Lekker dik wol gebrei in die eenvoudigste steke, is net die ding vir ywerige maar onervare breiers.
Bonkige breiwerk: uittreksel uit Hand Knits for the Home deur Carolinne Birkett (Conran Octopus).
Basiese benodigdhede
- ’n Paar 15 mm-breinaalde
- 10 x 100 g-bolle Superchunky Slub in damson
- 4,5 m x 39 mm taffeta-lint
- Naald en gare
- Spelde
Spanning
6,5 steke en 12 rye oor 10 cm2 in reksteek
Klaar grootte
100 cm x 120 cm
Maak so vir breiwerk
1 Stel 66 steke met 15 mm-breinaalde op.
2 1ste ry: regs tot einde.
3 Herhaling van hierdie ry vorm reksteek.
4 Brei 144 rye reksteek of tot die breiwerk 120 cm lank is.
5 Heg af.
Lees ook: Breipatrone vir kouse en handskoene
Maak so vir afronding
1 Knoop die los ente liggies aanmekaar waar elke nuwe bol wol ingewerk is, en werk met ’n naald in die breiwerk weg.
2 Sny die lint in ’n lengte van 4,43 m, stryk dit lengtegewys in die helfte en werk die twee ente met agtersteek aanmekaar, 1,5 cm vanaf die punt om ’n aaneenlopende lus te vorm.
3 Begin by die hegting as die eerste hoek, merk die ander drie hoeke 100 cm, 120 cm en 100 cm uit mekaar. Stik ’n verstekhoek by elkeen van hierdie punte.
4 Pas die verstekhoeke op die ooreenstemmende hoeke van die kombers. Steek vas om in posisie te hou.
5 Werk die lint met rygsteek vas.
Wenke
Omdat die kante van die kombers met lint afgewerk word, is dit die beste om met ’n nuwe bol wol by die begin of einde van ’n ry te begin. Probeer om te begin en eindig waar die wol op sy dunste is sodat die knoop netjieser weggewerk kan word.
Hooffoto: Eva Bronzini vir Pexels
Lees ook: Leer jou breipatrone beter verstaan