.
Na die tweede pienk drankie kry Emily en Liesl elk ’n wit japon en pantoffels. Die masseerkamertjies is nou en ingeryg aan weerskante van die gang. Ruie plastiekplante en strelende Oosterse musiek skep die illusie dat die Happy Panda dalk inderdaad iewers deur die takke loer.
Liesl het skaars haar japon toegevou of ’n fris Taiwanese jong man beduie vriendelik vir haar om haar op die masseertafel tuis te maak.
Sy is eers skrikkerig omdat dit nie ’n vrou is nie, maar Won se towervingers dryf alle weerstand weg. Sagte warm olie word al langs haar ruggraat gedrup en sy behendige vingers bevoel elke spiertjie op haar rug. Teen die tyd wat hy die agterkante van haar bene takel, gee sy nie meer om as sy hande te hoog op en oor haar agterstewe beweeg nie. Sy voel ook vere vir enige vergete selluliet wat nog aan haar maer bene mag klou.
In die kamertjies langsaan hoor sy kreune en steune soos die masseerders elke stukkie spanning uit die korporatiewe manne vrywe.
Won help Liesl op haar rug draai. In dié stadium weet sy nie meer waar die handdoekie is nie. Hy begin by haar voete en beweeg op teen haar bene.
“You enjoy?”
Sy knik woordeloos sy “enjoy”en raak byna aan die slaap.
Tot skok tot haar deurdring as dit voel of Won op pad is om haar G-kol te soek!
“No! No!”
Sy spring van die tafel af en gryp haar japon. In die aantrekkamer kan sy nie vinnig genoeg aantrek nie.
Buite die voordeur staan Emily met piering groot oë. Steeds in haar japon.
“Watse plek is dit die? Weet jy! Ek gaan Roxy verwurg. Die is geen salon nie! Dis ’n plesierplekkie vir mans!”
Hulle skree soos hulle lag oor die misverstand en bondel hulself in die kar.
“Ek dog nogal Su-Leigh kyk ons effe skeef aan!” Emily sukkel skoon om die stuurwiel vas te hou so lag sy.
“Korporatiewe groep! Emily! Nou weet ek hoekom hulle so ongemaklik gelyk het toe ons instap! Ek het gedink hulle vroue het hulle dalk gedwing om te kom! Waar kom Roxy aan die koepons?”
Emily haal haar sel uit en bel die vrygewige gewer van salonkoeponne.
“Rox! Wat op aarde het jy gedink! Weet jy by watse soort plek is die wit blitse pas uit ons gemasseer? ’n Plesierplek!!!”
Liesl se maag pyn skoon soos sy lag. Roxy het die koepons gekry toe sy ’n katgesiggie op haar pols laat tatoe het. Sy dink dis die grap van die jaar dat Emily en Liesl elke byna “’n los gelukkie gekry het.”
“Nou, Liesbet, het ek ’n moeder van ’n stuk sjokoladekoek en ’n cappuccino nodig!”
Na die tweede koffie op Olivia’s se stoep voel Liesl hoe die lewe saam met die sonskyn in haar ledemate terugkruip.
Haar foon lui. Dis Erna.
“My kind, jy sal nooit glo waar ek en tannie Emily pas was nie!”
Sy kan nie glo hoeveel sy die afgelope uur gelag het nie. Sy moet Roxy eintlik bedank.
“Erna kom volgende week! Sy gaan my met die uitstalling help en Maks oppas as ons weggaan vir die renosterprojek. Konrad het vir haar ’n vliegkaartjie gekoop …”
Emily snork verontwaardig.
“Ek wil niks goeds van die liewe Konrad hoor nie. Ek voel in hierdie stadium vir hom net soveel soos vir ’n renosterstroper.”
Liesl weet haar vriendin het Konrad al die jare net ter wille van haar verduur. Sy wens sy het soos Emily die kuns geken om deur mense te sien. Maar liefde laat hom nie voorskryf nie.
“Kan ons Maks nou gaan haal? Ek verlang my dood na hom. Daarna wil ek lank en ononderbroke in my eie bed gaan slaap.”
’n Verskeidenheid basterbrakke wag hulle in Harry se oprit in.
“Hy kan ’n nuwe tak van die DBV by sy huis begin. Dis als opteldiere.”
Die honde se baas is kort op hulle hakke. Aan sy hele houding weet hulle klaar Roxy het hom oor die rampsoedige masseersessie ingelig.
“O, julle twee girls lyk ontlaai van alle spanning! Was dit die moeite werd?”
Hulle vertel hom met oorgawe van elke minuut van die avontuur.
“Ou Maks is agter toegemaak, kom ons gaan groet hom.”
Maks weet nie hoe om sy wriemelende lyf te beheer van opgewondenheid nie. Dit neem ’n ruk voor hy rustig by haar voete op Harry se stoep gaan lê.
Hulle gesels tot die son oor die stad begin sak.
“Ek moet by die huis kom! Ek was nog nie eens by die huis vandat ek ontslaan is nie!”
Herman gaan staan in sy volle lengte voor haar.
“O nee, jy gaan nie. Ek het jou hond opgepas en nou gaan jy en Emily vir my kosmaak! Ek sal die musiek verskaf. Daar is slaai en steaks in die yskas.”
Die groot man gaan sit voor die vleuelklavier en sy verkyk haar hoe sy hande oor die klawers speel. Die lang bene wat by die kortbroek uitsteek, is bruingebrand, die kaal voete op die pedale is effens vol modder en gras.
Hy kyk op en Liesl voel verleë oor hy opgemerk het sy staar na hom.
“Kan jy speel?” vra hy skierlik.
“Nee jong, net chopsticks!”
“Nou maar kom sit langs my, dan speel ons saam!”
Na ’n paar minute van ongemak sit sy styf teen haar hond se veearts op die klavierstoel en speel tot die lagtrane oor haar wange loop.