Borskanker tref nie net middeljarige wit vroue nie. Dit kán mense buite die patroon tref … van bloedjong vroue in hul twintigerjare tot 65-jarige mans, van wit tot Maleis, van gesondheidsbewustes tot risikolopers.
Danksy reusetreë vorentoe is borskanker vandag ’n siekte met ’n breë goue rand van hoop. Die meerderheid oorwin en leef (man)moedig voluit voort. Ons gesels met ’n man wat borskanker oorwin het en deel in die liefdestake van twee vroue vir wie borskanker die stimulus was om nuwe dinge aan te pak. Lees ook meer oor HER2-medisyne wat nou vir vroeë borskanker beskikbaar is, wat 70% van voorheen-ongeneeslike borskankers nou red.
Borskanker het ons anders leer doen
Die een samel met haar Harley geld in vir borsrekonstruksies, die ander troos ander kankerlyers met haar pakkies. Vir albei het borskanker hul lewe onverwags laat strek na méér as vantevore.
As jy iewers in Oktober twaalf vrolike vroue – bes moontlik met ietsie pienks wat hul leerbaadjies opkikker – op motorfietse op die grootpad aantref, moet jy weet dit is Diane Parker en kie, besig met hul reis van hoop.
Diane was 42 toe sy in 2004 met HER2+ borskanker gediagnoseer is. Sy was ekstra bedag op enige simptome nadat haar niggie in 1996 aan borskanker dood is, en het vir gereelde mammogramme ge-gaan. Sy het die knop in haar bors met ’n selfondersoek gevoel – ’n jeukerige tepel was die enigste ander simptoom – en is onmiddellik dokter toe.
Sy bestempel die borskanker-diagnose as “verpletterend”.
“Die angs en onsekerheid was die ergste. My dogter was maar 13 jaar oud, en al my familie het oorsee gewoon.”
Diane wou alles weet oor haar kanker, en het haar onkoloog, mediese fonds en selfs ’n farmaseutiese maatskappy genader vir meer inligting.
Ná ’n bilaterale mastektomie, ses sessies normale chemoterapie en nog 17 sessies met Herceptin-behandeling, het die swaard van kanker nie meer daagliks oor haar kop gehang nie.
Sy het besluit dis tyd om haar swaar verdiende kennis van die siekte terug te ploeg in ’n bewusmakingsprojek. Sy is genooi om aan die Changing Gears-motorfietsrit in Amerika deel te neem, en daaruit is die Biking for Breast Health-projek in Oktober 2006 gebore. Verlede jaar het sy besluit om vanjaar nog groter te gaan met die Journey of Hope.
“Ons is altesaam twaalf vroue wat op 10 Oktober in Johannesburg wegspring en met motorfietse via Bloemfontein, Coles-berg, Graaff-Reinet, Port-Elizabeth, George en Barrydale tot in Kaapstad ry. Op elkeen van die dorpe word bewusmakingsgesellighede gereël waar ons ons verhale met mense kan deel.”
Journey of Hope gaan oor meer as bewusmaking. Diane en haar mede-ryers wil met hierdie epiese tog oor meer as 2 000 km ook genoeg geld insamel om vir 12 minderbevoorregte kankerlyers se borsrekonstruksie te betaal. “Dit kos R30?000 vir borsrekonstruksie, en staatshospitale se begrotings maak nie daarvoor voorsiening nie. En ons weet almal hoe geskend ’n vrou voel as sy haar borste verloor het.”
Diane is ook die gesig van ’n bekende mediese fonds se bewusmakingsveldtog oor borskanker.
Hoe het kanker haar verander? “Ek geniet die lekker tye nou selfs meer as voorheen. Ek is nie meer so begaan oor die klein goedjies nie, en probeer verander wat ek kan en aanvaar wat ek nie kan nie. Ek het ook geleer môre is nog ’n dag, veral as dinge moeilik gaan.
“Verder wil ek net so gelukkig moontlik wees,” vertel dié internasionale verkoopsbestuurder. “Al is ek nou ’n paar rokgroottes groter omdat ek nie meer so intensief oefen soos voorheen nie, het ek die nuwe ek aanvaar.”
Haar wenke vir gesonde vroue is om hul lywe te ken en op die uitkyk te wees vir waarskuwingstekens. “Kry ’n tweede mening as jy twyfel.”
En vir borskankerlyers? “Moenie ophou hoop nie. En konsentreer op wat jy kan doen, en nie op wat jy nie meer kan doen nie.”
*Lees meer oor die reis van hoop en maak ’n skenking by www.journeyofhope.co.za Wees ook op die uitkyk vir die vroue in Egoli – Plek van Goud wanneer Nora en Louwna besluit om saam te reis.
Cornelia Louw
Cornelia Louw van Alberton was pas 39 toe sy twee jaar gelede een aand in die stort ’n knop in haar bors gevoel het. Sy het eers ’n maand later vir toetse gegaan omdat sy nie ’n lank beplande gesinsvakansie wou kanselleer nie.
“Ek wonder tog soms of dit nie dalk ’n verskil sou gemaak het as ek vroeër dokter toe is nie,” sê Cornelia.
Die dag van haar uitslag was sy en ’n vriendin met hul kinders op ’n uitstappie, en toe die spesialis haar nie in die hande kon kry nie, het hy haar man, Gerhard, gebel.
“Die aand nadat ons die kinders in die bed gesit het, het hy my hande in syne geneem en gesê die dokter het hom gebel. Toe het ek dadelik geweet,” onthou sy.
“Dit was asof iemand op daardie oomblik my wind uitgeslaan het. Wat die skok nog erger gemaak het, was dat my dogtertjie Mia toe maar drie jaar en Jaco net 18 maande oud was. Ons het so lank gewag vir hulle – ek moes net so hard moontlik teen die kanker baklei.”
Cornelia se ma is ’n paar jaar gelede aan borskanker dood, en daarom is daar op ’n radikale mastektomie besluit.
Vier sessies chemo, 25 sessies bestraling en nog 12 sessies Herceptin-behandeling later was haar onkoloog tevrede dat die kanker geklop is.
Hierna het Cornelia besluit sy wil iets teruggee aan haar medemens uit dankbaarheid vir haar tweede kans. “Ek het voor my borskanker al geweet ek wil gemeenskapswerk doen, maar het nie geweet wat nie. Die kanker het my na Christian Cancer Care gelei.”
Christiaan le Roux het CCC ná sy eerste vrou se dood gestig. ’n Suster by Cornelia se dokter het voorgestel sy kontak Lynette Lourens van CCC. Lynette, ook ’n borskanker-oorlewende, en Cornelia het intussen hegte vriende geword en saam met Christiaan die organisasie tot ’n dinamiese kankerwelsynsorganisasie uitgebou.
“Christiaan het destyds met sy vrou se dood al besef daar is ’n groot behoefte aan inligting en ondersteuning – ook op geestelike vlak – vir die naasbestaandes van ’n kankerlyer. Mense besef nie wat kanker aan die res van die gesin doen nie. Ons probeer help deur berading en inligtingsdae.”
CCC fokus nie net op borskankerlyers nie, en het ’n baie sagte plekkie vir minderbevoorregte kankerlyers in staatshospitale. Jy sal hulle gereeld aantref in die pediatriese onkologie-saal by die Johannesburgse Algemene Hospitaal, besig om troospakkies vir die pasiëntjies uit te deel. Dit bevat onder meer lekkergoed, gebreide bedsokkies, ’n bandana en ’n sagte speelding.
Hulle pak ook troospakkies vir volwassenes, het ’n aktiewe ondersteuningsgroep en -netwerk in Alberton en reël vanjaar in Oktober hul tweede groot borskankerbewusmakingsdag.
“Ons leuse by CCC is inlig, bystaan en ondersteun. Daarom het ons ook maandelikse nuusbriewe en ’n webwerf propvol inligting oor kanker. Ons is besig om ’n tak in Pretoria te stig, en werk hard aan Christiaan se droom dat dit ’n nasionale en uiteindelik internasionale organisisasie moet wees.”
Wat het Cornelia geleer? “Dat kanker nie die einde van jou pad is nie. Die konfrontasie met die dood leer jou wel om voluit te leef, en om goed te doen en te sê voordat dit te laat is. Ek tob ook nie meer so oor klein goedjies nie, maar probeer fokus op die groter prentjie.
“Die kanker het beslis ’n verdieping in my verhouding met my man gebring, en ek waardeer my kinders nog meer. En ja, dit het my ook nader aan God gebring. Ek het geleer om in algehele vertroue en afhanklikheid van Hom te leef. Dokters het al die mediese kennis en toerusting tot hul be-skikking, maar dis God wat uiteindelik genees.”
Lees meer oor CCC by www.cancer.org.za
Buitengewoon goeie hoop
As jy pas met borskanker gediagnoseer is, is Herceptin wonderlike nuus vir jou, want dit mag nou ook vir vroeë kankers gebruik word. Ons het dr. Rika Pienaar, Kaapse onkoloog, gevra wat jy alles daarvan moet weet:
- Is dit vir alle borskankers? Herceptin bevat teenliggaampies wat net teen spesifieke HER2-kankerselle werk. Dus sal dit net vir jou werk as jy HER2 positiewe borskanker het. Een uit elke vier vroue met borskanker is HER2 positief, en jy kán een van die vroue wees vir wie Herceptin werk.
- Is dit vir my? Vra jou dokter om jou HER2-status te bepaal, wat met die IHC-toets bepaal word. Jou telling sal 0, 1+, 2+ of 3+ wees. Herceptin werk goed vir vroue met ’n 3+ telling. As jou telling 2+ is, is jy ’n grensgeval, en sal die dokter ’n volgende toets doen om jou HER2-status te finaliseer.
- Help dit altyd? Op sy eie werk Herceptin vir een uit elke vier vroue met HER2-kanker – wat laag is. Máár saam met ’n tweede borskankerterapie werk dit vir 70% vroue … ’n baie, baie rooskleuriger vooruitsig. Nog ’n interessante aspek: Dit lyk asof Herceptin vir baie lank gebruik kan word. Party vroue is al meer as drie jaar ononderbroke daarop, en hou daarmee hul kanker onder beheer.
- Nadele? Daar is ’n klein kans dat Herceptin hartprobleme kan veroorsaak – maar net by sowat drie uit elke honderd vroue. Die gevalle van erge en fatale hartversaking wat aangeteken is, was baie min – net by ses uit duisend pasiënte. Gelukkig is die toksisiteit volledig omkeerbaar, en hou jou hart geen newe-effekte oor as jy Herceptin staak nie. Jou dokter is bewus hiervan en sal jou heeltyd monitor. Maar vra uit as jy kortasem raak, jou hart vinnig of onreëlmatig klop, jy baie meer hoes, maar nie verkoue het nie en jou voete en bene swel.
- Die prys? Die prys word per eenheid bereken en dit hang af hoeveel eenhede jy benodig, en min vroue hoef op lang termyn daarop te bly maar dit werk gewoonlik uit op sowat R25?000 per maand. Sommige mediese fondse betaal daarvoor. Gesels vooraf met joune en stel vas wat hul voorwaardes is.
Borskanker kán buite die patroon tref
Selfs as jy ’n man is, moet jy jou borste maandeliks ondersoek. Want borskanker kán mans tref. Een man vertel hoe hy sy borskanker ontdek en oorwin het:
’n Jaar nadat Johan van Wijk heeltemal bles vir sy paspoort-foto’s moes poseer, bedek ’n wélige byna ontembare bos hare sy kop. En nie een daarvan is ’n bang haar nie. As ’n geoloog het hy al baie ongewone dinge aangevang, van prospekteer in die Suid-Amerikas tot om ’n vis-en-tjips-winkel in Montague te bedryf. Die ongewoonste is beslis dat hy borskanker oorwin het.
‘“Man, ek het mooi borste gehad – laat ek jou wys.” Hy pluk sy hemp oor sy borskas oop. “Ek het daarvan gehou om topless te loop,” sê hy met ’n stout vonkel in sy oog.
Sy regterbors is doodnormaal, soos dié van enige 65-jarige man op die strand. Die ander een is weg. Net ’n paar lang, keperige hale wat van die middel van die bors tot diep onder die armholte loop, het oorgebly. Vir ’n vrou sou dit ’n ontstellende letsel wees maar Johan is oukei daarmee. “Ek is mos nog ek.”
Sy dogter het in haar vroeë veertigerjare borskanker ontwikkel. Hy was dus meer as ander mans bewus van knoppe en groeisels in borsweefsel, en toe hy ’n knop in sy linkerbors voel, was hy op sy hoede. Hy is na sy dokter vir ’n hartprobleem en ook gevra wat hy van dié knop dink. Die dokter – ’n baie ervare een – was dadelik ongerus en het hom vir ’n sonar verwys. Ongelukkig was die volgende dokter eerder oor Johan se hart begaan. ’n Hartprobleem is immers ’n tipiese mannekwaal, nie borskanker nie.
Intussen het die knop gegroei en toe Johan weer by ’n dokter uitkom vir ’n eeltoperasie het hy gevra dat sy sommer die knop ook uitsny omdat dit hom hinder. Sy was dadelik so besorg dat sy ’n biopsie geneem het – en twee weke later laat weet het dis borskanker.
Johan is na die Tygerberg Mammokliniek, waar hy telkens aangesien is as ’n dierbare eggenoot wat daar is om sy vrou te ondersteun, eerder as die pasiënt. Hy is deur die bestraling en die chirurgie “met vlieënde vaandels” en op 8 Desember 2007, net ’n dag ná die post-operatiewe dreineringspype verwyder is, was hy op die vliegtuig na sy dogter in Engeland. Dit was nie ’n lekker vakansie nie: Johan het ’n seroma (’n wond wat bly dreineer) ontwikkel en moes elke dag vir nuwe verbande hospitaal toe. Maar hy is daardeur en vandag is hy blakend gesond … net ’n bietjie “ge-tan”.
Sy raad? “Voel jou borste deur, al is jy ’n man. En as jy iets raak voel, laat dit behoorlik ondersoek. As die eerste dokter sê dis niks nie, gaan maak seker by ’n tweede dokter. As dit borskanker is, moenie bang wees nie. Jy kom daardeur.”
Vrae oor mans en borskanker
Borskankerspesialis prof. Justus Apffelstaedt van die Universiteit Stellenbosch antwoord:
- Hoe algemeen? Vir elke honderd vroue met borskanker, kry een man dit. Die belangrike kankers vir mans is eerder long-, prostaat- en kolonkanker.
- Snellers by mans? Die belangrikste is ’n familiegeskiedens van kanker, of as vroue in sy bloedlyn die bekende borskankergene BRAC-1 en -2 dra. Ander gene wat aan borskanker gekoppel word, is P53, P65, ATM en CHECK2.
- Hul kans op oorlewing? Dis swakker as by vroue, onder meer omdat mans sku vir dokters is. Hulle kom eers as die kanker ver gevorder het, wat behandelingsukses verklein. Verder is borskanker vir mans gevaarliker omdat hulle min borsweefsel het, wat meebring dat selfs klein tumors maklik in die omliggende weefsels uitsaai.
- Hoe spoor mans borsgewasse op? Baie maklik. Omdat hulle min borsweefsel het, voel en sien hulle knoppe baie makliker raak as vroue.
- Sy dogters se risiko? Elke man met borskanker moet vir borskankergene getoets word. Die kanse is groot dat hy ’n draer is en dat sy kinders – dogters én seuns – die geen kan oorerf.
Oorspronklik gepubliseer in Oktober 2008