kategorieë: Lees

Botox, Barbies en Bietse: Episode 12

Om weg te vlieg

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Isa maak ’n entrance. Haar haarverlengings paraat, soos ’n leeuwyfie wat haar prooi bekruip, stap sy tot by Liesl se bed. Asof in stadige aksie sit Liesl verstar op haar hospitaalbed en kyk hoe die vrou, wat haar huwelik vernietig het, die veilige kokon van haar hospitaalbed betree. Die afgelope dae was dit die koesterende ruimte waarin sy weer haar tone in die yswater van die werklikheid gedruk het. Toets-toets het sy met die sielkundige en Konrad gesels oor wat die nag van die pille gebeur het. Sy is nog nie reg om dit met mense buite die kringetjie van vertroue te bespreek nie. Allermins nie Isa nie.
Wat maak Isal in elk geval hier? Sy van alle mense? Sy is deel van die kern van die probleem.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Isa se houding toon dadelik sy is nie hier vir ’n simpatiebesoek nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“So, jy het toe in jou doel geslaag?”

Liesl kyk haar verstom aan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek bedoel jy het al die aandag gekry waarna jy so smag. Jy voel seker trots dat Konrad en die hele wêreld nou weer rondom jou dans. Kry jy nooit genoeg nie?”

Liesl skuif haarself regop. Dis nie maklik om jouself op jou rug te verdedig nie.

“Wat kom maak jy eintlik hier, Isa?”

Isa staan nog ’n tree nader. Haar stem is sag en dreigend.

“Ek het net vir jou kom sê dis tyd dat jy leer om te laat gaan. Dis jou eie skuld dat jy Konrad verloor het. Jy is die een wat hom afgeskeep het en net aan die kinders aandag gegee het. En nou skrik jy wakker.”

Liesl kan in haar verbeeldingsoog sien hoe Konrad sy lot by Isa bekla het. Die arme afgeskeepte, hardwerkende man wie se vrou nie genoeg krag gehad het om ná haar besige dag voor ’n klaskamer, en ’n middag verdeel tussen netbalafrigting, kunsklasse, haar eie kinders se buitemuurse bedrywighede, kruindeniersware koop, huis netjies maak en kook … ook nog haar man se ego te streel nie.

Arme Konrad wie se vrou nie kon verstaan dat hy net op sy eie loopbaan en eie belange kan konsentreer nie. En dat hy soms afleiding buite die huwelik nodig het.

“Die afgelope weke het jy telkens daarin geslaag om Konrad op slinkse maniere na jou huis te lok. Kry dit nou in jou kop. Hy kry jou net jammer. Hierdie jongste poging om aandag te kry, is pateties. Jy is selfsugtig!”

Liesl luister verstom na die aanval.

“Isa, ek wil hê jy moet loop. Ek het nie nou krag vir jou nie.”

Isa trek die kaartjie uit die reuse ruiker van Konrad en lees dit hardop.

“Lies, ek is so jammer wat ek aan jou gedoen het. Ek sal jou altyd liefhê, Konrad.”

Selfs deur die paar lae grimering kan Liesl sien hoe bleek Isa word. Met bewende hande skeur sy die kaartjie op. Daar kom die aardigste rou snikgeluid uit haar keel terwyl sy die ruiker oplig en teen die grond gooi.

’n Verpleegster kom aangehardloop. Sy skrik vir die histeriese vrou en gaan soek hulp.

Isa bel snikkend op haar selfoon. Sy gil histeries en gooi die foon teen die muur stukkend. Die hospitaal se veiligheidspersoneel kom by die deur ingestorm en neem Isa skoppend en skreeuend uit.

Liesl sit soos ’n zombie na die toneeltjie en kyk. Waarskynlik danksy die hoë dosis kalmeerpille wat sy in het. Sy hou haar arm gewillig toe die suster met die spuitnaald nader kom. Gelukkig wis n vlaag sleepnewels die vreemde gebeure uit.

As sy wakker word, sit Konrad weer langs haar bed. Hy lyk vreemd windverwaaid. Sy is nie gewoond om die pynlik netjiese, altyd korrekte man so te sien nie.

“Lies?”

Sy waai met haar hande asof sy hom wil uitjaag. Haar tong voel dik.

“Moenie my uitjaag nie, ek moet met jou praat.”

Haar ongewillige tong vorm stadig die woorde.

“Loop asseblief, ek is so moeg.”

Konrad neem haar hand.

“Ek wil hê jy moet verstaan ek het nie ’n keuse nie. Ek het my bed gemaak en ek moet daarop slaap.”

Liesl se brein dui aan sy moet verstom wees oor sy woorde.

“Ek kan nie uit hierdie ding kom nie. Ek kan nie regmaak wat ek verbrou het nie. Nie die keer nie. Hierdie ding is groter as ek en jy, dis groot, baie groot. Als waarvoor ek gewerk het …”

Die verwarring spoel in al groter golwe oor Liesl. Sy het Konrad nog nooit so onsteld gesien nie.

“Waarvan praat jy? Dis mos nie die eerste keer wat jy …”

Konrad neem nou beide haar hande in syne en kyk ernstig na haar.

“Hierdie ding gaan my vernietig. Dit borrel soos die lawa van ’n vuurspuwende berg en as dit gaan uitbars, gaan dit my en ’n klomp mense by Emco saamneem.”

“Wat, Konrad? Wat gaan aan? Waarvan praat jy? Dis mos jy en Isa. Julle? …”

Konrad gaan sit en hou sy hande voor sy oë asof hy iets nie wil sien nie. Liesl ken die Konrad voor haar bed nie. Hy is dan altyd in beheer. Watter gemors het hy hom in begeef?

“Wat gaan aan? Wat het Isa met jou werk te doen? Konrad?”

Hy lyk skielik moeg.

“Lies, ek is diep in die moeilikheid …”

“Maar Isa?” sy wil weet watter rol Isa speel. Is daar dan meer aan die storie as Konrad se verhouding met Isa?

Konrad se hande bewe as hy sy sakdoek uithaal en die sweet van sy voorkop afvee.

“Dit het begin met … Jy weet … Ek en Isa … Ek weet nie of ek nou daaroor moet praat nie.”

Liesl vererg haar. Sy gaan nie toelaat dat Konrad homself uit hierdie situasie draai nie. Sy weet dit is nou haar kans om uit te vind wat aangaan. As Konrad eers die deur oor sy geheime toegemaak het, sal sy hom moeilik oortuig om te praat.

Die suster verskyn in die deur.

“Ek dink ons pasiënt is vandag deur genoeg trauma.” Sy kyk beskuldigend na Konrad. Iemand moes aan haar verduidelik het dat Isa die een mens is wat hulle nooit weer by Liesl moet toelaat nie.

“Ek dink dit sal beter wees as jy eers met die sielkundige praat voor jy Liesl weer besoek.”

Sy kom staan byna dreigend langs Konrad.

“Ek verstaan, Liesl, ek is jammer oor vanmiddag. Oor als … “

Konrad stap met geboë skouers by die deur uit.

Liesl lê lank by die venster en uitstaar. ’n Mossie kom sit op die vensterbank. Hy pik pik en kyk soms bang op na haar. Dan vlieg hy weg.

Sy wens sy kon saam met hom vlieg. Ver weg oor die stad. Ver weg.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose
Tags: verhale

Onlangse plasings

Stel die verbruiker se ervaring eerste! MSI se reis van 20 jaar om ’n ryk van skootrekenaars te bou

’n Nalatenskap wat daarop gebou is om hul verbruikers te verstaan  Oor die afgelope 20…

7 hours Gelede

Het jy wat dit vat vir ‘Die brug’ se tweede seisoen?

Iewers op ’n eiland met ’n toring staan nog ’n skatkis wat R1 miljoen kontant…

13 hours Gelede

Smelt-in-die-mond-koekies

Maak 30 koekies • 500 ml (2 k) koekmeel • 80 ml (1⁄3 k) kakao…

14 hours Gelede

Geurige tamatie-en-wors-gebak

Geurige tamatie-en-wors-gebak. Resep deur Vickie de Beer   Lees ook: Geurige worsies met sampioene en…

14 hours Gelede

Gebakte Carbonara

Vir hierdie heerlike gebakte Carbonara druk jy die blokkies mozzarella tussen die pennepasta in! Resep…

14 hours Gelede

Ribollita

Ribollita is ’n Toskaanse sopbredie. Dit word soos ’n sop gemaak maar is so lekker…

14 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.