Versorg deur Mariette Snyman. Hooffoto Freepik
“Jy is so gelukkig soos jou ongelukkigste kind”, lui die spreekwoord. Wel, jou kind kom nie met ’n handboek in die wêreld nie, en jy kry geen opleiding of kwalifikasies in kinders grootmaak nie.
Dalk weet jy net jy wil nie jou kinders grootmaak soos jou ouers jou grootgemaak het nie, maar jy is ook nie seker wat die beste manier is nie.
Baie ouers weet nie hoe belangrik hul woorde en gedrag vir ’n kind se breinontwikkeling is nie. Hulle besef nie dat ons vandag met ons kennis van neurowetenskap, verstandelike en emosionele intelligensie ons kinders kan grootmaak om wonderlike, gelukkige en positiewe mense te wees nie.
In sy boek ’n Gelukkige Kind: Bemagtig jou kind om positief te dink (Lux Verbi, 2018, voorgestelde prys R225) begelei dr. Pieter van Jaarsveld jou deur goed begronde navorsing om jou kind se brein te verstaan en dit van vroeg af reg te bedraad met oefeninge en speletjies sodat jou kind ’n gelukkige, gebalanseerde en florerende grootmens kan word. Hy behandel ook belangrike kwessies soos hoe om empatie te ontwikkel en hoe om dissipline aan te pak.
Oor die skrywer
Dr. Pieter van Jaarsveld is ’n kenner op die gebied van emosionele intelligensie en positiewe denke. Hy werk plaaslik en internasionaal as konsultant vir leierskapontwikkeling in die sakewêreld. Hy het twee meestersgrade (in Sielkunde en Teologie) en ’n doktorsgraad vir sy tesis oor die selfdunk en eiewaarde van mense.
Pieter beantwoord sewe vrae
Jy is self ’n ouer en oupa. Hoe ervaar jy dit?
Ek dink ouerskap is ’n wonderlike voorreg. Lewe ’n mens nie maar op die ou end net vir hulle nie? Nie dat ek daarmee bedoel dat jy nie meer self jou lewe moet geniet nie, maar hulle is tog ’n kosbare geskenk. Net jammer hulle is uit ’n mens se huis maar nooit uit jou sak nie (lag). En dan natuurlik die kleinkinders. Wow. Dit is inderdaad God se geskenk aan ouer mense. As mens tog maar net die geduld wat jy met jou kleinkinders het, met jou eie kinders gehad het.
Kon jy dit regkry om gelukkige kinders groot te maak?
Ek is bevoorreg om twee wonderlike kinders, Janke en Pieter-Paul, te hê wat werklik gelukkige kinders is en gelukkig getroud is. Alhoewel ek ’n boek “Gee jou kind selfvertroue” geskryf het toe hulle klein was, moet ek eerlik wees en my nie daarop beroem dat hulle slegs deur ons toedoen gelukkig is nie. Dit is grootliks genade. Ek weet van soveel wonderlike ouers, baie beter as ek, wie se kinders die pad byster geraak het. Ek besef dus baie goed jy moet maar net jou bes probeer, maar die resultate is nie altyd gewaarborg nie. Soos jy ouer word, besef jy al meer die wonderlike invloed van so baie mense op jou kinders se lewens. Mens moet nooit die wonderlike impak van toegewyde onderwysers vergeet nie. Hulle kry nooit genoeg krediet vir hulle aandeel nie.
Wat het aanleiding gegee tot die nuwe boek?
Mense van regoor die wêreld glo geluk as die nommer een behoefte. Baie ouers het, nadat ek “Dink jouself gelukkig” gepubliseer het, gevra hoe hulle hul kinders gelukkig moet grootmaak. Daar is tans baie meer klem op die ontwikkeling en bedrading van die brein en hoe ongelooflik belangrik dit in die ontwikkeling van ’n kind is. Dit is iets waarvan die meeste ouers nie eens bewus is nie. Toe ons kinders groot gemaak het, het ons niks van die brein geweet nie, allermins dat ’n ouer ’n invloed daarop het. Tog kan ’n ouer se hantering van sy kind in der waarheid sy brein maak of breek.
Ek het self geweldig baie geleer in my navorsing oor hoe die ouer die kind se brein positief en gelukkig kan bedraad. Iets waarvan ons 5-10 jaar gelede niks geweet het nie. Om eerlik te wees, min boeke gee aandag daaraan.
Ek het dus besef hier is ’n belangrike leemte wat so spoedig moontlik gevul moes word.
Ek begin dan ook die boek met wat die ouer moet doen om ’n emosioneel intelligente ouer te wees. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Die tweede hoofstuk hanteer spesifieke aktiwiteite wat die ouer kan doen om ’n gelukkige en emosioneel intelligente kind groot te maak. En natuurlik, die groot kopseer vir baie ouers is hoe jy jou kind dissiplineer. In die laaste hoofstuk gee ek aandag aan hoe om op ’n emosioneel intelligente wyse jou kind te dissiplineer sodat hy nog steeds gelukkig en positief kan wees, want ek dink daar is ’n groot behoefte aan riglyne in hierdie verband.
Wat as lesers se kinders al volwasse is – is dit te laat om die wysheid in die boek hul eie te maak?
As ’n mens na die nuutste navorsing kyk, dan besef jy die brein is eers teen die middel twintigs ten volle ontwikkel. Wanneer is ’n kind dan nou regtig volwasse? Die boek is so geskryf dat dit vir die ouer self ook van nut kan wees omdat ek deurgaans die ouer aanmoedig om eers self gelukkig en positief te word, voordat hy dit op die kind kan toepas. Dit is mos nou eenmaal so dat ’n mens nie van alle aktiwiteite gaan hou nie en moet kies wat by jou pas. Die boek sal dus nie net die volwasse kind help nie, maar ek hoop ook vir die ouer self.
Vertel ons meer van beskrywende lof en beskrywende kritiek.
Ons weet al vir dekades dat ons die kind moet prys as hy iets goeds doen om sy selfbeeld te bou, maar ons het dit so vreeslik verkeerd gedoen. Ons het gedink woorde soos: “Jy is fantasties, die slimste, vriendelikste, vrolikste kind” sal die wêreld se verskil maak. Bly liewer weg van hierdie ‘ste’-agtervoegsels want dit doen soms meer kwaad as goed. Hierdie soort lof is eenvoudig net te vaag.
Met beskrywende lof word bedoel jy sien wat die kind doen en sê dan presies waarom dit goed en aanvaarbaar en nie verkeerd is nie. Kom ons neem ’n voorbeeld: “Jy eet pragtig”, maar wat beteken dit nou eintlik? Beter sal wees: “Ek is so bly om te sien jy eet jou kos sonder om daaroor te kla”. Nou verstaan die kind wat hy doen is goed. Of: ”Ek is so bly om te sien hoe mooi julle met die Lego’s speel sonder om mekaar s’n te gryp”. Die klem val dus op die doen. Dit is beter om oordrewe woorde soos “ongelooflik”, “wonderlik” en “fantasties” te vermy.
Hoe graag sal ons nie net ons kind wil prys nie, maar ongelukkig is hulle nog nie engeltjies nie en moet jy kritiseer ook. Kom ons neem ’n vierjarige kind wat aan sy ma pluk terwyl die ma oor die foon met haar eie ma praat. As sy vir die kind sou sê: “Jy is irriterend en stop dit nou dadelik!” is dit heel duidelik nie goed vir die selfbeeld nie, maar hoe dan nou tog?
Dit is goed om vir die kind jou eie gevoel oor die situasie te gee en dan wat hy verkeerd gedoen het. Nou val die klem op die daad van die kind en nie op homself en sy selfbeeld nie. So, die ouer kon sê: “Ek is regtig kwaad (gevoel) as jy aan my pluk (daad) want nou kan ek nie konsentreer op wat ouma sê nie (gevolg van die daad wat nie altyd nodig is om uit te wys nie).”
Kom ons neem nog ’n voorbeeld: “Jy is regtig stout! Hoeveel keer moet ek nog sê dat jy moet vra voordat jy my iPad vat!” Jy kan dus die volgende elemente in jou beskrywende kritiek insluit: Hoe jy voel, wat het hy verkeerd gedoen, die uitwerking op ander en wat die kind eintlik moes gedoen het alhoewel die laaste nie altyd nodig is nie. Jy kan dus sê: “Ek is vies omdat jy my iPad gebruik het sonder om te vra (jou gevoel en die verkeerde daad). Nou het ek ’n halfuur gemors deur daarvoor te soek. As jy gevra het of jy dit kon gebruik, sou ek geweet het waar dit was” (wat hy eintlik moes gedoen het en die effek op ander).
Kan jy vir ons ’n voorbeeld gee van ’n speletjie wat ’n kind se brein reg kan bedraad?
Ek het speletjies en aktiwiteite in die boek gesit wat die kind kan leer om die brein reg te bedraad, om spesifieke gedrag, vaardighede of emosies aan te leer en wat terselfdertyd tot pret kan lei. ’n Belangrike tegniek om die brein reg te bedraad is die beginsel van neuroplastisiteit. Dit beteken elke gedagte wat oor en oor herhaal word en op ’n gefokusde manier deur die brein gaan, verander die bedrading van die brein. ’n Speletjie hiervoor is waar die ouer en die kind ’n bewertjie (mobile) maak en positiewe stellings daarop sit wat die kind gereeld kan lees en sodoende die brein positief kan bedraad. Daar gaan daagliks 60,000 gedagtes deur ’n mens se brein waarvan 70% negatief is. Hierdie toestand maak jou nie net negatief nie, maar veroorsaak stres en maak jou siek. Op hierdie speelse manier leer die kind van jongs af hoe om sy brein positief te bedraad.
Wat is jou wens vir die kinders van die wêreld?
Dat hulle as gelukkige en positiewe kinders sal grootword wat nie net alleen suksesvol sal wees in hul verhoudinge nie, maar ook beter presteer op skool en in die lewe, dat hulle ook gesonder sal wees en les bes, langer leef.
Lees hierdie kort uittreksel uit ’n Gelukkige Kind: Bemagtig jou kind om positief te dink
Neuroplastisiteit en biologiese veranderinge
Dit is waar dat ’n groot deel van ons gedrag geneties vasgelê is (ons het dit van ons voorouers geërf). Dit hoef ons egter nie te verdoem nie. Die nuutste navorsing in die veld van epigenetika (die studieveld wat handel oor die verband tussen die omgewing en die individu se gene) wys daarop dat ons ons gene, én ons breinselle, kan verander.
Een van die wonderlikste ontdekkings die afgelope tyd gaan juis oor die neuroplastisiteit van die brein. Dit beteken die brein kan verander word. In lekker Afrikaans, die brein kan wel herbedraad word. Neuroplastisiteit word beskryf as “the ability to rewire and create new neural circuits at any age to make substantial changes in quality of your life”. “Nerve cells that fire together, wire together.”
Jy kan dus ’n veranderde mens word!
Die wonderlike implikasie hiervan vir jou, en jou kind, is: Enige gedagte wat herhaaldelik op ’n gefokusde manier deur jou brein gestuur word, verander die bedrading van jou brein.
Kom ons kyk eers na negatiewe gedagtes. As jy gedurig vir jouself sou sê: “Ek is moeg,” laat jy, in eenvoudige terme gestel, letterlik “Ek is moeg”-breinselle in jou brein groei. Jou liggaam reageer hierop deur chronies moeg te wees.
Dink dan net wat kan gebeur as jy elke dag vir jouself sou sê: “Ek is ’n gelukkige ouer en net goeie dinge gaan vandag met my gebeur.” Só bou jy aan jou brein om ’n gelukkige ouer te word.
Positiewe gedagtes is ’n magtige wapen wat jy moet gebruik om goeie “paaie” in jou kind se brein vas te lê en só ’n gelukkige kind groot te maak.
Begin sommer met hierdie eerste uitdaging en sê elke dag vir jouself: “Ek is ’n baie gelukkige ouer en wil net die beste vir my kind gee sodat hy gelukkig kan wees.” Dink nou al wat wil jy elke dag in jou kind se brein programmeer.
Soos ek reeds gesê het, is een van die grootste uitdagings van ’n ouer om van die bykans 70% negatiewe gedagtes ontslae te raak. Jou negatiwiteit beïnvloed immers:
- jouself
- jou gesondheid
- ander mense
- én jou kind
Daar is verskeie redes waarom ons gedagtes byna 70% negatief is. Dit het onder meer te doen met ons ingeboude vlug-veg-of vries-respons. Ek wil nou egter eerder fokus op die invloed van die mense rondom jou op jou. Dit sal jou help om nie net jouself te verstaan nie, maar ook die impak wat jy en ander mense op jou kind het.
Meer inligting by nb.co.za