Alita van der Walt
Op my 32-jarige leeftyd het ek al ‘n paar keer met kanker te make gekry. My ouma is aan borskanker oorlede en my ma is twee keer daardeur getref. En hoewel die siekte in my familie loop, wou ek nie die werklikheid in die oë kyk nie.
Nadat my ma positief getoets is vir die borskanker-2 geen mutasie (BRCA2) het dokters aanbeveel dat ek my ook laat toets. Ek het aan die begin van verlede jaar vir dié toetse gegaan by die Familial Cancer Centre in die Femina Women’s Hospital in Pretoria (www.familialcancer.co.za).
Aan die begin van Maart het ek gehoor dat ek positief getoets het vir die BRCA2 geen mutasie en dat ek teen die ouderdom van sewentig ‘n kans van 86% sal hê om borskanker te kry.
Nog voor dié nuus kon insink, moes ek dadelik vir ‘n mammogram gaan en net daar moes ek hoor dat ek rééds kanker het.
Dit was so vinnig! So verskriklik vinnig.
My dokter wou onmiddellik ‘n dubbele mastektomie doen, maar ek het besluit om ‘n tweede mening ook te kry. Ek het ‘n plastiese chirurg by die Olivedale-kliniek gekry wat die mastek-tomie en eerste fase rekonstruksie sommer in een operasie sou doen. Sielkundig het hierdie besluit baie vir my gedoen, want die gedagte dat ek albei my borste op so ‘n vroeë ouderdom gaan verloor, was verskriklik.
Nadat ek dié besluit geneem het, kon ek begin fokus op die siekte en hoe ek dit gaan beveg. Ek het stelselmatig al my prio-riteite agtermekaar gekry en besluit dat ek sterk gaan wees ter wille van myself, maar ook ter wille van my man, Hansie, en ons twee kinders, Tiaan (5) en Alida (3).
Ná die mastektomie moes ek agt chemoterapie-behandelings kry en 36 keer bestraal word. Vir die volgende vyf jaar is ek op ‘n hormoonbehandeling wat basies ‘n medies-geïnduseerde menopouse is.
Maar ek moet hierdeur. Ek het geen keuse nie. Natuurlik was daar dae dat ek maar ‘n bietjie jammer vir myself was – maar jy kry gelukkig elke keer weer nuwe krag om op te staan. Selfs die slegte dae gaan verby. Die een ding wat my keer op keer terug-geruk het, was dat ek by die onkologie-afdeling mense gesien het met wie dit baie slegter as met my gegaan het.
Ek is nou in remissie en ek is uiters dankbaar vir my gesondheid. Die wete dat my dogtertjie ook die geen kan dra, is vir my moeilik, maar ek kan nie toelaat dat dit soos ‘n meulsteen om my nek hang nie. Ons sal dit ook hanteer as dit nodig raak.
Ek het dikwels gewonder hoekom só iets op so ‘n jong ouderdom met my moes gebeur; waarom ék so ongelukkig moes wees? Nou besef ek hoe gelukkig ek eintlik was, want ek het ‘n tweede kans gekry. Ek kyk nou anders na die lewe, na my gesondheid, na my man en my kinders. En daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie dankbaar is om te leef nie.
Evette van der Walt
Ek was 31 toe borskanker verlede jaar by my gediagnoseer is. Vóór dit was ek een van die gesondste mense denkbaar – die heel ergste siekte wat ek ooit gekry het, was verkoue. Ek het nog nooit eens ‘n been in my lyf gebreek nie! Selfs nie eens toe ek daardie oggend in die bad sit en die groterige knop in my bors voel, het ek enigiets daarvan gedink nie. Sommer ‘n vetkliertjie, het ek dit afgemaak.
Gelukkig het ek tog my vriendin wat ‘n chirurg is, gebel. Sy het gesê ek moet dadelik inkom sodat sy vinnig daarna kan kyk. Twee dae later het ek vir ‘n mammogram gegaan en toe ons die resultaat kry, wou hulle ‘n biopsie doen. Ek het die uitslag gou gekry: fase 2-borskanker.
Dieselfde dag is my pa oorlede. Hy was baie siek en dit het skielik vir my gevoel of ek van alle kante af deur die dood gekonfronteer word.
Toe ons hoor ek het kanker, het my man, Juan, onmiddellik vir die dokter gevra of ek gaan sterf. Hy het begin huil, en ek het verstar gesit en die nuus probeer verwerk.
Die dokter het vir ons verduidelik dat die knoppie nie lewensgevaarlik is nie, maar as ek dit nié laat verwyder nie, het ek vyf jaar om te leef.
Ek het daardie dag ook die hospitaal se sielkundige gaan spreek. Ek dink ek wou hê sy moes vir my ‘n wapenrusting gee om hierdie vreeslike ding te beveg.
Maar gelukkig het ek in daardie einste spreekkamer besef dat niemand my gaan kan help om hierdeur te kom nie. Ek kon kies of ek positief gaan wees, en of ek in sak en as gaan sit. Ek het daar al besef dat ek toegerus is om hierdie ding te hanteer – met die krag van die Vader.
‘n Week later is my linkerbors verwyder. Ja, dit was baie traumaties, veral omdat ek nog so jonk is. Toe ek die eerste keer in die spieël die plat stuk vel hier teen my lyf sien waar my bors eens was, het ek onmiddellik my kop weggedraai.
Die dae wat gevolg het, was soos ‘n rit op ‘n roller coaster – soms was ek op, en soms het ek met ‘n angswekkende spoed neergedaal aarde toe.
Dit is nou ‘n jaar sedert ek gediagnoseer is, en oor ‘n maand kry ek ‘n rekonstruktiewe operasie. Hoewel ek bang is vir die operasie, is ek vrek opgewonde daaroor! Ek het intussen gewoond geraak aan die kaal kol waar my bors eens was, maar dit gaan my tog weer vrouliker laat voel.
Die kanker wat op my pad gekom het, het my lewe handomkeer verander. Dit het my nader aan die Here gebring. Nou kan ek terugkyk en dink dat dit tog nie so erg was nie, hoewel daar dae was dat ek gedink het ek gaan dit nie maak nie. Veral toe ek chemoterapie gekry het. Ek moes my welige bos blonde hare afskeer, en soms het die chemoterapie my só moeg gemaak dat ek nie my kop van die kussing kon lig nie. Ek onthou hoe my man met die knipper in sy hand gestaan en huil het.
Voor die kanker het iemand my motorvenster by ‘n robot uitgeslaan en my handsak gegryp. Dié voorval het my vreesagtig gemaak en ek was doodbang daarna. Maar dis asof my pad met kanker my van al my vrese gestroop het. Ek is nie meer bang om dood te gaan nie. En ek is nou baie sterker as wat ek was. En my verhouding met my man het so ongelooflik verdiep en gegroei.
Deesdae is die mediese tegnologie en wetenskap so gevorderd dat borskanker regtig nie meer ‘n doodsvonnis hoef te wees nie. Jy hét ‘n kans.
Natuurlik is ek bang die kanker kom terug. Maar gelukkig weet ek nou dat ek sterk genoeg is om dit wéér te hanteer.
Peta Fernie
Ek was 34 toe ek hoor ek het borskanker. Jy kon my met ‘n veer omtik. Ek? Kanker? Dit moet ‘n fout wees!
Niemand in my familie het kanker gehad nie, ek was blakend gesond, ek rook nie, drink af en toe ‘n glas wyn, het albei my kinders ses weke lank geborsvoed en ek eet en leef gesond. Maar ek het graad 3 van ‘n baie aggressiewe borskanker gehad.
Paniek my hele wese oorgeneem. Dit was kort voor Kersfees en ek was verskriklik emosioneel en sentimenteel. Ek was seker dis my laaste Kersfees. Ek het my eie prokureursfirma en ek onthou hoe ek in algehele waansin een van my goeie kliënte gebel het en vir hom gesê het ek het kanker en ek twyfel of ek met sy werk sal kan voortgaan. Nou bloos ek natuurlik bloedrooi oor dié irrasionele optrede! Die arme kliënt het hom lam geskrik.
My onkoloog in Pretoria is gelukkig een van die nuwe generasie dokters en ons het ooreengekom dat die gewas in my bors sonder ‘n mastektomie verwyder sou word. Ek is tot vandag toe dankbaar oor dié besluit, want ek dink regtig dat sommige dokters te maklik ‘n mastektomie aanbeveel.
Ek het net ‘n limpek-tomie gehad en daarna moes ek chemoterapie kry.
Ja, die chemoterapie is erg, waarskynlik nóg erger as wat almal sê. Maar weer eens, dis nie só erg dat jy dit nie kan hanteer nie. Dit is moeilik om dit met twee klein kindertjies in die huis deur te maak – Meghan is ses en Jorja vier – maar ek dink die geheim is om die paadjie maar net treetjie vir treetjie te stap. Ek het aangehou werk, omdat ek geweet het ledigheid sal my kop met negatiewe gedagtes vul.
Ek was my lewe lank ‘n kind van die Here, maar kanker het my soveel nader aan my Skepper gebring. Dit het regtig my verhouding met die Here verdiep en net daarvoor sal ek weer die paadjie stap as ek moet.
Soms kom daar slegte dinge op ons pad en ons weet glad nie hoe om dit te hanteer nie. Maar die een ding wat jy móét weet, is dat dit ook sal verbygaan. Dit sal nie altyd net sleg gaan met jou nie.
Buiten dat ek soveel waardevolle lesse geleer het terwyl ek kanker gehad het, het ek ook weer geleer om my vroulikheid te waardeer.
Ek lewe, en dit is lekker!
Oorspronklik gepubliseer in Oktober 2009