Die tekens van grenslynpersoonlikheidsteuring
Die een met die kort draad
Die een wat onvoorspelbaar is
Die een met die sensitiewe temperament wat baie gou seerkry
Die een wat hewiger as ander reageer, soms op onbenullighede
Die een wie se lewe altyd van krisis na krisis swaai
Die een wat sukkel om verhoudings te laat werk en met min mense ’n stabiele langtermyn verhouding het
Die een wat mense en dinge sien as of volmaak of hopeloos
Die een wat gryp na riskante gedrag soos dwelms, drank, promiskue seks of inkopietogte as dinge vir jou te erg raak
As jy al baie keer aan selfmoord gedink het of jouself wil seermaak, knyp of sny
Toets jouself vir grenslynpersoonlikheidsteuring
1 Jou verhoudings met vriende, ’n liefdesmaat, kollegas en familie is stormagtig en swaai van liefde na afkeer.
2. Jy voel gou seergemaak, verstote, uitgelaat, verwerp of nie deel van die groep of onbelangrik vir ander.
3 Jou emosies is intens, eerder as lig en neutraal. Jy is uiters hartseer of vreeslik opgewonde.
4 Jou emosies neem besit van jou en regeer jou denke. Dit is asof jy in ’n emosiestorm leef.
5 Jou emosies kan baie vinnig swaai van geluk aan die een kant na hartseer, woede of angs aan die anderkant.
6 Klein dingetjies raak baie maklik groot kwessies wat jou uiters ontsteld en woedend maak. Ander mense dink jy raak onvanpas kwaad oor onbenullighede.
7 Jy voel meestal intens leeg, asof jy nie regtig iemand is nie.
8 Jy beseer jouself, sny, knyp of straf jouself.
9 Jy dink dikwels oor selfmoord.
10 As jy ontsteld is gryp jy na kos, sjokolade, drank, sigarette, dwelms, promiskue seks of inkopietogte wat jy nie kan bekostig nie.
11 Hierdie reaksie is impulsief en onbeheerbaar.
12 As jy nadink, was jy nog altyd so. Jy reageer nie net vandag emosioneel nie. Dit is ’n vaste patroon by jou.
13. Jou hele lewe of ten minste een aspek daarvan is ’n fiasko – sosiaal, by die werk, jou gesinslewe en/of finansieel.
Kry hulp by ’n sielkundige wat in dialektiese gedragsterapie (Dialectical Behavioural Therapy, of DBT) spesialiseer.
Ons twee konsultante vir die artikel is Jenny Rose, kliniese sielkundige van Bellville, Kaapstad En JP Theron, kliniese sielkundige van Stellenbosch:
Jenny se besonderhede (klik hier)
JP se besonderhede (klik hier)
Het jy reeds grenslynpersoonlikheidsteuring? Help jouself so
Alle mense reageer natuurlik op emosie. Die enigste verskil tussen mense met grenslynpersoonlikheidsteuring en mense daarsonder is dat eersgenoemde onbeheerbaar oorreageer.
Hierdie warboel van intense emosie lei tot gedrag wat vir jou natuurlik kom en sin maak maar jou eintlik pootjie omdat dit jou verhoudings tuis, by die werk, met jou liefdesmaat en selfs jou geldsake en loopbaan versuur. Dit maak sin om jouself in ’n nuwe koers te kry.
Hoe?
Deur jou emosies ’n slag koud en klinies te deurdink. As jy jou emosies verstaan en realisties oor hulle dink sal jy jou optrede ooreenstemmend verander.
Hier is ’n lys vrae wat enige iemand se kop kan swaai. Druk dit, of sit die skakel op jou selfoon en werk hierdeur sodra jy die emosionele storm voel aankom wat so kenmerkend van grenslynpersoonlikheidsteuring is.
Die suksesvolste terapie hiervoor is dialektiese gedragsterapie (of dialectical behaviour therapy, of DBT), wat onder andere op die volgende vrae berus.
Jy kan jouself ’n hele end vorentoe help maar gaan gesels gerus met ’n terapeut wat jou ook die nodige assertiwiteitsvaardighede sal help bemeester.
Vrae om deur te werk
Onmiddellik, sodra jy ’n emosionele storm voel aankom:
1 Wat is die probleem? Presies wat ontlok hierdie reaksie by my?
2 Wat is my reaksie? Is ek kwaad of seer gemaak? Voel ek verstote? Wil ek onttrek? Wat voel ek?
3 Wat kan ek nou op hierdie oomblik doen wat my dadelik beter sal laat voel? Wat sal my aandag aftrek en my kalmeer? Dit moet iets positief wees, soos om jou naels te versorg, jou gunstelingsepie te kyk of te lees.
Sodra jy kalmer voel sorteer jouself verder uit
3 Wat dink ek is aan die gebeur?
4 Wat is die ergste wat kan gebeur?
5 Wat gaan die waarskynlikste gebeur?
6 Is ek realisties, of oordryf ek … ’n bietjie?
7 Is my siening eerder gebaseer op aannames wat ek maak? Lees ek meer daarin as wat daarin steek? Is ek besig om te spekuleer oor dinge wat nog nie gebeur het nie? Lees ek dinge tussen die lyne? Is ek besig om te raai oor wat ander mense dink? Hoe weer ek vir seker dit is wat hulle dink? Maak ek afleidings, of kyk ek na feite? Is my gevolgtrekkings dalk verkeerd? Kan ek die probleemsituasie anders interpreteer?
8 Is ek werklik benadeel, of voel dit net so? Ek kan so voel maar dit beteken nie ek het konkreet skade gely of seer gekry of iets oorgekom nie. Watter spesifieke skade het ek op hierdie oomblik?
9 Oorskat ek die skade of probleem? Hoe belangrik is die probleem regtig? Gaan dit môre, oor ’n week of oor ’n jaar van nou af nog saak maak?
10 Kyk ek te negatief na die probleem?
11 Onderskat ek die positiewe kant? Wat kan moontlik positief wees?
12 Is die situasie op die oomblik vir my of wit of swart? Is daar dalk skakerings tussenin? Grade? Wat kan dit effens ligter maak?
13 Onderskat ek my vermoë om dit te kan hanteer?
14 Stel ek onmoontlik hoë verwagtings van myself tov die situasie?
15 Stel ek negatiewe verwagtings van myself (soos ek gaan weer verstoot word; ek gaan dit ook opmors; ek is net nie goed genoeg nie.)
16 Wat is realistiese verwagtings omtrent die probleem?
17 Wat is my eerste, instinktiewe reaksie?
18 Wat sal die gevolge daarvan wees? Wat gebeur gewoonlik as ek so optree?
19 Wat wil ek regtig hê? Hoe moet die ander persoon teenoor my optree?
20 Watter advies sal ek vir iemand anders gee wat dieselfde situasie moet hanteer?
21 Verwag ek dat ek soos vantevore noodwendig gaan oorreageer en onvanpas optree. Of gun ek myself die kans om op ’n nuwe manier te dink en ooreenstemmend op te tree?
22 Wat kan ek doen? Watter opsies het ek?
23 Moet ek dalk presies die teenoorgestelde doen van wat ek instinktief wil doen?
As ek kwaad is omdat ek verstote voel kan ek dalk aan ‘n positiewe punt dink wat my kalmer maak en die situasie positiewer laat sien en so my woede laat afkoel? Kan ek iets goed sê?
As ek bang is kan ek dalk dink aan hoe ek vantevore suksesvol was en myself so moed inpraat dat ek tog gaan en deelneem?
As ek hartseer is kan ek dalk tog dit regkry om net stil en rustig tussen ander te wees?