My pel
Salige, diep slaap. Ontsnapping. Liesl weet in die tye wat sy nugter is dat dit net die werklikheid uitstel. As sy slaap, hoef sy nie te dink nie. Ook nie te onthou nie. Onthou is in die laaste tyd nie goed vir haar nie.
Sy is bang om huis toe te gaan. Veral omdat sy steeds nie weet presies wat daardie nag van die pille gebeur het nie. Een ding weet sy, sy wou nie selfmoord pleeg nie.
Die mediese personeel moes haar laat slaap het, want dis al besoektyd as sy wakker word. Deur die skrefies van haar slaperige oë sien sy ’n man langs die bed sit.
Dan het Konrad teruggekom?
’n Mengsel van verrassing en teleurstelling ruk haar behoorlik wakker.
“Herman, hoe lank is jy al hier?”
Die groot man se skewe glimlag is verleë.
“Het jy geweet jy snork as jy slaap?”
Hoekom het hierdie man die manier om haar verkeerd op te vryf?
“Ek is op swaar medikasie,” verdedig sy haarself.
“Jy snork ook van brandewyn.”
Hy lag lekker en sit ’n plak Lindt-sjokolade op haar skoot.
“Ek het gehoor jy is effe olik.”
Liesl vee selfbewus oor die super kort kapsel wat oorgebly het nadat die haarkapper moes red wat te redde was.
“Dit lyk nogal cute,” merk Herman op en hou sy kop skeef asof hy ’n beoordelaar by ’n hondeskou is.
“Emily en Roxy praat te veel…” begin sy verduidelik. “Dit was ’n ongeluk…”
“Jy hoef niks aan my te verduidelik nie. Ek is net jou hond se veearts.”
Liesl voel effe teleurgesteld oor die opmerking. Dan maan haar redelike brein haar: Wat het jy verwag? Weet jy wat in jou kop aangaan? Jy het dan pas gehoop dis Konrad wat langs jou bed sit?
Herman haal sy tablet uit die sakkie en skakel dit aan.
“Ek het vir jou ’n boodskap van iemand wat baie na jou verlang.”
Maks se dierbare gesig verskyn op die skerm. Die video wys hoe hy saam met ’n jong veearts in ’n swembad oefeninge doen. Na ’n ruk sit hy stil en aandagtig en luister na Herman se stem en knip sy oë asof hy elke woord verstaan.
“Maks, sê hallo vir Liesl.” Maks knip-knip sy oë.
“Wys vir haar jou nuutste triek. Gee jou poot!” ’n Groot poot verkyn op die skerm. “Slim hond! Sit nou mooi stil met die beskuitjie op jou neus …”
Liesl kan nie anders as om haar bui te verander nie. Herman is eintlik dierbaar.
“Wanneer kan Maks huis toe kom?”
Herman maak die sjokolade oop en breek ’n groot stuk af en kou lustig. Die man verstom Liesl elke keer oor sy oorgemaklike optrede.
“Ek hoor jy word môre ontslaan. Emily neem jou huis toe? Op pad kan julle ’n draai by my maak. Ek sal die ou bielie mis. Ek en hy het lekker gekuier. Hy het baie goed herstel, jy sal sien.”
Hy wys haar foto’s van die renosters op sy plaas en ’n video van die area op die plaas waar die renosterhorings behandel gaan word om die diere teen stropers te beskerm. Op een deel van die video verskyn ’n vrou op ’n perd. Sy sit fier en regop. Pragtige lyf. Liesl wonder of dit die geheimsinnige vrou in Herman se lewe is, maar vra niks.
“As julle kom, slaap ons in die opstal en ry elke dag uit na die renosters. Die plaas is net die regte plek vir jou om te gaan rus. Jy sal sien dis die beste medisyne. As ek nie gereeld soontoe gaan nie, sal ek oppak.”
Ja, dink Liesl, ek dink naas die rustigheid is daar ook ’n ander trekpleister.
“Roxy sê sy beplan ’n verrassing vir jou en Emily voor julle Maks môre by my kom haal. Jy moet lig loop vir Rox se relings, die meisie bedoel dinge goed, maar daardie kop is baie deurmekaar.”
Hy breek nog ’n stuk sjokolade af en hou dit na haar.
“Ek wou nie selfmoord pleeg nie …”
Hy sit sy vinger op haar lippe.
“Ek weet. Gee kans, jy sal dinge nog uitpluis. En as jy dit nie kan verstaan nie, los dit. Dis nou verby. Fokus op ou Maks … en jou pelle. Emily kom vanaand terug.”
Liesl voel skielik hartseer.
“Is jy ook my pel, Dr Harry?”
Hy neem die Dr Harry-beker van die bedkassie af en lig dit asof hy ’n heildronk instel.
“Dis wat my beker sê, is dit nie?”
Sy kan nie help om vir die soms vreemde man te lag nie. Hoe anders is hy nie as Konrad nie! Hoekom kon sy nie toe sy jonk was vir ’n rustige mens soos Herman geval het nie. Maar haar redelike brein herinner haar koggelend: Maar Konrad was nog altyd vir jou onweerstaanbaar. Gevaarlik, maar … Sy praat die stem dood.
“Dankie Harry, jy is eintlik oulik, weet jy?”
Hy lyk skielik skaam en lag dat sy groot lyf skud.
“En jy Liesl, jy is interessant! Die vet weet, jou lewe is nie sonder aksie nie.”
“Jy sal nie glo hoe vervelig my lewe voorheen was nie! Vaal en vervelig. Maar nou mis ek dit. Hemel, wat kan nog met my gebeur?”
Die suster se kop loer nuuskierig in hoekom die twee mense so lekker lag. Sy knipoog vir Liesl.
“En die handsome man, wie is hy?”
“O, dis Harry, my veearts!”
“Haar hond se veearts, dis wat sy bedoel. Ek is Harry, een van Liesl se vriende,” stel hy homself voor.
Die woorde laat Liesl se hart warm voel. Vriende, dis wat sy nodig het. Dit maak nie saak of daar ’n vrou op die plaas vir Harry wag nie. Hy is haar vriend en hy laat haar veilig voel. Hy sit nog lank na besoektyd en voer ’n monoloog oor die renosterprojek. As hy van die plaas praat, raak sy oë mistig. Dis sy familieplaas. Vier geslagte lank beywer hulle hulle om die wild ongerep te laat rondloop.
“Kan jy perd dry? Ek sal jou die watergat by die kloof gaan wys waar ek en my sussie ure om geswem en gespeel het.”
Sy is skoon jammer toe hy uiteindelik aankondig dis tyd om te ry.
“Vroumens, gedra vir jou. Geen aksie vir die res van die dag nie, hoor? Net Oros in die koffiebeker!”
Hy soen haar op haar voorkop. Sy ruik die veld in sy klere. Sy hare is windverwaaid, sy hemp het twee onpas-knope wat hy waarskynlik self aangewerk het. Dae se sonbrand dop op sy neus af.
Dr Harry, die diere se pel.
En hare.