As jy niks anders vir ontbyt kan maak nie, bak dan ten minste 1 keer per week hierdie voedsame muffins. Jy kan dit maklik in iemand se hand stop op pad uit of pak dit in ’n kosblik. Die muffins is veselryk met lae GI. Deur vrugte, neute en sade by te voeg, verhoog jy die voedingswaarde nog meer. Hou die beslag in die yskas en bak net soveel soos wat jy benodig. Dit sal vir 1 maand in jou yskas hou.
Bestanddele
- 8 eiers
- 500 ml (2 k) sonneblomolie
- 250 ml (1 k) semels
- 2,5 kg volkoringmeel
- ± 1,5 L melk
- 500 ml (2¾ k + 3 e) sagte bruinsuiker
- 5 ml (1 t) sout
Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n muffinpannetjie met kolwyntjiepapier uit.
- Klop die eiers en olie saam tot goed gemeng.
- Meng die res van die bestanddele by en meng goed deur.
- Skep die mengsel in die bereide muffinpannetjie tot ¾ vol. Bak vir 20 -30 min. (afhangende van die grootte) tot ’n toetspen skoon uitkom en dit gaar is.
- Laat afkoel op ’n draadrak.
VARIASIE – maak 6: Skep 500 ml (2 k) van die mengsel uit, voeg by: 250 ml gemengde bessies soos frambose, aarbeie en bloubessies by die beslag en bak soos bo beskryf. Maak 4 piesangs fyn en meng deur of rasper 2 appels of 2 wortels en meng deur die beslag.