My pad met Borskanker: Ek genees goed, maar bestraling wag nog – deel 2 versorg deur Salomé Delport. Hooffoto: iStock
Anita Nel* vertel verder oor hoe sy bestraling vir borskanker ervaar het. Lees hier die eerste deel van haar ervaring van borskanker – van haar eerste diagnose tot die lang pad om ‘n vertrouensverband met haar chirurg op te bou en haar uiteindelike dubbelmastektomie.
Ek genees goed maar moet gereed maak vir bestraling
Ek was vir ‘n maand ná die operasie met siekteverlof. Dit was gerusstellend dat soveel vriende, familie, kollegas, selfs volkome vreemdelinge, by my op hierdie reis aangesluit het en my gehelp het om alles bymekaar te hou.
Bure en vriende wat vinnig kom inloer het, kollegas wat pizzas en sjampanje gebring het en ‘n middag saam met my deurgebring het, WhatsApp-boodskappe wat my aangemoedig het, vriende wat etes afgelewer het en ‘n lang lys wonderlike dinge wat wonderlike mense gedoen het.
‘n Spesiale vriendin het in die hospitaal vir my die mooiste tuniek gebring, wat net perfek was om dreineringspype weg te steek. Sy het ook een oggend croissante vir ontbyt huis toe gebring. ‘n Ander een het vir my ‘n sak vol boeke gebring, en nog ander het my oorlaai met lieflike lyfrome, lekkernye, bederfgoed en verrassings. Ek het soveel blomme gekry!
Dit was so wonderlik om te weet dat ek nie alleen op hierdie reis was nie.
Ek het goeie momentum opgebou en het vinnig genees, maar was steeds bekommerd oor my regterarm (die “kankerkant”) waarvan ek slegs beperkte gebruik gehad het.
Bestraling sou binnekort begin, en daarvoor moes ek my arms wyd oopmaak, met my hande agter my kop om die area onder my regterarm bloot te stel vir behandeling. Maar ek kon nie my arm reguit maak nie, en ek kon ook nie my hand hoër as my kop lig nie, en enige beweging van my arm was pynlik.
Hoe fisio my arms laat reguit strek het vir bestraling … met twee snesies elke keer
Twee weke ná my operasie het ek ‘n afspraak met die fisioterapeut gehad om my arm te begin strek vir bestraling. Sy het dadelik opgemerk dat ek aan “koordvorming” of okselêre websindroom (OWS) ly, wat deur die webwerf Medicalnewstoday beskryf word as ‘n newe-effek van borskankeroperasies.
Dit kan ontwikkel ná die verwydering van die limfnodusse in die oksels. Die toestand behels die ontwikkeling van littekenweefsel onder die arm. OWS is pynlik en die bewegingsomvang van die aangetaste arm word beperk. Dit lyk soos ‘n band van dun stringe of garingdrade onder die vel in my oksel en aan die binnekant van my elmboog, as my arm oopgestrek was.
Ek was teleurgesteld toe ek hoor dat ek hierdie probleem ontwikkel het en dit sou moes oorkom voor bestraling as die volgende stap in my behandelingsregime sou kon begin. Niemand het my hierop voorberei nie.
Dit het my momentum laat verloor in my andersins betreklik gladde pad na herstel. Daar was geen maklike manier om OWS reg te kry nie, en ek het geweet dat ek die bewegingsomvang van my arm moes terugkry om toegang te kry tot die volgende deel van die proses, naamlik bestraling. Ek sou moes deurdruk.
Die baie ervare fisioterapeut het hierdie koorde op twee maniere behandel:
- Die eerste was om my arm fisiek so reguit moontlik oop te rek en haar duim in die uitgerekte koorde in my oksel te druk, en genoeg druk op die koorde uit te oefen om van hulle een vir een te breek – ek kon letterlik voel hoe hulle die lengte van my arm afskiet soos rekkies wat breek. Sy het altyd twee sneesdoekies vir my gegee voordat sy met die proses begin het. Ek kan nie eers begin verduidelik hoe pynlik dit was nie!
- Die tweede behandelingsmetode was strekoefeninge wat ek ‘n paar keer per dag moes doen om die oorblywende koorde te rek.
Ná meer as twee weke se harde werk met die fisioterapeut het ek die volle omvang van my arm herwin en kon ek my arms voldoende oopmaak vir bestraling.
Ek kon ook weer parkeerkaartjies deur my motorvenster by die parkeerterrein van die winkelsentrum bykom, wat ‘n groot verligting en ‘n groot mylpaal was!
Limfedeem – nog ʼn komplikasie ná mastektomie
Die fisioterapeut was ook ongelooflik kundig oor limfedeem. Sy het aan my verduidelik dat dit vir my ‘n lewenslange uitdaging sou bly, aangesien die belangrikste limfnodusse onder elke arm verwyder was.
Dit het beteken dat swelling in my arm natuurlik kon voorkom, en ook vanweë infeksie, insekbyte en sonbrand, en as die limf nie vinnig genoeg kon dreineer nie, sou ek met ‘n geswelde arm eindig. Op ‘n sekere punt word dit onomkeerbaar.
Maar ek kon dit baie suksesvol bestuur deur die simptome te verstaan en daarop te reageer en ‘n paar lewenstylveranderinge te maak om dit te voorkom. Dit sluit in soos om kompressiemoue te dra wanneer ek vlieg, my arms daagliks te bevogtig en elke dag sonskerm en insekweerder te dra, rubberhandskoene aan te trek as ek in die kombuis werk om snye te voorkom, ensovoorts.
Ongeveer hierdie tyd het ek by ‘n geslote besprekingsgroep op facebook aangesluit van ander vroue wat aan infiltrerende lobulêre karsinoom (ILK) ly. Hierdie groep het op bewysgebaseerde inligting gefokus en kon baie van my vrae beantwoord. Die vroue het mekaar praktiese raad gegee, wetenskaplike artikels oor die jongste navorsingsbevindinge gedeel en enorme ondersteuning vir hul lede aangebied. Hulle het dieselfde reis gedeel, hoewel hulle op verskillende roetes en in verskillende stadia van die reis was. Die groepadministrateurs het die groep goed bestuur en ek het dit ongelooflik waardevol gevind. ‘n Ander bron van uitstekende en geloofwaardige wetenskaplike inligting was die webwerf www.breastcancer.org.
Terug werk toe ná my mastektomie
Ek het op 21 Oktober, ‘n maand ná die operasie, teruggekeer werk toe en dit het so goed gevoel om terug te wees!
Maar die dae was baie lank, en gedurende die eerste twee weke het ek aan die einde van elke dag erg uitgeput gevoel. Maar ek het weer “normaal” en relevant gevoel – en dit was goed.
Beplanning vir bestraling
Op 23 Oktober moes ek vir ‘n beplanningskandering by Radiologie gaan om voor te berei op bestraling. Ek het drie permanent getatoeëerde kolletjies in ‘n reguit lyn onder my borste gekry vir kalibrering van die masjien vir bestraling.
Op 1 November het ek met die eerste van 15 sessies van bestraling begin – vyf sessies per week vir drie weke, met rus op Saterdae en Sondae.
Ek moes my werkkalender herskeduleer om by al hierdie afsprake vir bestraling in te pas. Dit was maklik op die dae dat die sessies vroegoggend of laat in die middag was sodat ek dit op pad na of van die werk kon doen, maar sommige dae moes ek 35 minute na die onkologiesentrum ry, bestraling ontvang en weer terugry vir vergaderings.
Ons almal ervaar dinge anders. Bestraling was vir my baie uitdagend. Teen daardie tyd was ek weer deel van die normale galop van die lewe, terug by die werk en het ek voortgegaan met my alledaagse lewe soos voorheen. Dit het weer “normaal” gevoel.
Maar bestraling het my elke dag herinner aan die werklikheid van wat met my gebeur. Die personeel by die behandelingsentrum was gereserveerd en gefokus. Die roetine was elke dag dieselfde: Ek word uit die wagkamer geroep, moes alles bo my langbroek uittrek, is gevra wat my geboortedatum is en moes dan op die bed lê terwyl die personeel die masjien bokant my gekalibreer het en die bestralingsarea op my vel met ‘n blou of swart merker gemerk het voordat hulle die kamer verlaat.
Die masjien, wat my aan ‘n broodrooster herinner het, sou begin dreun op ‘n deuntjie wat ek so goed leer ken het, en dan om my beweeg. Dit sou twee keer stop om my uit drie verskillende hoeke te bestraal terwyl ek roerloos daar gelê het.
In daardie oomblikke van eensaamheid in die gonsende masjien was daar absoluut geen twyfel waarom ek daar was nie, en ek het geweet dat my gesonde weefsel elke sekonde wat ek in die masjien deurgebring het, ook deur bestraling beskadig word.
Trane sou teen my wange afloop totdat die tegnici ‘n paar minute later terugkom, die bed laat sak en dit voorberei vir die volgende pasiënt, terwyl ek weer moes aantrek en vertrek.
Namate ek deur die sessies gevorder het, het dit beter geword, maar die kamer en die proses het koud en onpersoonlik gebly, sonder enige spesiale dekor of sigbare poging om hierdie bestraling makliker te maak vir pasiënte wat geen wens of voorneme gehad het om daar te wees nie.
Terselfdertyd het my vel stadig begin reageer op bestraling, en ek het ná elke sessie toenemend moeg gevoel. Saans en soggens sou ek my vel bevogtig in die hoop dat dit verdere skade sou voorkom, en ek mag ook slegs geurlose sweetweerder gebruik het.
Die permanente merker se afbakeningslyne van die bestralingsarea op my vel was redelik hoog oor my bors getrek, en het my keuse van bloese en toppies beperk, want dit het dikwels uitgesteek.
Aan die einde van hierdie deel van my behandeling, was my vel effens beskadig, en ‘n mens kon die area van bestraling duidelik sien. Toe die bestraling verby was, was dit ook ‘n groot verligting om weer rokke werk toe te kon dra, en nie die standaard broek-en-top keuses wat ek moes dra om die bestralingsroetine vinniger te maak nie.
Tamoxifen – die medikasie vir borskanker wat ek sewe jaar moet neem
Op dieselfde tyd as wat bestraling afgeskop het, het ek Neophedan (Tamoxifen)-tablette begin neem en by ‘n nuwe daaglikse roetine van medikasie vir sewe jaar ingeval.
Hierdie pille blokkeer estrogeenreseptore op die kankerselle, wat die oorblywende kankerselle van hul voedingsbron afsny.
Dit het my die eerste paar weke baie emosioneel en kwetsbaar laat voel. Dit het ook gloede en nagsweet veroorsaak, en nuwe vrese oor my reeds lae beendigtheid geskep.
Ek het die onkoloog elke week tydens bestraling gesien en sy was baie tevrede met my vordering.
En toe begin ek google …
Ná bestraling beëindig is, het ek vir die eerste keer uitgebreide navorsing oor ILK (infiltrerende lobulêre karsinoom, die spesifieke soort borskanker wat ek gehad het) begin doen.
Op daardie tydstip het ek baie moeg gevoel, maar ek het gelukkig gevoel dat ek so goed gevorder het tot die punt waar die oorlog eintlik verby was. Dit het gevoel of ek sterker was en meer selfvertroue gehad het as voor hierdie beproewing.
Maar hierdie gevoel het verdwyn toe ek ‘n artikel, wat onlangs gepubliseer was, gelees het waarin die jongste navorsing oor hormoonreseptor-positiewe kankers uiteengesit is.
Loer hier om oor die eerste deel van Anita se pad te lees
* Anita Nel is 49 jaar oud en is die hoofdirekteur: innovasie en sake-ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is getroud met Paul, en het twee tienerdogters, Anja (15) en Emma (13), wat hou van alle vorme van hokkie. Hulle woon in Durbanville.