Die eerste ding wat ek in Borneo opmerk, is dat ons Afrikaners die woord “oerangoetang” dieselfde as die Indonesiërs uitspreek. Nie swaaiend en kakebeentergend soos die Amerikaanse orangutan nie, nee. Net soos in Indonesië, na-aap ons die dier wat dié naam dra deur ons lippe (sommer twee keer) behóórlik te tuit: OErangOEtang.
Ek wou spesiaal hierheen reis om hulle te sien. Borneo en Sumatra se digte reënwoude is die enigste twee plekke in die wêreld waar oerangoetangs nog natuurlik voorkom. Ek besef weereens met ’n skok iets wat ek vroëer gelees het: indien ontbossing en stroping voortgaan soos nou, sal daar binne vyf-en-twintig jaar geen oerangoetangs in die wildernis meer wees nie. Skokkend!
Dis nog ’n ver ent om te gaan nadat ek op die piepklein lughawe arriveer. Die paaie is sleg en die busritte avonture op hul eie. Vandag is ek ’n regte celeb hier in Ketapang omdat ek blank is, blou oë het en my kop nie met ’n doek bedek nie. Die inwoners sien selde só ’n prentjie. Ek glimlag vriendelik saam met hulle op foto’s – dankbaar dat hulle my welkom laat voel in hul gebied.
Na ek my reeds uitgetrapte sandale vir twee dae lank behóórlik flenters gestap het, vind ek uiteindelik ’n vroutjie wat Engels kan praat en ’n trippie kan reël saam met twee gidse.
Muslianto en Sofianto is vriende en kollegas. Hulle kom van dieselfde dorp wat aan die reënwoud grens. Voor ons op die ekskursie vertrek, gaan ons eers by Sofianto se huis aan sodat hy sy tandeborsel kan kry en vrugte uit hul tuin kan pluk om saam te neem. Sofianto se familie wil nie hê ek moet hulle toilet gebruik nie,want ek is “westers”. Maar Muslianto se kleine huisie het ’n beter toilet. Hy neem my soontoe op sy motorfiets.
Muslianto
Die reënwoud in Borneo is ekstra warm daardie dag. Die weervoorspelling het my om die bos gelei, want dit was nie die temperatuur wat so hoog was nie, maar wel die humiditeit. So bedompig dat die sweet reeds fyn druppeltjies op jou neus en voorkop vorm – nog lank voor jy regtig iets aktief aandurf.
Die woud is ruig en groen sover as wat die oog kan sien. Die boomtoppe strek hemelhoog. Die reuk van vars grond, klam varings en vreemde vrugte vul my neus. Dis asof ek weer van voor af leer hoe om asem te haal. Ons sintuie is op en wakker, veral ons ore – gereed en ingestel op bosgeluide. ’n Geritsel of geluid van enige aard kan ’n leidraad wees.
Iewers roep ’n rooiblaarapie en die sjwoei-sjwoei van ’n neushoringvoël (soos die kleurvolle een in Jungle Book) bring ons menigmale afwagtend en angstig tot stilstand. Die bospaadjies verdwyn net so vinnig soos wat hulle hul verskyning maak. Ek koes vir blare, takke en spinnerakke. Gelukkig het Muslianto ’n kapmes – hy kap paadjies oop so ver ons stap.
So hou dit aan vir twee volle dae! Ons keer net terug na ons versteekte boshuisie om te gaan eet en rus. Dan bundu-bash ons weer vir ure voort.
Kom ons rus bietjie. “Time for snack?” Muslianto is ’n gentleman. Hy maak vir my ’n blaresitplekkie sodat my kortbroek nie nóg vuiler word nie.”
Een van die vrugte wat die oerangoetangs graag eet
“Kyk, een van hulle het hieraan geproe,” sê Sofianto terwyl hy ’n taai, halfgeëte vrug optel en so ewe daaraan snuif-snuif asof hy hulle so gaan uitruik.
’n Paar meter verder gewaar hy ’n nes hóóg op in ’n boom, trek sy oë skrefies en knik dan sy kop. Ja-nee. Hulle het definitief gisteraand hier nes gemaak.
Die ure vlieg verby in die bos. Op ons staptogte gewaar ons gibbons en bebaarde drake, viooltjie-blou skoenlappers en giftige geel slange, kruikplante en Venus-vlieëvangers. Dis die einde van dag twee, en ons laaste stap voor ons more moet terugkeer. Nog geen oerangoetang in sig nie. Maar ons gooi nie tou op nie.
Dan breek daar onverwags ’n hewige reënbui uit. Ons soek skuiling onder ’n hangende rots. So sit ons vir ’n lang ruk terwyl ons water drink en ons asem probeer terugkry. Ons wag en wag. En dan spring Muslianto uit die bloute op.
“Oerangoetang! Oerangoetang!” fluister-roep hy.
“Shhhhhhhh!!!! “
Ons vergeet van die massiewe reëndruppels wat op ons neerstort en trippel saggies onder die rotsafdakkie uit. Ons oë soek verwild rond. Waar? Waar?
“Sien jy?”
“Nee, nee, nog nie.”
“Sien jy nou? Daar!”
En dan roer iets rooi-bruin tussen die immergroen blare.
“Volg my!” sê die opgewonde gids.
“Hati hati!” Versigtig!
En so volg ons haar…die pragtigste oerangoetang met sielvolle oë wat deur my kameralens verbasend baie soos die van my eie spesie lyk. Sy swaai en spring van tak tot tak. Haar wilde roesbruin pels beweeg rats hóóg in die boomtoppe.
En later…nog een. Hierdie keer groter. Hy is dadelik agressief toe hy ons gewaar. Ons koes vir boomtakke wat hy sonder moeite afbreek en in ons rigting slinger. Hulle is besig om hul neste vir die aand te bou. Oerangoetangs bou elke aand ’n nuwe nes in ’n nuwe boom. Hulle gaan hulle gang daarbo, pla niemand nie en kom net grond toe wanneer hulle moet.
Dit is omtrent ’n belewenis om hierdie twee te sit en dophou. Hulle hande werk slim en vinnig om hulle lêplekkies vir die aand voor te berei. Dit terwyl hulle te heerlik met mekaar “gesels”. Hoe ongelooflik is dit nie dat hierdie massiewe diere hulself so gemaklik hoog in die takke kan balanseer nie. Ek beskou hul vlytige hande, hul vastrap-voete en veral hul oë wat soveel emosie toon. Baba-oerangoetangs word tot op die ouderdom van ses of sewe jaar nog deur hul ma’s gevoed. Hulle toon die die langste afhanklikheid van hul ouers in vergelyking met enige ander dier op aarde. Fasinerend!
Is ons mense nie maar ook op ’n manier so nie? Ons bly onder ons ouers se dak tot ons skool verlaat, en eers dan begin ons ons eie nessies bou. Dit neem agtien jaar om ons te vorm, wysheid te leer en gereed te maak vir die grootmenswêreld. Dis ’n vreemde gevoel dié – om dieselfde eienskappe in ’n dier raak te sien.
So sit ons op ons hurke en hou die twee dop. Vir lank. Ons sit daar totdat ons asems bedaar en die modder op ons knieë stol. Eers dan besef ek hoe oortrek my bene van die muskietbyte is.
Ek is so dankbaar. Dat ons hulle kan sien – en nie sommer enige plek nie, maar hier waar hulle hoort. Dit is net voor sononder en die reën het intussen bedaar. Ek sit my zoemlens op my kamera om nog ’n foto te neem. Ek skrik. Dis die mannetjie – hy kyk my direk in die oë.
“Ons moet gaan,” sê Muslianto. Voor dit donker raak.