Toe ek 26 jaar gelede swanger was met Tanya het my gewig binne 9 maande met 25 kg toegeneem. En glo my, alles was nie vrugwater-en-baba nie. Ek het my met oorgawe oorgegee aan lekker kos en aan die begin het ek my getroos dat dit alles te doen het met die cravings wat swanger vroue kry. Later het ek opgehou voorgee en erken: ek hou van lekker kos en ek word mos in elk geval rond. Binne vyf maande na Tanya se geboorte het ek minder geweeg as voor die tyd. In my kop bewoon Madelein ’n liggaam wat middelmatig is in terme van gewig en lengte. Kos was nog nooit my baas nie.
Alles verander ná die behandeling begin. Die rolle pak aan. Ek voel uiters ongemaklik in my lyf. Ek eet kleiner porsies kos en sny suiker en stysel uit my dieet – al wat ek my toelaat is die polistireenbakkie vol slap tjips wat Jaun elke Dinsdag tydens chemo vir my gaan koop. Hy is dierbaar genoeg om dit te verdrink in tamatiesous, net soos ek daarvan hou. Dit is my trooskos terwyl ek lees aan ’n Wilbur Smith-boek en die drip probeer ignoreer. Maar elke keer dat ek op die skaal klim, weeg ek meer. Skielik is daar ’n rol om my middel. My maag bult uit in ’n boep. My bo-arms lyk soos dié van ’n Sumo-stoeier.
Ek gee op en koop ‘vet klere’; kledingstukke wat ten doel het om my nuwe figuurfoute te verberg. Ten spyte van al my pogings weeg ek elke dag ná chemo ’n bietjie meer en die dag net voor chemo weeg ek wonderbaarlik ’n kilogram of so minder. Binne een dag, mense! Die onkoloog vertel my dat die hormoononderdrukkers wat ek ontvang die gewigstoename veroorsaak. Ek gaan vir die res van my lewe hormoononderdrukkers neem om te verseker dat die kanker nie terugkeer nie, herinner hy my. Verdomp.
Daar is in elk geval fout met die skaal, besluit ek. Die ding werk nie. Ek gaan koop ten duurste ’n beter skaal, maar dié vertel my ook ek is dik. En die gewigstoename en skielike gewigsverlies voor chemo verander nie. My vet klere laat my nie slank lyk nie. Ek lyk soos ’n ronde vrou wat haar figuurfoute probeer bedek.
“Ons almal tel gewig op,” troos ’n kollega en twee ander oud-kankerstryders my. “Aanvaar dit vir nou en werk daaraan wanneer die behandeling verby is.” Ek neem my voor om die ronde Madelein te probeer aanvaar. Ek sal nie meer in die reuse spieëls in my slaapkamer kyk nie. As ek maar oogklappe gehad het. Vriende en familie stuur vetgrappies omdat hulle weet ’n bietjie humor help altyd dat ek dinge in perspektief sien. “I’m not fat, I merely have a very visible bubble of awesomeness and bad-assery surrounding me.” En: “Warm goed sit uit, dit beteken ek is baie hot.”
Die humor help, soos gewoonlik. Wat is ’n paar ekstra kilogramme nou? Is ek regtig so ydel dat gewigstoename my gedagtes heeltemal oorneem, wat maak dat ek aan niks anders kan dink nie? Hier is ek – sterk op pad om gesond te word nadat ek ’n lewensbedreigende siekte opgedoen het – en ek bekommer my oor vetrolle? Ek moet my skaam. Sies, Madelein.
Dit is die verlies aan beheer wat my so pla, besef ek later. Daar is pruike vir ’n kaal kop. Daar is prosteses vir af borste. Daar is tattoes vir wenkbroue-wat-weg is. Deur die hele ervaring het ek daarin geslaag om soos ’n gesonde vrou te lyk. Ek kon vir kanker tong uitsteek en sê: pff … jy het tog seker nie gedink jy gaan my soos ’n kankerlyer laat lyk nie? Het jy nie geweet ek gaan myself soos ’n kankerstryder laat lyk nie? En nou sit ek met ’n ronde hormoononderdrukkerlyfie waaraan ek nie veel kan doen nie.
Ek grinnik vir kanker. Haai, JY! Kyk mooi, ek lyk soos ’n uiters gesonde, vol in die rondheid, blinkwang boerevrou wat haar tyd afwag voordat sy van hierdie laaste kankerbyvoegsel ontslae raak. Ek en jy sal weer oor ses maande ’n gesprek hê. En ek gaan vir jou lag.