'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
1 Begin by jou gene
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Jou risiko op kanker word deur jou leefstyl, omgewing en genepoel bepaal. Daarom is dit goed dat die naverwante van iemand met bors- of ovariale kanker soos ’n ma, suster, niggie of tannie hul risiko met genetiese toetsing en berading uitpluis, sê genetikus dr. Maritha Kotzé.
“Ons koppel twee groepe gene aan borskanker. Die eerste is die hoëpenetrasiegene, en families daarmee se risiko op kanker is ongeveer 80 persent. Hierdie gene is seldsaam.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Baie, baie meer mense dra die laepenetrasiegene, wat deur leefstyl en omgewing ‘aangeskakel’ kan word. Genetiese toetsing wys watter risiko’s in jou gene skuil. Jou vermoë om foliensuur op te neem, van skadelike stowwe ontslae te raak en om oksidante en estrogeen te hanteer, dui aan hoe goed jou liggaam die moontlike ontwikkeling van kanker kan teëstaan.
“Dié inligting, tesame met jou leefstyl en dieet, dui op jou persoonlike kankerrisiko – waarvolgens jy dan jou leefwyse aanpas. As jy binne familieverband negatief toets, kan dit beteken dat jou risiko dieselfde as vir die algemene bevolking is.”
Genetiese toetsing het nog ’n pluspunt: dit kan aandui hoe goed jy op sekere kankermiddels sal reageer.
2 Skep ’n kankervrye leefstyl
Jou leefstyl maak ’n ongelooflike verskil aan jou vermoë om kanker vry te spring of te hanteer, sê Magda Pieters, ’n dieetkundige wat in leefstyladvies vir kankerlyers spesialiseer.
“Dié veld groei ontsettend vinnig en daarom moet jy bybly. As nuus oor iets begin verskyn, is dit gewoonlik minstens deels waar en kan jy dit maar deel van jou kankervrye leefstyl maak.
“Dis sorgwekkend hoe baie mense bevestigde feite ignoreer soos dat betakaroteenaanvullers rokers se risiko op longkanker verhoog, of dat aartappelskyfies ’n groot hoeveelheid van die sterk kankerwekker, akrielamied, bevat en dat kleefplastiek waarskynlik nadelige stowwe vrystel in die kos wat daardeur bedek word.
“Dis net so belangrik vir vroue met ’n hoë risiko as vir dié wat reeds borskanker het om hul dieet reg te kry. Begin by die vette en eet die régte soorte: botter eerder as margarien en poli- en mono-onversadigde vette, soos in koudgeparste olyf-, sonneblom- en canola-olie, en in neute en vis.
“Dierevette is ongesond. Sny vet van vleis af voor jy dit gaarmaak. Daar’s ook ongesonde vette in gebak, sjokolade, aartappelskyfies, koffieverromers, pasteideeg, volroommelk, room (kits en eg) en kaas. Vette moet minder as 30 persent van jou kilojoules verskaf, en moenie kos in olie of margarien gaarmaak nie. Posjeer, kook, mikrogolf of rooster dit in die oond.
“Voed jou gestel met minstens ses porsies groente per dag soos uie, knoffel, tamaties, wortels, pampoen, kool en spinasie asook sitrusvrugte wat propvol kankerweerders soos betakaroteen, likopene en kragtige antioksidante is.
“Ek glo aan multivoedingaanvullers. Moenie oordoseer nie: te veel is net so nadelig soos te min. Watter een is die beste? My raad is: kry drie soorte en drink elke dag ’n ander een. Afwisseling verseker jy kry al die nodige.
“Ten laaste: rook, stres en spanning is taboe. Kry oefening wat jy geniet.”
3 Werk jul trauma deur
Die diagnose van borskanker het ’n domino-effek: jou lewe wat ineenstort, laat almal na aan jou s’n ook omtuimel, sê Alitha Watkins, berader in ’n onkologiepraktyk. Veral vroulike bloedverwante soos jou dogters en susters is weens hul eie vrese getraumatiseer.
“Heel aan die begin breek intense emosie in gesinne en families los – van angs tot hartseer, ontkenning, depressie, woede, verwyte, beskuldigings, skuldgevoelens, onttrekking, vebittering, oorkompensasie en martelaarskap. En omdat reeds wankelrige verhoudings die ekstra druk selde kan hanteer, sneuwel dit dikwels … en vererger die trauma.
“Julle sal mekaar beter verstaan en ondersteun as julle jul rou emosies identifiseer, aanvaar en in perspektief kry, ook in die breër familie. Maak veral seker die naby familie kom die mas op. Kinders en baie volwassenes het nie die nodige insig nie en kan professionele hulp nodig kry.
“Verder help dit om so normaal moontlik met jul bedrywighede voort te gaan. Hou jouself so betrokke as waarvoor jy energie het.
“Kry ekstra hulp met verpleging, die huis, vervoer, kos maak, of enige situasie waar dinge haak. Dit gaan jou stres verlig. En betrek gerus die gesin, familie en vriende. Die wete dat hulle ’n verskil maak, gee hulle ’n mate van beheer oor die situasie en verminder hul trauma.
“Skakel in by ondersteuningsgroepe of bou jou eie netwerk.
“Troetel jouself. Massering, mooi musiek of ’n spesiale parfuum is terapie vir liggaam en gees. So ook gebed, meditasie en inspirerende leesstof.
“Werk aan wonderlike oomblikke saam met jou gesin. Dit dra ’n mens deur trauma, herstel kinders se gevoel van sekuriteit en laat almal met gelukkige herinnerings. Pak daardie dinge aan waarvoor jy tot nou toe nie tyd of geld gehad het nie.
“En laastens: optimisme verlig stres. Dit ís moeilik om deur alles heen positief te bly, maar jy moet. Beklemtoon die positiewe kant van gebeure. Dit kan help om klein doelwitte te stel en klein suksesse te vier. En onthou, heling gaan oor ’n liefdevolle lewe eerder as oor ’n volmaakte liggaam.”
4 Jou lys verbode middels
Tussen 30-50 persent borskanker word deur estrogeen gestimuleer. Dr. Anne Gudgeon, ’n borskankerspesialis, sê ’n vrou kan gewasse hê wat tegelykertyd estrogeen-sensitief en niesensitief is nie.
“Dit ís moontlik om sensitiewe weefsel mis te kyk, en daarom raai ek vroue met borskanker af van enige medikasie wat estrogeen bevat of estrogeen kan laat vorm. En al is daar nog min navorsing daaroor, beskou ek dit as onveilig ook vir vroue met ’n verhoogde risiko. Dit maak die Pil en hormoonterapie vir die menopouse verbode middels.
“Hierdie vrugbare vroue moet maar liefs voorbehoeding soos die kondoom gebruik, en ligte menopousale simptome soos hittegloede, vaginale droogheid en oormatige sweet kan met ’n hele paar alternatiewe beheer word, soos migrainemedikasie, vaginale smeerjellies en so aan.”
5 Hou dit dop
Vroue moet ná borskanker driemaandeliks en later sesmaandeliks of jaarliks as opvolg ’n mammogram, beenflikkergram en/of buiksonar ondergaan.
Prof. Justus Apffelstaedt, sê ’n mammogram is die enigste tegniek wat saam met ’n deeglike fisieke ondersoek werklik betroubaar vroeë tekens van kanker opspoor, mits dit deur ’n mammogramspesialis gedoen word.
“Tog is ek nie teen die volle spektrum van toetse gekant nie. Dit kos die pasiënt meer, maar koop gemoedsrus … en dít is baie kosbaar.”
En as jy naverwant is aan iemand met borskanker?
“Dan moet jy risikohanteringstrategieë oorweeg. Vir baie vroue is intensiewe waarneming (’n sesmaandelikse ginekologiese en borstasondersoek en jaarlikse mammogram) genoeg, maar soms, of in ’n later stadium in die lewe, kan dit raadsaam wees om die eierstokke te verwyder en die kolierweefsel uit die borste weg te neem.
“Maar gesels met ’n borskankerspesialis. Dis ingewikkelde keuses terwyl die operasies spesiale tegnieke verg.”
‘Ek het werklik oor my bors getreur’
Elna Rabé (47) van Durbanville dra ’n aura van vroulike grasie, en niks omtrent haar laat jou raai dat borskanker haar sedert Oktober verlede jaar in die oë kyk nie. Sy vertel:
“Dit was maar net ’n klein knoppie – hard, effe seer en vreemd. Ek was nie bekommerd nie, maar Borskankermaand se pienk strikkies het my tog by ’n radioloog laat inhardloop. Om ’n lang storie kort te maak: dit wás kwaadaardig.
“Hoe het ek daardeur gekom? Ek dink dit het gehelp dat ek myself tyd beloof het om kalm te raak voor ek die nuus begin deel het. Glo my, jy is in doodsangs. Daar’s géén manier om borskanker ‘sag’ te praat nie. Ná drie dae was ek rustig en kon ek die nodige doen.
“Ek het geweet ek móét werklik oor my bors treur en dit laat gaan, en die aand voor die operasie het ek badtyd spesiaal gemaak om ’n laaste keer te kyk en onthou.
“Ek wou elk van my kinders afsonderlik vertel, en ons het gaan koffie drink. Elkeen het op sy eie, tipiese manier gereageer. My oudste dramadogter se reaksie was ’n eerlike: ‘Agge nee, Ma, gross! Hoe gaan jy sonder ’n bors lyk?’ My een seun het gevra ek moet heeltyd eerlik met hom bly, al gaan dit sleg, en my ander seun was stil, maar sterk. Later het ek vir elkeen ’n brief geskryf om vir hulle te sê wie hulle vir my is. As gesin, dink ek, het ons goed daardeur gekom.
“Dan was daar my ondersteuningsnetwerk … my vriendinne. Die doener het rogbrood en wortelsap aangedra; die bemoediger het gesê my badtye gaan lofprysingstye aan God word omdat my letsels my aan ’n wonderwerk sal herinner; en nog twee het week na week saam vir sellulietbehandeling gegaan. Dit klink laf, maar daardie sessies was terapie vir mind, body and soul.
“Vir my is kennis mag. Ek het oor alles nagelees, en swaar gesteun op kundiges soos my spesialis en my ‘engele’, soos ek die bestralingsterapeute noem. Hul raad was dat ek nie die kanker moet troetel nie, maar moet aanbeweeg na dinge wat my goed laat voel. My spesialis het ’n antidepressant vir so drie maande aanbeveel om my tydens die bestraling psigies sterk te hou.
“Voel ek vandag mooi? Ek voel steeds vrou, al is ek van my vroulikheid beroof. Gelukkig kon ’n deel van my bors gered word – een van my groot dankbaarhede. Ek giggel soms oor my een jongmeisieborsie en my ander ouvrouhangbors. Ek kan ’n tepel laat tatoeëer, maar ek wil nie eintlik nie omdat ek ‘my’ wonderwerk wil onthou.
“Ek en my man is na aan mekaar, al is ek steeds skamerig. ’n Mens voel definitief ‘kouer’ en liefkosing is nie so genotvol as tevore nie. Maar hy is geweldig besorg oor my en dit is goed tussen ons.
“Oor die toekoms is ek rustig. Ek is nie meer bang vir sterf nie. Tog is my opvolgondersoeke gerusstellend. Verder eet ek gesond en stap gereeld.
“Wat het verander? My waardering vir die basiese. Ek wéét hoe geseënd ek sal wees om my kinders groot te sien en saam met my man oud te word. Alles is vir my meer gevul met ’n diepe dankbaarheid op my tweede kans.”
Kry mooi fyngoedjies – dit beteken soveel vir jou gemoed.
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
As Karlien van Jaarsveld die horlosie kon terugdraai, sou sy dieselfde keuses gemaak het, want…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 2 koppies koekmeel ¾ koppie Amasi ¼…
28-dag oefenprogram vir beginner-fietsryers deur Salomé Delport. Hooffoto: zozzzzo/istock images As jy na veertig begin…
Ek het my verhouding met kos verander en jy sal nie glo wat volgende gebeur…
Hy is in 1989 op Springbok gebore en hierdie uitsonderlike deel van ons land was…
Hierdie webwerf gebruik koekies.