Die gesoute joernalis Irna van Zyl se debuutriller, Moordvis, is op die rakke. Sy het in 1995 met ’n versameling kortverhale, Grootmens-speletjies, gedebuteer.
Moordvis speel hom op die fiktiewe dorpie Grootbaai naby Hermanus af. Grootbaai, die haaiduikhoofstad van die wêreld, is die plek waar speurder Storm van der Merwe haar opwagting maak. Storm ry ’n Volla, sy is aan die kort kant, sy is versot op diere en sy word aan die diep kant ingegooi toe ’n lyk minus ’n arm op die strand uitspoel. Sy kom gou agter dat die stand van sake op Grootbaai selfs gevaarliker as haaiduik is – sonder die hok!