Die drie maande in Kroasië elke jaar gee my die geleentheid om ook ander stede hier naby te verken. Een hiervan is Boedapest – slegs 5 uur per bus van Zagreb.
Op ’n helder Maandagmiddag klim ek en my susters op die Flixbus, en met die twee russtoppe langs die pad voel dit soos piekniek as ek en my busdrywer saam ’n koffie geniet.
Ons woonstel is sorgvuldig op booking.com gekies om ’n uitsig oor die Danau-rivier te hê en so na as moontlik aan ’n trein-, trem- en busstop te wees. Boedapest bestaan uit twee dele: Boeda en Pest, wat weerskante van die rivier geleë is. Ons bly aan die Pest-kant waar daar baie toeristebesienswaardighede is. Die woonstel is ruim, goed toegerus en op die eerste vloer – ’n bonus vir die swaartasbrigade. Die eienaar is vriendelik en sag op die oog. Beter kon ons dit nie tref nie.
Hop on- Hop off
Die Hop-on Hop off-buskaartjie is geldig vir twee volle dae en sluit ’n riviervaart in. Laasgenoemde is ’n groot bonus. Ons kies die laatmiddag-vertrektyd en sien die stadsilhoëtte stadig aan albei kante verbyglip. Die pragtige sonsondergang laat die imposante parlementsgebou glinster. Hierdie gebou oorskadu selfs die Britse parlementsgebou en al sou dit al wees wat ek op die vaart sien, sou dit genoeg wees.
Marksaal
Vyf minute se stap neem ons na die groot Marksaal waar groente, kase, salami’s en paprika-rakke met allerhande plaaslike likeure en kosstalletjies kompeteer. Hongarye is die geboorteplek van goulash, en elke dag word ’n ander stalletjie of restaurant se weergawe geproe. Gewapen met gerookte paprika, gewone paprika, brandrissiepaprika asook ’n paar houtlepeltjies vir uitskep, voel ons tevrede dat die Marksaal ons nie teleurgestel het nie. O ja, ’n groot salami is natuurlik ook na vele proesessies gekoop. Op die boonste vloer loop ons die mooiste geborduurde tafeldoeke en bekraalde brilhuisies raak – trousseau vir ’n dogter en ’n brilsakkie vir een van my 7 leesbrille.
Boeda-kasteel, Vissermansbastion en Matthiaskerk
Op dag twee neem ons die rooi bus na die Boeda-deel van die stad. By die onderpunt van die kasteel oorval die eetlus ons en ons ontdek die heerlike Hongaarse weergawe van ’n vetkoek (platgeslaan) genaamd Lángos. Dit word bedien met gerasperde kaas en roomkaas, wat veroorsaak dat jy jou volle kwota kalorieë vier maande vooruit eet.
Hier vergaap ek my aan die Matthiaskerk se mooi geskilderde mure en die Kasteel se kunsuitstallings. Elke vloer verteenwoordig ’n fase van die Hongaarse kunsgeskiedenis en enigiets van die romantiese tot die absurde skuur met gemak skouer. Die Vissermansbastion bied die mooiste uitsig oor die stad, maar hierdie tyd van die jaar vra hulle ’n onnodige toegangsfooi, so ek loer maar van die kant af en neem steeds lekker foto’s. Dis ’n bloedige warm dag, wat my die eerste keer in my lewe in ’n asdrom laat krap vir ’n leë koeldrankbottel om water te tap by die fonteintjie. Die Kaapse bergies sou trots wees op my.
Skoene om te onthou
Dag drie is die program net so vol, want ná ons gedraal in die Marksaal op dag een het die program ’n bietjie deurmekaar geloop. Vroegoggend (dis nou rondom 10:00) neem ons Tram no 2 wat al langs die rivier af loop en klim by die Parlementsgebou af, neem nog foto’s en stap dan terug na die skoene teen die rivier. Nie gewone skoene nie, maar ’n gedenkuitstalling van tientalle pare skoene, gegiet in yster, wat rivierwaarts wys. Meer as 70 000 Jode is tydens die Tweede Wêreldoorlog in Boedapest vermoor en een van die gewildste maniere was om hulle te laat aantree op die wal van die Danau-rivier. Hulle moes hul skoene uittrek en is dan geskiet sodat hulle direk in die rivier kon val en afdryf met die stroom. Die skoene wat nog in ’n goeie toestand was, is later verkoop. Een van die aangrypendste besoekplekke in Boedapest!
Lees ook Boedapest deel 2: stad vol baddens, ruïnes & hartseerskoene